Hoofstuk 35
Die beroemdste preek wat ooit gehou is
DIE toneel is een van die onvergeetlikstes in Bybelgeskiedenis: Jesus sit teen ’n berghelling en lewer sy beroemde Bergpredikasie. Dit is digby die See van Galilea, waarskynlik naby Kapernaüm. Jesus het so pas 12 van sy dissipels uitgekies om apostels te wees, nadat hy die hele nag lank gebid het. Nou klim hy saam met hulle almal af na hierdie gelykte teen die berg.
’n Mens sou dink dat Jesus teen hierdie tyd baie moeg sou wees en sou wou slaap. Maar groot skares het gekom, party selfs van Judea en Jerusalem af, wat sowat 100 tot 110 kilometer daarvandaan is. Ander het van die kusgebied van Tirus en Sidon in die noorde af gekom. Hulle het gekom om na Jesus te luister en van hulle siektes genees te word. Daar is selfs mense wat deur die demone, Satan se bose engele, gekwel word.
Terwyl Jesus afkom, kom siekes nader om hom aan te raak, en hy genees hulle almal. Daarna klim Jesus blykbaar na ’n hoër plek teen die berg op. Hy gaan sit daar en begin om die skares wat op die gelykte voor hom is te leer. En dink net daaraan! Daar is nou nie eers een mens in die hele gehoor wat aan ’n ernstige kwaal ly nie!
Die mense is gretig om die onderrigter te hoor wat hierdie verbasende wonderwerke kan verrig. Maar Jesus lewer sy preek hoofsaaklik vir die voordeel van sy dissipels, wat waarskynlik die naaste aan hom sit. Maar Mattheüs sowel as Lukas het dit neergeskryf sodat ons ook daarby baat kan vind.
Mattheüs se verslag van die preek is nagenoeg vier keer langer as Lukas s’n. Daarbenewens is van die dinge wat Mattheüs opgeteken het volgens Lukas op ’n ander tydstip in Jesus se bediening gesê, soos jy sal sien as jy Mattheüs 6:9-13 met Lukas 11:1-4 en Mattheüs 6:25-34 met Lukas 12:22-31 vergelyk. Maar dit behoort ons nie te verbaas nie. Jesus het klaarblyklik dieselfde dinge meer as een keer gesê en Lukas het verkies om party van hierdie leringe teen ’n ander agtergrond op te teken.
Dit is nie net die ryk geestelike inhoud van Jesus se preek wat dit so waardevol maak nie, maar ook die eenvoudige en duidelike manier waarop hy hierdie waarhede oordra. Hy gebruik alledaagse ondervindinge en dinge waarmee mense bekend is, en so maak hy sy idees maklik verstaanbaar vir almal wat ’n beter lewenswyse op God se weg soek.
Wie is waarlik gelukkig?
Almal wil gelukkig wees. Jesus besef dit en daarom begin hy sy Bergpredikasie deur diegene te beskryf wat waarlik gelukkig is. Soos ons ons kan voorstel, boei dit dadelik sy groot gehoor. En tog moet sy eerste woorde vir talle teenstrydig klink.
Jesus rig sy woorde tot sy dissipels en begin: “Salig [“gelukkig”, NW] is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. [Gelukkig] is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. [Gelukkig] is julle wat nou ween, want julle sal lag. [Gelukkig] is julle wanneer die mense julle haat . . . Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel.”
Dit is Lukas se verslag van die inleiding van Jesus se preek. Maar volgens Mattheüs se verslag sê Jesus ook dat die sagmoediges, die barmhartiges, dié wat rein van hart is en die vredemakers gelukkig is. Hulle is gelukkig, sê Jesus, want hulle sal die aarde beërwe, hulle sal barmhartigheid bewys word, hulle sal God sien en hulle sal kinders van God genoem word.
Wat Jesus met gelukkig bedoel, is egter nie net om vrolik of opgeruimd te wees soos wanneer ’n mens pret het nie. Ware geluk gaan dieper en bevat die gedagte van tevredenheid, ’n gevoel van bevrediging en voldoening in die lewe.
Jesus toon dat diegene wat waarlik gelukkig is dus mense is wat bewus is van hulle geestelike behoefte, bedroef is oor hulle sondige toestand en God leer ken en hom dien. Al word hulle gehaat of vervolg omdat hulle God se wil doen, is hulle nogtans gelukkig, want hulle weet dat hulle God behaag en die ewige lewe as beloning van hom sal ontvang.
