HOOFSTUK DRIE
“Jy moet vir hulle hierdie woord sê”
1. (a) In watter opsigte het Jesus en Jeremia ooreengekom? (b) Waarom moet ons Jeremia in ons bediening navolg?
JESUS CHRISTUS is die vernaamste voorbeeld wat ons in die verkondiging van die goeie nuus volg. Dit is egter opmerkenswaardig dat mense in die eerste eeu wat Jesus waargeneem het, soms aan die profeet Jeremia gedink het (Matt. 16:13, 14). Net soos Jesus het Jeremia ’n goddelike bevel ontvang om te preek. God het byvoorbeeld eenkeer vir hom gesê: “Jy moet vir hulle hierdie woord sê: ‘Só het Jehovah . . . gesê’” (Jer. 13:12, 13; Joh. 12:49). En in sy bediening het Jeremia soortgelyke eienskappe as Jesus aan die dag gelê.
2. In watter opsig is mense se behoeftes vandag soortgelyk aan dié van die Jode in Jeremia se tyd?
2 Maar party Getuies sê dalk: ‘Ons predikingswerk is anders as dié van Jeremia. As God se woordvoerder het hy gepraat met ’n nasie wat aan Hom toegewy was, terwyl die meeste mense vir wie ons preek, Jehovah nie ken nie.’ Dit is waar. Maar teen Jeremia se tyd het die meeste Jode ‘onwys’ geword en die ware God verlaat. (Lees Jeremia 5:20-22.) Hulle moes verander om Jehovah op aanneemlike wyse te aanbid. Net so moet mense vandag—hetsy hulle sê dat hulle Christene is of nie—leer om Jehovah te vrees en ware aanbidding te beoefen. Kom ons kyk hoe ons die ware God kan dien en mense kan help deur Jeremia na te volg.
‘JEHOVAH HET MY MOND AANGERAAK’
3. Watter betekenisvolle gebaar het God aan die begin van Jeremia se werk teenoor hom gemaak, en hoe het die profeet daaroor gevoel?
3 Onthou dat Jeremia aan die begin van sy profetiese bediening hierdie woorde gehoor het: “Na almal na wie toe ek jou sal stuur, moet jy gaan; en alles wat ek jou sal beveel, moet jy spreek. Moenie bang wees vir hulle aangesigte nie, want ‘ek is met jou om jou te verlos’, is die woord van Jehovah” (Jer. 1:7, 8). En toe het God ’n onverwagte gebaar gemaak. Jeremia sê vir ons: “Jehovah [het] sy hand uitgesteek en my mond daarmee aangeraak. Toe het Jehovah vir my gesê: ‘Kyk, ek het my woorde in jou mond gelê. Kyk, ek het jou vandag . . . aangestel’” (Jer. 1:9, 10). Van toe af het Jeremia geweet dat hy namens God die Almagtige spreek.a Met Sy volle ondersteuning het Jeremia se ywer vir heilige diens toegeneem.—Jes. 6:5-8.
4. Watter voorbeelde van uitsonderlike ywer in die predikingswerk kan jy noem?
4 Jehovah raak nie letterlik aan enige van sy hedendaagse knegte nie. Maar deur middel van sy gees gee hy hulle wel ’n sterk begeerte om die goeie nuus te verkondig. Baie van hulle gloei van ywer. Neem die geval van Maruja in Spanje. Sy is al meer as 40 jaar lank verlam in haar arms en bene. Dit is vir haar moeilik om van deur tot deur te preek en daarom vind sy ander maniere om aan die bediening deel te neem. Een manier is om briewe te skryf. Maruja dikteer die woorde vir haar dogter, wat dit dan neerskryf. Gedurende ’n maand lange spesiale poging het Maruja en haar “sekretaresse” meer as 150 briewe uitgestuur, met ’n traktaat in elke koevert. Danksy hulle pogings het die goeie nuus die meeste huise in ’n nabygeleë dorpie bereik. Maruja het vir haar dogter gesê: “As een van ons briewe by iemand met ’n opregte hart uitkom, sal Jehovah ons met ’n Bybelstudie seën.” ’n Plaaslike ouer man skryf: “Ek dank Jehovah vir susters soos Maruja, wat ander leer om te waardeer wat werklik belangrik is.”
5. (a) Hoe het Jeremia sy ywer behou al het mense nie belangstelling getoon nie? (b) Hoe kan jy jou ywer behou om die goeie nuus te verkondig?
