Wanneer meningsverskille in die huwelik ontstaan
GEEN man of vrou wat by sy of haar volle verstand is, geniet konflik in die huwelik nie, maar dit kom algemeen voor. Gewoonlik sê die een huweliksmaat iets wat die ander omkrap. Stemme word verhef, humeure ontvlam, en dit lei tot ’n emosiebelaaide woordewisseling met snedige aanmerkings. Dan volg ’n kille stilte, waartydens albei maats hardkoppig weier om te praat. Mettertyd bedaar die woede en vra hulle mekaar om verskoning. Die vrede is herstel—ten minste tot die volgende meningsverskil.
Rusies in die huwelik is die onderwerp van tallose grappe en televisieprogramme, maar die werklikheid is glad nie snaaks nie. Trouens, ’n Bybelspreuk sê: “Onbedagsame woorde kan so diep soos ’n swaard wond” (Spreuke 12:18, Today’s English Version). Ja, harde woorde kan emosionele letsels veroorsaak wat nog lank ná die rusie daar is. Stryery kan selfs tot geweld lei.—Eksodus 21:18.
Omdat die mens onvolmaak is, is dit natuurlik onvermydelik dat daar soms probleme in die huwelik sal wees (Genesis 3:16; 1 Korintiërs 7:28). Maar herhaaldelike en hewige rusies behoort nie as normaal beskou te word nie. Volgens deskundiges is die moontlikheid groter dat ’n egpaar wat gedurig rusie maak, uiteindelik sal skei. Dit is dus noodsaaklik dat jy en jou huweliksmaat leer om meningsverskille vreedsaam op te los.
Ontleed die situasie
As julle huwelik deur woordewisselings geteister word, moet jy probeer vasstel of julle rusies ’n patroon volg. Wat gebeur gewoonlik wanneer jy en jou huweliksmaat nie oor iets saamstem nie? Ontaard die gesprek gou in ’n stortvloed van beledigings en beskuldigings? Wat kan jy doen as dit die geval is?
Doen eers eerlike selfondersoek oor hoe jý dalk tot die probleem bydra. Vererg jy jou gou? Is jy van nature stryerig? Wat sal jou huweliksmaat in hierdie verband van jou sê? Dit is belangrik om oor hierdie laaste vraag te dink, want jy en jou maat het moontlik uiteenlopende beskouings oor wat as stryerig bestempel word.
Gestel byvoorbeeld dat jou huweliksmaat ietwat teruggetrokke is, terwyl jy reguit is en jou met sterk gevoel uitdruk. Jy sê dalk: “Toe ek ’n kind was, het almal in my gesin so gekommunikeer. Dis nie dieselfde as om te stry nie!” En vir jou is dit miskien nie. Maar wat na jou mening openhartige, reguit woorde is, beskou jou maat moontlik as kwetsende en skoorsoekerige stryery. As jy selfs net daarvan bewus is dat jy en jou maat op verskillende maniere kommunikeer, kan dit help om misverstande te voorkom.
Hou ook in gedagte dat stryery nie altyd geskreeu insluit nie. Paulus het aan Christene geskryf: “Laat . . . geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word” (Efesiërs 4:31). “Geskreeu” verwys na ’n stem wat verhef word, terwyl “smadende taal” na die inhoud van die boodskap verwys. Gevolglik kan selfs fluisterwoorde strydlustig wees as dit aanstootlik of vernederend is.
Met die voorgaande in gedagte kan jy gerus weer kyk na hoe jy optree wanneer jy en jou maat ’n meningsverskil het. Is jy stryerig? Soos ons gesien het, hang die regte antwoord op hierdie vraag grootliks af van hoe jou huweliksmaat dit beskou. Moenie dink dat jou maat oorgevoelig is nie, maar probeer jou sien soos jou maat jou sien, en maak aanpassings waar nodig. Paulus het geskryf: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek.”—1 Korintiërs 10:24.
