Gawes wat God behaag
JESUS en sy dissipels het ’n aangename maaltyd in Betanië saam met ’n paar intieme vriende geniet, waaronder Maria, Marta en Lasarus, wat kort tevore opgewek is. Toe Maria ’n pond kosbare olie geneem en die voete van Jesus gesalf het, het Judas Iskariot verontwaardig geraak en beswaar gemaak. “Waarom is hierdie welriekende olie nie vir driehonderd denarii [gelykstaande aan omtrent ’n jaar se loon] verkoop en vir die armes gegee nie?” Ander het ook gou hulle ontevredenheid uitgespreek.—Johannes 12:1-6; Markus 14:3-5.
Jesus het egter geantwoord: “Laat staan haar. . . . Want julle het die armes altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle altyd aan hulle goed doen, maar vir my het julle nie altyd nie” (Markus 14:6-9). Die Joodse godsdiensleiers het mense geleer dat dit nie net ’n goeie daad was om aalmoese te gee nie, maar dat dit selfs versoening van sondes kon meebring. Jesus het dit daarenteen duidelik gemaak dat gawes wat God behaag, nie net beperk is tot liefdadigheidsgawes aan die armes nie.
’n Kykie na die manier waarop gawes in die vroeë Christengemeente gegee is, sal ons help om te sien op watter praktiese maniere ons besorgdheid kan toon en God kan behaag wanneer ons vir ander gee. Dit sal ook ’n unieke manier toon waarop ons kan gee om vir ander die grootste voordeel mee te bring.
“Gee barmhartigheidsgawes”
Jesus het sy dissipels by verskeie geleenthede aangespoor om “barmhartigheidsgawes” te gee, of soos ander vertalings die frase weergee, om ‘aalmoese te gee’ of “vir liefdadigheid te gee” (Lukas 12:33; Die Bybel 1953; New English Bible). Jesus het egter gewaarsku teen ’n groot vertoon wat bloot bedoel is om die gewer in plaas van God te verheerlik. “Wanneer jy . . . barmhartigheidsgawes gee”, het hy gesê, “moet jy nie ’n trompet voor jou blaas net soos die huigelaars in die sinagoges en in die strate doen, sodat hulle deur die mense verheerlik kan word nie” (Matteus 6:1-4). Die vroeë Christene het hierdie raad toegepas en die groot vertoon vermy waarmee die huigelagtige godsdiensleiers van hulle dag gawes gegee het; hulle het eerder behoeftiges gehelp deur persoonlike dienste te verrig of private gawes te gee.
In Lukas 8:1-3 word daar byvoorbeeld vir ons gesê dat Maria Magdalena, Johanna, Susanna en ander “hulle besittings” gebruik het om Jesus en sy apostels sonder vertoon te bedien. Hoewel hierdie manne nie behoeftig was nie, het hulle hulle werk en lewensmiddele agtergelaat om hulle uitsluitlik op die bediening toe te spits (Matteus 4:18-22; Lukas 5:27, 28). Deur hulle te help om hulle godgegewe taak uit te voer, het hierdie vroue God in werklikheid verheerlik. En God het getoon dat hy dit waardeer deur ’n verslag van hulle barmhartige vrygewigheid in die Bybel te bewaar sodat alle toekomstige geslagte dit kon lees.—Spreuke 19:17; Hebreërs 6:10.
Nog ’n goedhartige vrou was Dorkas, wat “oorvloedig in goeie dade en barmhartigheidsgawes” was. Sy het klere gemaak vir behoeftige weduwees in haar kusdorpie Joppe. Of sy self vir al die materiaal betaal het of net haar arbeid aangebied het, weet ons nie. Maar haar goeie werke het haar geliefd gemaak by dié wat sy kon help, sowel as by God, wat haar op barmhartige wyse vir haar goedheid geseën het.—Handelinge 9:36-41.
