Wat het Jesus oor die hel geleer?
“As jou oog jou laat struikel”, het Jesus gesê, “pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.”—MARKUS 9:47, 48, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.
By ’n ander geleentheid het Jesus van ’n oordeelstydperk gepraat waartydens hy vir die goddeloses sal sê: “Gaan weg van my, julle vervloektes, in die ewige vuur in wat vir die duiwel en sy engele berei is.” Hy het ook gesê dat hierdie persone sal “weggaan na die ewige straf”.—MATTEUS 25:41, 46, The New American Bible.
OP DIE oog af lyk dit dalk of Jesus se woorde hierbo die leerstelling van die helse vuur staaf. Jesus sou God se Woord beslis nie probeer weerspreek het nie, wat duidelik sê: “Die dooies weet niks meer nie.”—Prediker 9:5, NAB.
Waarna het Jesus dan verwys toe hy gesê het dat ’n persoon “in die helse vuur” gewerp kan word? Is “die ewige vuur” in Jesus se waarskuwing letterlik of simbolies? In watter sin gaan die goddeloses ‘weg na die ewige straf’? Kom ons ondersoek hierdie vrae een vir een.
Waarna het Jesus verwys toe hy gesê het dat ’n persoon “in die helse vuur” gewerp kan word? Die oorspronklike Griekse woord wat in Markus 9:47 met “helse vuur” vertaal word, is Geʹen·na. Hierdie woord kom van die Hebreeuse Gê Hin·nomʹ, wat “Hinnomvallei” beteken. Die Hinnomvallei was net buite eertydse Jerusalem. In die dae van die Israelitiese konings is kinderoffers daar gebring—’n walglike gebruik wat deur God veroordeel is. God het gesê dat hy diegene sou teregstel wat so ’n daad van valse aanbidding verrig. Die Hinnomvallei sou dan “Moorddal” genoem word, waar “die lyke van hierdie volk” sou lê sonder om begrawe te word (Jeremia 7:30-34, OAB). So het Jehovah voorspel dat die Hinnomvallei ’n plek sou wees waar daar met baie lyke weggedoen sou word, nie waar lewende slagoffers gefolter sou word nie.
In Jesus se dag het die inwoners van Jerusalem die Hinnomvallei as ’n vullishoop gebruik. Hulle het die lyke van party veragtelike misdadigers op hierdie hoop gegooi en ’n vuur daar aan die gang gehou om van die vullis en die lyke ontslae te raak.
Toe Jesus gepraat het van die wurms wat nie doodgaan nie en die vuur wat nie uitgeblus word nie, het hy blykbaar op Jesaja 66:24 gesinspeel. Jesaja het aangaande “die lyke . . . van die mense wat teen [God] opgestaan het”, gesê: “Hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie” (OAB). Jesus en sy toehoorders het geweet dat hierdie woorde in Jesaja verwys het na wat gebeur het met die lyke van diegene wat nie ’n begrafnis verdien het nie.
Jesus het die Hinnomvallei, of Gehenna, dus gebruik as ’n gepaste simbool van die dood sonder die hoop op ’n opstanding. Hy het hierdie punt beklemtoon toe hy gewaarsku het dat God “die siel sowel as die liggaam in Gehenna kan vernietig” (Matteus 10:28, NAB). Gehenna is ’n simbool van ewige dood, nie ewige foltering nie.
Is “die ewige vuur” in Jesus se waarskuwing letterlik of simbolies? Let daarop dat “die ewige vuur” wat Jesus genoem het en wat in Matteus 25:41 gemeld word, “vir die duiwel en sy engele” berei is. Dink jy dat letterlike vuur geesskepsele kan brand? Of het Jesus die woord “vuur” in simboliese sin gebruik? “Die skape” en “die bokke” wat in dieselfde gedeelte genoem word, is beslis nie letterlik nie; dit is beeldspraak wat gebruik word om twee soorte mense af te beeld (Matteus 25:32, 33). In die ewige vuur waarvan Jesus gepraat het, word die goddeloses in figuurlike sin heeltemal verbrand.
In watter sin gaan die goddeloses ‘weg na die ewige straf’? Hoewel die meeste vertalings die woord “straf” in Matteus 25:46 gebruik, is die grondbetekenis van die Griekse woord koʹla·sin “om die groei van bome te beheer”, of om te snoei, om onnodige takke af te sny. Die skaapgeaardes ontvang dus die ewige lewe, terwyl die onberouvolle bokagtiges “ewige straf” ondergaan, deurdat hulle vir ewig van die lewe afgesny word.
Wat dink jy?
Jesus het nooit geleer dat mense ’n onsterflike siel het nie. Maar hy het wel dikwels in sy onderrigting van die opstanding van die dooies gepraat (Lukas 14:13, 14; Johannes 5:25-29; 11:25). Waarom sou Jesus sê dat die dooies sal opstaan as hy geglo het dat hulle siel nie sterf nie?
