Die handelinge van die apostels
16 Toe het hy in Derbe en ook in Listra+ aangekom. Daar was ’n dissipel met die naam Timoʹteus,+ die seun van ’n gelowige Joodse vrou maar van ’n Griekse pa, 2 en die broers in Listra en Ikoʹnium het goeie dinge oor hom gesê. 3 Paulus het gesê dat hy Timoʹteus graag wil saamvat, en hy het hom besny as gevolg van die Jode op daardie plekke,+ want hulle almal het geweet dat sy pa ’n Griek is. 4 Terwyl hulle deur die stede gereis het, het hulle die broers en susters laat weet wat die apostels en ouermanne in Jerusalem besluit het, sodat hulle dit kan gehoorsaam.+ 5 As gevolg hiervan het die gemeentes heeltyd sterker geword in die geloof en het hulle dag ná dag bly vermeerder.
6 Hulle het ook deur Friʹgië en Galaʹsië+ gereis omdat hulle deur die heilige gees verbied is om die woord in die provinsie Asië te verkondig. 7 En toe hulle by Miʹsië kom, het hulle na Bitiʹnië+ probeer gaan, maar die gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. 8 Toe het hulle verby* Miʹsië gegaan en na Troas gereis. 9 En gedurende die nag het Paulus ’n visioen gehad – daar het ’n Masedoʹniese man gestaan wat hom gesmeek het: “Kom oor na Masedoʹnië en help ons.” 10 Net nadat hy die visioen gesien het, het ons na Masedoʹnië probeer gaan, want ons het die gevolgtrekking gemaak dat God ons geroep het om die goeie nuus aan hulle bekend te maak.
11 Ons het toe van Troas af gevaar, reguit na Samotraʹke, maar die volgende dag na Neaʹpolis, 12 en daarvandaan het ons na Filipʹpi+ gegaan, ’n kolonie, wat die belangrikste stad van die distrik Masedoʹnië is. Ons het ’n paar dae lank in hierdie stad gebly. 13 Op die Sabbatdag het ons by die poort uitgegaan na ’n plek langs ’n rivier, waar ons gedink het ’n bidplek is, en ons het gaan sit en met die vrouens begin praat wat daar bymekaargekom het. 14 ’n Vrou met die naam Liʹdia, wat ’n aanbidder van God was, het geluister. Sy was van die stad Tiatiʹra+ en het pers materiaal verkoop. Jehovah* het haar hart wyd oopgemaak om aandag te skenk aan die dinge wat Paulus gesê het. 15 En toe sy en die mense in haar huis gedoop is,+ het sy by ons aangedring en gesê: “As julle dink dat ek getrou is aan Jehovah,* kom bly dan in my huis.” En sy het ons eenvoudig gedwing om te kom.
16 En terwyl ons op pad was na die bidplek, het ons ’n diensmeisie raakgeloop. Sy het ’n gees, ’n demoon, in haar gehad wat haar in staat gestel het om die toekoms te voorspel.+ Sy het vir haar meesters baie geld gemaak deur mense se toekoms te voorspel. 17 Hierdie meisie het Paulus en ons bly volg terwyl sy uitgeroep het: “Hierdie mense is slawe van die allerhoogste God,+ en hulle verkondig die weg van redding aan julle.” 18 Sy het dit baie dae lank gedoen. Uiteindelik het Paulus moeg geword daarvoor en omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die naam van Jesus Christus om uit haar uit te kom.” En die gees het onmiddellik uitgekom.+
19 Wel, toe haar meesters sien dat hulle haar nie meer kan gebruik om geld te maak nie,+ het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle tot op die markplein, na die heersers toe, gesleep.+ 20 Hulle het hulle na die magistrate gevat en gesê: “Hierdie mense maak groot moeilikheid in ons stad.+ Hulle is Jode, 21 en hulle verkondig gebruike wat ons nie mag aanvaar of beoefen nie, want ons is Romeine.” 22 En die skare het saam teen hulle opgestaan, en nadat die magistrate die manne se klere van hulle afgeskeur het, het hulle beveel dat hulle met stokke geslaan moet word.+ 23 Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder is beveel om hulle veilig te bewaak.+ 24 As gevolg van hierdie bevel het hy hulle in die binneste deel van die tronk gegooi en hulle voete in die blok vasgemaak.
25 Maar omtrent middernag was Paulus en Silas besig om te bid en om God te loof deur liedere te sing,+ en die gevangenes het na hulle geluister. 26 Skielik was daar ’n groot aardbewing, en die fondamente van die tronk het geskud. Al die deure het ook dadelik oopgegaan, en almal se boeie het losgeraak.+ 27 Toe die bewaarder wakker word en sien dat die deure van die tronk oop is, het hy sy swaard uitgetrek en wou hy homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het.+ 28 Maar Paulus het met ’n harde stem uitgeroep: “Moenie jouself seermaak nie, want ons is almal hier!” 29 Toe het hy gevra dat lampe gebring word. Hy het vinnig ingegaan en gebewe terwyl hy voor Paulus en Silas neergeval het. 30 Hy het hulle uitgebring en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” 31 Hulle het gesê: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en die mense in jou huis.”+ 32 Toe het hulle die woord van Jehovah* aan hom en almal in sy huis bekend gemaak. 33 En hy het hulle daardie selfde nag saamgeneem en hulle wonde gewas. Toe is hy en almal in sy huis dadelik gedoop.+ 34 En hy het hulle in sy huis ingebring en ’n tafel vir hulle gedek, en hy en almal in sy huis was baie bly noudat hy in God begin glo het.
35 Toe dit dag word, het die magistrate die konstabels gestuur om te sê: “Laat daardie manne vry.” 36 Die bewaarder het vir Paulus gesê: “Die magistrate het manne gestuur om julle twee vry te laat. Kom dan nou uit en gaan in vrede.” 37 Maar Paulus het vir hulle gesê: “Hulle het ons in die openbaar geslaan sonder ’n verhoor, al is ons Romeine,+ en hulle het ons in die tronk gegooi. Wil hulle ons nou in die geheim uitgooi? Beslis nie! Laat hulle self kom en ons uitbring.” 38 Die konstabels het toe hierdie boodskap aan die magistrate oorgedra, en hulle het bang geword toe hulle hoor dat die manne Romeine is.+ 39 Toe het hulle gekom en hulle gesmeek, en nadat hulle uitgebring is, het hulle hulle gevra om die stad te verlaat. 40 Maar toe hulle uit die tronk kom, het hulle na Liʹdia se huis gegaan, en toe hulle die broers sien, het hulle hulle aangemoedig+ en vertrek.