Goeie nuus vir mense van alle nasies
“Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde.”—HANDELINGE 1:8.
1. Waaraan skenk ons aandag as Bybelonderrigters, en waarom?
BEKWAME onderrigters skenk nie net aandag aan wat hulle vir hulle studente sê nie, maar ook aan hoe hulle dit sê. As onderrigters van Bybelwaarheid doen ons dieselfde. Ons skenk aandag aan die boodskap wat ons verkondig sowel as aan die metodes wat ons gebruik. Ons boodskap, die goeie nuus van God se Koninkryk, verander nie, maar ons pas wel ons metodes aan. Waarom? Om soveel mense as moontlik te bereik.
2. Wie volg ons na wanneer ons ons predikingsmetodes aanpas?
2 Deur ons predikingsmetodes aan te pas, volg ons God se knegte van die ou tyd na. Kyk byvoorbeeld na die apostel Paulus. Hy het gesê: “Vir die Jode [het ek] soos ’n Jood geword . . . Vir dié sonder wet het ek soos een sonder wet geword . . . Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Ek het alles vir alle soorte mense geword om op elke moontlike manier sommige te red” (1 Korintiërs 9:19-23). Paulus se aanpasbare benadering was doeltreffend. Ons sal ook welslae behaal as ons bedagsaamheid toon deur ons aanbiedings aan te pas by die persone met wie ons praat.
Tot aan “die eindes van die aarde”
3. (a) Voor watter uitdaging kom ons te staan in ons predikingswerk? (b) Hoe word die woorde van Jesaja 45:22 vandag vervul?
3 ’n Groot uitdaging waarvoor diegene te staan kom wat die goeie nuus verkondig, is die grootte van die gebied—“die hele bewoonde aarde” (Matteus 24:14). Gedurende die laaste eeu het baie knegte van Jehovah hard gewerk om nuwe lande met die goeie nuus te bereik. Wat was die gevolg? Verstommende uitbreiding wêreldwyd. Aan die begin van die 20ste eeu is die predikingswerk in net ’n paar lande gedoen, maar vandag is Jehovah se Getuies bedrywig in meer as 235 lande! Die goeie nuus van die Koninkryk word selfs tot “aan die eindes van die aarde” verkondig.—Jesaja 45:22.
4, 5. (a) Wie het ’n groot rol in die verspreiding van die goeie nuus gespeel? (b) Wat het party takkantore gesê oor diegene uit ander lande wat in die tak se gebied dien?
4 Waaraan kan hierdie vooruitgang toegeskryf word? Aan baie dinge. Sendelinge wat by die Wagtoring-Bybelskool Gilead opgelei is en, in onlangser tye, die meer as 20 000 gegradueerdes van die Bedieningsopleidingskool het in dié opsig ’n groot bydrae gelewer. So ook die baie Getuies wat op eie onkoste getrek het na lande waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Hierdie selfopofferende Christene—mans en vroue, jonk en oud, getroud en ongetroud—speel ’n belangrike rol daarin om die Koninkryksboodskap wêreldwyd te verkondig (Psalm 110:3; Romeine 10:18). Ons het groot waardering vir hulle. Let op wat party takkantore geskryf het oor diegene uit ander lande wat dien waar daar hulp nodig is in die tak se gebied.
5 “Hierdie dierbare Getuies neem die leiding daarin om in afgesonderde gebiede te getuig, help om nuwe gemeentes te stig en dra by tot die geestelike vooruitgang van die plaaslike broers en susters” (Ecuador). “As die honderde buitelanders wat hier dien, sou weggaan, sal dit die stabiliteit van die gemeentes raak. Dit is ’n seën om hulle by ons te hê” (Dominikaanse Republiek). “In baie van ons gemeentes is daar ’n groot persentasie susters, soms tot 70 persent (Psalm 68:11). Die meeste van hulle is nuut in die waarheid, maar ongetroude pioniersusters wat uit ander lande gekom het, voorsien waardevolle hulp deur hierdie nuwelinge op te lei. Hierdie susters uit ander lande is vir ons ’n groot gawe!” (’n Oos-Europese land). Het jy dit al oorweeg om in ’n ander land te gaan dien?a—Handelinge 16:9, 10.
