Bou jy op sand of op rots?
GENIET jy dit om die Bybel te lees? Sit jy selfs tyd opsy om die Bybel gereeld saam met een van Jehovah se Getuies te studeer? Dan voel jy ongetwyfeld dat die kennis wat jy opgedoen het, jou gehelp het om beter te verstaan waarom hierdie wêreld tans deur probleme verswelg word (Openbaring 12:9, 12). Daarbenewens het talle Bybelgedeeltes jou al gedurende tye van benoudheid vertroos asook ’n hoop vir die toekoms gegee.—Psalm 145:14; 147:3; 2 Petrus 3:13.
Om juiste Bybelkennis te verkry, is ’n baie belangrike stap vir diegene wat volgelinge van Christus wil word. Maar is dit die enigste stap? Nee. Om ’n ware Christen te bly—veral gedurende toetse van geloof—moet ’n Bybelstudent nog ’n noodsaaklike stap doen. Wat is dit? Om die antwoord te vind, gaan ons kortliks kyk na die Bergpredikasie, ’n toespraak wat Jesus op ’n berg in Galilea gehou het.—Matteus 5:1, 2.
Twee huise word getoets
Is jy vertroud met die inhoud van die Bergpredikasie? Jy kan hierdie beroemde toespraak in die Evangelies van Matteus en Lukas vind (Matteus 5:1–7:29; Lukas 6:20-49). Dit neem net 20 minute om die hele toespraak te lees. Nietemin bevat dit meer as 20 aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte en meer as 50 voorbeelde van beeldspraak. Een hiervan—in verband met die bou van twee huise—is uitsonderlik omdat Jesus dit as die slot van sy toespraak gebruik het. As jy die betekenis van hierdie illustrasie in die slot verstaan, sal dit jou help om te sien hoe jy as ’n volgeling van Christus standvastig kan bly ongeag watter toetse van geloof jy teëkom.
Jesus het gesê: “Elkeen wat hierdie woorde van my hoor en dit doen, [sal] vergelyk word met ’n verstandige man, wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het neergestort en die vloedwaters het gekom en die winde het gewaai en aan daardie huis geruk, maar dit het nie ineengestort nie, want dit was op die rots gegrondves. Verder sal elkeen wat hierdie woorde van my hoor en dit nie doen nie, vergelyk word met ’n dwase man, wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het neergestort en die vloedwaters het gekom en die winde het gewaai en daardie huis getref en dit het ineengestort, en sy ineenstorting was groot.”—Matteus 7:24-27.
’n Man “wat gegrawe en diep afgegaan” het
Watter belangrike waarheid het Jesus aan sy dissipels oorgedra met hierdie illustrasie van die twee bouers? Kom ons beskou Jesus se woorde van naderby om uit te vind. Wat merk jy op omtrent die twee huise? Albei is blootgestel aan dieselfde rampspoedige gebeure. Die huise het miskien eenders gelyk. Hulle het dalk in dieselfde omgewing gestaan—dalk selfs langs mekaar. Maar die een is op sand gebou, die ander op rots. Hoe is dit moontlik? Omdat die verstandige man, soos die Evangelie van Lukas sê, “gegrawe en diep afgegaan” het om ’n rotslaag te bereik (Lukas 6:48). Gevolglik het die huis van die verstandige man bly staan.
Watter punt wou Jesus beklemtoon? Jesus het die illustrasie vertel, nie om die aandag te vestig op die voorkoms of die ligging van die huise of die krag van die elemente nie, maar op die dade van die bouers. Een man het diep gegrawe, terwyl die ander een dit nie gedoen het nie. Hoe kan jy soos die verstandige man wees en diep grawe? Jesus het die punt van die illustrasie self opgesom deur te sê: “Waarom noem julle my dan ‘Here! Here!’ maar doen nie wat ek sê nie? Elkeen wat na my toe kom en my woorde hoor en dit doen—ek sal vir julle toon soos wie hy is: Hy is soos ’n man . . . wat gegrawe en diep afgegaan en ’n fondament op die rots gelê het.”—Lukas 6:46-48.
