Hoe om die kringloop van haat te verbreek
‘Julle moet julle vyande liefhê.’—MATTEUS 5:44.
DIE leiers van twee vyandige nasies het dae lank intensiewe vredesonderhandelinge gevoer. Die president van ’n invloedryke nywerheidsland was by die besprekings teenwoordig en het sy aansienlike invloed en diplomatiese vaardighede gebruik om die twee leiers tot ’n ooreenkoms te laat kom. Maar die gevolg van al hierdie onderhandelinge was eenvoudig net nog meer pyn. Binne weke was die twee nasies gewikkel in wat die tydskrif Newsweek “die ergste geweld in twee dekades tussen hulle” genoem het.
Regoor die wêreld wil haat en vyandigheid tussen verskeie etniese en nasionale groepe eenvoudig nie verdwyn nie, ten spyte van die opregte pogings van volksleiers. Die kringloop van haat word al hoe boser en word aangeblaas deur onkunde, onverdraagsaamheid en propaganda. Maar hoewel vandag se leiers vergeefs na nuwe en slim oplossings soek, sien hulle nie dat die beste oplossing eintlik ’n oue is nie—iets so oud soos die Bergpredikasie. In daardie preek het Jesus Christus sy luisteraars aangemoedig om in God se weë te wandel. Hy het in daardie konteks die stelling gemaak wat hierbo aangehaal word: ‘Julle moet julle vyande liefhê.’ Daardie vermaning is nie net die beste oplossing vir die probleem van haat en vooroordeel nie, maar is die enigste praktiese oplossing!
Skeptici verwerp die gedagte om ’n mens se vyande lief te hê as heeltemal idealisties en onprakties. Maar as haat aangeleerde gedrag is, is dit dan nie redelik om te veronderstel dat dit afgeleer kan word nie? Jesus se woorde bied dus werklike hoop vir die mensdom. Dit toon dat dit moontlik is om selfs jare lange vyandighede tersyde te stel.
Beskou die situasie in Jesus se dag onder sy Joodse luisteraars. Hulle is deur vyande omring. Romeinse troepe het steeds oor die gebied geheers en die Jode aan onderdrukkende belasting, politieke manipulasie, mishandeling en uitbuiting onderwerp (Matteus 5:39-42). Party kon egter selfs mede-Jode as hulle vyande beskou omdat nietige verskille nie opgelos is nie en toegelaat is om voort te duur (Matteus 5:21-24). Kon Jesus werklik van sy luisteraars verwag om mense lief te hê wat hulle hartseer en pyn veroorsaak het?
Die betekenis van “liefde”
Ons moet eerstens besef dat Jesus met die woord “liefde” nie die soort geneentheid in gedagte gehad het wat dalk tussen goeie vriende bestaan nie. Die Griekse woord wat in Matteus 5:44 vir liefde gebruik is, kom van die woord a·ga’pe. Hierdie woord het die betekenis van liefde wat deur beginsel gerig of gelei word. Dit sluit nie noodwendig tere geneentheid in nie. Omdat sulke liefde deur regverdige beginsels gerig word, beweeg dit ’n mens om ander se belange op die hart te dra, ongeag hulle gedrag. Hierdie liefde, a·gaʹpe, kan dus persoonlike vetes beëindig. Jesus het self sulke liefde geopenbaar deur nie sleg te praat van die Romeinse soldate wat hom aan die paal gehang het nie, maar eerder te bid: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”—Lukas 23:34.
Is dit realisties om te verwag dat die hele wêreld Jesus se leringe sal aanneem en dat mense mekaar sal begin liefhê? Nee, want die Bybel toon dat hierdie wêreld vinnig besig is om op rampspoed af te stuur. “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger”, sê 2 Timoteus 3:13. Maar individue kan die kringloop van haat verbreek deur deeglik vertroud te raak met regverdige beginsels deur middel van ’n studie van die Bybel. Die geskiedenis toon duidelik dat baie sodoende al geleer het om die vlaag van haat om hulle te weerstaan. Kom ons kyk na ’n paar werklike gevalle.
