Hoe om “die denke van Christus” te leer ken
“‘Wie het die denke van Jehovah leer ken, dat hy hom kan onderrig?’ Maar ons het wel die denke van Christus.”—1 KORINTIËRS 2:16.
1, 2. Wat het Jehovah in sy Woord omtrent Jesus geopenbaar?
HOE het Jesus gelyk? Watter kleur hare, vel en oë het hy gehad? Hoe lank was hy? Hoeveel het hy geweeg? Deur die eeue heen was sommige kunstenaarsvoorstellings van Jesus redelik en ander vergesog. Party het hom as ’n sterk, lewenslustige man voorgestel, terwyl ander hom as swak en bleek uitgebeeld het.
2 Die Bybel vestig egter nie die aandag op Jesus se voorkoms nie. Jehovah het eerder iets veel belangrikers geopenbaar: die soort persoon wat Jesus was. Die Evangelieverslae vertel ons nie net wat Jesus gesê en gedoen het nie, maar dit openbaar ook die diepte van sy gevoelens en die denkwyse wat tot sy woorde en dade aanleiding gegee het. Hierdie vier geïnspireerde verslae stel ons in staat om dieper insig te kry in wat die apostel Paulus “die denke van Christus” noem (1 Korintiërs 2:16). Dit is belangrik dat ons vertroud raak met die gedagtes, gevoelens en persoonlikheid van Jesus. Waarom? Daar is ten minste twee redes.
3. Watter insig kry ons wanneer ons die denke van Christus leer ken?
3 Eerstens gee die denke van Christus ons insig in die denke van Jehovah God. Jesus het sy Vader so goed geken dat hy kon sê: “Niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader; en niemand weet wie die Vader is nie, behalwe die Seun, en hy aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar” (Lukas 10:22). Dit is asof Jesus gesê het: ‘As julle wil weet watter soort persoon Jehovah is, kyk na my’ (Johannes 14:9). Wanneer ons dus bestudeer wat die Evangelies omtrent Jesus se denkwyse en gevoelens openbaar, leer ons in werklikheid hoe Jehovah dink en voel. Hierdie kennis help ons om nader aan ons God te kom.—Jakobus 4:8.
4. Wat moet ons eers leer as ons waarlik soos Christus wil optree, en waarom?
4 Tweedens, as ons die denke van Christus ken, help dit ons om “sy voetstappe noukeurig [te] volg” (1 Petrus 2:21). Om Jesus te volg, beteken nie bloot dat ons sy woorde herhaal en optree soos hy opgetree het nie. Aangesien woorde en dade deur gedagtes en gevoelens beïnvloed word, moet ons dieselfde “geestesgesindheid” as Christus aankweek as ons hom wil navolg (Filippense 2:5). Met ander woorde, as ons waarlik soos Christus wil optree, moet ons eers leer om soos hy te dink en te voel, dit wil sê na die beste van ons vermoë as onvolmaakte mense. Kom ons ondersoek dus die denke van Christus met die hulp van die Evangelieskrywers. Ons sal eerstens faktore bespreek wat Jesus se denke en gevoelens beïnvloed het.
Sy voormenslike bestaan
5, 6. (a) Watter uitwerking kan ons metgeselle op ons hê? (b) Watter assosiasie het God se eersgebore Seun in die hemel gehad voordat hy na die aarde toe gekom het, en watter uitwerking het dit op hom gehad?
5 Ons intieme metgeselle kan ’n goeie of ’n slegte invloed op ons denke, gevoelens en optrede hê (Spreuke 13:20).a Dink aan die assosiasie wat Jesus in die hemel gehad het voordat hy na die aarde toe gekom het. Die Evangelie van Johannes vestig die aandag op Jesus se voormenslike bestaan as “die Woord”, of Woordvoerder, van God. Johannes sê: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was ’n god. Dié een was in die begin by God” (Johannes 1:1, 2). Aangesien Jehovah geen begin gehad het nie, moet die feit dat die Woord van “die begin” af saam met God was, verwys na die begin van God se skeppingswerke (Psalm 90:2). Jesus is “die eersgeborene van die hele skepping”. Gevolglik het hy bestaan voor die ander geesskepsele en die fisiese heelal geskep is.—Kolossense 1:15; Openbaring 3:14.