‘Skenk aandag aan hoe jy luister’
Nog iets wat kan help om meningsverskille uit die weg te ruim, word gevind in Jesus se woorde: “Skenk . . . aandag aan hoe julle luister” (Lukas 8:18). Jesus het weliswaar nie van kommunikasie in die huwelik gepraat nie. Die beginsel is nietemin van toepassing. Hoe goed luister jy na jou huweliksmaat? Luister jy enigsins? Of val jy hom of haar sommer in die rede om kitsklaar oplossings te gee vir probleme wat jy nie heeltemal verstaan nie? “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering”, sê die Bybel (Spreuke 18:13). Wanneer ’n meningsverskil ontstaan, moet jy en jou huweliksmaat dus die saak uitpraat en werklik na mekaar luister.
Moenie jou huweliksmaat se beskouing as onbelangrik ag nie, maar streef daarna om “meegevoel” te betoon (1 Petrus 3:8). In die oorspronklike Grieks beteken hierdie woord dat ’n mens saam met iemand anders ly. As jou maat oor iets ontsteld is, behoort jy empatie te hê. Probeer die saak uit sy of haar oogpunt beskou.
Die godvrugtige man Isak het dit klaarblyklik gedoen. Die Bybel sê vir ons dat sy vrou, Rebekka, baie ontsteld was oor ’n gesinskwessie waarby haar seun Jakob betrokke was. “Ek het ’n afsku gekry van my lewe weens die dogters van Het”, het sy vir Isak gesê. “As Jakob ooit ’n vrou neem uit die dogters van Het soos dié uit die dogters van die land, watter nut het die lewe dan vir my?”—Genesis 27:46.
Kommer het Rebekka waarskynlik sake laat oordryf. Want het sy werklik ’n afsku van haar lewe gehad? Sou sy letterlik wou sterf as haar seun met een van die dogters van Het sou trou? Waarskynlik nie. En tog het Isak nie Rebekka se gevoelens as onbelangrik beskou nie. Isak het eerder besef dat Rebekka met rede besorg was, en hy het dienooreenkomstig opgetree (Genesis 28:1). Doen dieselfde wanneer jou maat weer oor iets bekommerd is. Moet dit nie as ’n kleinigheid afmaak nie, maar luister na jou maat, respekteer sy of haar beskouing en reageer met medelye.
Luister en tree met insig op
’n Bybelspreuk sê: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn” (Spreuke 19:11). In die hitte van ’n meningsverskil is dit baie maklik om impulsief te reageer op elke bitsige woord van jou huweliksmaat. Maar gewoonlik vererger dit net die rusie. Wanneer jy na jou huweliksmaat luister, moet jy dus vasbeslote wees om nie net die woorde te hoor nie, maar ook die gevoelens agter die woorde te onderskei. Sulke insig sal jou help om verby persoonlike griewe te kyk en tot die kern van die probleem deur te dring.
Gestel byvoorbeeld dat jou vrou vir jou sê: “Jy bring nooit tyd saam met my deur nie!” Jy vererg jou dalk en ontken die beskuldiging met nugtere feite. “Ek het verlede maand ’n hele dag saam met jou deurgebring!” antwoord jy miskien. Maar as jy aandagtig luister, sal jy moontlik vind dat jou vrou nie werklik meer minute of ure vra nie. Sy soek dalk eerder gerusstelling en sê eintlik vir jou dat sy afgeskeep en onbemind voel.
Gestel dat jy ’n vrou is en dat jou man sy kommer uitspreek oor iets wat jy onlangs gekoop het. “Hoe kon jy soveel betaal het?” vra hy in algehele ongeloof. Jou onmiddellike reaksie is dalk om jou te verdedig met feite oor die gesin se geldsake of deur wat jy gekoop het, te vergelyk met iets wat hy gekoop het. Maar insig sal jou help om te sien dat jou man miskien nie van rande en sente praat nie. Hy is dalk eerder omgekrap omdat jy hom nie geraadpleeg het voordat jy iets groots gekoop het nie.
Elke egpaar het natuurlik ’n ander manier waarop hulle bepaal hoeveel tyd hulle saam sal deurbring en hoe besluite oor aankope geneem sal word. Die punt is dat wanneer iets tot twis aanleiding gee, insig jou toorn sal vertraag en jou in staat sal stel om te sien wat jou maat eintlik kwel. Moenie impulsief reageer nie, maar volg die Bybelskrywer Jakobus se raad om “gou [te] wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word”.—Jakobus 1:19.
