Volg hulle geloof na
“Kyk! Jehovah se slavin!”
MARIA het verbaas opgekyk toe die besoeker haar huis binnekom. Hy het nie na haar vader of haar moeder gevra nie. Hy was daar om met haar te praat! Hy kon nie van Nasaret wees nie; daarvan was sy seker. In so ’n klein dorpie soos hulle s’n is vreemdelinge gou opgemerk. Hierdie man sou op enige plek die aandag getrek het. Hy het Maria aangespreek op ’n manier wat vir haar heeltemal nuut was: “Goeiedag, hoogbegunstigde, Jehovah is met jou.”—Lukas 1:28.
So stel die Bybel ons voor aan Maria, die dogter van Heli, van die dorp Nasaret in Galilea. Ons ontmoet haar waar sy as ’t ware by ’n kruispad staan. Sy was verloof aan die timmerman Josef—hy was nie ryk nie, maar hy was getrou. Sy het dalk gedink sy weet presies watter lewe vir haar voorlê—’n eenvoudige lewe waarin sy Josef as sy vrou sou ondersteun en ’n gesin saam met hom sou grootmaak. Maar skielik het sy haar in die teenwoordigheid van hierdie besoeker bevind wat vir haar ’n toewysing van haar God gebring het, ’n verantwoordelikheid wat haar lewe sou verander.
Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat die Bybel nie vir ons veel van Maria vertel nie. Dit sê min oor haar agtergrond, minder oor haar persoonlikheid en heeltemal niks oor haar voorkoms nie. Maar wat God se Woord wel oor haar sê, is waarlik betekenisvol.
Om Maria te leer ken, moet ons dieper kyk as die talle vooropgesette idees wat verskeie godsdienste oor haar bevorder. Kom ons vergeet dan van al die prente en beelde wat van haar gemaak is. Kom ons vergeet ook die komplekse teorieë en leerstellings wat sulke verhewe titels soos “Moeder van God” en “Hemelkoningin” aan hierdie nederige vrou verleen. Kom ons kyk eerder wat die Bybel werklik sê. Dit gee ons kosbare insig in haar geloof en hoe ons dit kan navolg.
’n Besoek van ’n engel
Soos jy moontlik weet, was Maria se besoeker nie ’n blote mens nie. Hy was die engel Gabriël. Toe hy Maria “hoogbegunstigde” genoem het, was sy “diep verontrus” oor sy woorde en het sy gewonder oor hierdie buitengewone groet (Lukas 1:29). Hoogbegunstig deur wie? Maria het nie verwag dat sy hoogbegunstig onder mense sou wees nie. Die engel het egter van die guns van Jehovah God gepraat. Dít was vir haar belangrik. Tog het sy nie sommer trots aangeneem dat sy God se guns het nie. As ons daarna streef om God se guns te verkry en nooit aanmatigend aanneem dat ons dit reeds het nie, sal ons ’n belangrike les leer wat die jong Maria ten volle verstaan het. God staan die hoogmoediges teë, maar hy is lief vir en ondersteun die geringes en nederiges.—Jakobus 4:6.
Maria sou sulke nederigheid nodig hê, want die engel het ’n byna ongelooflike voorreg aan haar voorgehou. Hy het verduidelik dat sy aan ’n kind geboorte sou gee wat die allerbelangrikste mens sou word. Gabriël het gesê: “Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie” (Lukas 1:32, 33). Maria het ongetwyfeld geweet van die belofte wat God meer as duisend jaar vroeër aan Dawid gemaak het—naamlik dat een van sy nakomelinge vir ewig sou heers (2 Samuel 7:12, 13). Haar seun sou dus die Messias wees op wie God se volk al eeue lank gewag het!
Wat meer is, die engel het vir haar gesê dat haar seun “die Seun van die Allerhoogste genoem [sou] word”. Hoe kon ’n menslike vrou God se Seun voortbring? Trouens, hoe kon Maria enigsins ’n seun voortbring? Sy was verloof aan Josef, maar was nog nie met hom getroud nie. Maria het reguit gevra: “Hoe sal dit gebeur, aangesien ek geen gemeenskap met ’n man het nie?” (Lukas 1:34). Let daarop dat Maria nie skaam was om te meld dat sy ’n maagd is nie. Trouens, haar kuisheid was vir haar kosbaar. Vandag is baie jongmense gretig om hulle maagdelikheid prys te gee en gou om ander te bespot wat dit nie doen nie. Die wêreld het beslis verander. Maar Jehovah het nie verander nie (Maleagi 3:6). Soos in Maria se dag, is diegene wat aan sy sedelike standaarde vashou, vir hom kosbaar.—Hebreërs 13:4.
Hoewel Maria ’n getroue kneg van God was, was sy ’n onvolmaakte mens. Hoe kon sy dan ’n volmaakte kind, die Seun van God, voortbring? Gabriël het verduidelik: “Heilige gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook wat gebore word, heilig, God se Seun, genoem word” (Lukas 1:35). Heilig beteken “rein”, “suiwer”. Mense dra gewoonlik hulle onrein, sondige toestand aan hulle kinders oor. Maar in hierdie geval sou Jehovah ’n unieke wonderwerk verrig. Hy sou die lewe van sy Seun uit die hemel na die baarmoeder van Maria oorplaas en dan sy werkende krag, of heilige gees, gebruik om Maria te “oorskadu”, sodat die kind teen enige spoor van sonde beskerm sou word. Het Maria die engel se belofte geglo? Hoe het sy gereageer?