6 Volgens party wetenskaplike skattings bestaan die fisiese heelal al ten minste 12 miljard jaar. As daardie skattings selfs net naastenby korrek is, het God se eersgebore Seun onbepaalde eeue voor die skepping van Adam intieme assosiasie met sy Vader geniet. (Vergelyk Miga 5:1.) ’n Teer en hegte band het dus tussen hulle twee ontwikkel. Hierdie eersgebore Seun word in sy voormenslike bestaan uitgebeeld as die verpersoonliking van wysheid wat sê: “Ek het die een geword vir wie [Jehovah] dag vir dag besonder lief was, terwyl ek die hele tyd voor hom vrolik was” (Spreuke 8:30, NW). Die eindelose eeue wat God se Seun in intieme assosiasie met die Bron van liefde deurgebring het, het beslis ’n diepgaande uitwerking op hom gehad! (1 Johannes 4:8). Hierdie Seun het sy Vader se denke, gevoelens en weë leer ken en weerspieël soos niemand anders kon nie.—Matteus 11:27.
Sy aardse lewe en invloede
7. Wat is een van die redes waarom God se eersgebore Seun na die aarde toe moes kom?
7 Daar was sekere dinge wat God se Seun nog moes leer, want dit was Jehovah se voorneme om sy Seun toe te rus om ’n medelydende Hoëpriester te wees, iemand wat “met ons swakhede kan simpatiseer” (Hebreërs 4:15). Een van die redes waarom die Seun as ’n mens na die aarde gekom het, was om aan die vereistes vir hierdie rol te voldoen. Hier, as ’n mens van vlees en bloed, is Jesus blootgestel aan omstandighede en invloede wat hy voorheen slegs vanuit die hemel waargeneem het. Nou kon hy self die gevoelens en emosies van mense ondervind. Soms het hy moeg, dors en honger gevoel (Matteus 4:2; Johannes 4:6, 7). Hy het selfs allerhande ontberings en lyding verduur. Hy het sodoende “gehoorsaamheid geleer” en volkome bevoeg geword vir sy rol as Hoëpriester.—Hebreërs 5:8-10.
8. Wat weet ons omtrent Jesus se eerste paar jaar op aarde?
8 Wat van Jesus se ondervindinge gedurende sy eerste paar jaar op aarde? Die verslag van sy kinderjare is baie kort. Trouens, net Matteus en Lukas het vertel wat by sy geboorte plaasgevind het. Die Evangelieskrywers het geweet dat Jesus in die hemel gelewe het voordat hy na die aarde toe gekom het. Sy voormenslike bestaan het meer as enigiets anders bepaal watter soort mens hy sou word. Jesus was nietemin in alle opsigte ’n mens. Hoewel hy volmaak was, moes hy nog steeds opgroei van ’n baba tot ’n kind en van ’n adolessent tot ’n volwassene, terwyl hy voortdurend geleer het (Lukas 2:51, 52). Die Bybel openbaar sekere dinge omtrent Jesus se vroeë lewe wat ongetwyfeld ’n uitwerking op hom gehad het.
9. (a) Wat dui aan dat Jesus uit ’n arm gesin gebore is? (b) In watter soort omstandighede het Jesus heel waarskynlik grootgeword?
9 Jesus is klaarblyklik uit ’n arm gesin gebore. Dit word aangedui deur die offerande wat Josef en Maria omtrent 40 dae ná sy geboorte na die tempel gebring het. Hulle het nie ’n jong ram as brandoffer en ’n jong duif of ’n tortelduif as sondoffer gebring nie, maar hulle het “’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe” gebring (Lukas 2:24). Volgens die Mosaïese Wet was hierdie offerande ’n voorsiening vir die armes (Levitikus 12:6-8). Mettertyd het hierdie nederige gesinnetjie groter geword. Ná Jesus se wonderdadige geboorte, het Josef en Maria ten minste nog ses ander kinders gehad (Matteus 13:55, 56). Jesus het dus in ’n groot gesin grootgeword, heel waarskynlik in beskeie omstandighede.
