Hoofstuk 96
Jesus en ’n ryk jong owerste
TERWYL Jesus deur die gebied Perea na Jerusalem gaan, hardloop ’n jongman na hom toe en val op sy knieë voor hom neer. Die man word ’n owerste genoem, wat waarskynlik beteken dat hy ’n vername posisie in die plaaslike sinagoge beklee of selfs dat hy ’n lid van die Sanhedrin is. Hy is ook baie ryk. “Goeie Meester”, vra hy, “wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?”
“Waarom noem jy My goed?” antwoord Jesus. “Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God.” Die jongman gebruik “goeie” waarskynlik as ’n titel, en daarom sê Jesus vir hom dat so ’n titel slegs God toekom.
“Maar”, sê Jesus voorts, “as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.”
“Watter?” vra die man.
Jesus antwoord deur vyf van die Tien Gebooie op te noem: “Dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en moeder.” En Jesus voeg ’n selfs belangriker gebod by deur te sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
“Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af”, antwoord die man in alle opregtheid. “Wat kom ek nog kort?”
Jesus kry die man lief wanneer hy sy intense, dringende versoek hoor. Maar Jesus besef dat die man geheg is aan materiële besittings en vestig dus die aandag op wat hy moet doen: “Een ding kom jy kort—gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; kom dan hier, . . . en volg My.”
Jesus kyk ongetwyfeld met jammerte toe hoe die man opstaan en bedroef wegdraai. Sy rykdom verblind hom vir die waarde van ’n ware skat. “Hoe beswaarlik”, sê Jesus hartseer, “sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan!”
Jesus se woorde verbaas die dissipels. Maar hulle is selfs meer verbaas wanneer hy voortgaan en ’n algemene reël uiteensit: “Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”
“Wie kan dan gered word?” wil die dissipels weet.
Jesus kyk hulle reguit aan en antwoord: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.”
Petrus, wat merk dat die keuse wat hulle gemaak het grootliks verskil van die ryk jong owerste se keuse, sê: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg.” Daarom vra hy: “Wat sal daar dan vir ons wees?”
“In die wedergeboorte [“herskepping”, NW]”, beloof Jesus, “wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, [sal] julle ook op twaalf trone . . . sit en die twaalf stamme van Israel . . . oordeel.” Ja, Jesus toon dat daar ’n herskepping van toestande op die aarde sal wees sodat dinge weer sal wees soos dit in die tuin van Eden was. En Petrus en die ander dissipels sal die beloning ontvang om saam met Christus oor hierdie aardwye Paradys te heers. So ’n ryke beloning is waarlik enige opoffering werd!
Daar is egter selfs nou belonings, soos Jesus nadruklik sê: “Daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.”
Soos Jesus beloof, geniet sy dissipels, waar hulle ook al in die wêreld is, ’n verhouding met mede-Christene wat hegter en kosbaarder is as dié met hulle eie familielede. Die ryk jong owerste verbeur blykbaar hierdie beloning én die van die ewige lewe in God se hemelse Koninkryk.
Daarna voeg Jesus by: “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste.” Wat bedoel hy?
Hy bedoel dat baie mense wat “eerste” is in die genieting van godsdiensvoorregte, soos die ryk jong owerste, nie die Koninkryk sal ingaan nie. Hulle sal “laaste” wees. Maar baie, waaronder Jesus se nederige dissipels, op wie die eiegeregtige Fariseërs neersien asof hulle “laaste” is—asof hulle mense van die aarde, of ‛am ha·’aʹrets is—sal “eerste” wees. Die feit dat hulle “eerste” sal wees, beteken dat hulle die voorreg sal ontvang om medeheersers met Christus in die Koninkryk te word. Markus 10:17-31; Mattheüs 19:16-30; Lukas 18:18-30.
▪ Watter soort owerste is die ryk jongman waarskynlik?
▪ Waarom maak Jesus beswaar daarteen dat hy goed genoem word?
▪ Hoe lig die jong owerste se geval die gevare toe wat dit inhou om ryk te wees?
▪ Watter belonings beloof Jesus sy volgelinge?
▪ Hoe sal diegene wat eerste is laaste wees en die wat laaste is, eerste?