HOOFSTUK 9
‘Christus is die krag van God’
1-3. (a) Watter skrikwekkende ondervinding het die dissipels op die See van Galilea gehad, en wat het Jesus gedoen? (b) Waarom kon die apostel Paulus tereg sê ‘Christus is die krag van God’?
DIE dissipels was baie bang. Hulle het oor die See van Galilea gevaar toe ’n storm skielik oor hulle losbars. Hulle het ongetwyfeld al voorheen storms op hierdie meer gesien – party van die manne was immers ervare vissermanne (Matteus 4:18, 19).a Maar dit was “’n baie groot windstorm”, en die see het gou baie onstuimig geword. Die manne het wanhopig probeer om die vaartuig te stuur, maar die storm was te sterk. Groot golwe het “by die boot ingeslaan”, en dit het vol water begin word. Ondanks al die geraas was Jesus vas aan die slaap in die agterstewe, uitgeput nadat hy die skares heeldag onderrig het. Die dissipels het vir hulle lewens gevrees en hom wakker gemaak en gesmeek: “Here, red ons, ons staan op die punt om dood te gaan!” – Markus 4:35-38; Matteus 8:23-25.
2 Jesus was nie bang nie. Vol vertroue het hy die wind en die see bestraf: “Bedaar! Wees stil!” Die wind en die see het hom onmiddellik gehoorsaam – die stormwind het gaan lê, die golwe het bedaar en “’n groot kalmte het oor die see gekom”. Die dissipels het nou baie bang geword. “Wie is hy regtig?” het hulle vir mekaar gesê. Ja, watter soort mens kan die wind en die see bestraf asof hy ’n stout kind teregwys? – Markus 4:39-41; Matteus 8:26, 27.
3 Maar Jesus was nie ’n gewone mens nie. Jehovah se krag is op buitengewone maniere teenoor hom en deur hom getoon. Die geïnspireerde apostel Paulus kon tereg sê: ‘Christus is die krag van God’ (1 Korintiërs 1:24). Op watter maniere word God se krag in Jesus geopenbaar? En hoe kan Jesus se gebruik van krag ons lewe raak?
Die krag van God se eniggebore Seun
4, 5. (a) Watter krag en gesag het Jehovah aan sy eniggebore Seun gegee? (b) Hoe is hierdie Seun toegerus om sy Vader se voornemens in verband met die skepping uit te voer?
4 Dink aan die krag wat Jesus gedurende sy voormenslike bestaan gehad het. Jehovah het sy eie “ewige krag” gebruik toe hy sy eniggebore Seun geskep het, wat later as Jesus Christus bekend gestaan het (Romeine 1:20; Kolossense 1:15). Daarna het Jehovah baie groot krag en gesag aan hierdie Seun oorgedra en hom die taak gegee om Sy voornemens in verband met die skepping uit te voer. Die Bybel sê aangaande hierdie Seun: “Alles het deur hom ontstaan, en sonder hom het nie ’n enkele ding ontstaan nie.” – Johannes 1:3.
5 Ons kan net ’n vae idee vorm van die omvang van dié toewysing. Dink aan die krag wat nodig is om miljoene magtige engele, die fisiese heelal met sy duisendmiljoene sterrestelsels asook die aarde met sy oorvloedige verskeidenheid lewensvorme te skep. Om hierdie take te verrig, het die eniggebore Seun die sterkste krag in die heelal – God se heilige gees – tot sy beskikking gehad. Dit het hierdie Seun groot vreugde verskaf om die Meesterwerker te wees, wat deur Jehovah gebruik is om alle ander dinge te skep. – Spreuke 8:22-31.
