Gebed
4 Waaroor?
DIT is al die mees herhaalde Christelike gebed genoem. Of dit nou waar is of nie, Jesus se modelgebed—wat soms die Onse Vader genoem word—word beslis deur die meeste mense verkeerd verstaan. Miljoene mense sê die woorde elke dag soos ’n rympie op, miskien dikwels gedurende die dag. Maar Jesus het nooit bedoel dat die gebed so gebruik moet word nie. Hoe weet ons?
Net voordat Jesus hierdie gebed gegee het, het hy gesê: “Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê . . . nie” (Matteus 6:7). Het Jesus homself toe weerspreek deur ’n stel woorde te gee wat gememoriseer en herhaal moet word? Beslis nie! Jesus het ons eerder geleer waaroor om te bid, en hy het duidelik getoon watter prioriteite ons in gedagte moet hou wanneer ons bid. Kom ons beskou sy woorde van naderby. Die gebed is opgeteken in Matteus 6:9-13.
“Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word.”
Hiermee het Jesus sy volgelinge daaraan herinner dat alle gebede tot sy Vader, Jehovah, gerig moet word. Maar weet jy waarom God se naam so belangrik is en waarom dit geheilig moet word?
God se heilige naam word al van die begin van die mensegeskiedenis af deur middel van leuens beswadder. God se teenstander, Satan, het Jehovah ’n leuenaar en selfsugtige Heerser genoem wat nie werklik die reg het om oor Sy skeppingswerke te heers nie (Genesis 3:1-6). Baie het hulle aan Satan se kant geskaar deur mense te leer dat God afsydig, wreed en wraaksugtig is of deur te ontken dat Hy hoegenaamd die Skepper is. Ander het selfs sy naam aangeval deur die naam Jehovah uit Bybelvertalings te verwyder en die gebruik daarvan te verbied.
Die Bybel toon dat God al hierdie onregte sal regstel (Esegiël 39:7). Wanneer hy dit doen, sal hy al jou behoeftes bevredig en ook al jou probleme uit die weg ruim. Hoe so? Die volgende woorde in Jesus se gebed voorsien die antwoord.
“Laat u koninkryk kom.”
Daar bestaan vandag groot verwarring onder godsdiensleraars oor God se Koninkryk. Maar soos Jesus se toehoorders geweet het, het God se profete lank tevore voorspel dat die Messias, ’n Redder wat deur God gekies is, oor ’n Koninkryk sou heers wat die wêreld sou verander (Jesaja 9:6, 7; Daniël 2:44). Dit sal God se naam heilig deur Satan se leuens bloot te lê en dan Satan en al sy werke tot niet te maak. God se Koninkryk sal ’n einde maak aan oorlog, siekte, hongersnood—selfs die dood (Psalm 46:9; 72:12-16; Jesaja 25:8; 33:24). Wanneer jy bid dat God se Koninkryk moet kom, bid jy dat al hierdie beloftes bewaarheid moet word.
“Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”
Jesus se woorde gee te kenne dat God se wil net so seker op die aarde sal geskied soos dit in die hemel geskied, waar God woon. In die hemel kon God se wil nie gestuit word nie; daar het God se Seun teen Satan en sy trawante oorlog gevoer en hulle na die aarde neergewerp (Openbaring 12:9-12). Hierdie derde versoek van die modelgebed help ons, net soos die eerste twee, om te konsentreer op wat die belangrikste is—nie ons eie wil nie, maar God s’n. Sy wil bring altyd die grootste voordeel vir die hele skepping mee. Daarom het selfs die volmaakte mens Jesus vir sy Vader gesê: “Laat . . . nie my wil nie, maar u wil geskied.”—Lukas 22:42.
“Gee ons vandag ons brood.”
Jesus het vervolgens getoon dat ons ook oor persoonlike sake kan bid. Daar is niks fout daarmee om oor ons daaglikse, praktiese behoeftes tot God te bid nie. Trouens, as ons dit doen, herinner dit ons daaraan dat dit Jehovah is wat “aan almal lewe en asem en alles gee” (Handelinge 17:25). Die Bybel openbaar dat hy ’n liefdevolle ouer is wat vreugde daaruit put om aan sy kinders te gee wat hulle nodig het. Maar soos ’n goeie ouer, sal hy nie versoeke toestaan wat vir hulle nadelig sal wees nie.
“Vergewe ons ons skulde.”
Skuld jy God werklik iets? Het jy sy vergifnis nodig? Vandag het baie mense die werklikheid en erns van sonde uit die oog verloor. Maar die Bybel leer dat sonde ons ergste probleme ten grondslag lê, want dit is die basiese oorsaak van die dood in mense. Omdat ons in sonde gebore word, sondig ons almal dikwels, en ons enigste hoop op ’n blywende toekoms hang af van God se vergifnis (Romeine 3:23; 5:12; 6:23). Dit is ’n verligting om te weet dat die Bybel sê: “U, o Jehovah, is goed en vergewensgesind.”—Psalm 86:5.
“Verlos ons van die bose.”
Besef jy hoe dringend jy God se beskerming nodig het? Baie weier om te glo dat “die bose”, Satan, hoegenaamd bestaan. Maar Jesus het geleer dat Satan ’n werklike persoon is en het hom selfs “die heerser van hierdie wêreld” genoem (Johannes 12:31; 16:11). Satan het hierdie wêreld waaroor hy heers, verderf, en hy is net so gretig om jou te verderf, om te keer dat jy ’n hegte verhouding met jou Vader, Jehovah, aankweek (1 Petrus 5:8). Maar Jehovah is baie sterker as Satan en skep behae daarin om dié wat Hom liefhet, te beskerm.
Hierdie kort opsomming van die hoofgedagtes van Jesus se modelgebed dek nie elke onderwerp waaroor ’n mens kan bid nie. Onthou, 1 Johannes 5:14 sê vir ons dat God “ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra”. Moet dus nie dink dat jou probleme te onbenullig is om oor te bid nie.—1 Petrus 5:7.
Maar wat van die tyd en plek? Maak dit saak wanneer en waar ons bid?