“Een pêrel van groot waarde”
“Die koninkryk van die hemele [is] die doel waarna die mense vooruitbeur, en dié wat vooruitbeur, gryp dit.”—MATTEUS 11:12.
1, 2. (a) Watter seldsame eienskap het Jesus in een van sy gelykenisse oor die Koninkryk uitgebeeld? (b) Wat het Jesus in die gelykenis van die pêrel van groot waarde gesê?
IS DAAR iets wat vir jou so waardevol is dat jy alles sal gee wat jy besit of alles sal opoffer wat jy het om dit te verkry? Hoewel mense van toegewydheid praat wanneer hulle die een of ander doel nastreef—geld, roem, mag of posisie—gebeur dit selde dat iemand iets vind wat so begeerlik is dat hy bereid is om alles daarvoor op te offer. Jesus Christus het na hierdie seldsame dog bewonderenswaardige eienskap verwys in een van sy talle gedagteprikkelende gelykenisse oor die Koninkryk van God.
2 Dit is ’n gelykenis, of illustrasie, wat Jesus net aan sy dissipels vertel het, een wat dikwels die gelykenis van die pêrel van groot waarde genoem word. Jesus het gesê: “Die koninkryk van die hemele is . . . soos ’n reisende koopman wat goeie pêrels soek. Toe hy een pêrel van groot waarde vind, het hy weggegaan en dadelik alles verkoop wat hy gehad het en dit gekoop” (Matteus 13:36, 45, 46). Wat wou Jesus hê moes sy toehoorders uit hierdie illustrasie leer? En hoe kan ons by Jesus se woorde baat vind?
Die groot waarde van pêrels
3. Waarom was goeie pêrels in die ou tyd so waardevol?
3 Pêrels word al van die ou tyd af as sierade waardeer. Een bron sê dat pêrels volgens die Romeinse geleerde Plinius die Ouere die “vernaamste van alle kosbaarhede” was. In teenstelling met goud, silwer of baie edelstene word pêrels deur lewende wesens voortgebring. Dit is welbekend dat sekere soorte oesters voorwerpe wat irritasie veroorsaak—byvoorbeeld klein klippies—in glinsterende pêrels kan verander deur dit te bedek met lae van ’n afskeiding wat perlemoen genoem word. In die ou tyd is die beste pêrels hoofsaaklik verkry uit die Rooi See, die Persiese Golf en die Indiese Oseaan—ver van die land Israel af. Dit is ongetwyfeld waarom Jesus gepraat het van “’n reisende koopman wat goeie pêrels soek”. Om pêrels te vind wat werklik waardevol is, verg groot inspanning.
4. Wat is die vernaamste les van Jesus se gelykenis van die reisende koopman?
4 Hoewel goeie pêrels al van lank gelede af duur is, was hulle geldelike waarde klaarblyklik nie die vernaamste les van Jesus se gelykenis nie. In hierdie gelykenis het Jesus die Koninkryk van God nie bloot met ’n pêrel van groot waarde vergelyk nie; hy het die aandag gevestig op “’n reisende koopman wat goeie pêrels soek” en op sy reaksie toe hy een vind. In teenstelling met ’n gewone winkelier was ’n reisende pêrelkoopman, of -handelaar, wat ’n mens ’n pêrelkenner kan noem, iemand wat ’n geoefende oog of die gawe gehad het om die estetiese en subtiele eienskappe raak te sien wat ’n pêrel buitengewoon gemaak het. Hy sou ’n egte pêrel herken wanneer hy een sien en sou nie deur minderwaardige of nagemaakte handelsware geflous word nie.
5, 6. (a) Wat is veral opmerkenswaardig omtrent die koopman in Jesus se gelykenis? (b) Wat openbaar die gelykenis van die weggesteekte skat omtrent die reisende koopman?
5 Iets anders omtrent hierdie spesifieke koopman is opmerkenswaardig. ’n Gewone koopman sal moontlik eers die markwaarde van die pêrel bereken sodat hy kan besluit hoeveel hy daarvoor sal betaal om ’n wins te kan maak. Hy sal dalk ook oorweeg of daar ’n aanvraag na so ’n pêrel is sodat hy dit gou kan verkoop. Met ander woorde, hy sal daarin belangstel om gou ’n wins op sy belegging te maak, nie om die pêrel te besit nie. Maar dit was nie die geval met die koopman in Jesus se gelykenis nie. Hy het nie in geld of materiële wins belanggestel nie. Trouens, hy was bereid om ‘alles wat hy gehad het’—moontlik al sy persoonlike besittings en eiendomme—op te offer om te verkry wat hy gesoek het.
