Dien God met ’n gewillige gees
“EK SAL met die grootste genoeë uitgee en heeltemal uitgegee word vir julle siele”, het die apostel Paulus geskryf (2 Korintiërs 12:15). Wat sê hierdie woorde vir ons aangaande die beskouing en gesindheid wat Jehovah se knegte moet probeer aankweek? Volgens een Bybelgeleerde het Paulus, toe hy hierdie woorde aan Christene in Korinte geskryf het, gesê: “Ek is gewillig om my krag en tyd en lewe en alles wat ek het, tot julle voordeel te gebruik, soos ’n vader dit met blymoedigheid vir sy kinders doen.” Paulus was bereid om “heeltemal uitgegee [te] word” of om “uitgeput en gedaan te wees” as dit nodig sou wees om sy Christelike bediening te vervul.
Daarbenewens het Paulus dit alles “met die grootste genoeë” gedoen. Hy was “heeltemal gewillig” om dit te doen, sê The Jerusalem Bible. Wat van jou? Is jy gewillig om jou tyd, energie, talente en middele te gebruik om Jehovah God te dien en die belange van ander te bevorder, selfs al beteken dit dat jy soms “uitgeput en gedaan” sal wees? En sou jy dit “met die grootste genoeë” doen?
Hulle weier om enigsins te dien
Die meeste mense is nie net huiwerig om God te dien nie, maar weier botweg om dit te doen. Hulle het ’n ondankbare gees, een van selfsugtige onafhanklikheid, selfs opstandigheid. Satan het Adam en Eva verlei om so te dink. Hy het valslik beweer dat hulle “soos God sal wees deur goed en kwaad te ken”—dat hulle self sou kon besluit wat reg en wat verkeerd is (Genesis 3:1-5). Diegene wat vandag dieselfde gees openbaar, dink dat hulle algehele vryheid behoort te hê om te doen net wat hulle begeer sonder enige verpligting teenoor God of inmenging deur hom (Psalm 81:12, 13). Hulle wil alles wat hulle besit, gebruik om hulle eie persoonlike belange na te streef.—Spreuke 18:1.
Jy het waarskynlik nie hierdie uiterste beskouing nie. Heel moontlik waardeer jy werklik die gawe van lewe wat jy nou geniet en die selfs wonderliker vooruitsig om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe (Psalm 37:10, 11; Openbaring 21:1-4). Jy is dalk innig dankbaar teenoor Jehovah vir sy goedheid teenoor jou. Maar ons almal moet op ons hoede wees vir die gevaar dat Satan ons denke so verwronge kan maak dat ons diens in werklikheid vir God onaanneemlik kan word (2 Korintiërs 11:3). Hoe kan dit gebeur?
Gewillige diens word vereis
Jehovah wil gewillige, heelhartige diens hê. Hy dwing ons nooit om sy wil te doen nie. Dit is Satan wat alles in sy vermoë sal doen om druk op mense uit te oefen of hulle te verlei om sy wil te doen. Wat ons diens aan God betref, praat die Bybel wel van verpligtinge, gebooie, vereistes, ensovoorts (Prediker 12:13, NW; Lukas 1:6). Maar die hoofrede waarom ons God dien, is omdat ons hom liefhet.—Exodus 35:21; Deuteronomium 11:1.
Ongeag in watter mate Paulus hom in God se diens uitgegee het, hy het geweet dat dit hoegenaamd niks sou beteken ‘as hy nie liefde gehad het’ nie (1 Korintiërs 13:1-3). Wanneer Bybelskrywers na Christene verwys as slawe van God, verwys hulle nie na willose slawerny wat op dwang gegrond is nie (Romeine 12:11; Kolossense 3:24). Wat bedoel word, is gewillige onderdanigheid wat op innige, hartgrondige liefde vir God en sy Seun, Jesus Christus, gegrond is.—Matteus 22:37; 2 Korintiërs 5:14; 1 Johannes 4:10, 11.