10. Wat toon dat Maria en Josef godvresende persone was?
10 Jesus is deur godvresende ouers grootgemaak wat vir hom omgegee het. Sy moeder, Maria, was ’n besondere vrou. Jy sal onthou dat die engel Gabriël haar gegroet het met die woorde: “Goeiedag, hoogbegunstigde, Jehovah is met jou” (Lukas 1:28). Josef was ook ’n godvresende man. Hy het elke jaar getrou die reis van 150 kilometer na Jerusalem afgelê om die Pasga by te woon. Maria het dit ook bygewoon, al is dit net van mans vereis om dit te doen (Exodus 23:17; Lukas 2:41). By een van hierdie geleenthede het Josef en Maria, nadat hulle naarstig na hom gesoek het, die 12-jarige Jesus in die tempel tussen die leraars gevind. Jesus het vir sy bekommerde ouers gesê: “Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (Lukas 2:49). “Vader”—daardie woord het ongetwyfeld ’n warm en positiewe gevoel by die jong Jesus laat opkom. In die eerste plek is daar klaarblyklik vir hom gesê dat Jehovah sy werklike Vader was. Daarbenewens moes Josef ongetwyfeld ’n goeie pleegvader vir Jesus gewees het. Jehovah sou beslis nie ’n hardvogtige of wrede man gekies het om Sy geliefde Seun groot te maak nie!
11. Watter ambag het Jesus geleer, en wat het hierdie ambag in Bybeltye behels?
11 Gedurende Jesus se jare in Nasaret het hy by sy pleegvader, Josef, geleer om ’n timmerman te wees. Jesus het die ambag so goed bemeester dat hy self “die timmerman” genoem is (Markus 6:3). In Bybeltye is timmermanne in diens geneem om huise te bou en meubels (onder meer tafels, stoele en banke) asook landbougereedskap te maak. Justinus die Martelaar, van die tweede eeu G.J., het in sy Dialogue With Trypho aangaande Jesus geskryf: “Hy het as timmerman gewerk en ploeë en jukke gemaak toe hy onder die mensdom gewoon het.” Hierdie werk was nie maklik nie, want ’n timmerman van die ou tyd kon waarskynlik nie sy hout gekoop het nie. Hy het heel moontlik uitgegaan, ’n boom gekies, dit afgekap en die hout huis toe gedra. Jesus moes dus geweet het hoe moeilik dit is om ’n bestaan te maak, met klante te werk en die pot aan die kook te hou.
12. Wat toon dat Josef klaarblyklik voor Jesus gesterf het, en wat sou dit vir Jesus beteken het?
12 As die oudste seun het Jesus moontlik gehelp om vir die gesin te sorg, veral aangesien dit lyk asof Josef voor Jesus gesterf het.b Zion’s Watch Tower van 1 Januarie 1900 het gesê: “Volgens oorlewering het Josef gesterf toe Jesus nog jonk was en het laasgenoemde ’n timmerman geword en vir die gesin gesorg. Hierdie mening word deur die skriftuurlike verslag gesteun waar Jesus self ’n timmerman genoem word, en sy moeder en broers gemeld word, maar nie Josef nie (Markus 6:3). . . . Dit is derhalwe hoogs waarskynlik dat die lang tydperk van agtien jaar van ons Here se lewe, van die tyd van die voorval [wat in Lukas 2:41-49 opgeteken staan] tot die tyd van sy doop, deur alledaagse take in beslag geneem is.” Maria en haar kinders, insluitende Jesus, moes die pyn geken het wat met die dood van ’n geliefde man en vader gepaardgaan.
13. Waarom kan ons sê dat Jesus, toe hy sy bediening begin het, kennis, insig en gevoelens gehad het wat niemand anders kon hê nie?