6 Die meeste koopmanne sal meen dat daardie man in Jesus se gelykenis waarskynlik onverstandig opgetree het. ’n Skerpsinnige sakeman sal dit nie eers oorweeg om so ’n waagstuk te onderneem nie. Maar die koopman in Jesus se gelykenis het ’n ander waardebegrip gehad. Sy beloning was nie finansiële voordeel nie, maar die vreugde en bevrediging wat dit verskaf om iets van ongeëwenaarde waarde te besit. Hierdie punt kom duidelik na vore in ’n parallelle illustrasie wat Jesus gegee het. Hy het gesê: “Die koninkryk van die hemele is soos ’n skat wat in die veld weggesteek was, wat ’n man gevind en weggesteek het; en weens die vreugde wat hy het, gaan hy en verkoop wat hy het en koop daardie veld” (Matteus 13:44). Ja, die vreugde wat dit verskaf om die skat te vind en te besit, was genoeg om die man te beweeg om alles prys te gee wat hy gehad het. Is daar vandag sulke mense? Is daar ’n skat wat so ’n opoffering werd is?
Diegene wat die groot waarde waardeer het
7. Hoe het Jesus getoon dat hy diepe waardering vir die groot waarde van die Koninkryk gehad het?
7 Toe Jesus sy gelykenis vertel het, het hy van “die koninkryk van die hemele” gepraat. Hý het beslis die groot waarde van die Koninkryk waardeer. Die Evangelieverslae getuig kragtig van hierdie feit. Ná sy doop in 29 G.J. het Jesus “begin preek en sê: ‘Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.’” Hy het drie en ’n half jaar lank ’n menigte mense van die Koninkryk geleer. Hy het die hele land deurkruis en “van stad tot stad en van dorpie tot dorpie [gereis] en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak”.—Matteus 4:17; Lukas 8:1.
8. Wat het Jesus gedoen om te toon wat die Koninkryk tot stand sal bring?
8 Deur talle wonderwerke dwarsdeur die land te verrig—onder meer siekes gesond te maak, honger mense te voed, natuurkragte onder beheer te bring, selfs dooies op te wek—het Jesus ook getoon wat God se Koninkryk tot stand sal bring (Matteus 14:14-21; Markus 4:37-39; Lukas 7:11-17). Laastens het hy sy lojaliteit aan God en aan die Koninkryk bewys deur sy lewe te gee en ’n martelaarsdood aan ’n folterpaal te sterf. Net soos daardie reisende koopman alles wat hy gehad het, gewillig gegee het vir die “pêrel van groot waarde”, het Jesus vir die Koninkryk geleef en gesterf.—Johannes 18:37.
9. Watter seldsame eienskap is onder Jesus se vroeë dissipels gesien?
9 Nie net het Jesus die Koninkryk die middelpunt van sý lewe gemaak nie, maar hy het ook ’n klein groepie volgelinge bymekaargemaak. Ook hulle was mense wat diepe waardering vir die groot waarde van die Koninkryk gehad het. Een van hulle was Andreas, wat oorspronklik ’n dissipel van Johannes die Doper was. Toe Andreas Johannes se getuienis gehoor het dat Jesus “die Lam van God” is, is hy en nog een van Johannes se dissipels, heel waarskynlik een van Sebedeus se seuns wat ook Johannes genoem is, onmiddellik tot Jesus aangetrek en het hulle gelowiges geword. Maar dit was nie die einde van die saak nie. Andreas het dadelik na sy broer Simon gegaan en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind.” Kort daarna het ook Simon (wat later as Sefas, of Petrus, bekend gestaan het) sowel as Filippus en sy vriend Natanael Jesus as die Messias herken. Trouens, Natanael is beweeg om vir Jesus te sê: “U is die Seun van God, u is Koning van Israel.”—Johannes 1:35-49.
Beweeg tot optrede
10. Hoe het die dissipels gereageer toe Jesus hulle ’n ruk ná hulle eerste ontmoeting kom roep het?
10 Die opgewondenheid wat Andreas, Petrus, Johannes en die ander ervaar het toe hulle die Messias gevind het, kan vergelyk word met die opgewondenheid wat die reisende koopman ervaar het toe hy die pêrel van groot waarde gevind het. Wat sou hulle nou doen? Die Evangelies sê nie vir ons veel oor wat hulle gedoen het onmiddellik ná hierdie eerste ontmoeting met Jesus nie. Die meeste van hulle het blykbaar na hulle normale lewenswyse teruggekeer. Maar ongeveer ses maande tot ’n jaar later het Jesus Andreas, Petrus, Johannes en Johannes se broer Jakobus weer teëgekom by hulle vissersonderneming by die See van Galilea.a Toe Jesus hulle sien, het hy gesê: “Kom agter my aan, en ek sal julle vissers van mense maak.” Wat was hulle reaksie? Matteus se verslag sê van Petrus en Andreas: “Dadelik het hulle die nette laat staan en hom gevolg.” Wat Jakobus en Johannes betref, lees ons: “Dadelik het hulle die boot en hulle vader verlaat en hom gevolg.” Lukas se verslag voeg by dat hulle ‘alles laat staan het en hom gevolg het’.—Matteus 4:18-22; Lukas 5:1-11.
