Hoofstuk 46
Sy het sy kleed aangeraak
DIE nuus dat Jesus van die Dekapolis af teruggekeer het, bereik Kapernaüm, en ’n groot menigte vergader by die see om hom terug te verwelkom. Hulle het ongetwyfeld gehoor dat hy die storm stilgemaak en die demonbesete mans genees het. Toe hy aan wal stap, drom hulle om hom saam, gretig en vol afwagting.
Een van die persone wat gretig is om Jesus te sien, is Jaïrus, ’n owerste van die sinagoge. Hy val aan Jesus se voete neer en smeek hom herhaaldelik: “My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word, en sy sal lewe.” Omdat die dogtertjie sy enigste kind en net 12 jaar oud is, is Jaïrus baie lief vir haar.
Jesus reageer en vertrek na die huis van Jaïrus terwyl ’n menigte hom vergesel. Ons kan ons die opgewondenheid van die mense voorstel terwyl hulle uitsien na nog ’n wonder. Maar die aandag van een vrou in die menigte is net op haar eie ernstige probleem gevestig.
Hierdie vrou ly al 12 jaar lank aan bloedvloeiing. Sy was by een geneesheer na die ander en het al haar geld aan behandeling bestee. Maar dit het haar nie gehelp nie; haar probleem het eerder net erger geword.
Soos jy waarskynlik kan verstaan, maak haar kwaal haar nie net baie swak nie, maar dit is ook ’n verleentheid en vernederend. ’n Mens praat gewoonlik nie in die openbaar oor so ’n kwaal nie. Boonop is ’n vrou met ’n bloedvloeiing volgens die Mosaïese Wet onrein en moet enigiemand wat aan haar of haar bloedbevlekte klere raak, hom was en tot die aand onrein bly.
Die vrou het van Jesus se wonderwerke gehoor en het nou na hom gekom. As gevolg van haar onreinheid, baan sy haar weg so onopvallend moontlik deur die menigte en sê vir haarself: “As ek maar sy klere kan aanraak, sal ek gesond word.” Toe sy dit doen, voel sy onmiddellik aan dat haar bloedvloeiing opgedroog het!
“Wie is dit wat My aangeraak het?” Hoe moet daardie woorde van Jesus haar tog nie skok nie! Hoe weet hy? “Meester”, sê Petrus, “die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het?”
Jesus kyk rond om die vrou te sien en verduidelik: “Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het.” Dit is inderdaad nie ’n gewone aanraking nie, want die genesing wat dit meebring, laat van Jesus se krag van hom uitgaan.
Toe sy sien dat sy nie onopgemerk gebly het nie, kom die vrou vorentoe en val bang en bewend voor Jesus neer. Voor al die mense vertel sy die hele waarheid omtrent haar siekte en hoe sy so pas genees is.
Haar volle belydenis ontroer Jesus, en hy troos haar medelydend: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees.” Dit is inderdaad goed om te weet dat die Een wat deur God gekies is om oor die aarde te heers so ’n hartlike, medelydende persoon is, wat nie net vir mense omgee nie, maar ook die mag het om hulle te help! Mattheüs 9:18-22; Markus 5:21-34; Lukas 8:40-48; Levitikus 15:25-27.
▪ Wie is Jaïrus, en waarom kom hy na Jesus toe?
▪ Watter probleem het een vrou, en waarom is dit vir haar so moeilik om na Jesus toe te kom vir hulp?
▪ Hoe word die vrou genees, en hoe troos Jesus haar?