“Tien man uit al die tale”
6. Hoe toon Sagaria 8:23 dat ons op taalgebied voor ’n uitdaging in ons predikingswerk te staan sou kom?
6 Nog ’n groot uitdaging is al die verskillende tale wat op aarde gepraat word. God se Woord het voorspel: “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man vasgryp, ja, hulle sal dit vasgryp en sê: ‘Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is’” (Sagaria 8:23). In die hedendaagse vervulling van hierdie profesie stel die tien man die groot menigte voor, van wie die profesie in Openbaring 7:9 praat. Let egter op dat die “tien man”, volgens Sagaria se profesie, nie net uit alle nasies sou kom nie, maar ook “uit al die tale van die nasies”. Het ons ’n vervulling van hierdie belangrike aspek van die profesie gesien? Ja, beslis.
7. Watter gegewens toon dat mense “uit al die tale” met die goeie nuus bereik word?
7 Kyk na die gegewens. Vyftig jaar gelede is ons lektuur in 90 tale uitgegee. Vandag het daardie getal tot meer as 400 tale vermeerder. “Die getroue en verstandige slaaf” het alles in hulle vermoë gedoen om lektuur te voorsien selfs in tale wat deur betreklik min mense gepraat word (Matteus 24:45). Bybellektuur is byvoorbeeld nou beskikbaar in Groenlands (wat deur 47 000 mense gepraat word), Palauaans (wat deur 15 000 mense gepraat word) en Yapees (wat deur minder as 7 000 mense gepraat word).
“’n Groot deur” tot nuwe geleenthede
8, 9. Watter verwikkeling het “’n groot deur” vir ons oopgemaak, en hoe het duisende Getuies gereageer?
8 Deesdae hoef ons egter nie na ander lande te gaan om die goeie nuus aan mense van alle tale bekend te maak nie. In onlangse jare het die aankoms van miljoene immigrante en vlugtelinge in ekonomies ontwikkelde lande talle immigrantegemeenskappe laat ontstaan wat baie tale praat. Byvoorbeeld, in Parys, Frankryk, word omtrent 100 verskillende tale gepraat. In Toronto, Kanada, is die getal 125; en in Londen, Engeland, word meer as 300 tale gepraat! Hierdie mense uit ander lande wat hulle in baie gemeentes se gebied gevestig het, maak “’n groot deur” oop wat tot nuwe geleenthede lei om die goeie nuus aan mense van alle nasies te verkondig.—1 Korintiërs 16:9.
9 Duisende Getuies reageer op die uitdaging deur ’n ander taal te leer. Dit is vir die meeste van hulle ’n moeilike taak; maar die vreugde om immigrante en vlugtelinge te help om die waarheid te leer wat in God se Woord gevind word, maak dit beslis die moeite werd. In ’n onlangse jaar was bykans 40 persent van almal wat by die streekbyeenkomste in een Wes-Europese land gedoop is, afkomstig uit ’n ander land.
10. Hoe het jy al die boekie Good News for People of All Nations gebruik? (Sien die venster “Kenmerke van die boekie Good News for People of All Nations”, op bladsy 26.)
10 Die meeste van ons is weliswaar nie in ’n posisie om ’n ander taal te leer nie. Maar ons kan ons deel doen om immigrante te help deur goed gebruik te maak van die nuwe boekie Good News for People of All Nations,b wat ’n interessante Bybelboodskap in baie tale bevat (Johannes 4:37). Gebruik jy hierdie boekie in die bediening?
Wanneer mense nie belangstelling toon nie
11. Voor watter ander uitdaging kom ons in party gebiede te staan?
11 Namate Satan se invloed op die aarde toeneem, kom ons al hoe meer dikwels voor ’n ander uitdaging te staan—in party gebiede toon min mense belangstelling. Hierdie situasie verbaas ons natuurlik glad nie, want Jesus het voorspel dat dit die toedrag van sake sou wees. Met verwysing na ons dag het hy gesê: “Die liefde van die meeste [sal] verkoel” (Matteus 24:12). Ja, geloof in God en respek vir die Bybel het onder baie afgeneem (2 Petrus 3:3, 4). In sommige dele van die wêreld word betreklik min mense dus nuwe dissipels van Christus. Maar dit beteken nie dat die werk van ons dierbare Christenbroers en -susters wat getrou in sulke onontvanklike gebiede getuig, tevergeefs is nie (Hebreërs 6:10). Waarom nie? Let op die volgende.
