“Here, leer ons hoe om te bid”
‘Een van sy dissipels het vir hom gesê: “Here, leer ons hoe om te bid.”’—LUKAS 11:1.
1. Waarom het een van Jesus se dissipels gevra dat hy hulle leer hoe om te bid?
BY EEN geleentheid in 32 G.J. het ’n dissipel van Jesus gesien hoe Hy bid. Hy kon nie hoor wat Jesus vir sy Vader sê nie, want dit was waarskynlik ’n stille gebed. Toe Jesus klaar was, het die dissipel nietemin vir hom gesê: “Here, leer ons hoe om te bid” (Lukas 11:1). Wat het tot hierdie versoek aanleiding gegee? Gebed was deel van die Joodse lewe en aanbidding. Die Hebreeuse Geskrifte bevat talle gebede in die boek Psalms en elders. Die dissipel het dus nie gevra dat hy iets geleer word waarvan hy niks geweet het of wat hy nog nooit vantevore gedoen het nie. Hy was ongetwyfeld bekend met die formalistiese gebede van die godsdiensleiers van Judaïsme. Maar nou het hy gesien hoe Jesus bid, en hy het moontlik aangevoel dat daar ’n groot verskil was tussen die skynheilige gebede van die rabbi’s en die manier waarop Jesus gebid het.—Matteus 6:5-8.
2. (a) Wat toon dat Jesus nie bedoel het dat ons die modelgebed woord vir woord moet opsê nie? (b) Waarom wil ons graag weet hoe om te bid?
2 Sowat 18 maande vroeër het Jesus in sy Bergpredikasie vir sy dissipels ’n model gegee waarop hulle hulle gebede kon grond (Matteus 6:9-13). Miskien was hierdie dissipel nie daar teenwoordig nie, en daarom het Jesus goedgunstiglik die belangrike punte van daardie modelgebed herhaal. Dit is opmerkenswaardig dat hy dit nie woord vir woord herhaal het nie, wat toon dat hy nie ’n liturgiese gebed gegee het wat uit die hoof opgesê moet word nie (Lukas 11:1-4). Ons wil ook, soos daardie dissipel wat nie by name genoem word nie, leer hoe om te bid sodat ons gebede ons nader aan Jehovah kan bring. Kom ons ondersoek derhalwe die vollediger weergawe van die modelgebed, soos opgeteken deur die apostel Matteus. Dit bevat sewe versoeke, waarvan drie met God se voornemens verband hou en vier met ons materiële en geestelike behoeftes. In hierdie artikel sal ons die eerste drie versoeke bespreek.
’n Liefdevolle Vader
3, 4. Wat word geïmpliseer deur die feit dat ons Jehovah as “ons Vader” aanspreek?
3 Uit die staanspoor het Jesus getoon dat ons gebede ’n intieme dog eerbiedige verhouding met Jehovah moet weerspieël. Jesus het hoofsaaklik tot voordeel van sy dissipels gepraat wat naby hom op daardie berg gesit het, en hy het vir hulle gesê om Jehovah as “ons Vader in die hemele” aan te spreek (Matteus 6:9). Volgens een geleerde het Jesus, hetsy hy in ’n algemene vorm van Hebreeus of in Aramees gepraat het, ’n term vir “Vader” gebruik wat verwant is aan die intieme uitdrukkings van ’n klein kindjie, ‘’n kinderwoord’. Om Jehovah as “ons Vader” aan te spreek, dui op ’n hegte vertrouensverhouding.
4 Deur “ons Vader” te sê, erken ons ook dat ons deel is van ’n groot familie mans en vroue wat Jehovah as die Lewegewer erken (Jesaja 64:8; Handelinge 17:24, 28). Geesgesalfde Christene word as “God se kinders” aangeneem, en hulle kan tot hom ‘uitroep: “Abba, Vader!”’ (Romeine 8:14, 15). Miljoene het by hulle aangesluit en hulle lojale metgeselle geword. Hierdie persone het hulle lewe aan Jehovah toegewy en hulle toewyding deur waterdoop gesimboliseer. Al hierdie “ander skape” kan Jehovah ook in Jesus se naam nader en Hom “ons Vader” noem (Johannes 10:16; 14:6). Ons kan gereeld tot ons hemelse Vader bid om hom te loof, te dank vir al sy goedheid teenoor ons en ons laste op hom te werp, vol vertroue dat hy vir ons sal sorg.—Filippense 4:6, 7; 1 Petrus 5:6, 7.