Maar baie van Jesus se toehoorders glo, net soos party mense vandag, dat dit welvarendheid en genot is wat ’n mens gelukkig maak. Jesus weet dat dit nie die geval is nie. Jesus maak ’n teenstelling wat baie van sy toehoorders moontlik verbaas en sê:
“Wee julle, rykes, want julle het jul troos weg. Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween. Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.”
Wat bedoel Jesus? Waarom bring dit wee mee as jy rykdom het, laggend genot najaag en die goedkeuring van mense geniet? Dit is omdat diens aan God, wat die enigste ding is wat ware geluk meebring, uit ’n persoon se lewe uitgesluit word as hy hierdie dinge het en te veel waarde daaraan heg. Terselfdertyd het Jesus nie bedoel dat iemand gelukkig sal wees bloot omdat hy arm, honger of bedroef is nie. Maar sulke minder bevoorregte mense gee dikwels gehoor aan Jesus se leer en word daardeur met ware geluk geseën.
Jesus wend hom vervolgens tot sy dissipels en sê: “Julle is die sout van die aarde.” Hy bedoel natuurlik nie dat hulle letterlik sout is nie. Maar sout is ’n preserveermiddel. ’n Groot hoop daarvan het naby die altaar in Jehovah se tempel gelê, en priesters wat daar diens gedoen het, het dit gebruik om die offerandes te sout.
Jesus se dissipels is “die sout van die aarde” in die sin dat hulle ’n preserverende invloed op mense het. Die boodskap wat hulle oordra, sal inderdaad die lewens bewaar van almal wat daarop ag slaan! Dit sal eienskappe soos bestendigheid, lojaliteit en getrouheid in die lewe van sulke mense bewerkstellig en geestelike en sedelike verval in hulle voorkom.
“Julle is die lig van die wêreld”, sê Jesus vir sy dissipels. ’n Lamp word nie onder ’n maatemmer gesit nie, maar op ’n staander, en daarom sê Jesus: “Laat julle lig só skyn voor die mense.” Jesus se dissipels doen dit deur hulle openbare getuieniswerk, asook deur ligtende voorbeelde van gedrag te stel wat met Bybelbeginsels strook.
’n Hoë standaard vir sy volgelinge
Die godsdiensleiers beskou Jesus as ’n oortreder van God se Wet en het ’n rukkie tevore selfs saamgesweer om hom dood te maak. Daarom verduidelik Jesus vervolgens in sy Bergpredikasie: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”
Jesus het die grootste agting vir God se Wet en spoor ander aan om dit ook te hê. Trouens, hy sê: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele”—met ander woorde, so iemand sal glad nie in die Koninkryk kom nie.
Jesus toon nie minagting vir God se Wet nie, inteendeel, hy veroordeel selfs die gesindhede wat daartoe lei dat ’n mens dit verbreek. Nadat hy gemeld het dat die Wet sê: “Jy mag nie doodslaan nie”, voeg Jesus by: “Maar ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broer kwaad bly, rekenskap sal moet gee voor die gereg.”—NW.
Aangesien dit so ernstig is om vir ’n metgesel kwaad te bly, iets wat selfs tot moord kan lei, lig Jesus toe hoe ver ’n mens moet gaan om ’n versoening te bewerkstellig. Hy beveel: “As jy dan jou [offer]gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.”
Jesus vestig dan die aandag op die sewende van die Tien Gebooie en sê voorts: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie.” Maar Jesus veroordeel selfs die volgehoue neiging tot egbreuk. “Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou bly kyk om hartstog vir haar te hê, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”—NW.
Jesus praat hier nie bloot van ’n kortstondige, onsedelike gedagte nie, maar van ‘bly kyk’. So ’n aanhoudende kykery wek hartstogtelike begeertes wat op egbreuk kan uitloop indien die geleentheid hom voordoen. Hoe kan ’n mens voorkom dat dit gebeur? Jesus lig toe hoe drastiese stappe nodig kan wees deur te sê: “As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; . . . En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af.”
Mense is dikwels bereid om ’n letterlike ledemaat wat siek is prys te gee om hulle lewe te red. Maar volgens Jesus is dit selfs noodsaakliker om enigiets, selfs iets so kosbaars soos ’n oog of ’n hand, ‘weg te gooi’ om onsedelike denke en dade te vermy. Anders, verduidelik Jesus, sal sulke persone in Gehenna (’n brandende vullishoop naby Jerusalem) gegooi word, wat ewige vernietiging afbeeld.