5 In Jeremia se tyd het die meeste van Jerusalem se inwoners “geen behae” in God se waarheid geskep nie. Het die profeet opgehou preek omdat so baie mense nie in die boodskap belanggestel het nie? Beslis nie! Jeremia het gesê: “Ek het vol geword van die woede van Jehovah. Ek het moeg geword om my in te hou” (Jer. 6:10, 11). Hoe kan jy sulke ywer behou? Een manier is om te peins oor die onvergelyklike voorreg wat jy het om die ware God te verteenwoordig. Jy weet dat vooraanstaande mense in hierdie wêreld die naam van die ware God smaad. Dink ook aan hoe godsdiensleiers die mense in julle gebied bedrieg, net soos die priesters in Jeremia se dag gedoen het. (Lees Jeremia 2:8, 26, 27.) Daarenteen is die goeie nuus van God se Koninkryk wat jy bekend maak, werklik ’n blyk van God se guns teenoor die mensdom (Klaagl. 3:31, 32). Ja, as jy oor hierdie waarheid peins, kan dit jou help om jou ywer te behou om die goeie nuus bekend te maak en skaapgeaardes te help.
6. Watter groot uitdagings moes Jeremia die hoof bied?
6 Jy sal waarskynlik saamstem dat dit nie altyd maklik is om jou ywer in die Christelike bediening te behou nie. Terwyl Jeremia Jehovah gedien het, moes hy ook groot uitdagings die hoof bied, insluitende valse profete. Jy kan in Jeremia hoofstuk 28 van een geval lees. Die meeste mense het glad nie op sy boodskap ag geslaan nie, en hy het soms baie alleen gevoel (Jer. 6:16, 17; 15:17). Daarbenewens het hy van tyd tot tyd te doen gehad met vyande wat hom wou doodmaak.—Jer. 26:11.
Waarom kan jy op Jehovah vertrou om jou te help om uitdagings te bowe te kom terwyl jy die goeie nuus verkondig?
“U HET MY MISLEI, O JEHOVAH”
7, 8. Op watter voordelige manier het God Jeremia “mislei”?
7 Gedurende een tydperk toe Jeremia dag ná dag bespotting en beledigings moes verduur, het hy sy gevoelens teenoor God uitgespreek. In watter sin dink jy kan ’n mens sê dat Jehovah sy getroue profeet “mislei” het, soos gemeld word in Jeremia 20:7, 8?—Lees.
8 Jehovah het Jeremia beslis nie geflous of bedrieg deur die een of ander listige, onderduimse set teen hom te gebruik nie. God het sy profeet eerder in ’n positiewe, voordelige sin “mislei”. Jeremia het gevoel dat die teenstand te erg was, dat hy nie meer sy godgegewe toewysing op sy eie kon uitvoer nie. Maar hy hét dit uitgevoer, met die Almagtige se onderskraging en hulp. ’n Mens kan dus sê dat Jehovah hom oormeester het, dat hy baie sterker as Jeremia en sy menslike neigings was. Toe hierdie man van God gedink het dat hy nie meer kan voortgaan nie, het Jehovah ’n oorredende krag gebruik sodat Jeremia as ’t ware mislei is. God was sterker as die profeet se swakhede. Jeremia kon selfs ten spyte van ’n gebrek aan belangstelling, verwerping en geweld aanhou preek.
9. Waarom kan die woorde van Jeremia 20:11 jou moed gee?
9 Jehovah was met Jeremia soos “’n verskriklike magtige” en het hom onderskraag (Jer. 20:11). En God kan jou ook versterk sodat jy jou ywer vir ware aanbidding behou en voortgaan ondanks groot probleme. Jy kan daaraan dink soos dit in ’n ander vertaling weergegee word—Jehovah sal “’n magtige soldaat” aan jou sy wees.—Contemporary English Version.
10. Wat is jy vasbeslote om te doen wanneer jy met teenstand te kampe het?
10 Die apostel Paulus het hierdie gedagte beklemtoon toe hy Christene wat teenstand verduur het, aangemoedig het. Hy het geskryf: “Gedra julle net op ’n wyse wat die goeie nuus oor die Christus waardig is, sodat ek . . . kan hoor . . . dat julle in een gees vasstaan, met een siel sy aan sy vir die geloof van die goeie nuus stry en in geen opsig deur julle teenstanders bang gemaak word nie” (Fil. 1:27, 28). Soos Jeremia en eerste-eeuse Christene, kan en moet jy op God die Almagtige steun terwyl jy jou bediening uitvoer. As party mense jou bespot of aanval, moet jy onthou dat Jehovah aan jou sy is en jou met krag kan vervul. Hy het dit vir Jeremia en vir baie van jou broers gedoen; hy kan dit dus ook vir jou doen. Smeek hom om hulp, en vertrou dat hy jou gebed sal verhoor. Jy sal miskien ook vind dat jy “mislei” word wanneer God jou die krag gee om struikelblokke te bowe te kom, met vrymoedigheid in plaas van vrees. Ja, jy sal dalk baie meer doen as wat jy ooit gedink het moontlik is.—Lees Handelinge 4:29-31.