Ja, om bloot na Bybelleringe te luister of die Bybel by die huis te lees, is soos om ’n huis op sand te bou—dit is nie nodig om enigsins te grawe nie. Maar om te doen, oftewel toe te pas, wat Christus geleer het, is ’n uitdaging. Dit behels dat ’n mens diep grawe om soliede rots te bereik.
Of jy as ’n volgeling van Christus standvastig sal wees, hang dus daarvan af of jy toepas wat jy hoor of nie. As jy in jou daaglikse lewe toepas wat jy deur middel van Bybelstudie leer, is jy soos die verstandige man wat diep gegrawe het. Elke Bybelstudent moet dus ’n oomblik stilstaan en hom afvra: ‘Is ek ’n hoorder, of is ek ’n dader? Lees en bestudeer ek bloot die Bybel, of volg ek die Bybel se gebooie wanneer ek besluite neem?’
Die resultate wanneer ’n mens diep grawe
Beskou die ondervinding van José. Sy ouers het hom geleer om die Bybel se sedelike standaarde te respekteer, maar hy het God se Woord nooit self bestudeer nie. “Toe ek die huis verlaat het”, sê José, “het ek probeer om ’n goeie mens te wees, maar ek het ’n klomp slegte vriende gehad. Ek het dwelms begin gebruik, my aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak en heeltyd met ander baklei.”
José het uiteindelik besluit om sy lewenswyse te verander en het die Bybel in alle erns begin bestudeer. “Wat my eintlik beweeg het om te verander”, sê José, “was toe ek Jesus se Bergpredikasie gelees en verstaan het. Maar dit het my ’n ruk geneem om veranderinge in my persoonlikheid en lewenswyse aan te bring. Aanvanklik was ek bang vir wat my ‘vriende’ van my sou dink, maar ek het daardie vrees te bowe gekom. Ek het opgehou om leuens te vertel en vuil taal te gebruik en het die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Ek het uitgevind dat ’n eenvoudige lewe en die toepassing van die Bybel se raad werklik blywende geluk meebring, net soos Jesus belowe het.”—Matteus 5:3-12.
Wat sal die resultate wees wanneer jy diep grawe om op rots te bou—dit wil sê wanneer jy ywerig toepas wat jy in God se Woord lees? Jesus het gesê: “Toe daar ’n vloed kom, het die rivier teen dié huis geslaan, maar was nie sterk genoeg om dit te laat wankel nie, omdat dit goed gebou was” (Lukas 6:48). Ja, as jy goed bou deur toe te pas wat jy leer, sal stormagtige toetse jou huis nie kan afbreek nie en dit selfs nie eens laat wankel nie. Wat ’n vertroostende gedagte!
Die dissipel Jakobus, ’n halfbroer van Jesus, noem nog ’n seëning vir Bybelstudente wat nie net hoorders nie maar waarlik daders van God se geskrewe Woord is. Jakobus het geskryf: “Word daders van die woord en nie net hoorders [nie] . . . Hy wat diep kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, gelukkig wees deurdat hy dit doen.”—Jakobus 1:22-25.
Ja, diegene wat die Bybel se raad toepas, is werklik gelukkig. En hierdie geluk gee volgelinge van Christus die krag om vas te staan teen die stormagtige beproewinge wat hulle geloof en die opregtheid van hulle toegewydheid aan God toets.
Wat sal jy doen?
Toe Jesus sy Bergpredikasie gelewer het, het hy beklemtoon dat diens aan Jehovah God dikwels nie ’n saak is van dit en dat nie, maar dit of dat. Byvoorbeeld, Jesus het geleer dat ’n mens óf ’n eenvoudige oog óf ’n goddelose oog het, dat hy óf God óf rykdom as slaaf dien, dat hy óf op die smal pad óf op die breë pad wandel (Matteus 6:22-24; 7:13, 14). Daarna het Jesus in sy slot, in die illustrasie van die twee bouers, sy volgelinge nog ’n keuse gegee: Tree óf as ’n verstandige man óf as ’n dwase man op.
As jy aanhou om heelhartig toe te pas wat jy uit ’n studie van die Bybel leer, tree jy verstandig op. Ja, as jy diep grawe om op rots te bou, sal dit vir jou seëninge meebring, nou en in die toekoms.—Spreuke 10:25.
[Prente op bladsy 30]
As ons standvastig wil wees, moet ons toepas wat ons leer