6. Watter mag en gesag is Jesus ná sy dood op aarde en sy opstanding gegee?
6 Kon die eniggebore Seun selfs groter krag en gesag ontvang? Ná Jesus se dood op aarde en sy opstanding het hy gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee” (Matteus 28:18). Ja, Jesus is die vermoë en die reg gegee om krag universeel uit te oefen. As “Koning van die konings en Here van die here” is hy die gesag gegee om “alle regering en alle gesag en mag” – sigbaar en onsigbaar – wat in verset teen sy Vader is, ‘tot ’n einde te bring’ (Openbaring 19:16; 1 Korintiërs 15:24-26). God het “niks uitgesluit wat nie aan [Jesus] onderwerp is nie” – dit is natuurlik met uitsondering van Jehovah self. – Hebreërs 2:8; 1 Korintiërs 15:27.
7. Waarom kan ons seker wees dat Jesus nooit die krag sal misbruik wat Jehovah hom gegee het nie?
7 Hoef ons ons te kwel dat Jesus sy krag sal misbruik? Glad nie! Jesus het sy Vader baie lief en sal nooit enige iets doen wat hom mishaag nie (Johannes 8:29; 14:31). Jesus weet goed dat Jehovah nooit sy almag misbruik nie. Jesus het self gesien dat Jehovah geleenthede soek “om dié te ondersteun wat met hulle hele hart op hom vertrou” (2 Kronieke 16:9). Ja, net soos sy Vader het Jesus die mensdom lief, en daarom kan ons die vertroue hê dat Jesus altyd sy krag ten goede sal gebruik (Johannes 13:1). Jesus het ’n onberispelike rekord in hierdie opsig opgebou. Kom ons kyk na die krag wat hy gehad het toe hy op aarde was en hoe hy dit gebruik het.
‘Kragtig in woord’
8. Waarvoor het Jesus krag ontvang nadat hy gesalf is, en hoe het hy sy krag gebruik?
8 Jesus het klaarblyklik geen wonderwerke verrig toe hy ’n kind was en in Nasaret grootgeword het nie. Maar dit het verander nadat hy in 29 HJ op die ouderdom van ongeveer 30 gedoop is (Lukas 3:21-23). Die Bybel sê vir ons dat “God [hom] met heilige gees en krag gesalf [het] en dat hy deur die land gegaan het en goeie dinge gedoen het en almal gesond gemaak het wat deur die Duiwel onderdruk is” (Handelinge 10:38). Dui die feit dat Jesus “goeie dinge gedoen” het nie aan dat hy sy krag reg gebruik het nie? Nadat hy gesalf is, het hy ‘’n profeet geword wat kragtig was in woord en daad’. – Lukas 24:19.
9-11. (a) Waar het Jesus ’n groot deel van sy onderrigting gedoen, en voor watter uitdaging het hy te staan gekom? (b) Waarom was die skare verstom oor die manier waarop Jesus geleer het?
9 Hoe was Jesus kragtig in woord? Hy het dikwels in die ope lug onderrig – langs mere en teen heuwelhange asook in die strate en op markpleine (Markus 6:53-56; Lukas 5:1-3; 13:26). Mense wat na hom geluister het, kon eenvoudig loop as sy woorde nie hulle aandag geboei het nie. In die tyd voordat daar gedrukte boeke was, moes waarderende toehoorders sy woorde in hulle verstand en hart bewaar. Jesus se onderrigting moes dus baie boeiend en duidelik verstaanbaar wees en maklik onthou kon word. Maar hierdie uitdaging was vir Jesus geen probleem nie. Kyk byvoorbeeld na sy Bergpredikasie.
10 Een oggend vroeg in 31 HJ het ’n skare teen ’n heuwelhang naby die See van Galilea vergader. Party het van Judea en Jerusalem af gekom, 100 tot 110 kilometer daarvandaan. Ander het van die kusgebied van Tirus en Sidon in die noorde af gekom. Baie siekes het tot reg by Jesus gekom sodat hulle aan hom kon raak, en hy het hulle almal gesond gemaak. Toe niemand meer onder hulle ernstig siek was nie, het hy hulle begin onderrig (Lukas 6:17-19). Toe hy ’n ruk later klaar gepraat het, was hulle verbaas oor wat hulle gehoor het. Waarom?