Jesus bespreek ook hoe om op te tree teenoor mense wat ander kwets en beledig. “[Moenie] ’n slegte mens . . . weerstaan nie”, is sy raad. “Maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.” Jesus bedoel nie dat iemand homself of sy gesin nie moet verdedig wanneer hulle aangeval word nie. Die doel van ’n klap is nie om iemand fisies seer te maak nie, maar eerder om hom te beledig. Jesus sê dus dat dit verkeerd sou wees om iemand met gelyke munt te betaal as hy ’n bakleiery of ’n argument probeer uitlok, hetsy deur letterlik met die plat hand te klap of deur met beledigings te krenk.
Nadat Jesus die aandag gevestig het op God se wet dat ’n mens jou naaste moet liefhê, sê hy: “Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; . . . en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.” Hy verstrek ’n kragtige rede om dit te doen wanneer hy byvoeg: “Sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies.”
Jesus sluit hierdie deel van sy preek af deur te vermaan: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” Jesus bedoel nie dat mense in die absolute sin volmaak kan wees nie. Maar deur God na te volg, kan hulle hul liefde verruim om selfs hulle vyande in te sluit. Lukas se parallelle verslag gee Jesus se woorde soos volg weer: “Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.”
Gebed en vertroue op God
Jesus gaan voort met sy preek en veroordeel die skynheiligheid van mense wat ’n vertoon van hulle gewaande vroomheid maak. “Wanneer jy dan liefdadigheid bewys”, sê hy, “moenie ’n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes . . . nie.”
“En”, sê Jesus voorts, “wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word.” Hy beveel eerder: “Wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is.” Jesus self het openbare gebede gedoen en daarom is dit nie sulke gebede wat hy veroordeel nie. Wat hy wel veroordeel, is gebede wat gedoen word om die hoorders te beïndruk en hulle bewonderende komplimente uit te lok.
Jesus vermaan verder: “As julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie.” Jesus bedoel nie dat herhaling op sigself verkeerd is nie. Terwyl hy eenmaal gebid het, het hy self “dieselfde woorde” gebruik. Maar wat hy wel afkeur, is die “ydele herhaling” van gememoriseerde uitdrukkings soos dié van diegene wat krale aftel terwyl hulle hul gebede werktuiglik herhaal.
Om sy hoorders te help bid, voorsien Jesus ’n modelgebed wat sewe versoeke insluit. Die eerste drie verleen tereg erkenning aan God se soewereiniteit en sy voornemens. Dit is versoeke dat God se naam geheilig moet word, dat sy Koninkryk moet kom en dat sy wil moet geskied. Die laaste vier is persoonlike versoeke, naamlik om daaglikse voedsel, om die vergifnis van sondes, om nie bo ’n mens se kragte versoek te word nie en om van die Bose verlos te word.
Jesus bespreek vervolgens die strik om te veel klem op materiële besittings te lê. Hy maan: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie.” Sulke skatte is nie alleen verganklik nie, maar hulle bou ook geen verdienste vir ’n mens by God op nie.
Jesus sê gevolglik: “Maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel.” ’n Mens doen dit deur diens aan God eerste in jou lewe te stel. Niemand kan die verdienste wat sodoende by God opgebou word, of die wonderlike beloning daarvoor, wegneem nie. Jesus voeg dan by: “Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
Waar Jesus die strik van materialisme verder bespreek, gebruik hy die illustrasie: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees.” Die oog wat behoorlik funksioneer, is vir die liggaam soos ’n opgesteekte lamp in ’n donker plek. Maar om reg te kan sien, moet die oog reg wees, dit wil sê, dit moet op een ding saamtrek. ’n Oog wat uit fokus is, laat ’n mens dinge verkeerd beoordeel, laat jou materiële strewes belangriker ag as diens aan God, met die gevolg dat die “hele liggaam” donker word.
Jesus voer hierdie saak tot ’n hoogtepunt met ’n kragtige illustrasie: “Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!”
Na hierdie raad verseker Jesus sy toehoorders dat hulle nie besorg hoef te wees oor hulle materiële behoeftes as hulle diens aan God eerste stel nie. “Kyk na die voëls van die hemel”, sê hy, “hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle.” Dan vra hy: “Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”
Jesus vestig vervolgens die aandag op die lelies van die veld en sê dat “selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie”. Hy gaan voort: “As God dan die gras van die veld . . . so beklee, hoeveel te meer vir julle kleingelowiges?” Jesus se gevolgtrekking is dus: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? . . . want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Die weg tot die lewe
Die weg tot die lewe is die weg van gehoorsaamheid aan Jesus se leringe. Maar dit is nie maklik nie. Die Fariseërs is byvoorbeeld geneig om ander fel te oordeel, en baie volg hulle waarskynlik na. Gevolglik sluit Jesus die volgende vermaning by sy Bergpredikasie in: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word.”
