Wat ons by Jesus leer
Hoe om geluk te vind
Wat is die sleutel tot geluk?
▪ In die heel eerste woorde van sy bekendste toespraak het Jesus van geluk gepraat. Hy het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Wat het hy bedoel? Wat is ons geestelike behoefte?
Ons moet asemhaal, drink en eet om aan die lewe te bly, net soos diere. Maar om gelukkig te wees, het ons ’n behoefte wat diere nie het nie—die behoefte om die doel van die lewe te verstaan. Net die Skepper van lewe kan in hierdie behoefte voorsien. Jesus het dus gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matteus 4:4). Diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte, is gelukkig omdat hulle nader kom aan Jehovah, “die gelukkige God” en hy hulle iets gee wat onontbeerlik is vir geluk—hoop.—1 Timoteus 1:11.
Hoe het Jesus hoop gegee?
▪“Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf”, het Jesus gesê (Matteus 5:5). Jesus het die mensdom hoop gegee deur siek mense gesond te maak en die dooies tot lewe op aarde op te wek. Hy het ook ’n boodskap van hoop gebring. Hy het verduidelik: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Mense wat God gehoorsaam, sal die ewige lewe op aarde geniet. Kan jy jou voorstel hoe dit sal wees om tussen saggeaarde mense te lewe en nooit oud te word nie? Dit is te verstane dat God se Woord sê: “Verbly julle in die hoop” (Romeine 12:12). Jesus het ook bespreek hoe om nou geluk te vind.
Van watter gelukkige lewenswyse het Jesus ander geleer?
▪ Jesus het praktiese raad gegee oor dinge soos persoonlike verhoudings, die huwelik, nederigheid en die gepaste beskouing van materiële dinge (Matteus 5:21-32; 6:1-5, 19-34). As jy Jesus se raad volg, sal dit jou help om geluk te vind.
Vrygewigheid bring geluk mee (Handelinge 20:35). Jesus het byvoorbeeld gesê: “Wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, kreupeles, verlamdes, blindes; en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou mee te vergoed nie” (Lukas 14:13, 14). Geluk kom nie na dié wat dit vir hulleself soek nie, maar na dié wat dit vir ander soek.
Wat is die grootste bron van geluk?
▪ Om dinge vir ander mense te doen, kan jou gelukkig maak, maar om dinge vir God te doen, kan jou nog gelukkiger maak. Selfs die geluk van trotse ouers wat hulle kinders liefhet, kan nie daarmee vergelyk word nie. Dit kan duidelik gesien word uit wat by een geleentheid plaasgevind het terwyl Jesus in die openbaar onderrig het. “’n Sekere vrou uit die skare [het] haar stem verhef en vir hom gesê: ‘Gelukkig is die moederskoot wat u gedra het en die borste waaraan u gedrink het!’ Maar hy het gesê: ‘Nee, gelukkig is eerder dié wat die woord van God hoor en dit nakom!’”—Lukas 11:27, 28.
Jesus self het tevredenheid en geluk daaruit geput om sy hemelse Vader se wil te doen. Dit is God se wil dat mense van die hoop op die ewige lewe moet hoor. Een keer, nadat Jesus hierdie hoop aan ’n belangstellende verduidelik het, het hy gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het” (Johannes 4:13, 14, 34). Jy kan ook die geluk smaak wat dit meebring om iets te doen wat God behaag, deur ander van Bybelwaarheid te vertel.
Vir verdere inligting, sien hoofstuk 1 van hierdie boek, uitgegee deur Jehovah se Getuies. Wat leer die Bybel werklik?
[Prent op bladsy 16]
Ons kan ware geluk verkry deur ons behoefte te bevredig om te weet wat die doel van die lewe is