Liefde vir Jehovah se naam
5. Wat is die eerste versoek in die modelgebed, en waarom is dit gepas?
5 Die eerste versoek plaas die belangrikste dinge onmiddellik eerste. Dit sê: “Laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Ja, die heiliging van Jehovah se naam moet vir ons van die allergrootste belang wees omdat ons hom liefhet en dit ons grief om te sien hoeveel oneer sy naam al aangedoen is. Satan se opstand en die feit dat hy die eerste mensepaar beïnvloed het om ongehoorsaam aan Jehovah God te wees, het God se naam belaster aangesien dit die manier waarop Hy Sy universele soewereiniteit uitoefen, bevraagteken het (Genesis 3:1-6). Daarbenewens het die skandelike dade en leringe van dié wat beweer dat hulle hom verteenwoordig, Jehovah se naam deur die eeue heen oneer aangedoen.
6. Wat sal ons nie doen nie as ons bid dat Jehovah se naam geheilig word?
6 Ons bede dat Jehovah se naam geheilig moet word, toon wat ons standpunt ten opsigte van die geskil oor universele soewereiniteit is—ons ondersteun ten volle Jehovah se reg om oor die heelal te heers. Jehovah wil hê dat die heelal bewoon word deur intelligente skepsele wat hulle gewillig en vreugdevol aan sy regverdige soewereiniteit onderwerp weens hulle liefde vir hom en hulle liefde vir alles waarvoor sy naam staan (1 Kronieke 29:10-13; Psalm 8:1; 148:13). Ons liefde vir Jehovah se naam sal ons help om niks te doen wat sy heilige naam oneer kan aandoen nie (Esegiël 36:20, 21; Romeine 2:21-24). Aangesien die vrede van die heelal, en van die inwoners daarvan, afhang van die heiliging van Jehovah se naam en liefdevolle onderworpenheid aan sy soewereiniteit, is ons bede “laat u naam geheilig word”, ’n blyk van ons vertroue dat Jehovah se voorneme vervul sal word tot sy lof.—Esegiël 38:23.
Die Koninkryk waarvoor ons bid
7, 8. (a) Wat is die Koninkryk waarvoor Jesus ons leer bid het? (b) Wat leer ons oor hierdie Koninkryk in die boeke Daniël en Openbaring?
7 Die tweede versoek in die modelgebed is: “Laat u koninkryk kom” (Matteus 6:10). Hierdie versoek hou ten nouste verband met die vorige een. Die instrument wat Jehovah gaan gebruik om sy groot naam te heilig, is die Messiaanse Koninkryk, sy hemelse regering, waarvan sy Seun, Jesus Christus, as die regmatige Koning aangestel is (Psalm 2:1-9). Daniël se profesie beeld die Messiaanse Koninkryk uit as “’n klip” wat uit ’n “berg” gekap is (Daniël 2:34, 35, 44, 45). Die berg stel Jehovah se universele soewereiniteit voor, en daarom is die Koninkryksklip ’n nuwe uitdrukking van Jehovah se universele heerskappy. In die profesie word die klip op sy beurt ‘’n groot berg en vul dit die hele aarde’, wat daarop dui dat die Messiaanse Koninkryk God se soewereiniteit sal verteenwoordig wanneer dit oor die aarde heers.
8 In hierdie Koninkryksregering is daar saam met Christus 144 000 ander, wat “uit die mensdom gekoop” is om saam met hom as konings en priesters te heers (Openbaring 5:9, 10; 14:1-4; 20:6). Daniël verwys na hulle as “die heiliges van die Opperwese”, wat saam met Christus hulle Hoof “die koninkryk en die heerskappy en die grootsheid van die koninkryke onder die ganse hemel [ontvang]. Hulle koninkryk is ’n koninkryk van onbepaalde duur, en al die heerskappye sal hulle dien en gehoorsaam” (Daniël 7:13, 14, 18, 27). Dít is die hemelse regering waarvoor Christus sy volgelinge leer bid het.
Waarom nog steeds bid dat die Koninkryk moet kom?
9. Waarom is dit gepas dat ons bid vir God se Koninkryk om te kom?
9 In sy modelgebed het Christus ons geleer om te bid dat God se Koninkryk moet kom. Die vervulling van Bybelprofesie toon dat die Messiaanse Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig is.a Is dit derhalwe nog steeds gepas dat ons bid vir daardie Koninkryk om te “kom”? Beslis. Want in Daniël se profesie stuur die Messiaanse Koninkryk, wat deur ’n klip voorgestel word, af op ’n botsing met die politieke menseregerings, wat deur ’n ontsaglike beeld voorgestel word. Die klip moet nog daardie beeld tref en dit heeltemal verbrysel. Daniël se profesie sê: “Die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”—Daniël 2:44.