11, 12. (a) Watter aanpassings kan jy maak sodat jy met meer mense in jou bediening kan praat? (b) Aan watter plaaslike moontlikhede laat die foto op bladsy 39 jou dink?
11 Wat ons oor Jeremia se diens lees, kan ons op verskeie maniere help om doeltreffende bedienaars van die goeie nuus te wees. Nadat hy meer as 20 jaar lank as Jehovah se profeet gedien het, kon hy sê: “Ek het tot julle gespreek, ja, vroeg opgestaan en gespreek, maar julle het nie geluister nie” (Jer. 25:3). Ja, hy het bedags vroeg begin, nie laat nie. Kan ons iets prakties uit sy voorbeeld leer? In baie gemeentes is daar verkondigers wat vroeg opstaan om met mense by bushaltes en spoorwegstasies te praat. In plattelandse gebiede gebruik baie Getuies die vroeë ure van die dag om boere en ander te besoek wat dan al aan die gang is. Kan jy aan ander maniere dink waarop jý hierdie les uit Jeremia se getroue bediening kan toepas? Kan jy vroeg genoeg opstaan om van die begin van ’n velddiensvergadering af teenwoordig te wees?
12 Daarbenewens lewer dit ook in baie gebiede uitstekende resultate wanneer die deur-tot-deur-predikingswerk in die middag en aand gedoen word. Party verkondigers preek selfs in die nag deur werkers by vulstasies, restaurante en ander besighede te besoek wat dag en nag oop is. Kan jy jou rooster aanpas sodat jy kan preek wanneer dit die waarskynlikste is dat jy mense tuis of elders sal vind?
Waarom het jy die vertroue dat Jehovah jou onderskraag wanneer jy sy boodskap bekend maak?
13, 14. (a) Hoe hou Jeremia se voorbeeld verband met herbesoeke? (b) Wat lig toe hoe belangrik dit is dat jy herbesoeke getrou doen?
13 Soms het Jehovah Jeremia beveel om profetiese boodskappe bekend te maak terwyl hy in die poorte van die tempel of van Jerusalem staan (Jer. 7:2; 17:19, 20). Deur hierdie verklarings in die poorte te doen, het Jeremia ’n menigte mense met Jehovah se woord bereik. En aangesien baie, insluitende die vooraanstaande manne van die stad, handelaars en sakemanne, gewoonlik dieselfde poort gebruik het, het hy moontlik herhaaldelik met party mense gepraat om hulle te help verstaan wat hulle tevore gehoor het. Wat kan ons hieruit leer oor herbesoeke by diegene wat belangstelling toon?
14 Jeremia het geweet dat lewens afgehang het van sy werk as God se profeet. Toe hy eenkeer nie God se instruksies om met die mense te praat, kon uitvoer nie, het hy sy vriend Barug in sy plek gestuur. (Lees Jeremia 36:5-8.) Hoe kan ons Jeremia hierin navolg? Hou ons ons woord wanneer ons vir ’n huisbewoner gesê het dat ons sal terugkom? Reël ons dat iemand anders in ons plek gaan as ons nie ’n afspraak vir ’n herbesoek of ’n tuisbybelstudie kan nakom nie? Jesus het gesê: “Laat julle woord Ja . . . Ja beteken” (Matt. 5:37). Dit is noodsaaklik dat ons ons woord hou, want ons verteenwoordig die God van waarheid en orde.—1 Kor. 14:33, 40.
15, 16. (a) Hoe het baie Jeremia se voorbeeld gevolg deur hulle bediening uit te brei? (b) Watter les leer jy uit die ondervinding uit Chili, wat op bladsy 40 uitgebeeld word?
15 Jeremia het die Jode in Babilon aangemoedig deur vir hulle ’n brief te skryf oor Jehovah se “goeie woord” oor herstelling (Jer. 29:1-4, 10). Vandag kan die “goeie woord” oor wat Jehovah binnekort sal doen, ook doeltreffend versprei word deur middel van briewe en die telefoon. Kan jy hierdie metodes gebruik om jou familielede of ander te help wat op verafgeleë plekke woon of moeilik is om mee in aanraking te kom?