Hy het geleer om lief te hê
As lid van ’n terroristegroep was José op die ouderdom van 13 by ’n guerrillaoorlog betrokke.a Hy is geleer om die mense te haat wat glo verantwoordelik was vir die ongeregtigheid wat hy om hom gesien het. En indien moontlik, moes hy hulle probeer doodmaak. José is met gevoelens van bitterheid en wraak vervul omdat hy soveel van sy kamerade sien sneuwel het. Terwyl hy granate gemaak het, het hy hom afgevra: ‘Waarom is daar soveel lyding? As daar ’n God is, sien hy dit dan nie raak nie?’ Hy het dikwels gehuil en was verward en terneergedruk.
José het uiteindelik met ’n plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Hy het by sy eerste gemeentelike vergadering onmiddellik die liefdevolle atmosfeer opgemerk. Almal het hom op ’n hartlike en vriendelike manier gegroet. Later het ’n bespreking oor die onderwerp “Waarom laat God lyding toe?” die einste vrae beantwoord wat hy al lank gevra het.b
Meer Bybelkennis het mettertyd daartoe gelei dat José veranderinge in sy lewe en in sy denkwyse aangebring het. Hy het geleer dat ‘hy wat nie liefhet nie, in die dood bly. Elkeen wat haat, is ’n mensemoordenaar, en die ewige lewe bly in geen mensemoordenaar nie.’—1 Johannes 3:14, 15.
Maar dit was moeilik om bande met sy terroristevriende te verbreek. Hy is elke keer agtervolg as hy na die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gegaan het. Party van sy gewese vriende het selfs ’n paar vergaderinge bygewoon om te verstaan waarom José so verander het. Toe hulle tevrede was dat hy nie ’n verraaier of ’n gevaar vir hulle is nie, het hulle hom uitgelos. José is as een van Jehovah se Getuies gedoop toe hy 17 was. Hy het kort voor lank aan die voltydse bediening begin deelneem. Hy beraam nie meer planne om mense dood te maak nie, maar verkondig nou aan hulle ’n boodskap van liefde en hoop!
Etniese hindernisse word uit die weg geruim
Kan lede van etniese groepe die hindernisse van haat wat hulle verdeel, uit die weg ruim? Kyk byvoorbeeld na die groep van Jehovah se Getuies in Londen, Engeland, wat Amharies praat. Daardie groep bestaan uit 35 mense—waarvan 20 Etiopiërs en 15 Eritreërs is. Hulle aanbid in vrede en eenheid saam ondanks die feit dat Eritreërs en Etiopiërs onlangs ’n wrede oorlog in Afrika gevoer het.
Die familie van ’n Etiopiese Getuie het vir hom gesê: ‘Moet nooit Eritreërs vertrou nie!’ Maar nou vertrou hy nie net sy Eritrese mede-Christene nie, hy noem hulle ook broer en suster! Hoewel hierdie Eritreërs gewoonlik Tigrinya praat, het hulle verkies om Amharies te leer—die taal van hulle Etiopiese broers—sodat hulle die Bybel saam met hulle kan bestudeer. Wat ’n wonderlike bewys is dit tog van die krag van goddelike liefde as “’n volmaakte band van eenheid”!—Kolossense 3:14.
Hy het die verlede vergeet
Maar sê nou jy was die slagoffer van onmenslike behandeling? Is dit dan nie normaal om ’n wrok te koester teen diegene wat jou gemartel het nie? Dink byvoorbeeld aan Manfred, ’n Getuie van Duitsland. Hy het ses jaar van sy lewe in ’n Kommunistiese gevangenis deurgebring net omdat hy een van Jehovah se Getuies is. Het hy ooit sy onderdrukkers gehaat of die begeerte gekoester om wraak te neem? “Nee”, het hy geantwoord. Volgens die Duitse koerant Saarbrücker Zeitung het Manfred soos volg verduidelik: “Om iemand ’n onreg aan te doen of om kwaad met kwaad te vergeld . . . , sit ’n kringloop aan die gang wat keer op keer tot nuwe ongeregtighede lei.” Manfred het beslis die Bybel se woorde toegepas: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”—Romeine 12:17, 18.