11 Jare later het iemand wat daardie preek gehoor het, gesê: “Die skare [was] verstom oor die manier waarop hy geleer het, want hy het hulle geleer soos iemand wat gesag het” (Matteus 7:28, 29). Jesus het met soveel krag gepraat dat hulle dit kon voel. Hy het namens God gepraat en sy leringe met die gesag van God se Woord gestaaf (Johannes 7:16). Jesus se stellings was duidelik, sy vermanings oorredend en sy argumente onweerlegbaar. Sy woorde het tot die hart van sake deurgedring, asook tot die harte van dié wat na hom geluister het. Hy het hulle geleer hoe om geluk te vind, hoe om te bid, hoe om God se Koninkryk te soek en hoe om ’n veilige toekoms te bou (Matteus 5:3–7:27). Sy woorde het die harte geraak van dié wat na waarheid en regverdigheid gesmag het. Hulle was bereid om ‘op te hou om vir hulleself te lewe’ en alles prys te gee om hom te volg (Matteus 16:24; Lukas 5:10, 11). Wat ’n duidelike bewys tog van die krag van Jesus se woorde!
‘Kragtig in daad’
12, 13. In watter opsig was Jesus ‘kragtig in daad’, en watter groot verskeidenheid wonderwerke het hy verrig?
12 Jesus was ook ‘kragtig in daad’ (Lukas 24:19). Die Evangelies meld meer as 30 afsonderlike wonderwerke wat hy verrig het – almal in “Jehovah se krag” (Lukas 5:17).b Jesus se wonderwerke het die lewens van duisende geraak. Dink aan net twee wonderwerke – toe 5 000 mans en later 4 000 mans gevoed is. Saam met die vrouens en kinders het die skares waarskynlik nog baie duisende ingesluit! – Matteus 14:13-21; 15:32-38.
13 Jesus het ’n groot verskeidenheid wonderwerke verrig. Hy het gesag oor die demone gehad en het hulle sonder enige moeite uitgedryf (Lukas 9:37-43). Hy het mag oor die fisiese elemente gehad en het water in wyn verander (Johannes 2:1-11). Dink net hoe verbaas sy dissipels moes gewees het toe hulle gesien het dat “Jesus op die see loop” (Johannes 6:18, 19). Hy het mag oor siekte gehad en het liggaamlike gebreke, chroniese kwale en lewensgevaarlike siektes genees (Markus 3:1-5; Johannes 4:46-54). Hy het hierdie genesings op verskillende maniere verrig. Party is van ver af genees, terwyl ander persoonlik deur Jesus aangeraak is (Matteus 8:2, 3, 5-13). Party is oombliklik genees, ander geleidelik. – Markus 8:22-25; Lukas 8:43, 44.
“Hulle [het] gesien dat Jesus op die see loop”
14. Onder watter omstandighede het Jesus getoon dat hy die mag het om die dood ongedaan te maak?
14 Bowenal het Jesus die mag gehad om die dood ongedaan te maak. Daar is drie geleenthede opgeteken waarby hy die dooies opgewek het – hy het ’n 12-jarige meisie aan haar ouers teruggegee, ’n enigste kind aan sy weduweema en ’n geliefde broer aan sy susters (Lukas 7:11-15; 8:49-56; Johannes 11:38-44). Geen situasie was te moeilik nie. Hy het die 12-jarige meisie van haar sterfbed af opgewek kort nadat sy gesterf het. Hy het die weduwee se seun van die draagbaar af opgewek, ongetwyfeld op die dag van sy dood. En hy het Lasarus uit die graf opgewek nadat hy vier dae dood was.
Onselfsugtige, verantwoordelike en bedagsame gebruik van krag
15, 16. Watter bewys is daar dat Jesus onselfsugtig was in die manier waarop hy sy krag gebruik het?
15 Kan jy jou voorstel hoe Jesus se krag misbruik sou kon word as dit in die hande van ’n onvolmaakte heerser geplaas word? Maar Jesus was sonder sonde (1 Petrus 2:22). Hy het hom nie deur die selfsug, ambisie en gierigheid laat besmet wat onvolmaakte mense daartoe dryf om hulle krag tot nadeel van ander te gebruik nie.