12. Wat is twee oogmerke van ons predikingswerk?
12 Die Evangelie van Matteus beklemtoon twee hoofoogmerke van ons predikingsbedrywighede. Een is dat ons “dissipels [maak] van mense van al die nasies” (Matteus 28:19). Die ander is dat die Koninkryksboodskap as “’n getuienis” dien (Matteus 24:14). Albei oogmerke is belangrik, maar laasgenoemde is veral betekenisvol. Waarom?
13, 14. (a) Wat is ’n uitstaande kenmerk van die teken van Christus se teenwoordigheid? (b) Wat moet ons in gedagte hou, veral wanneer ons in minder ontvanklike gebiede getuig?
13 Volgens die Bybelskrywer Matteus het die apostels vir Jesus gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3). In antwoord hierop het Jesus gesê dat ’n uitstaande kenmerk van daardie teken ’n wêreldwye predikingswerk sou wees. Het hy gepraat van die dissipelmaakwerk? Nee. Hy het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Sodoende het Jesus getoon dat die Koninkrykspredikingswerk op sigself ’n belangrike kenmerk van die teken sou wees.
14 Terwyl ons die goeie nuus van die Koninkryk verkondig, onthou ons derhalwe dat ons, al slaag ons nie altyd daarin om dissipels te maak nie, wel daarin slaag om “’n getuienis” te gee. Ongeag hoe mense reageer, hulle weet wat ons doen, en so het ons ’n aandeel daaraan om Jesus se profesie te vervul (Jesaja 52:7; Openbaring 14:6, 7). Jordy, ’n jong Getuie in Wes-Europa, het gesê: “Die wete dat Jehovah my gebruik om ’n aandeel te hê aan die vervulling van Matteus 24:14, maak my baie gelukkig” (2 Korintiërs 2:15-17). Jy voel ongetwyfeld dieselfde.
Wanneer ons boodskap teëgestaan word
15. (a) Watter waarskuwing het Jesus aan sy volgelinge gegee? (b) Wat stel ons in staat om die predikingswerk ondanks teenstand te doen?
15 Ongunstige omstandighede bied nog ’n uitdaging wanneer dit by die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk kom. Jesus het sy volgelinge gewaarsku: “Julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees” (Matteus 24:9). Soos die vroeë Christene, word Jesus se volgelinge vandag gehaat, teëgestaan en vervolg (Handelinge 5:17, 18, 40; 2 Timoteus 3:12; Openbaring 12:12, 17). In party lande is daar tans regeringsverbooie op hulle werk. Maar in gehoorsaamheid aan God gaan ware Christene in hierdie lande voort om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Amos 3:8; Handelinge 5:29; 1 Petrus 2:21). Wat stel hulle, sowel as alle ander Getuies regoor die wêreld, in staat om dit te doen? Jehovah gee hulle die krag deur middel van sy heilige gees.—Sagaria 4:6; Efesiërs 3:16; 2 Timoteus 4:17.
16. Hoe het Jesus die verband tussen die predikingswerk en God se gees getoon?
16 Jesus het die noue verband tussen God se gees en die predikingswerk beklemtoon toe hy vir sy volgelinge gesê het: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8; Openbaring 22:17). Die volgorde van gebeure in hierdie teks is betekenisvol. Eerstens het die dissipels die heilige gees ontvang, en toe het hulle die wêreldwye predikingswerk onderneem. Slegs met die ondersteuning van God se gees sou hulle die krag hê om daarin te volhard om “’n getuienis vir al die nasies” te gee (Matteus 24:13, 14; Jesaja 61:1, 2). Jesus het dus tereg na die heilige gees as “die helper” verwys (Johannes 15:26). Hy het gesê dat God se gees sy dissipels sou leer en lei.—Johannes 14:16, 26; 16:13.