Die regte beweegrede is noodsaaklik
Wat het hierdie individue beweeg om te gee? Dit was nie net ’n skielike gevoel van medelye wat deur ’n emosionele versoek om hulp gewek is nie. Hulle het in hulle hart ’n sedelike verantwoordelikheid gevoel om elke dag te doen wat hulle kon om diegene te help wat weens armoede, teëspoed, siekte of ander probleme gely het (Spreuke 3:27, 28; Jakobus 2:15, 16). Dít is die soort gawes wat God behaag. Die beweegrede hiervoor is hoofsaaklik ’n innige liefde vir God en ’n begeerte om sy barmhartige en vrygewige persoonlikheid na te boots.—Matteus 5:44, 45; Jakobus 1:17.
Die apostel Johannes het hierdie belangrike aspek van vrygewigheid beklemtoon toe hy gevra het: “Wie hierdie wêreld se middele vir lewensonderhoud het en sy broer sien gebrek ly en tog die deur van sy tere medelye vir hom sluit, in watter opsig bly die liefde vir God in hom?” (1 Johannes 3:17). Die antwoord is voor die hand liggend. Liefde vir God beweeg mense om aan ander te gee. God waardeer en beloon diegene wat, soos hy, ’n vrygewige gees openbaar (Spreuke 22:9; 2 Korintiërs 9:6-11). Sien ons vandag hierdie soort vrygewigheid? Beskou byvoorbeeld wat onlangs in ’n gemeente van Jehovah se Getuies gebeur het.
’n Bejaarde Christenvrou se huis het dringend herstelwerk nodig gehad. Sy het alleen gebly en het geen familie gehad wat haar kon help nie. Deur die jare heen het sy haar huis altyd vir Christelike vergaderinge beskikbaar gestel, en sy het dikwels mense genooi om ’n maaltyd saam met haar te geniet (Handelinge 16:14, 15, 40). Die gemeentelede het haar netelige situasie gesien en haar te hulp gekom. Party het geld bygedra, ander hulle kragte. Gedurende ’n paar naweke het die vrywilligers ’n nuwe dak opgesit, ’n nuwe badkamer ingerig, die hele grondverdieping gepleister en geverf asook nuwe kombuiskaste ingesit. Hulle gawes het nie net in die vrou se behoeftes voorsien nie, maar het ook die gemeente nader aan mekaar gebring, en die bure is beïndruk deur die voorbeeld van hoe ware Christene gee.
Daar is soveel maniere waarop ons ander persoonlik kan help. Kan ons tyd saam met ’n vaderlose seun of dogter deurbring? Kan ons inkopies of naaldwerk doen vir ’n bejaarde weduwee wat ons ken? Kan ons vir iemand wat behoeftig is, ’n maaltyd kook of hom help om vir iets te betaal? Ons hoef nie ryk te wees om hulp te verleen nie. Die apostel Paulus het geskryf: “As die bereidheid eerste daar is, is dit veral aanneemlik volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie” (2 Korintiërs 8:12). Maar is sulke persoonlike, direkte gawes die enigste gawes wat God sal seën? Nee.
Wat van georganiseerde noodleniging?
Soms is persoonlike pogings nie genoeg nie. Trouens, Jesus en sy apostels het ’n gemeenskaplike fonds vir die armes gehad, en hulle het bydraes aanvaar van goedgesinde mense wat hulle in hulle werk teëgekom het (Johannes 12:6; 13:29). Die eerste-eeuse gemeentes het eweneens insamelings gehou wanneer daar ’n behoefte ontstaan het en het ook noodleniging op ’n groter skaal georganiseer.—Handelinge 2:44, 45; 6:1-3; 1 Timoteus 5:9, 10.