11. Wat verklaar moontlik die dissipels se vinnige reaksie toe Jesus hulle geroep het?
11 Was die dissipels se vinnige reaksie ’n impulsiewe besluit? Glad nie! Al het hulle ná hulle eerste kontak met Jesus na hulle familie se vissersonderneming teruggekeer, bestaan daar geen twyfel dat die dinge wat hulle by daardie geleentheid gesien en gehoor het, ’n diep indruk op hulle hart en verstand gemaak het nie. Die verloop van amper ’n jaar sou hulle baie tyd gegee het om oor hierdie dinge na te dink. Toe het die oomblik aangebreek om ’n besluit te neem. Sou hulle soos die reisende koopman wees wie se hart so geraak is deur die ontdekking van die kosbare pêrel dat hy, soos Jesus dit beskryf het, “weggegaan en dadelik” gedoen het wat hy moes om daardie pêrel te koop? Ja. Wat hulle gesien en gehoor het, het hulle hart geraak. Hulle het besef dat die tyd vir optrede aangebreek het. Gevolglik het hulle, soos die verslae vir ons sê, sonder aarseling alles prysgegee en Jesus se volgelinge geword.
12, 13. (a) Hoe het baie mense wat Jesus gehoor het, gereageer? (b) Wat het Jesus van sy getroue dissipels gesê, en wat gee sy woorde te kenne?
12 Hoe het hierdie getroue manne tog verskil van party ander wat later in die Evangelieverslae gemeld word! Daar was baie mense wat deur Jesus gesond gemaak of gevoed is, maar wat eenvoudig met hulle eie lewe voortgegaan het (Lukas 17:17, 18; Johannes 6:26). Party het selfs gevra om verskoon te word toe Jesus hulle genooi het om sy volgelinge te word (Lukas 9:59-62). In skerp teenstelling hiermee het Jesus later van die getroues gesê: “Van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe is die koninkryk van die hemele die doel waarna die mense vooruitbeur, en dié wat vooruitbeur, gryp dit.”—Matteus 11:12.
13 “Vooruitbeur”—wat gee hierdie woord te kenne? Aangaande die Griekse werkwoord waarvan dit afgelei is, sê Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words: “Die werkwoord dui op kragtige inspanning.” En aangaande hierdie vers sê die Bybelgeleerde Heinrich Meyer: “So word daardie ywerige, onstuitbare strewe en worsteling na die naderende Messiaanse koninkryk beskryf . . . Dit is hoe ywerig en kragtig (nie meer kalm en afwagtend nie) die belangstelling met betrekking tot die koninkryk is.” Soos die reisende koopman, het hierdie paar mense gou herken wat werklik kosbaar is, en hulle het alles wat hulle gehad het, gewillig prysgegee ter wille van die Koninkryk.—Matteus 19:27, 28; Filippense 3:8.
Ander het ook begin soek
14. Hoe het Jesus die apostels vir die Koninkrykspredikingswerk voorberei, en wat was die gevolg?
14 Terwyl Jesus sy bediening voortgesit het, het hy ander opgelei en gehelp om die Koninkryk na te streef. Hy het eers 12 uit sy dissipels gekies en hulle aangestel as apostels, of mense wat uitgestuur is deur hom. Aan hulle het Jesus breedvoerige instruksies gegee oor hoe hulle hulle bediening moes uitvoer, asook waarskuwings oor die uitdagings en ontberinge wat vir hulle voorgelê het (Matteus 10:1-42; Lukas 6:12-16). Gedurende die volgende twee jaar of wat het hulle Jesus op sy predikingsreise deur die hele land vergesel en ’n hegte verhouding met hom geniet. Hulle het sy woorde gehoor, sy kragtige werke aanskou en sy persoonlike voorbeeld gesien (Matteus 13:16, 17). Al hierdie dinge het hulle ongetwyfeld diep geraak, in so ’n mate dat hulle, soos die reisende koopman, ywerig en heelhartig was in hulle strewe na die Koninkryk.