Ons diens aan God moet ook ’n innige liefde vir mense weerspieël. “Ons het teergevoelig geword in julle midde, soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester”, het Paulus aan die gemeente in Tessalonika geskryf (1 Tessalonisense 2:7). Vandag het moeders in baie lande ’n wetlike verpligting om hulle kinders te versorg. Maar die meeste moeders doen dit tog sekerlik nie net om die wet te gehoorsaam nie, nie waar nie? Nee. Hulle doen dit omdat hulle hulle kinders liefhet. Trouens, ’n sogende moeder maak met graagte groot opofferinge vir haar kinders! Omdat Paulus ’n soortgelyke “tere geneentheid” gehad het vir diegene wat hy gedien het, het hy “met graagte” (“gewillig”, King James Version; “met genoeë”, New International Version) sy lewe gebruik om hulle te help (1 Tessalonisense 2:8). Liefde beweeg ons om Paulus se voorbeeld na te volg.—Matteus 22:39.
Wat van teësinnige diens?
Ons moet natuurlik nie toelaat dat ons liefde vir onsself ons liefde vir God en mense oortref nie. Anders bestaan daar ’n wesenlike gevaar dat ons net halfhartige, teësinnige diens kan verrig. Ons kan selfs ’n bietjie gegrief begin voel en ontsteld wees dat ons nie ons lewe uitsluitlik volgens ons eie begeertes kan lei nie. Dit het met party Israeliete gebeur wat hulle liefde vir God verloor het, maar hom nog steeds uit pligsgevoel in sekere mate gedien het. Wat was die gevolg? Om God te dien, het vir hulle “moeite” geword.—Maleagi 1:13.
Enige offerandes wat aan God gebring word, moet altyd “sonder gebrek” wees, die “beste” wat ’n mens kan gee (Levitikus 22:17-20; Exodus 23:19). Pleks van Jehovah die beste van hulle diere te gee, het die volk in Maleagi se dag egter diere begin offer wat hulle self nie eintlik wou hê nie. Wat was Jehovah se reaksie? Hy het vir die priesters gesê: “Wanneer julle ’n blinde dier aanbied om geoffer te word[, sê julle]: ‘Dit is niks slegs nie.’ En wanneer julle ’n kreupel of ’n siek dier aanbied: ‘Dit is niks slegs nie.’ Bring dit asseblief na jou goewerneur toe. Sal hy behae in jou hê of sal hy jou vriendelik ontvang? . . . En julle het iets gebring wat geroof is, en die kreupele en die sieke; ja, julle het dit as ’n gawe gebring. Kan ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem?”—Maleagi 1:8, 13, NW.
Hoe kan dit met enigeen van ons gebeur? Ons offerandes kan vir ons “moeite” word as ons nie ’n waarlik gewillige hart en gees het nie (Exodus 35:5, 21, 22; Levitikus 1:3, NW; Psalm 54:8 NW; Hebreërs 13:15, 16). Kry Jehovah byvoorbeeld net die deel van ons tyd wat oorbly?
Kan enigiemand werklik dink dat dit vir God aanneemlik sou wees as ’n welmenende familielid of ’n ywerige Leviet ’n onwillige Israeliet op die een of ander manier gedwing het om sy beste dier as ’n offerande te kies as hy dit nie werklik wou offer nie? (Jesaja 29:13; Matteus 15:7, 8). Jehovah het sulke offerandes verwerp en uiteindelik ook die mense wat dit geoffer het.—Hosea 4:6; Matteus 21:43.
Skep behae daarin om God se wil te doen
As ons God wil dien op ’n manier wat vir hom aanneemlik is, moet ons die voorbeeld van Jesus Christus navolg. ‘Ek soek nie my eie wil nie,’ het hy gesê, ‘maar die wil van hom wat my gestuur het’ (Johannes 5:30). Dit het Jesus groot geluk verskaf om God gewillig te dien. Jesus het Dawid se profetiese woorde vervul: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen.”—Psalm 40:8, NW.
Hoewel Jesus daarin behae geskep het om Jehovah se wil te doen, was dit nie altyd maklik nie. Dink byvoorbeeld aan wat net voor sy inhegtenisneming, verhoor en teregstelling gebeur het. Terwyl Jesus in die tuin van Getsemane was, was hy “diep bedroef” en het hy “in sielsangs” geraak. Die emosionele druk was so intens dat “sy sweet . . . soos bloeddruppels geword [het] wat op die grond val” terwyl hy gebid het.—Matteus 26:38; Lukas 22:44.