Omstreeks 55 G.J. was daar so ’n geval. Die gemeentes in Judea het in armoede verval, moontlik as gevolg van die groot hongersnood wat kort tevore geheers het (Handelinge 11:27-30). Die apostel Paulus, wat altyd besorg was oor die armes, het die hulp van gemeentes so ver as Masedonië ingeroep. Hy het persoonlik ’n insameling georganiseer en goedgekeurde manne gebruik om dit aan die behoeftiges te besorg (1 Korintiërs 16:1-4; Galasiërs 2:10). Nie hy of enige van die ander betrokkenes is vir hulle dienste betaal nie.—2 Korintiërs 8:20, 21.
Vandag is Jehovah se Getuies ook gereed om te help wanneer rampspoed tref. Byvoorbeeld, gedurende die somer van 2001 het stortreën tot groot oorstromings gelei in Houston, Texas, VSA. Altesaam 723 huise van Getuies is beskadig, sommige baie erg. ’n Noodlenigingskomitee wat uit bekwame Christen- ouer manne bestaan het, is onmiddellik op die been gebring om vas te stel wat die spesifieke behoeftes is en om noodlenigingsfondse aan die plaaslike Getuies te stuur sodat hulle iets omtrent hulle situasie kon doen en hulle huise kon herstel. Vrywilligers van nabygeleë gemeentes het aangebied om al die werk te doen. Een Getuie het hierdie hulp so waardeer dat sy die geld wat sy later van haar versekeringsmaatskappy ontvang het om haar huis te herstel, onmiddellik aan die noodlenigingsfonds geskenk het sodat dit weer ander kon help.
Wanneer dit egter by georganiseerde liefdadigheid kom, moet ons versigtig wees wanneer ons die talle versoeke oorweeg wat ons ontvang. Party liefdadigheidsorganisasies het hoë administratiewe of fondsinsamelingskostes, sodat net ’n klein deel van die ingesamelde geld vir die voorgenome doel oorbly. Spreuke 14:15 sê: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.” Dit is dus verstandig om die feite deeglik te ondersoek.
Die gawe wat die grootste voordeel meebring
Ons kan iets gee wat selfs belangriker is as liefdadigheidsgawes. Jesus het hierna verwys toe ’n ryk jong heerser hom gevra het wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry. Jesus het vir hom gesê: “Gaan verkoop jou besittings en gee vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê, en kom word my volgeling” (Matteus 19:16-22). Let op dat Jesus nie net gesê het: ‘Gee vir die armes en jy sal die lewe kry’ nie. Hy het eerder bygevoeg: “Kom word my volgeling.” Met ander woorde, al is liefdadigheid prysenswaardig en voordelig, behels Christendissipelskap meer.
Jesus se hoofdoel was om ander geestelik te help. Kort voor sy dood het hy vir Pilatus gesê: “Hiervoor is ek gebore en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). Hoewel hy die voorbeeld daarin gestel het om die armes te help, die siekes te genees en honger mense te voed, het Jesus sy dissipels hoofsaaklik opgelei om die predikingswerk te doen (Matteus 10:7, 8). Trouens, sy laaste instruksies aan hulle het hierdie bevel ingesluit: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies.”—Matteus 28:19, 20.
Die predikingswerk sal natuurlik nie al die probleme in die wêreld oplos nie. Maar as die goeie nuus van God se Koninkryk aan alle soorte mense verkondig word, verheerlik dit God, want God se wil word deur die predikingswerk volbring, en dit baan die weg tot ewige voordele vir diegene wat die goddelike boodskap aanneem (Johannes 17:3; 1 Timoteus 2:3, 4). Luister gerus na die boodskap wat Jehovah se Getuies bring wanneer hulle weer aan jou deur klop. Hulle kom met ’n geestelike gawe. En hulle weet dat daar geen beter manier is waarop hulle aan jou kan gee nie.
[Prente op bladsy 6]
Daar is baie maniere waarop ons ons besorgdheid kan toon
[Prent op bladsy 7]
As ons die goeie nuus verkondig, behaag dit God en baan dit die weg tot ewige voordele