15. Wat het Jesus gesê was die eintlike rede waarom sy volgelinge bly kon wees?
15 Benewens die 12 apostels het Jesus “sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor hom uit gestuur na elke stad en plek waar hy self sou kom”. Hy het ook vir hulle van die beproewinge en ontberinge vertel wat vir hulle voorgelê het en hulle beveel om vir die mense te sê: “Die koninkryk van God het naby julle gekom” (Lukas 10:1-12). Toe die 70 teruggekeer het, het hulle oorgeloop van vreugde en vir Jesus vertel: “Here, selfs die demone word deur die gebruik van u naam aan ons onderwerp.” Maar moontlik tot hulle verbasing het Jesus geopenbaar dat daar selfs ’n groter vreugde op hulle gewag het as gevolg van hulle ywer vir die Koninkryk. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet . . . nie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderwerp word nie, maar wees bly omdat julle name in die hemele opgeskryf is.”—Lukas 10:17, 20.
16, 17. (a) Wat het Jesus vir sy getroue apostels op sy laaste aand saam met hulle gesê? (b) Watter vreugde en versekering het Jesus se woorde die apostels gegee?
16 Ten slotte het Jesus op die laaste aand dat hy saam met sy apostels was, 14 Nisan 33 G.J., ’n viering ingestel wat bekend geword het as die Here se Aandmaal en hulle beveel om hierdie geleentheid te herdenk. In die loop van die aand het Jesus vir die 11 wat oorgebly het, gesê: “Julle is . . . dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle aan my tafel in my koninkryk kan eet en drink en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.”—Lukas 22:19, 20, 28-30.
17 Met watter vreugde en bevrediging is die apostels se harte tog gevul toe hulle hierdie woorde van Jesus hoor! Hulle is die grootste eer en voorreg aangebied wat enige mens kon hê (Matteus 7:13, 14; 1 Petrus 2:9). Soos daardie reisende koopman, het hulle baie prysgegee om Jesus in hulle strewe na die Koninkryk te volg. Nou is hulle verseker dat die opofferinge wat hulle tot op daardie stadium gemaak het, nie tevergeefs was nie.
18. Wie benewens die 11 apostels sou ook uiteindelik by die Koninkryk baat vind?
18 Die apostels wat daardie aand saam met Jesus was, was nie die enigstes wat by die Koninkryk sou baat vind nie. Dit was Jehovah se wil dat altesaam 144 000 in die Koninkryksverbond opgeneem word as medeheersers saam met Jesus Christus in die glorieryke hemelse Koninkryk. Daarbenewens het die apostel Johannes in ’n visioen “’n groot menigte” gesien, “wat geen mens kon tel nie, . . . wat voor die troon en voor die Lam staan . . . [en] sê: ‘Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam.’” Hulle is die aardse onderdane van die Koninkryk.b—Openbaring 7:9, 10; 14:1, 4.
19, 20. (a) Watter geleentheid het mense van al die nasies? (b) Watter vraag sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Kort voordat Jesus opgevaar het hemel toe, het hy sy getroue volgelinge beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:19, 20). Mense uit al die nasies sou dus dissipels van Jesus Christus word. Ook hulle sou hulle hart op die Koninkryk rig—hetsy vir ’n hemelse of ’n aardse beloning—net soos die reisende koopman met betrekking tot die goeie pêrel gedoen het.
20 Jesus se woorde het aangedui dat die werk om dissipels te maak, tot “die voleinding van die stelsel van dinge” sou voortduur. Is daar dan in ons dag nog mense soos die reisende koopman, wat bereid is om alles op te offer in hulle strewe na God se Koninkryk? Hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Johannes, die seun van Sebedeus, het Jesus moontlik ná hulle eerste ontmoeting gevolg en van die dinge gesien wat hy gedoen het, wat Johannes gevolglik in staat gestel het om so ’n lewendige beskrywing daarvan in sy Evangelieverslag op te teken (Johannes, hoofstukke 2-5). Hy het nietemin ’n ruk voor Jesus hom geroep het, na sy familie se vissersonderneming teruggekeer.
b Vir meer besonderhede, sien hoofstuk 10 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Kan jy verduidelik?
• Wat is die vernaamste les van die gelykenis van die reisende koopman?
• Hoe het Jesus getoon dat hy diepe waardering vir die groot waarde van die Koninkryk gehad het?
• Wat het Andreas, Petrus, Johannes en ander onmiddellik laat reageer toe Jesus hulle geroep het?
• Watter wonderlike geleentheid het mense van al die nasies?
[Prent op bladsy 10]
‘Hulle het alles laat staan en Jesus gevolg’
[Prent op bladsy 12]
Voordat Jesus opgevaar het hemel toe, het hy sy volgelinge beveel om dissipels te maak