16 Jesus was onselfsugtig in die manier waarop hy sy krag gebruik het en het dit nooit vir persoonlike gewin aangewend nie. Toe hy honger was, het hy geweier om vir hom klippe in brood te verander (Matteus 4:1-4). Sy karige besittings het bewys dat hy nie materieel by die gebruik van sy krag baat gevind het nie (Matteus 8:20). Daar is verdere bewys dat sy kragtige werke uit onselfsugtige beweegredes gespruit het. Wanneer hy wonderwerke verrig het, het dit opoffering van sy kant geverg. Wanneer hy die siekes genees het, het krag uit hom uitgegaan. Hy kon voel wanneer hierdie krag uit hom uitgegaan het, selfs in die geval van ’n enkele genesing (Markus 5:25-34). En tog het hy toegelaat dat skares aan hom raak, en hulle is genees (Lukas 6:19). Wat ’n onselfsugtige gees!
17. Hoe het Jesus getoon dat hy sy krag op ’n verantwoordelike wyse gebruik?
17 Jesus het sy krag op ’n verantwoordelike wyse gebruik. Hy het nooit kragtige werke verrig net om mense te beïndruk nie (Matteus 4:5-7). Hy was nie bereid om tekens te doen net om Herodes se nuuskierigheid, wat uit ’n verkeerde beweegrede gespruit het, te bevredig nie (Lukas 23:8, 9). Jesus het nie met sy krag te koop geloop nie, maar het dikwels diegene wat hy genees het, beveel om niemand te vertel nie (Markus 5:43; 7:36). Hy wou nie hê dat mense gevolgtrekkings omtrent hom moes maak op grond van sensasionele berigte nie. – Matteus 12:15-19.
18-20. (a) Wat het die manier beïnvloed waarop Jesus sy krag gebruik het? (b) Hoe voel jy oor die manier waarop Jesus ’n sekere dowe man genees het?
18 Hierdie magtige man, Jesus, was heeltemal anders as die heersers wat met algehele verontagsaming van die behoeftes en lyding van ander mag uitgeoefen het. Jesus het vir mense omgegee. Wanneer hy die geteisterdes gesien het, het dit hom so diep geroer dat hy beweeg is om hulle lyding te verlig (Matteus 14:14). Hy het hulle gevoelens en behoeftes in ag geneem, en hierdie liefdevolle bedagsaamheid het die manier beïnvloed waarop hy sy krag gebruik het. ’n Roerende voorbeeld is opgeteken in Markus 7:31-37.
19 By hierdie geleentheid het groot skares Jesus gevind en baie siekes na hom toe gebring, en hy het hulle almal genees (Matteus 15:29, 30). Maar Jesus het spesiale aandag aan een man gegee. Die man was doof en kon skaars praat. Jesus het dalk agtergekom dat hierdie man besonder senuweeagtig of verbouereerd was. Uit bedagsaamheid het Jesus die man eenkant toe geneem na ’n privaat plek – weg van die skare af. Toe het Jesus deur middel van gebare vir die man beduie wat hy gaan doen. Hy het “sy vingers in die man se ore gesteek, en nadat hy gespoeg het, het hy aan die man se tong geraak” (Markus 7:33).c Toe het Jesus opgekyk hemel toe en biddend gesug. Hierdie aksies het vir die man gesê: ‘Wat ek vir jou gaan doen, is danksy krag wat van God kom.’ Uiteindelik het Jesus gesê: “Word geopen” (Markus 7:34). Daarop kon die man weer hoor, en hy kon normaal praat.
20 Hoe aangrypend is dit tog om te dink dat Jesus, selfs toe hy sy godgegewe krag gebruik het om die geteisterdes te genees, hulle gevoelens op simpatieke wyse in ag geneem het! Is dit nie gerusstellend om te weet dat Jehovah die Messiaanse Koninkryk in die hande van so ’n liefdevolle, bedagsame Heerser geplaas het nie?