Jesus het nie geleer dat God uit kwaadwilligheid die goddeloses vir ewig sou folter nie. Jesus het eerder gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in hom glo, nie mag vergaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16, NAB). Waarom sou Jesus te kenne gee dat dié wat nie in hom glo nie, sal sterf? As hy in werklikheid bedoel het dat hulle vir ewig sou lewe terwyl hulle in ’n brandende hel ly, sou hy dan nie so gesê het nie?
Die leerstelling dat die hel ’n plek van foltering is, is nie op die Bybel gegrond nie. Dit is eerder ’n heidense opvatting wat as ’n Christelike lering voorgehou word. (Sien die venster “’n Kort geskiedenis van die hel”, op bladsy 6.) Nee, God folter mense nie vir ewig in die hel nie. Watter uitwerking kan die waarheid omtrent die hel op jou gesindheid teenoor God hê?
[Venster op bladsy 6]
’N KORT GESKIEDENIS VAN DIE HEL
OORSPRONG IN HEIDENSE OPVATTINGS: Die eertydse Egiptenare het aan ’n brandende hel geglo. The Book Ȧm-Ṭuat, wat uit 1375 v.G.J. dateer, praat van dié wat “kop eerste in die vuurkuile gewerp sal word; en . . . nie daaruit sal ontsnap nie, en . . . nie van die vlamme sal kan wegkom nie”. Die Griekse filosoof Plutargus (ca. 46-120 G.J.) het van diegene in die onderwêreld geskryf: “[Hulle] het gekerm terwyl hulle vreeswekkende foltering en vernederende en verskriklike kastyding ondergaan het.”
DIT VERSPREI NA SEKTES VAN JUDAÏSME: Die geskiedskrywer Josefus (37-ca.100 G.J.) het berig dat die Essene, ’n Joodse sekte, geglo het dat “siele onsterflik is en vir ewig voortbestaan”. Hy het bygevoeg: “Dit kom ooreen met die mening van die Grieke . . . Volgens hulle is die lot van slegte siele ’n donker en onstuimige kuil, vol nimmereindigende strafgerigte.”
IN DIE “CHRISTELIKE” GODSDIENS INGEBRING: In die tweede eeu G.J. het die apokriewe boek Die Openbaring van Petrus van die goddeloses gesê: “’n Onblusbare vuur is vir hulle berei.” Dit het ook gesê: “Esrael, die engel van gramskap, bring mans en vroue, met die helfte van hulle liggaam wat brand, en werp hulle in ’n plek van duisternis, die hel van mense; en ’n gees van gramskap kasty hulle.” Gedurende dieselfde tydperk het die skrywer Teofilus van Antiogië die Griekse profetes Sibille se voorspelling aangehaal van strafgerigte oor die goddeloses: “Oor julle sal brandende vuur kom, en julle sal vir ewig, elke dag, in vlamme brand.” Dit is van die woorde wat volgens Teofilus “waar en nuttig en regverdig en voordelig vir alle mense” is.
DIE HELSE VUUR GEBRUIK OM GEWELD IN DIE MIDDELEEUE TE REGVERDIG: Maria I, koningin van Engeland (1553-1558), wat bekend gestaan het as “Maria die Bloedige” omdat sy bykans 300 Protestante na die brandstapel gestuur het, het glo gesê: “Aangesien die siele van ketters hierna vir ewig in die hel gaan brand, kan daar vir my niks meer gepas wees as om die goddelike wraak na te volg deur hulle op die aarde te verbrand nie.”
’N ONLANGSE DEFINISIE: In onlangse jare het party kerke hulle leerstelling omtrent die hel hersien. In 1995 het die Leerstellingskommissie van die Anglikaanse Kerk byvoorbeeld gesê: “Die hel is nie ewige foltering nie, maar dit is die finale en onherroeplike keuse van ’n weg wat so volkome en so absoluut teen God is dat die enigste uiteinde totale niebestaan is.”
[Venster/Prent op bladsy 7]
WAT IS “DIE POEL VAN VUUR”?
Volgens Openbaring 20:10 sal die Duiwel in “die poel van vuur” gewerp word en “dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid” (Ou Afrikaanse Bybelvertaling). As die Duiwel tot in alle ewigheid gepynig gaan word, sal God hom aan die lewe moet hou, maar die Bybel sê dat Jesus “hom tot niet [sal] maak” (Hebreërs 2:14, OAB). Die simboliese vuurpoel stel “die tweede dood” voor (Openbaring 21:8). Dit is nie die dood wat eerste in die Bybel genoem word—die dood weens Adam se sonde—die dood waaruit ’n mens deur middel van ’n opstanding bevry kan word nie (1 Korintiërs 15:21, 22). Aangesien die Bybel nie sê dat “die poel van vuur” diegene wat daarin is, sal vrylaat nie, moet “die tweede dood” ’n ander soort dood beteken, een wat onomkeerbaar is.
In watter sin word diegene in “die poel van vuur” vir ewig gepynig? “Om te pynig”, kan soms “om te bedwing” beteken. Toe Jesus eenkeer die demone gekonfronteer het, het hulle uitgeroep: “Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig [in die afgrond te bedwing]?” (Matteus 8:29; Lukas 8:30, 31; OAB). Almal in “die poel” sal dus die ‘pyniging’ van ewige bedwang, of “die tweede dood”, ondergaan.