’n Wêreld sonder haat!
Jehovah se Getuies beweer nie dat hulle in hierdie opsig volmaak is nie. Hulle vind dikwels dat dit moeilik is om ou vyandighede en wrokke te oorkom. Dit verg volgehoue en kragtige inspanning om Bybelbeginsels in ’n mens se lewe toe te pas. Maar Jehovah se Getuies is oor die algemeen ’n lewende voorbeeld van die Bybel se krag om die kringloop van haat te verbreek. Deur ’n program van tuisbybelstudies help Getuies elke jaar duisende mense om van die kettings van rassisme en onverdraagsaamheid los te breek.c (Sien die venster “Bybelraad help om haat uit die weg te ruim”.) Daardie sukses is ’n voorsmakie van die resultate van die wêreldwye onderrigtingsprogram wat binnekort sal help om ’n algehele einde te maak aan haat en al die gevolge daarvan. Hierdie toekomstige onderrigtingsprogram sal onder die toesig van God se Koninkryk, of wêreldregering, plaasvind. Jesus het ons in die Onse Vader geleer om vir daardie Koninkryk te bid toe hy gesê het: “Laat u koninkryk kom.”—Matteus 6:9, 10.
Die Bybel beloof dat ‘die aarde vol sal wees van die kennis van Jehovah’ onder die toesig van hierdie hemelse regering (Jesaja 11:9; 54:13). Die woorde van die profeet Jesaja, wat so dikwels aangehaal word, sal dan op ’n wêreldskaal vervul word: “[God] sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4). God sal dus self, eens en vir altyd, die bose kringloop van haat verbreek.
[Voetnote]
a Nie sy regte naam nie.
b Sien hoofstuk 8, “Waarom laat God lyding toe?” in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.
c ’n Gratis tuisbybelstudie kan gereël word deur met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking te kom of deur aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf.
[Venster op bladsy 11]
Bybelraad Help Om Haat Uit Die Weg Te Ruim
● “Uit watter bron kom daar oorloë en uit watter bron kom daar bakleiery onder julle? Kom dit nie uit hierdie bron nie, naamlik uit julle hunkeringe na sinsgenot wat ’n stryd in julle lede voer?” (Jakobus 4:1). Konflikte met ander kan dikwels uit die weg geruim word as ons leer om selfsugtige begeertes te bedwing.
● ‘Hou ’n oog, nie net in persoonlike belangstelling op julle eie sake nie, maar ook in persoonlike belangstelling op dié van die ander’ (Filippense 2:4). Om ander se belange bo ons eie te stel, is nog ’n manier om onnodige konflik te vermy.
● “Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig” (Psalm 37:8). Ons kan en moet vernietigende drange beheers.
● “God . . . het uit een mens elke nasie van die mense gemaak om op die hele oppervlak van die aarde te woon” (Handelinge 17:24, 26). Dit het geen sin om te dink dat jy beter as mense van ’n ander ras is nie, aangesien ons almal lede van dieselfde mensegesin is.
● ‘Moet niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed moet julle die ander hoër as julleself ag’ (Filippense 2:3). Dit is dwaas om op ander neer te sien—omdat ander mense dikwels eienskappe en vaardighede het wat ons nie het nie. Daar is geen superras of -kultuur nie.
● “Laat ons dan, solank ons tyd het wat daarvoor gunstig is, aan almal goed doen” (Galasiërs 6:10). Deur eenvoudig die inisiatief te neem om vriendelik en behulpsaam teenoor ander te wees, ongeag hulle ras of kultuur, kan kommunikasiegapings oorbrug en misverstande uit die weg geruim word.
[Prente op bladsy 8, 9]
Etiopiese en Eritrese Getuies aanbid in vrede saam
[Prent op bladsy 10]
Manfred, ’n oorlewende van ’n Kommunistiese gevangenis, het geweier om aan haat toe te gee
[Prent op bladsy 10]
Die Bybel kan help om hindernisse wat mense verdeel, uit die weg te ruim