Hoe om ware geluk te vind
’N BOEDDHISTIESE godsdiensleier, die Dalai Lama, het gesê: “Ek glo dat die ware doel van ons lewe is om geluk na te streef.” Hy het toe verduidelik dat hy glo geluk verkry kan word deur die verstand en die hart op te lei, of te dissiplineer. “’n Verstand”, het hy gesê, “is die enigste basiese toerusting wat ons nodig het om volkome geluk te verkry.” Geloof in God is onnodig, meen hy.a
Beskou in teenstelling hiermee die voorbeeld van Jesus, wat sterk geloof in God gehad het en wie se leringe deur die eeue heen honderdmiljoene mense geraak het. Jesus het in die geluk van mense belanggestel. Hy het sy welbekende Bergpredikasie met nege saligsprekinge begin—nege uitdrukkings wat begin met: “Gelukkig is . . . ” (Matteus 5:1-12). In hierdie selfde predikasie het hy sy luisteraars geleer om hulle verstand en hart te ondersoek, te reinig en te dissiplineer—deur gewelddadige, onsedelike en selfsugtige gedagtes met vreedsame, rein en liefdevolle gedagtes te vervang (Matteus 5:21, 22, 27, 28; 6:19-21). Soos een van sy dissipels later gemaan het, moet ons ‘aanhou om dinge te bedink wat waar, van ernstige belang, regverdig, kuis en lieflik is, asook dinge waarvan daar goed gepraat word, wat deugsaam en lofwaardig is’.—Filippense 4:8.
Jesus het geweet dat ware geluk van verhoudings met ander afhang. Ons as mense is van nature sosiale wesens, en daarom kan ons nie waarlik gelukkig wees as ons ons afsonder of as ons voortdurend bots met diegene om ons nie. Ons kan slegs gelukkig wees as ons voel dat ander ons liefhet en as ons ander liefhet. Die grondslag van hierdie liefde, het Jesus geleer, is ons verhouding met God. Hier verskil Jesus se lering veral van dié van die Dalai Lama, want Jesus het geleer dat mense nie waarlik gelukkig kan wees as hulle onafhanklik van God is nie. Waarom is dit die geval?—Matteus 4:4; 22:37-39.
Dink aan jou geestelike behoeftes
Een van die saligsprekinge is: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Waarom het Jesus dit gesê? Omdat ons, anders as diere, geestelike behoeftes het. Ons is na die beeld van God geskep en kan Goddelike eienskappe, soos liefde, geregtigheid, barmhartigheid en wysheid, in sekere mate aankweek (Genesis 1:27; Miga 6:8, NW; 1 Johannes 4:8). Ons geestelike behoeftes sluit die behoefte in om sin in ons lewe te hê.
Hoe kan ons hierdie geestelike behoeftes bevredig? Nie deur transendentale meditasie of blote selfondersoek nie. Jesus het eerder gesê: “Die mens moet nie van brood alleen lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan” (Matteus 4:4). Let daarop dat Jesus gesê het dat God die bron van “elke uiting” is wat noodsaaklik is vir ons lewe. Party vrae kan net God ons help om te beantwoord. Hierdie insig is veral vandag tydig, aangesien daar so ’n groot toename in teorieë oor die doel van die lewe en die weg na geluk is. Boekwinkels het hele afdelings vol boeke wat lesers gesondheid, rykdom en geluk belowe. Daar is webwerwe op die Internet wat spesifiek oor geluk handel.
Maar mensedenke op hierdie gebiede is dikwels misleidend. Dit is geneig om selfsugtige begeertes aan te moedig of om die ego te streel. Dit is op beperkte kennis en ondervinding gegrond, en heel dikwels berus dit op verkeerde veronderstellings. ’n Tendens wat al hoe gewilder word onder skrywers van selfhelpboeke, is byvoorbeeld om hulle idees op die teorie van “evolusionêre sielkunde” te grond, wat aanneem dat menslike emosies in ons veronderstelde dierlike afkoms gewortel is. Feit is, enige poging om geluk te vind wat gegrond is op ’n teorie wat die rol van ons Skepper ignoreer, kan nie geldig wees nie en sal uiteindelik tot teleurstelling lei. ’n Eertydse profeet het gesê: “Die slim mense kom in die skande . . . Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?”—Jeremia 8:9.