17. Hoe help die heilige gees ons wanneer ons hewige teenstand ondervind?
17 Op watter maniere help God se gees ons vandag wanneer ons hewige teenstand teen die verkondiging van die goeie nuus ondervind? God se gees versterk ons, en dit staan diegene teë wat ons vervolg. Kyk ter toeligting hiervan na ’n gebeurtenis in die lewe van koning Saul.
Teëgestaan deur God se gees
18. (a) Watter dramatiese en slegte verandering het Saul ondergaan? (b) Watter metodes het Saul gebruik om Dawid te vervolg?
18 Saul het goed begin as Israel se eerste koning, maar hy het later ongehoorsaam geword aan Jehovah (1 Samuel 10:1, 24; 11:14, 15; 15:17-23). Gevolglik het die koning nie langer die ondersteuning van God se gees geniet nie. Saul het briesend kwaad geword vir Dawid, wat as die volgende koning gesalf is en toe die ondersteuning van God se gees geniet het (1 Samuel 16:1, 13, 14). Dit het gelyk of Dawid ’n maklike teiken is. Hy het per slot van rekening net ’n harp gehad terwyl Saul ’n spies in sy hand gehad het. Terwyl Dawid dus eendag op die harp gespeel het, het Saul “die spies gegooi en gesê: ‘Ek gaan Dawid teen die muur vaspen!’ maar Dawid het twee keer voor hom weggekoes” (1 Samuel 18:10, 11). Agterna het Saul na sy seun Jonatan, Dawid se vriend, geluister en gesweer: “So waar as Jehovah lewe, [Dawid] sal nie doodgemaak word nie.” Maar toe het Saul weer vir “Dawid met die spies teen die muur probeer vaspen”. Dawid het egter “voor Saul weggekoes, sodat hy die spies in die muur gesteek het”. Dawid het gevlug, maar Saul het hom agtervolg. Op daardie kritieke tyd het God se gees Saul se teenstander geword. Hoe?—1 Samuel 19:6, 10.
19. Hoe het God se gees Dawid beskerm?
19 Dawid het na die profeet Samuel gevlug, maar Saul het sy manne gestuur om Dawid gevange te neem. Maar toe hulle by Dawid se skuilplek kom, “het die gees van God oor Saul se boodskappers gekom, en . . . hulle het hulle soos profete begin gedra”. Hulle was so oorweldig deur God se gees dat hulle die doel van hulle sending heeltemal vergeet het. Saul het nog twee keer manne gestuur om Dawid terug te bring, en dieselfde ding het elke keer gebeur. Uiteindelik het koning Saul self na Dawid toe gegaan, maar ook Saul kon nie God se gees weerstaan nie. Trouens, die heilige gees het veroorsaak dat hy “daardie hele dag en daardie hele nag” nie kon beweeg nie—wat Dawid genoeg tyd gegee het om te vlug.—1 Samuel 19:20-24.
20. Watter les kan ons leer uit die verslag van Saul se vervolging van Dawid?
20 Hierdie verslag van Saul en Dawid bevat ’n bemoedigende les: Vervolgers van God se knegte kan nie welslae behaal wanneer God se gees hulle teëstaan nie (Psalm 46:11; 125:2). Dit was Jehovah se voorneme dat Dawid koning oor Israel sou wees. Niemand kon dit verander nie. In ons dag het Jehovah bepaal dat die ‘goeie nuus van die koninkryk verkondig sal word’. Niemand kan keer dat dit gebeur nie.—Handelinge 5:40, 42.
21. (a) Hoe tree party teenstanders vandag op? (b) Watter vertroue het ons?
21 Party godsdiens- en politieke leiers gebruik leuens en selfs geweld om ons te probeer keer. Maar net soos Jehovah Dawid geestelik beskerm het, sal Hy vandag Sy volk beskerm (Maleagi 3:6). Soos Dawid sê ons dus vol vertroue: “In God het ek my vertroue gestel. Ek sal nie bang wees nie. Wat kan die mens aan my doen?” (Psalm 56:11; 121:1-8; Romeine 8:31). Mag ons, met Jehovah se hulp, voortgaan om al die uitdagings die hoof te bied terwyl ons die godgegewe opdrag uitvoer om die goeie nuus van die Koninkryk aan mense van alle nasies te verkondig.
