Deel 9
Hoe ons weet dat ons in “die laaste dae” lewe
1, 2. Hoe weet ons of ons in die laaste dae lewe?
HOE kan ons seker wees dat ons in die tyd lewe wanneer God se Koninkryk teen hierdie huidige stelsel van menseheerskappy gaan optree? Hoe weet ons dat ons baie na aan die tyd lewe wanneer God ’n einde aan alle goddeloosheid en lyding gaan maak?
2 Jesus Christus se dissipels wou hierdie dinge weet. Hulle het hom gevra wat “die teken” van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag en “van die voleinding van die stelsel van dinge” sou wees (Mattheüs 24:3, NW). Jesus het geantwoord deur besonderhede te gee van wêreldskokkende gebeure en toestande wat gesamentlik sou toon dat die mensdom “die tyd van die einde”, “die laaste dae”, van hierdie stelsel van dinge betree het (Daniël 11:40; 2 Timotheüs 3:1). Het ons hierdie saamgestelde teken in ons eeu gesien? Ja, ons het inderdaad, en dít in ’n oorvloedige mate!
Wêreldoorloë
3, 4. Hoe vervul die oorloë van hierdie eeu Jesus se profesie?
3 Jesus het voorspel dat ‘die een nasie teen die ander sal opstaan en die een koninkryk teen die ander’ (Mattheüs 24:7). In 1914 het die wêreld in ’n oorlog betrokke geraak waarin nasies en koninkryke gemobiliseer is op ’n wyse wat verskil het van enige vorige oorlog. Ter erkenning van daardie feit het geskiedskrywers dit destyds die Groot Oorlog genoem. Dit was die eerste oorlog van sy soort in die geskiedenis, die eerste wêreldoorlog. Sowat 20 000 000 soldate en burgerlikes het hulle lewe verloor, baie meer as in enige vorige oorlog.
4 Die Eerste Wêreldoorlog het die begin van die laaste dae aangedui. Jesus het gesê dat dít en ander gebeure “’n begin van die smarte” sou wees (Mattheüs 24:8). Daardie woorde is bewaarheid, want Die Tweede Wêreldoorlog was selfs meer verwoestend met sowat 50 000 000 soldate en burgerlikes wat hulle lewe verloor het. In hierdie 20ste eeu het minstens 100 000 000 mense al in oorloë omgekom, vier keer meer as wat daar altesaam in die vorige 400 jaar omgekom het! Wat ’n ontsaglike doemvonnis is dit tog teen menseheerskappy!
Ander bewyse
5-7. Wat is van die ander bewyse dat ons ons in die laaste dae bevind?
5 Jesus het ander dele van die teken van die laaste dae genoem: “Daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes [epidemies]” (Lukas 21:11). Dit strook met die gebeure sedert 1914, aangesien die ellende weens sulke rampe geweldig toegeneem het.
6 Groot aardbewings kom gereeld voor en hulle eis baie lewens. Die Spaanse griep alleen het bykans 20 000 000 mense se lewens ná die Eerste Wêreldoorlog geëis—sommige skat dat dit selfs 30 000 000 of meer was. Vigs het al honderdduisende lewens geëis en kan in die nabye toekoms nog miljoene eis. Elke jaar sterf miljoene mense aan hartsiekte, kanker en ander siektes. Miljoene ander sterf ’n stadige hongerdood. Die ‘perderuiters van Openbaring’ met hulle oorloë, hongersnode en siektes op epidemiese skaal het ongetwyfeld sedert 1914 groot getalle van die mensdom afgemaai.—Openbaring 6:3-8.
7 Jesus het ook voorspel dat misdaad, wat in alle lande ondervind word, sal toeneem. Hy het gesê: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.”—Mattheüs 24:12.
8. Hoe is die profesie in 2 Timotheüs hoofstuk 3 in ons tyd vervul?
8 Bybelprofesieë het ook die sedelike verval voorspel wat vandag wêreldwyd so opvallend is: “Weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het . . . goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (2 Timotheüs 3:1-13). Dit is alles voor ons oë bewaarheid.
Nog ’n faktor
9. Wat het in die hemel gebeur wat met die begin van die laaste dae op aarde saamgeval het?
9 Daar is nog ’n faktor wat verantwoordelik is vir die geweldige toename van lyding in hierdie eeu. Iets het met die begin van die laaste dae in 1914 saamgeval wat die mensdom in selfs groter gevaar gestel het. Destyds het daar, soos ’n profesie in die laaste boek van die Bybel sê, “oorlog in die hemel gekom: Migael [Christus in hemelse mag] en sy engele het oorlog gevoer teen die draak [Satan], en die draak en sy engele [die demone] het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.”—Openbaring 12:7-9.
10, 11. Hoe het dit die mensdom geraak toe Satan en sy demone na die aarde neergewerp is?
