Die tweede brief aan die Korintiërs
8 Ons wil julle dan nou laat weet, broers, van die onverdiende goedheid van God wat aan die gemeentes van Masedoʹnië betoon is.+ 2 Hulle het swaargekry, en dit was vir hulle ’n baie moeilike toets, maar hulle was baie vreugdevol en vrygewig, al was hulle verskriklik arm. 3 Hulle het gegee wat hulle kon,+ ja, ek verseker julle, selfs meer as wat hulle kon.+ 4 Want hulle het ons uit hulle eie bly smeek vir die voorreg om ’n bydrae te gee om die heiliges te help toe hulle dit nodig gehad het.+ 5 En hulle het nog meer gedoen as wat ons verwag het, want hulle het hulleself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur God se wil. 6 Daarom het ons Titus aangemoedig+ om die vrywillige bydrae wat hy onder julle begin insamel het, klaar in te samel. 7 Julle het ’n oorvloed van alles – julle het geloof, julle kan goed praat, julle het kennis en ywer en ook ’n oorvloed van ons liefde vir julle. Mag julle dus ook oorvloedig aan ander gee.+
8 Ek sê dit nie vir julle as ’n bevel nie, maar om julle bewus te maak van die gretigheid van ander en om te toets hoe opreg julle liefde is. 9 Want julle ken die onverdiende goedheid van ons Here Jesus Christus. Hy was ryk, maar hy het arm geword vir julle,+ sodat julle deur sy armoede ryk kon word.
10 En ek wil vir julle sê wat ek hiervan dink.+ Hierdie saak is tot julle voordeel, want ’n jaar gelede het julle nie net julle goeie bedoelings getoon nie, maar julle het ook met die werk begin. 11 Maak dan nou die werk klaar met dieselfde gewilligheid as waarmee julle begin het, en gee wat julle kan. 12 Want as die gewilligheid daar is, word dit met graagte aanvaar – maar volgens wat ’n mens het,+ nie volgens wat ’n mens nie het nie. 13 Want ek wil dit nie vir ander maklik maak, maar vir julle moeilik maak nie. 14 Daar moet eerder ’n gelykmaking wees. Die oorvloed wat julle op die oomblik het, moet hulle tekort aanvul, en hulle oorvloed moet ook julle tekort aanvul. So sal daar ’n gelykmaking wees. 15 Net soos daar geskryf is: “Die een met baie het nie te veel gehad nie, en die een met min het nie te min gehad nie.”+
16 En ons dank God dat Titus net so besorg oor julle is soos ons,+ 17 want hy het beslis op die aanmoediging gereageer, maar omdat hy so ywerig is, kom hy uit sy eie na julle toe. 18 Maar ons stuur saam met hom die broer wat in al die gemeentes geprys word as gevolg van wat hy vir die goeie nuus gedoen het. 19 Nie net dit nie, maar hy is ook deur die gemeentes aangestel om saam met ons te reis terwyl ons hierdie geskenk wat uit liefde gegee is, uitdeel tot eer van die Here en as ’n bewys dat ons bereid is om te help. 20 So keer ons dat enigiemand met ons foutvind in verband met hierdie groot bydrae waarvoor ons moet sorg.+ 21 Want ons ‘sien eerlik om na alles, nie net voor Jehovah* nie, maar ook voor mense’.+
22 Wat meer is, ons stuur saam met hulle ons broer wat dikwels deur ons getoets is en wat in baie opsigte bewys het dat hy ywerig is, maar wat nou selfs yweriger is omdat hy groot vertroue in julle het. 23 As daar egter enige twyfel oor Titus is: Hy is my metgesel en werk saam met my om na julle belange om te sien. En as daar vrae oor ons broers is: Hulle is apostels van gemeentes en bring eer aan Christus. 24 Bewys dus julle liefde vir hulle,+ en wys die gemeentes waarom ons trots is op julle.