’n Teken van toekomstige dinge
21, 22. (a) Waarvan was Jesus se wonderwerke ’n voorskou? (b) Wat kan ons onder Jesus se Koninkryksheerskappy verwag, aangesien hy beheer oor die natuurkragte het?
21 Die kragtige werke wat Jesus op aarde verrig het, was net ’n voorskou van selfs groter toekomstige seëninge onder sy heerskappy as koning. In God se nuwe wêreld sal Jesus weer eens wonderwerke verrig – maar op ’n wêreldskaal! Kyk na ’n paar opwindende vooruitsigte.
22 Jesus sal die balans in die aarde se ekologie ten volle herstel. Onthou dat hy sy beheer oor die natuurkragte getoon het deur ’n windstorm te stil. Onder Christus se Koninkryksheerskappy sal die mensdom dan beslis nie hoef te vrees dat tifone, aardbewings, vulkaniese uitbarstings of ander natuurrampe enige skade sal aanrig nie. Aangesien Jesus die Meesterwerker is, wat deur Jehovah gebruik is om die aarde en alle lewe daarop te skep, verstaan hy die samestelling van die aarde ten volle. Hy weet hoe om die hulpbronne behoorlik te benut. Onder sy heerskappy sal hierdie hele aarde in ’n paradys omskep word. – Lukas 23:43.
23. Hoe sal Jesus as Koning in die mensdom se behoeftes voorsien?
23 Wat van die mensdom se behoeftes? Jesus se vermoë om duisende mense van oorgenoeg kos te voorsien deur net ’n paar items te gebruik, verseker ons dat niemand onder sy heerskappy sal honger ly nie. Ja, ’n oorvloed kos, wat regverdig versprei word, sal honger vir ewig beëindig (Psalm 72:16). Sy mag oor siekte sê vir ons dat siek, blinde, dowe, gebreklike en kreupel mense genees sal word – heeltemal en vir altyd (Jesaja 33:24; 35:5, 6). Sy vermoë om die dooies op te wek, verseker dat sy mag as ’n hemelse Koning die krag insluit om die tallose miljoene op te wek wat dit sy Vader behaag om te onthou. – Johannes 5:28, 29.
24. Wat moet ons in gedagte hou terwyl ons nadink oor Jesus se krag, en waarom?
24 Laat ons, terwyl ons nadink oor Jesus se krag, in gedagte hou dat hierdie Seun sy Vader volmaak navolg (Johannes 14:9). Jesus se gebruik van krag gee ons dus ’n duidelike beeld van hoe Jehovah krag gebruik. Dink byvoorbeeld aan die liefdevolle manier waarop Jesus ’n sekere melaatse genees het. Beweeg deur innige jammerte het Jesus die man aangeraak en gesê: “Ek wil!” (Markus 1:40-42). Deur middel van sulke verslae sê Jehovah as ’t ware: ‘Só gebruik ek my krag!’ Beweeg dit jou nie om ons almagtige God te loof en te dank dat hy sy krag op so ’n liefdevolle wyse gebruik nie?
a Skielike storms is algemeen op die See van Galilea. As gevolg van die see se lae ligging (ongeveer 200 meter onder seespieël) is die lug daar baie warmer as in die omliggende gebied, en dit veroorsaak atmosferiese steurings. Sterk winde waai deur die Jordaanvallei van die berg Hermon af, wat in die noorde lê. Die een oomblik is alles kalm, die volgende is daar ’n kwaai storm.
b Daarbenewens groepeer die Evangelies soms ’n klomp wonderwerke onder een algemene beskrywing. By een geleentheid het ’n “hele stad” byvoorbeeld na hom toe gekom, en hy het “baie” siekes genees. – Markus 1:32-34.
c Om te spoeg, was ’n manier of teken van genesing wat deur Jode sowel as nie-Jode aanvaar is, en daar is verslae in rabbynse geskrifte van die gebruik van speeksel tydens genesing. Jesus het dalk bloot gespoeg om vir die man te wys dat hy genees gaan word. Hoe dit ook al sy, Jesus het nie sy speeksel as ’n natuurlike geneesmiddel gebruik nie.