Wanneer jy wel praat, moet jy in gedagte hou dat dit belangrik is hóé jy met jou maat praat. Die Bybel sê: “Die tong van die wyses is genesing” (Spreuke 12:18). Maak jou woorde seer of genees dit wanneer jy en jou huweliksmaat ’n meningsverskil het? Rig dit versperrings op, of baan dit die weg tot versoening? Soos ons reeds gesien het, verwek woedende of impulsiewe reaksies net twis.—Spreuke 29:22.
As ’n meningsverskil in ’n hewige woordewisseling ontaard, moet jy harder probeer om by die werklike kwessie te bly. Spits jou toe op die oorsaak, nie op die persoon nie. Wees meer besorg oor wat reg is as oor wie reg is. Wees versigtig dat jou woorde nie die vuur van die woordewisseling aanblaas nie. Die Bybel sê: “’n Woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom” (Spreuke 15:1). Ja, wat jy sê en hoe jy dit sê, kan bepaal of jy jou maat se samewerking sal kry of nie.
Probeer om oplossings te vind, nie om te wen nie
Wanneer ’n meningsverskil ontstaan, is die doel om ’n oplossing te vind, nie om te wen nie. Hoe kan jy ’n oplossing vind? Die beste manier is om na raad in die Bybel te soek en dit toe te pas, en veral mans moet die inisiatief neem om dit te doen. Moenie sommer besliste menings oor kwessies of probleme uitspreek nie, maar beskou dit eerder uit Jehovah se oogpunt. Bid tot hom, en soek die vrede van God wat julle harte en verstandelike vermoëns sal bewaak (Efesiërs 6:18; Filippense 4:6, 7). Probeer hard om nie net na jou eie belange om te sien nie, maar ook na dié van jou maat.—Filippense 2:4.
’n Slegte situasie word dikwels erger gemaak wanneer ’n mens toelaat dat gekrenkte gevoelens en onbeheerste emosies jou denke en dade oorheers. Aan die ander kant lei bereidwilligheid om deur die raad in God se Woord reggehelp te word tot vrede, eenstemmigheid en Jehovah se seën (2 Korintiërs 13:11). Laat jou dus deur “die wysheid van bo” rig en lê goddelike eienskappe aan die dag, en dan sal jy voordele geniet as iemand “wat vrede maak”.—Jakobus 3:17, 18.
Almal moet in werklikheid leer om meningsverskille vreedsaam op te los, al beteken dit dat persoonlike voorkeure prysgegee moet word (1 Korintiërs 6:7). Ja, pas Paulus se raad toe en verwyder “gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies uit julle mond. . . . Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af, en beklee julle met die nuwe persoonlikheid.”—Kolossense 3:8-10.
Soms sal jy natuurlik dinge sê waaroor jy later spyt sal wees (Jakobus 3:8). Wanneer dit gebeur, moet jy jou huweliksmaat om verskoning vra. Hou aan om jou in hierdie opsig in te span. Mettertyd sal jy en jou huweliksmaat waarskynlik ’n groot verbetering sien in die manier waarop julle te werk gaan wanneer ’n meningsverskil tussen julle ontstaan.
[Venster/Prent op bladsy 22]
Drie stappe om ’n stryery te ontlont
• Luister na jou huweliksmaat.—Spreuke 10:19
• Respekteer sy of haar beskouing.—Filippense 2:4
• Reageer op ’n liefdevolle manier.—1 Korintiërs 13:4-7
[Venster/Prent op bladsy 23]
Wat jy nou kan doen
Vra jou huweliksmaat die vrae hieronder en luister na die antwoorde sonder om hom of haar in die rede te val. Daarna kan jou huweliksmaat dieselfde met jou doen.
• Is ek stryerig?
• Luister ek werklik wanneer jy sê hoe jy voel, of antwoord ek sommer voordat jy klaar gepraat het?
• Skep my woorde die indruk dat ek ongevoelig of kwaad is?
• Wat kan ons al twee doen om die manier waarop ons kommunikeer, te verbeter—veral wanneer ons nie oor iets saamstem nie?
[Prent op bladsy 21]
Luister jy?
[Prent op bladsy 22]
“Ek voel afgeskeep en onbemind”
[Prent op bladsy 22]
“Jy bring nooit tyd saam met my deur nie!”
[Prent op bladsy 22]
“Ek het verlede maand ’n hele dag saam met jou deurgebring!”