Jehovah God ken ons samestelling en weet wat ons waarlik gelukkig sal maak. Hy weet waarom hy die mens op die aarde gesit het en wat die toekoms inhou, en hy maak hierdie inligting in die Bybel aan ons bekend. Wat hy in daardie geïnspireerde boek openbaar, raak ’n ontvanklike snaar in mense met die regte gesindheid en dit bring geluk mee (Lukas 10:21; Johannes 8:32). Dit was die geval met twee van Jesus se dissipels. Hulle was neerslagtig ná sy dood. Maar nadat hulle by die verrese Jesus self gehoor het van sy rol in God se voorneme vir die mensdom se redding, het hulle gesê: “Het ons hart nie gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het, toe hy die Skrif ten volle vir ons geopen het nie?”—Lukas 24:32.
Sulke vreugde neem toe wanneer ons toelaat dat Bybelwaarheid ons lewe rig. In hierdie opsig kan geluk met ’n reënboog vergelyk word. Dit verskyn wanneer toestande gunstig is, maar dit word helderder—en word selfs ’n dubbele reënboog—wanneer toestande volmaak is. Kom ons kyk nou na ’n paar voorbeelde van hoe die toepassing van Bybelleringe mense gelukkiger kan maak.
Hou jou lewe eenvoudig
Kyk eerstens na Jesus se raad oor rykdom. Nadat hy die vermaning gegee het om nie die najaging van rykdom die belangrikste ding in die lewe te maak nie, maak hy ’n treffende stelling. Hy het gesê: “As jou oog dan eenvoudig is, sal jou hele liggaam lig wees” (Matteus 6:19-22). Hy het basies gesê dat ons belangriker dinge sal verbeur as ons rykdom, mag of enige van die ander doelwitte wat mense stel, ywerig nastreef. Want, soos Jesus by ’n ander geleentheid gesê het, “selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). As ons die dinge wat werklik belangrik is, eerste stel, soos ons verhouding met God, gesinsbelange en ander verwante sake, dan sal ons “oog” “eenvoudig” wees.
Let daarop dat Jesus nie asketisme of streng selfverloëning voorgestaan het nie. Jesus was immers self nie ’n askeet nie (Matteus 11:19; Johannes 2:1-11). Hy het eerder geleer dat diegene wat die lewe as niks anders beskou as ’n geleentheid om rykdom bymekaar te maak nie, die lewe in werklikheid by hulle laat verbygaan.
’n Psigoterapeut in San Francisco, VSA, het kommentaar gelewer oor party wat vroeg in hulle lewe baie ryk geword het en gesê dat geld vir hulle “die oorsaak van spanning en verwarring” is. Hierdie mense, het hy bygevoeg, “koop twee of drie huise, ’n motor, bestee geld aan dinge. En wanneer dit hulle nie gelukkig maak nie, raak hulle depressief, leeg en onseker oor wat hulle met hulle lewe moet doen.” In teenstelling hiermee het diegene wat aan Jesus se raad gehoor gee om materieel ’n eenvoudiger lewe te lei en om ruimte vir geestelike dinge te laat, ’n baie groter kans om ware geluk te vind.
Tom, ’n bouer wat in Hawaii woon, het aangebied om plekke van aanbidding op eilande in die Stille Oseaan te bou waar mense materieel min het. Tom het iets omtrent hierdie nederige mense opgemerk. Hy het gesê: “My Christenbroers en -susters op hierdie eilande is waarlik gelukkig. Hulle het my gehelp om duideliker te sien dat geld en besittings nie die geheim van geluk is nie.” Hy het ook die vrywilligers waargeneem wat saam met hom op die eilande gewerk het en gesien hoe vergenoeg hulle is. “Hulle kon baie geld gemaak het”, het Tom gesê. “Maar hulle het verkies om geestelike dinge eerste in hulle lewe te stel en om ’n eenvoudige lewe te lei.” Tom is diep getref deur hierdie voorbeelde en het sy eie lewe vereenvoudig sodat hy meer tyd aan sy gesin en aan geestelike belange kon wy—’n stap waaroor hy nog nooit spyt was nie.
Geluk en eiewaarde
’n Gevoel van persoonlike waardigheid, of eiewaarde, is noodsaaklik om gelukkig te wees. Weens menslike onvolmaaktheid en die swakhede wat dit tot gevolg het, het party ’n negatiewe beskouing van hulleself, en vir baie kan hierdie gevoelens na hulle kinderdae teruggevoer word. Dit is dalk moeilik om diepgewortelde gevoelens te oorkom, maar dit kan gedoen word. Die oplossing lê in die toepassing van God se Woord.