Waarom het Jesus hierdie angs ondervind? Beslis nie weens eiebelang of teësinnigheid om God se wil te doen nie. Hy was bereid om te sterf en het selfs heftig gereageer op Petrus se woorde: “Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie lot hê nie” (Matteus 16:21-23). Waaroor Jesus bekommerd was, is hoe sy dood as ’n veragtelike misdadiger Jehovah en Sy heilige naam sou raak. Jesus was daarvan bewus dat dit sy Vader diep sou seermaak om te sien hoe sy geliefde Seun op so ’n barbaarse manier behandel word.
Jesus het ook verstaan dat hy ’n kritieke tyd in die verwesenliking van Jehovah se voornemens bereik het. As Jesus God se wette getrou sou nakom, sou dit sonder twyfel bewys dat Adam dieselfde keuse kon gemaak het. Jesus se getrouheid sou toon dat Satan se bewering dat mense God nie tydens toetse gewillig en getrou sou dien nie heeltemal vals is. Deur middel van Jesus sou Jehovah Satan uiteindelik verbrysel en die gevolge van sy opstand verwyder.—Genesis 3:15.
Wat ’n ontsettende groot verantwoordelikheid het op Jesus se skouers gerus! Sy Vader se naam, universele vrede en die redding van die mensdom het alles van Jesus se getrouheid afgehang. Hy het dit besef en derhalwe gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by my verbygaan. Nogtans nie soos ek wil nie, maar soos u wil” (Matteus 26:39). Selfs terwyl Jesus onder die hewigste druk verkeer het, het hy gewillig gebly om hom aan sy Vader se wil te onderwerp.
‘Die gees is gretig, maar die vlees is swak’
Aangesien Jesus intense emosionele druk verduur het terwyl hy Jehovah gedien het, kan ons ook verwag dat Satan druk op ons as God se knegte gaan uitoefen (Johannes 15:20; 1 Petrus 5:8). Daarbenewens is ons onvolmaak. Al dien ons God gewillig, sal dit dus nie vir ons maklik wees nie. Jesus het gesien hoe moeilik sy apostels dit gevind het om alles te doen wat hy hulle gevra het om te doen. Dit is waarom hy gesê het: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak” (Matteus 26:41). Daar was geen aangebore swakheid in sý volmaakte menslike vlees nie. Maar hy het die swakheid van sy dissipels se vlees, die onvolmaaktheid wat hulle van die onvolmaakte mens Adam geërf het, in gedagte gehad. Jesus het geweet dat hulle weens oorgeërfde onvolmaaktheid en die gevolglike menslike beperkings ’n stryd sou hê om alles te doen wat hulle graag in Jehovah se diens wou doen.
Ons sal dus moontlik soos die apostel Paulus voel, wat baie terneergedruk was toe onvolmaaktheid sy vermoë belemmer het om God ten volle te dien. “Die vermoë om te wil, is by my aanwesig,” het Paulus geskryf, “maar die vermoë om te bewerk wat voortreflik is, is nie” (Romeine 7:18). Ons vind ook dat ons nie al die goeie dinge wat ons graag wil doen ten volle kan uitvoer nie (Romeine 7:19). Dit is nie omdat ons enigsins teësinnig is nie. Dit is bloot omdat die swakheid van die vlees selfs ons beste pogings belemmer.
Laat ons nie moed opgee nie. As ons opregte bereidheid het om ons bes te doen, sal ons diens beslis vir God aanneemlik wees (2 Korintiërs 8:12). Mag ons ‘ons uiterste bes doen’ om Christus se gees van algehele onderworpenheid aan God se wil na te volg (2 Timoteus 2:15; Filippense 2:5-7; 1 Petrus 4:1, 2). Jehovah sal so ’n gewillige gees beloon en ondersteun. Hy sal ons “die krag wat bo die normale is”, gee om vir ons swakhede te vergoed (2 Korintiërs 4:7-10). Met Jehovah se hulp sal ons, soos Paulus, “met die grootste genoeë uitgee en heeltemal uitgegee word” in Sy kosbare diens.
[Prent op bladsy 21]
Paulus het God gewillig na die beste van sy vermoë gedien
[Prent op bladsy 23]
Selfs onder die hewigste druk het Jesus sy Vader se wil gedoen