10. Waarom sien ons daarna uit dat God se Koninkryk moet kom?
10 Ons sien uit na die tyd wanneer God se Koninkryk kom om teen Satan se goddelose stelsel van dinge op te tree, want dit sal beteken dat Jehovah se groot naam geheilig word en dat alle teenstanders van goddelike soewereiniteit verwyder word. Ons vurige gebed is: “Laat u koninkryk kom”, en saam met die apostel Johannes sê ons: “Amen! Kom, Here Jesus” (Openbaring 22:20). Ja, mag Jesus kom om Jehovah se naam te heilig en Sy soewereiniteit te regverdig, sodat die psalmis se woorde bewaarheid kan word: “[Dat] mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.”—Psalm 83:18.
“Laat u wil geskied”
11, 12. (a) Waarvoor bid ons wanneer ons vra dat God se wil “geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde”? (b) Wat anders openbaar ons bede dat Jehovah se wil moet geskied?
11 Vervolgens het Jesus sy dissipels leer bid: “Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Die heelal het in aansyn gekom as gevolg van Jehovah se wil. Magtige hemelse wesens roep uit: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep” (Openbaring 4:11). Jehovah het ’n voorneme vir “die dinge in die hemele en die dinge op die aarde” (Efesiërs 1:8-10). Wanneer ons bid dat God se wil moet geskied, vra ons in werklikheid dat Jehovah sy voorneme uitvoer. Wat meer is, ons toon sodoende dat ons graag wil sien dat God se wil in die ganse heelal moet geskied.
12 Deur hierdie gebed openbaar ons ook ons gewilligheid om ons lewe na Jehovah se wil te skik. Jesus het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Soos Jesus skep ons as toegewyde Christene behae daarin om God se wil te doen. Ons liefde vir Jehovah en vir sy Seun beweeg ons om “nie meer vir die begeertes van mense te lewe nie, maar vir God se wil” (1 Petrus 4:1, 2; 2 Korintiërs 5:14, 15). Ons probeer dinge vermy wat ons weet in stryd met Jehovah se wil is (1 Tessalonisense 4:3-5). Deur tyd uit te koop vir Bybellees en -studie, “gaan [ons] voort om te begryp wat die wil van Jehovah is”, wat insluit dat ons ywerig deelneem aan die verkondiging van “hierdie goeie nuus van die koninkryk”.—Efesiërs 5:15-17; Matteus 24:14.
Jehovah se wil in die hemel
13. Hoe het God se wil geskied lank voordat Satan in opstand gekom het?
13 Lank voordat een van sy geesseuns in opstand gekom en Satan geword het, het Jehovah se wil reeds in die hemel geskied. Die boek Spreuke beeld God se eersgebore Seun uit as die verpersoonliking van wysheid. Dit toon dat God se enigverwekte Seun tallose eeue lank “die hele tyd voor hom verheug was”, gelukkig om sy Vader se wil te doen. Hy het later Jehovah se “meesterwerker” geword in die skepping van alle dinge “in die hemele en op die aarde . . . , die sigbare dinge en die onsigbare dinge” (Spreuke 8:22-31; Kolossense 1:15-17). Jehovah het Jesus as sy Woord, of Woordvoerder, gebruik.—Johannes 1:1-3.
14. Wat kan ons uit Psalm 103 leer oor hoe die engele Jehovah se wil in die hemel doen?
14 Die psalmis toon dat Jehovah se soewereiniteit bo alles verhewe is en dat die engelemagte na sy woorde en sy bevele luister. Ons lees: “Jehovah het sy troon stewig gevestig in die hemel; en oor alles het sy koningskap heerskappy gevoer. Loof Jehovah, o sy engele, magtig in krag, wat sy woord uitvoer, deur na die stem van sy woord te luister. Loof Jehovah, al sy leërs, sy dienaars, wat sy wil doen. Loof Jehovah, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy [of, “soewereiniteit”, voetnoot in NW].”—Psalm 103:19-22.