Dit is gevaarlik om die voorbeeld van die oorkritiese Fariseërs te volg. Volgens Lukas se verslag lig Jesus hierdie gevaar toe deur te sê: “’n Blinde kan tog nie ’n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie?”
Dit is ’n ernstige oortreding om te krities te wees teenoor ander, hulle foute te vergroot of op hulle te pik. Jesus vra dus: “Hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.”
Dit beteken nie dat Jesus se dissipels geen onderskeidingsvermoë in verband met ander mense aan die dag moet lê nie, want hy sê: “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie.” Die waarhede uit God se Woord is heilig. Hulle is soos figuurlike pêrels. Maar as sommige mense, wat soos honde of varke is, geen waardering vir hierdie kosbare waarhede toon nie, moet Jesus se dissipels van daardie mense af weggaan en diegene soek wat ontvankliker is.
Hoewel Jesus gebed vroeër in sy Bergpredikasie bespreek het, beklemtoon hy nou die nodigheid om daarin te volhard. “Hou aan vra”, spoor hy sy toehoorders aan, “en dit sal aan julle gegee word” (NW). Om toe te lig hoe gewillig God is om gebede te verhoor, vra Jesus: “Watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee . . . ? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!”
Vervolgens sê Jesus iets wat sedertdien ’n beroemde gedragsreël geword het en wat algemeen as die Gulde Reël bekend staan. Hy sê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.” As ’n mens volgens hierdie reël lewe, beteken dit dat jy daadwerklik aan ander goed doen en hulle behandel soos jy behandel wil word.
Dat die weg tot die lewe nie maklik is nie, blyk uit Jesus se instruksie: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”
Die gevaar is groot dat ’n mens mislei kan word, en daarom waarsku Jesus: “Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.” Net soos goeie bome en slegte bome aan hulle vrugte geken kan word, sê Jesus, kan valse profete aan hulle gedrag en leringe geken word.
Jesus verduidelik voorts dat dit nie bloot iemand se woorde is wat hom Sy dissipel maak nie, maar wel sy dade. Sommige mense beweer dat Jesus hulle Heer is, maar as hulle nie die wil van sy Vader doen nie, sal hy aan hulle sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”
Jesus lewer nou die onvergeetlike slot van sy preek. Hy sê: “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.”
Aan die ander kant sê Jesus: “Elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ’n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.”
Wanneer Jesus klaar is met sy preek, is die skare verstom oor sy manier van onderrig, want hy leer hulle soos iemand wat gesag het en nie soos hulle godsdiensleiers nie. Lukas 6:12-23; Mattheüs 5:1-12; Lukas 6:24-26; Mattheüs 5:13-48; 6:1-34; 26:36-45; 7:1-29; Lukas 6:27-49.
▪ Waar is Jesus wanneer hy sy onvergeetlikste preek hou, wie is teenwoordig en wat het plaasgevind kort voor hy dit lewer?
▪ Waarom is dit nie verbasend dat Lukas party van die leringe van die preek teen ’n ander agtergrond opteken nie?
▪ Wat maak Jesus se preek so waardevol?
▪ Wie is waarlik gelukkig, en waarom?
▪ Wie ontvang weë, en waarom?
▪ Hoe is Jesus se dissipels “die sout van die aarde” en “die lig van die wêreld”?
▪ Hoe toon Jesus groot agting vir God se Wet?
▪ Watter bevel gee Jesus om die oorsake van moord en egbreuk uit te roei?
▪ Wat bedoel Jesus wanneer hy sê dat ’n mens die ander wang moet draai?
▪ Hoe kan ons volmaak wees soos God volmaak is?
▪ Watter instruksies oor gebed gee Jesus?
▪ Waarom het hemelse skatte groter waarde, en hoe verkry ’n mens dit?
▪ Watter illustrasies word gegee om ’n mens te help om materialisme te vermy?
▪ Waarom sê Jesus dat ’n mens glad nie besorg hoef te wees nie?
▪ Hoe waarsku Jesus daarteen om ander te oordeel, maar hoe toon hy dat sy dissipels onderskeidingsvermoë in verband met mense aan die dag moet lê?
▪ Wat sê Jesus verder oor gebed, en watter gedragsreël gee hy?
▪ Hoe toon Jesus dat die weg tot die lewe nie maklik is nie en dat die gevaar bestaan dat ’n mens mislei kan word?
▪ Hoe sluit Jesus sy preek af, en watter uitwerking het dit?