16 Koninkryksverkondigers verkry vandag dikwels goeie resultate deur die voorbeeld van Jeremia, wat sy bediening ten volle uitgevoer het, te volg. ’n Getuie in Chili het met ’n vrou gaan praat wat uit ’n moltreinstasie gekom het. Sy was verheug om die Bybel se boodskap te hoor en het ingestem tot ’n Bybelbespreking by haar huis. Die Getuie het egter nie die vrou se adres neergeskryf nie. Die suster het Jehovah toe om hulp gevra omdat sy besef het hoe belangrik dit is om die vrou se belangstelling in die waarheid verder te kweek. Die volgende dag het sy op dieselfde tyd na die moltreinstasie teruggegaan. Sy het die vrou weer ontmoet. Hierdie keer het sy seker gemaak dat sy haar adres neerskryf, en later het sy die vrou by haar huis besoek om haar te help om die Bybel te verstaan. God se oordele sal binnekort aan Satan se wêreld voltrek word. Maar daar is hoop vir diegene wat berou toon en geloof in die goeie nuus stel. (Lees Klaagliedere 3:31-33.) Laat ons dan hierdie feit weerspieël deur ons gebied pligsgetrou te dek.
“MISKIEN SAL HULLE LUISTER EN TERUGKEER, ELKEEN . . . ”
17. Hoe kan jy Jeremia se benadering in julle gebied navolg?
17 Jehovah wou nie hê dat mense hulle lewe moet verloor nie. Ongeveer tien jaar voor Jerusalem se vernietiging het hy Jeremia gebruik om ’n hoop vir die ballinge in Babilon te beskryf. Ons lees: “Ek sal my oog ten goede op hulle rig, en ek sal hulle beslis na hierdie land laat terugkeer. En ek sal hulle opbou, en ek sal nie afbreek nie; en ek sal hulle plant, en ek sal nie uitruk nie.” Jeremia kon vir hierdie mense sê: “Daar is ’n hoop vir [julle] toekoms” (Jer. 24:6; 26:3; 31:17). Jeremia het God se beskouing van mense aangekweek. Hy het sy bediening met opregte besorgdheid uitgevoer en Jehovah se aansporing oorgedra: “Keer asseblief terug, elkeen van sy slegte weg, en maak julle handelinge goed” (Jer. 35:15). Kan jy aan bykomende maniere dink om innige persoonlike belangstelling in mense in julle gebied te toon?
18, 19. (a) Watter beskouing moet ons vermy wanneer ons die goeie nuus verkondig? (b) Watter gesindheid van Jeremia moet ons aankweek?
18 Jeremia se innige liefde vir die mense het nooit afgekoel nie. Ten tye van Jerusalem se vernietiging het hy nog steeds medelye vir hulle gevoel. (Lees Klaagliedere 2:11.) Die Jode het hulle rampspoed oor hulleself gebring. Maar Jeremia het nie gesê: ‘Ek het julle mos gesê’ nie. Hy was eerder baie bedroef oor wat met hulle gebeur het. Ons moet eweneens nie traak-my-nie-agtig wees in ons bediening en dit net doen omdat ons verplig voel nie. Ons pogings om ’n getuienis te gee, moet bewys hoe lief ons is vir ons wonderlike God sowel as vir mense, wat na sy beeld geskep is.
19 Daar is geen wonderliker voorreg of posisie in hierdie wêreld as om vir die ware God te getuig nie. Jeremia het so gevoel en het geskryf: “U woorde is gevind en ek het hulle opgeëet; en u woord word vir my die verheuging en die blydskap van my hart; want u naam is oor my uitgeroep, o Jehovah” (Jer. 15:16). Terwyl ons die goeie nuus verkondig, sal nog baie mense moontlik die Een aan wie hulle hulle lewe te danke het, leer ken en liefkry. Deur met ywer en liefde te dien, in navolging van Jeremia, sal ons hiertoe bydra.
Op watter bykomende maniere kan jy in die toekoms Jehovah se “goeie woord” probeer versprei, in navolging van Jeremia?
a Soos in hierdie geval het Jehovah dikwels engeleboodskappers op so ’n wyse gebruik dat dit voorgekom het asof dit Hy is wat praat.—Rigt. 13:15, 22; Gal. 3:19.