15. Watter verband is daar tussen die feit dat Jesus Koninkryksmag ontvang het en dat God se wil in die hemel geskied?
15 Ná sy opstand het Satan nog steeds toegang tot die hemelse hof gehad, soos in die boek Job gesien kan word (Job 1:6-12; 2:1-7). Maar die boek Openbaring het voorspel dat die tyd sou kom wanneer Satan en sy demone uit die hemel gewerp sou word. Daardie tyd het blykbaar aangebreek kort nadat Jesus Christus in 1914 Koninkryksmag ontvang het. Van toe af was daar nie langer plek in die hemel vir daardie opstandelinge nie. Hulle is tot die omgewing van die aarde beperk (Openbaring 12:7-12). Geen rebelse stem word meer in die hemel gehoor nie, maar net stemme wat in eenheid “die Lam”, Christus Jesus, toejuig en Jehovah in onderworpenheid loof (Openbaring 4:9-11). Jehovah se wil geskied inderdaad in die hemel.
Jehovah se wil vir die aarde
16. Hoe weerlê die modelgebed die Christendom se leerstelling oor die mens se toekomshoop?
16 Die kerke van die Christendom sluit die aarde nie in by God se voornemens nie, want hulle beweer dat alle goeie mense hemel toe gaan. Maar Jesus het ons leer bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Kan ’n mens hoegenaamd sê dat Jehovah se wil vandag ten volle geskied op ’n aarde wat geteister word deur geweld, ongeregtigheid, siekte en die dood? Allermins! Ons moet dus ernstig bid dat God se wil op aarde moet geskied, in ooreenstemming met die belofte wat die apostel Petrus opgeteken het: “Daar is nuwe hemele [die Messiaanse Koninkryksregering van Christus] en ’n nuwe aarde [’n regverdige mensegemeenskap] wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon.”—2 Petrus 3:13.
17. Wat is Jehovah se voorneme vir die aarde?
17 Jehovah het die aarde met ’n doel geskep. Hy het die profeet Jesaja geïnspireer om te skryf: “Só het Jehovah gesê, die Skepper van die hemele, Hy, die ware God, die Formeerder van die aarde en die Maker daarvan, Hy, wat dit stewig gevestig het, wat dit nie verniet geskep het nie, wat dit gevorm het om bewoon te word: ‘Ek is Jehovah, en daar is geen ander nie’” (Jesaja 45:18). God het die eerste mensepaar in ’n paradystuin geplaas en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit” (Genesis 1:27, 28; 2:15). Dit is ongetwyfeld die Skepper se voorneme dat die aarde bewoon word deur volmaakte, regverdige mense wat hulle met blydskap aan Jehovah se soewereiniteit onderwerp en die ewige lewe geniet in die Paradys wat Christus beloof het.—Psalm 37:11, 29; Lukas 23:43.
18, 19. (a) Wat moet gebeur voordat God se wil ten volle op die aarde sal geskied? (b) Watter ander aspekte van Jesus se modelgebed sal in die volgende artikel bespreek word?
18 Jehovah se wil in verband met die aarde kan nooit ten volle geskied terwyl die aarde bewoon word deur mans en vroue wat weier om sy soewereiniteit te aanvaar nie. God sal magtige geesskepsele onder die leierskap van Christus gebruik om “die verderwers van die aarde te verderf”. Satan se hele goddelose stelsel van dinge, wat valse godsdiens, korrupte politiek, die gierige en oneerlike handelswêreld en vernietigende militêre magte insluit, sal ewige vernietiging ondergaan (Openbaring 11:18; 18:21; 19:1, 2, 11-18). Jehovah se soewereiniteit sal geregverdig en sy naam geheilig geword. Ons bid vir al hierdie dinge wanneer ons sê: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10.
19 Jesus het egter in sy modelgebed getoon dat ons ook oor persoonlike sake kan bid. Hierdie aspekte van sy riglyne oor gebed sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnoot]
a Sien hoofstuk 6 van die boek Gee ag op Daniël se profesie!, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Ter hersiening
• Waarom is dit gepas dat ons Jehovah as “ons Vader” aanspreek?
• Waarom is dit vir ons van die grootste belang om te bid dat Jehovah se naam geheilig word?
• Waarom bid ons dat God se Koninkryk moet kom?
• Wat word geïmpliseer wanneer ons bid dat God se wil op aarde moet geskied soos in die hemel?
[Prent op bladsy 9]
Jesus se gebede het grootliks verskil van die skynheilige gebede van die Fariseërs
[Prent op bladsy 10]
Christene bid dat God se Koninkryk kom, sy naam geheilig word en sy wil geskied