13 Dit is duidelik dat Jesus nie uit ’n welgestelde gesin gebore is nie. Hy het eerder eerstehandse kennis van die lewe van gewone mense opgedoen. Toe, in 29 G.J., het die tyd aangebreek vir Jesus om die Goddelike toewysing uit te voer wat op hom gewag het. In die herfs van daardie jaar is hy in water gedoop en is hy as ’n geestelike Seun van God verwek. ‘Die hemel is vir hom geopen’, wat blykbaar toon dat hy toe sy voormenslike lewe in die hemel kon onthou, en dit het die gedagtes en gevoelens ingesluit wat daarmee gepaardgegaan het (Lukas 3:21, 22). Toe Jesus dus met sy bediening begin het, het hy kennis, insig en gevoelens gehad wat niemand anders kon hê nie. Die Evangelieskrywers het tereg die grootste deel van hulle geskrifte aan die gebeure van Jesus se bediening gewy. En tog kon hulle nie alles neerskryf wat hy gesê en gedoen het nie (Johannes 21:25). Maar wat hulle geïnspireer is om neer te skryf, help ons om insig te kry in die denke van die grootste mens wat nog geleef het.
Watter soort persoon Jesus was
14. Hoe stel die Evangelies Jesus voor as ’n man met tere geneentheid en diep gevoelens?
14 Jesus se persoonlikheid, soos dit in die Evangelies geopenbaar word, is dié van ’n man met tere geneentheid en diep gevoelens. Hy het aan ’n verskeidenheid emosies uiting gegee: medelye met ’n melaatse (Markus 1:40, 41); hartseer oor ’n onontvanklike volk (Lukas 19:41, 42); regverdige verontwaardiging oor gierige geldwisselaars (Johannes 2:13-17). Jesus was ’n man met empatie wat tot trane beweeg kon word, en hy het nie sy gevoelens verberg nie. Toe sy geliefde vriend Lasarus gesterf het, het dit Jesus so diep geraak toe hy Maria, Lasarus se suster, sien huil het, dat hy self begin huil het, daar voor die mense.—Johannes 11:32-36.
15. Hoe kom Jesus se tere gevoelens sterk na vore in die manier waarop hy ander beskou en behandel het?
15 Jesus se tere gevoelens kom veral sterk na vore in die manier waarop hy ander beskou en behandel het. Hy was besorg oor die armes en verdruktes en het hulle gehelp om ‘verkwikking vir hulle siele te vind’ (Matteus 11:4, 5, 28-30). Hy was nie te besig om die behoeftes van die geteisterdes in ag te neem nie, hetsy dit ’n vrou was wat aan bloedvloeiing gely het en onopsigtelik sy kleed aangeraak het of ’n blinde bedelaar wat nie stilgemaak kon word nie (Matteus 9:20-22; Markus 10:46-52). Jesus het na die goeie eienskappe in mense gesoek en hulle geprys; maar hy was ook gereed om teregwysing te gee wanneer dit nodig was (Matteus 16:23; Johannes 1:47; 8:44). In ’n tyd toe vroue min regte geniet het, het Jesus hulle met ’n gebalanseerde mate van waardigheid en respek behandel (Johannes 4:9, 27). ’n Mens kan verstaan waarom ’n groep vroue gewillig was om hom met hulle eie besittings te bedien.—Lukas 8:3.
16. Wat toon dat Jesus ’n gebalanseerde beskouing van die lewe en van materiële dinge gehad het?
16 Jesus het ’n gebalanseerde beskouing van die lewe gehad. Materiële dinge was nie vir hom van die allergrootste belang nie. Dit lyk of hy baie min op materiële gebied gehad het. Hy het gesê dat hy “geen plek [gehad het] om sy kop neer te lê nie” (Matteus 8:20). Jesus het terselfdertyd tot ander se vreugde bygedra. Toe hy ’n bruilof bygewoon het—’n gebeurtenis wat deur musiek, sang en vrolikheid gekenmerk word—is dit duidelik dat hy nie daar was om die geleentheid te bederf nie. Trouens, Jesus het sy eerste wonderwerk daar verrig. Toe die wyn opgeraak het, het hy water verander in goeie wyn, iets wat “die mens se hart kan bly maak” (Psalm 104:15; Johannes 2:1-11). Die fees kon dus voortgaan, en die bruid en bruidegom is ongetwyfeld verleentheid gespaar. Sy balans word verder getoon deur die feit dat daar baie meer geleenthede gemeld word waar Jesus lank en hard in sy bediening gewerk het.—Johannes 4:34.