Die Bybel verduidelik hoe die Skepper oor ons voel. Is sy beskouing nie belangriker as dié van enige mens nie—selfs as ons eie nie? God is die verpersoonliking van liefde en kyk sonder vooroordeel na ons of sonder om ons enige kwaad toe te wens. Hy sien wat ons is sowel as wat ons kan wees (1 Samuel 16:7; 1 Johannes 4:8). Trouens, hy beskou diegene wat hom wil behaag, as kosbaar, ja as geliefd of begeerlik, ongeag hulle onvolmaakthede.—Daniël 9:23; Haggai 2:7, NW.
God ignoreer natuurlik nie ons swakhede en enige sondes wat ons pleeg nie. Hy verwag dat ons hard probeer om te doen wat reg is, en hy ondersteun ons wanneer ons dit doen (Lukas 13:24). Die Bybel sê nietemin: “Soos ’n vader barmhartigheid aan sy kinders bewys, het Jehovah barmhartigheid bewys aan dié wat hom vrees.” Dit sê ook: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word.”—Psalm 103:13, NW; 130:3, 4.
Leer dus om jouself deur God se oë te sien. Die wete dat hy diegene wat hom liefhet, as begeerlik beskou en dat hy vertroue in hulle stel—al beskou hulle hulleself dalk as onwaardig—kan baie help om ’n persoon gelukkiger te maak.—1 Johannes 3:19, 20.
Hoop—noodsaaklik vir geluk
’n Konsep wat deesdae bevorder word en wat positiewe sielkunde genoem word, sê dat optimisme, wat die resultaat is wanneer ’n mens positief dink en jou aandag op jou eie sterk punte toespits, tot geluk kan lei. Min mense sou ontken dat ’n optimistiese beskouing van die lewe en van die toekoms tot ons geluk bydra. Maar sulke optimisme moet op feite gegrond wees, nie net op wensdenkery nie. En al is mense ook hoe optimisties of al dink hulle ook hoe positief, sal dit nie oorlog, hongersnood, siekte, besoedeling, die ouderdom of die dood uit die weg ruim nie—dinge wat soveel mense hulle geluk ontneem. Maar optimisme het wel sy plek.
Interessant genoeg, die Bybel gebruik nie die woord optimisme nie; dit gebruik ’n kragtiger woord—hoop. Vine’s Complete Expository Dictionary definieer “hoop” soos dit in die Bybel gebruik word as “gunstige en vaste verwagting, . . . die blye vooruitsig op die goeie”. In die Bybel is hoop meer as ’n optimistiese beskouing van ’n situasie. Dit verwys ook na die saak waarop ’n mens se hoop gevestig is (Efesiërs 4:4; 1 Petrus 1:3). Die Christelike hoop is byvoorbeeld dat al die ongewenste dinge wat in die vorige paragraaf genoem is, binnekort uit die weg geruim sal word (Psalm 37:9-11, 29). Maar dit sluit nog meer in.
Christene sien uit na die tyd wanneer getroue mense volmaakte lewe op ’n paradysaarde sal ontvang (Lukas 23:42, 43). Openbaring 21:3, 4 wei uit oor hierdie hoop en sê: “Kyk! Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. . . . En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”
Enigiemand wat na so ’n toekoms uitsien, het alle rede om gelukkig te wees, selfs al laat sy huidige omstandighede veel te wense oor (Jakobus 1:12). Ondersoek dus gerus die Bybel en vind uit waarom jy dit kan glo. Versterk jou hoop deur elke dag tyd opsy te sit om die Bybel te lees. As jy dit doen, sal dit jou geestelik verryk, jou help om die dinge te vermy wat mense hulle geluk ontneem en jou gevoel van tevredenheid opbou. Ja, die beste geheim van ware geluk is die uitvoering van God se wil (Prediker 12:13, NW). ’n Lewe wat gebou word op gehoorsaamheid aan die Bybel se voorskrifte is ’n gelukkige lewe, want Jesus het gesê: ‘Gelukkig is dié wat die woord van God hoor en dit nakom!’—Lukas 11:28.
[Voetnoot]
a Geloof in God is onnodig vir ’n Boeddhis.
[Prente op bladsy 5]
Geluk kan nie gevind word deur rykdom bymekaar te maak, jou af te sonder of op die mens se beperkte kennis te vertrou nie
[Prent op bladsy 6]
’n Lewe wat gegrond is op gehoorsaamheid aan God se Woord, is ’n gelukkige lewe
[Prent op bladsy 7]
Die Christelike hoop maak ’n mens gelukkig