[Voetnote]
a Sien die venster “’n Gevoel van diepe bevrediging”, op bladsy 22.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Onthou jy?
• Waarom pas ons ons predikingsmetodes aan?
• “’n Groot deur” wat tot watter nuwe geleenthede lei, is oopgemaak?
• Wat word deur ons predikingswerk bereik, selfs in minder ontvanklike gebiede?
• Waarom kan geen teenstander die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk stopsit nie?
[Venster op bladsy 22]
’n Gevoel van diepe bevrediging
“Hulle is gelukkig en geniet hulle verenigde diens aan Jehovah.” Dit beskryf ’n gesin wat van Spanje na Bolivia getrek het. Een van die seuns van die gesin het daarheen gegaan om ’n afgesonderde groep te help. Toe sy ouers sien hoeveel vreugde dit hom verskaf, was hulle so beïndruk dat die hele gesin—insluitende vier seuns tussen die ouderdomme van 14 en 25 jaar—kort voor lank daar gaan dien het. Drie van die seuns doen nou pionierdiens, en die een wat die voortou geneem het, het onlangs die Bedieningsopleidingskool bygewoon.
“Daar is baie uitdagings”, sê die 30-jarige Angelica van Kanada, wat in Oos-Europa dien, “maar ek put bevrediging daaruit om mense in die bediening te help. Ook raak dit my hart om al die waardering van die plaaslike Getuies te sien wat my dikwels bedank omdat ek hulle kom help het.”
“Daar was soveel gebruike waaraan ons gewoond moes raak”, sê twee vleeslike susters in hulle laat twintigerjare wat van die Verenigde State kom en in die Dominikaanse Republiek dien. “Maar ons het in ons toewysing volhard, en sewe van ons Bybelstudente woon nou die vergaderinge by.” Hierdie twee susters het gehelp om ’n groep Koninkryksverkondigers te organiseer in ’n dorp waar daar nie ’n gemeente is nie.
Laura, ’n suster in haar laat twintigerjare, dien al meer as vier jaar in ’n ander land. Sy sê: “Ek hou doelbewus my lewe eenvoudig. Dit help die verkondigers om te sien dat ’n beskeie lewenswyse ’n kwessie van keuse en gesonde verstand is, nie van armoede nie. Die vreugde wat ek daaruit put om ander te help, veral jongmense, vergoed vir die wesenlike ontberings wat met diens in ’n vreemde land gepaardgaan. Ek sal my diens hier vir geen ander lewe verruil nie, en ek sal bly solank as wat Jehovah dit toelaat.”
[Venster/Prent op bladsy 26]
Kenmerke van die boekie Good News for People of All Nations
Die boekie Good News for People of All Nations bevat ’n bladsy lange boodskap in tot 92 verskillende tale. Die boodskap is in die eerste persoon geskryf. Wanneer die huisbewoner die boodskap lees, klink dit dus asof jy met hom praat.
Die binneblad van die omslag bevat ’n wêreldkaart. Gebruik hierdie kaart om ’n aanknopingspunt te vind. Miskien kan jy wys na die land waar jy woon en aandui dat jy graag wil weet waarvandaan hy kom. Sodoende kan jy hom aan die gesels kry en ’n vriendelike, ontspanne atmosfeer skep.
Die voorwoord van die boekie gee ’n paar stappe wat ons moet neem om diegene wat ’n taal praat wat ons nie verstaan nie, op doeltreffende wyse te help. Lees asseblief hierdie stappe sorgvuldig deur, en pas dit getrou toe.
Die inhoudsopgawe bevat ’n lys met nie net die tale nie, maar ook die ooreenstemmende taalsimbole. Hierdie kenmerk help jou om die taalsimbole te identifiseer wat op ons traktate en ander publikasies in die verskillende tale verskyn.
[Prent]
Gebruik jy hierdie boekie in die bediening?
[Prente op bladsy 23]
Ons Bybelpublikasies is nou in meer as 400 tale beskikbaar
GHANA
LAPLAND (SWEDE)
FILIPPYNE
[Prente op bladsy 24, 25]
Kan jy dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is?
ECUADOR
DOMINIKAANSE REPUBLIEK