17. Waarom is dit nie verbasend dat Jesus ’n Meesteronderrigter was nie, en wat het sy leringe weerspieël?
17 Jesus was ’n Meesteronderrigter. Sy onderrigting het dikwels die werklikhede van die alledaagse lewe weerspieël, waarmee hy goed bekend was (Matteus 13:33; Lukas 15:8). Die manier waarop hy onderrig het, was uniek—altyd duidelik, eenvoudig en prakties. Maar wat hy mense geleer het, was selfs merkwaardiger. Sy leringe het sy hartgrondige begeerte weerspieël om aan sy luisteraars die gedagtes, gevoelens en weë van Jehovah bekend te maak.—Johannes 17:6-8.
18, 19. (a) Met watter treffende illustrasies het Jesus sy Vader beskryf? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
18 Jesus het sy Vader aan mense geopenbaar deur dikwels treffende illustrasies te gebruik wat hulle nie maklik kon vergeet nie. Dit is een ding om in breë trekke oor die barmhartigheid van God te praat. Maar dit is iets heeltemal anders om Jehovah met ’n vergewensgesinde vader te vergelyk wat só ontroer was toe hy sy seun na hom toe sien terugkom het dat hy “gehardloop [het] en hom om die hals geval en hom teer gesoen” het (Lukas 15:11-24). Jesus het die onbuigsame kultuur waarin godsdiensleiers neergesien het op die gewone mense verwerp en verduidelik dat sy Vader ’n genaakbare God is wat die versoeke van ’n nederige belastinggaarder bo die vertonerige gebed van ’n eiegeregtige Fariseër verkies het (Lukas 18:9-14). Jesus het Jehovah as ’n liefdevolle God uitgebeeld wat weet wanneer ’n klein mossie op die grond val. “Moet dus nie vrees nie”, het Jesus sy dissipels verseker, “julle is meer werd as baie mossies” (Matteus 10:29, 31). Ons kan verstaan waarom mense verstom was oor Jesus se “manier van leer” en tot hom aangetrokke gevoel het (Matteus 7:28, 29). By een geleentheid het “’n groot skare” drie dae lank by hom vertoef, al het hulle niks gehad om te eet nie!—Markus 8:1, 2.
19 Ons kan dankbaar wees dat Jehovah in sy Woord die denke van Christus geopenbaar het! Maar hoe kan ons die denke van Christus aankweek en in ons handelinge met ander openbaar? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Dat geesskepsele deur hulle assosiasie beïnvloed kan word, kan gesien word in Openbaring 12:3, 4. Satan word daar uitgebeeld as ’n “draak” wat sy invloed kon gebruik om ander “sterre”, of geesseuns, by hom in ’n opstandige weg te laat aansluit.—Vergelyk Job 38:7.
b Die laaste keer dat daar regstreeks na Josef verwys word, is toe die 12-jarige Jesus in die tempel gevind is. Geen melding word daarvan gemaak dat Josef teenwoordig was by die bruilof in Kana aan die begin van Jesus se bediening nie (Johannes 2:1-3). In 33 G.J. het Jesus, terwyl hy aan die folterpaal gehang het, Maria aan die sorg van die geliefde apostel Johannes toevertrou. Dit is onwaarskynlik dat Jesus dit sou gedoen het as Josef nog gelewe het.—Johannes 19:26, 27.
Onthou jy?
• Waarom is dit belangrik dat ons “die denke van Christus” leer ken?
• Watter assosiasie het Jesus tydens sy voormenslike bestaan gehad?
• Aan watter omstandighede en invloede is Jesus tydens sy aardse lewe blootgestel?
• Wat openbaar die Evangelies omtrent Jesus se persoonlikheid?
[Prent op bladsy 10]
Jesus het in ’n groot gesin en waarskynlik in beskeie omstandighede grootgeword
[Prente op bladsy 12]
Die leraars was verstom oor die insig en antwoorde van die 12-jarige Jesus