10 Wat was die gevolge vir die mensdom? Die profesie gaan voort: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.” Ja, Satan weet dat sy stelsel se einde nader kom, dus doen hy alles in sy vermoë om mense teen God te laat draai voordat hy en sy wêreld uit die weg geruim word (Openbaring 12:12; 20:1-3). Hoe verdorwe is daardie geesskepsele tog omdat hulle hulle wilsvryheid misbruik het! Hoe aaklig was toestande tog, veral sedert 1914, onder hulle invloed op die aarde!
11 Dit is dus geen wonder nie dat Jesus omtrent ons tyd voorspel het: “Op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid . . . mense se harte [sal] beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom.”—Lukas 21:25, 26.
Die einde van mense- en demoonheerskappy ophande
12. Wat is een van die laaste profesieë wat nog voor hierdie stelsel se einde vervul moet word?
12 Hoeveel Bybelprofesieë moet nog vervul word voordat God hierdie huidige stelsel vernietig? Baie min! Een van die laastes is in 1 Thessalonicense 5:3 opgeteken, en dit sê: “Terwyl hulle praat van vrede en veiligheid, word hulle meteens deur onheil oorval” (The New English Bible). Dit toon dat die einde van hierdie stelsel sal begin “terwyl hulle praat”. Vernietiging sal onverwags oor die wêreld kom, wanneer hulle dit die minste verwag, wanneer die aandag van die meeste mense op hulle verwagte vrede en veiligheid toegespits is.
13, 14. Watter tyd van probleme het Jesus voorspel, en hoe sal dit ten einde loop?
13 Die tyd vir hierdie wêreld onder Satan se invloed raak vinnig minder. Dit gaan binnekort tot ’n einde kom tydens ’n tydperk van probleme waarvan Jesus gesê het: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.”—Mattheüs 24:21.
14 Die “groot verdrukking” se klimaks sal God se oorlog van Armageddon wees. Dit is die tyd waarvan die profeet Daniël gepraat het wanneer God ‘al daardie koninkryke sal verbrysel en daar ’n einde aan sal maak’. Dit sal die einde wees van alle huidige menseheerskappye wat onafhanklik van God is. Sy Koninkryksheerskappy uit die hemel sal dan die beheer van alle menseaangeleenthede heeltemal oorneem. Daniël het voorspel dat die regeringsmag nooit weer “aan [enige] ander volk” oorgelaat sal word nie.—Daniël 2:44; Openbaring 16:14-16.
15. Wat sal met Satan en sy demone se invloed gebeur?
15 Dan sal alle sataniese en demoniese invloed tot ’n einde kom. Daardie opstandige geesskepsele sal opgesluit word sodat hulle ‘die nasies nie meer kan verlei nie’ (Openbaring 12:9; 20:1-3). Hulle is ter dood veroordeel en wag op hulle vernietiging. Wat ’n verligting sal dit tog vir die mensdom wees om van hulle verderflike invloed bevry te wees!
Wie sal oorleef? Wie sal nie?
16-18. Wie sal hierdie stelsel se einde oorleef, en wie sal nie?
16 Wie sal oorleef wanneer God se oordele aan die wêreld voltrek word? Wie sal nie? Die Bybel toon dat diegene wat God se heerskappy verkies, beskerm sal word en sal oorleef. Diegene wat God se heerskappy verwerp, sal nie beskerm word nie, maar sal saam met Satan se wêreld vernietig word.
17 Spreuke 2:21, 22 sê: “Die opregtes [diegene wat hulle aan God se heerskappy onderwerp] sal die land bewoon, en die regskapenes sal daarin oorbly, maar die goddelose [diegene wat hulle nie aan God se heerskappy onderwerp nie] sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”
18 Psalm 37:10, 11 sê ook: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.” Vers 29 voeg by: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”
19. Watter vermaning moet ons ter harte neem?
19 Ons moet die vermaning in Psalm 37:34 ter harte neem, wat sê: “Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.” Verse 37 en 38 sê: “Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ’n toekoms vir die man van vrede. Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny.”
20. Waarom kan ons sê dat ons in opwindende tye leef?
20 Hoe bemoedigend, ja, hoe besielend is dit tog om te weet dat God werklik omgee en dat hy binnekort ’n einde aan alle goddeloosheid en lyding gaan maak! Hoe opwindend is dit tog om te besef dat die vervulling van daardie glorieryke profesieë net om die draai is!
[Prent op bladsy 20]
Die Bybel het die gebeure voorspel wat “die teken” van die laaste dae sou uitmaak
[Prent op bladsy 22]
Binnekort, by Armageddon, sal diegene wat hulle nie aan God se heerskappy onderwerp nie, vernietig word. Diegene wat hulle wel daaraan onderwerp, sal oorleef en in ’n regverdige nuwe wêreld ingaan