Maria se reaksie op Gabriël se woorde
Vir skeptici, insluitende sommige teoloë van die Christendom, is dit moeilik om te glo dat ’n maagd geboorte kan gee. Ten spyte van al hulle geleerdheid snap hulle nie ’n eenvoudige waarheid nie. Soos Gabriël dit gestel het, “by God sal geen verklaring ’n onmoontlikheid wees nie” (Lukas 1:37). Maria het Gabriël se woorde as die waarheid aanvaar, want sy was ’n jong vrou met groot geloof. Daardie geloof was egter nie goedgelowigheid nie. Soos enige denkende persoon het Maria bewyse nodig gehad waarop sy haar geloof kon grond. Gabriël was bereid om haar verdere bewyse te gee. Hy het vir haar vertel van haar bejaarde familielid Elisabet, wat lank bekend was as ’n onvrugbare vrou. God het haar wonderdadig in staat gestel om swanger te raak!
Wat sou Maria nou doen? Sy het haar toewysing gehad sowel as bewyse dat God alles gaan doen wat Gabriël gesê het. Ons moenie dink dat hierdie voorreg geen vrese, geen probleme, meegebring het nie. Om maar een ding te noem, sy moes haar verlowing aan Josef in ag neem. Sou hy nog met haar wou trou wanneer hy uitvind dat sy swanger is? En die toewysing self het dalk ook na ’n oorweldigende verantwoordelikheid gelyk. Sy moes die lewe dra van die kosbaarste van al God se skepsele—sy geliefde Seun! Sy sou vir hom moes sorg terwyl hy ’n hulpelose baba is en hom in ’n goddelose wêreld moes beskerm. Inderdaad ’n gewigtige verantwoordelikheid!
Die Bybel toon dat selfs sterk, getroue manne soms gehuiwer het om moeilike toewysings van God te aanvaar. Moses het beswaar gemaak en gesê dat hy nie vlot genoeg kan praat om as God se woordvoerder op te tree nie (Eksodus 4:10). Jeremia se beswaar was dat hy “nog maar net ’n seun” is, te jonk om die taak te verrig wat God hom gegee het (Jeremia 1:6). En Jona het van sy toewysing af weggehardloop! (Jona 1:3). Wat van Maria?
Die absolute nederigheid en gehoorsaamheid van haar woorde weerklink deur die eeue heen. Sy het vir Gabriël gesê: “Kyk! Jehovah se slavin! Mag dit met my gebeur volgens u verklaring” (Lukas 1:38). ’n Slavin was die geringste van die knegte; haar lewe was ten volle in die hande van haar heer. Dit is hoe Maria oor haar Heer, Jehovah, gevoel het. Sy het geweet dat sy veilig is in sy hande, dat hy lojaal is aan dié wat aan hom lojaal is en dat hy haar sou seën terwyl sy haar bes doen in hierdie moeilike toewysing.—Psalm 18:25.
Soms vra God ons om iets te doen wat vir ons moeilik, selfs onmoontlik, lyk. Maar in sy Woord gee hy ons oorgenoeg rede om hom te vertrou, om ons in sy hande te plaas, net soos Maria gedoen het (Spreuke 3:5, 6). Sal ons dit doen? Indien wel, sal hy ons beloon, wat ons rede sal gee om selfs sterker geloof in hom op te bou.
Die besoek aan Elisabet
Gabriël se woorde oor Elisabet het vir Maria baie beteken. Watter vrou in die hele wêreld sou haar situasie beter kon verstaan? Maria het haastig na die bergland van Juda gegaan, ’n reis van moontlik drie of vier dae. Toe sy in die huis van Elisabet en die priester Sagaria ingaan, het Jehovah Maria beloon met nog oortuigende bewyse om haar geloof te versterk. Elisabet het Maria se groet gehoor en dadelik gevoel hoe die kindjie in haar moederskoot van vreugde spring. Sy is met heilige gees vervul en het Maria “die moeder van my Here” genoem. God het aan Elisabet geopenbaar dat Maria se seun haar Here, die Messias, sou word. En sy is geïnspireer om Maria vir haar getroue gehoorsaamheid te prys en het gesê: “Gelukkig ook is sy wat geglo het” (Lukas 1:39-45). Ja, alles wat Jehovah Maria beloof het, sou bewaarheid word!
Toe het Maria gepraat. Haar woorde is sorgvuldig bewaar in Lukas 1:46-55. Dit is verreweg die meeste wat Maria in die hele Bybelverslag sê, en dit openbaar baie omtrent haar. Dit openbaar haar dankbare, waarderende gesindheid, aangesien sy Jehovah geloof het omdat hy haar geseën het met die voorreg om die moeder van die Messias te wees. Dit openbaar haar sterk geloof, aangesien sy gemeld het dat Jehovah die hoogmoediges en magtiges verneder en die geringes en armes help wat hom wil dien. Dit dui ook op die omvang van haar kennis. Volgens een skatting het sy meer as 20 keer na die Hebreeuse Geskrifte verwys!
Dit is duidelik dat Maria diep nagedink het oor God se Woord. Sy het nietemin nederig gebly en verkies om eerder die Skrif te laat praat as om haar eie gedagtes uit te spreek. Die seun wat toe in haar moederskoot gegroei het, sou eendag dieselfde gesindheid openbaar deur te sê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Johannes 7:16). Ons kan ons gerus afvra: ‘Openbaar ek sulke respek en eerbied vir God se Woord? Of verkies ek my eie idees en leringe?’ Maria se antwoord hierop is duidelik.
Maria het drie maande by Elisabet gebly en ongetwyfeld baie aanmoediging ontvang en gegee (Lukas 1:56). Albei vroue herinner ons aan die belangrikheid van vriendskappe. As ons vriende soek wat werklik lief is vir ons God, Jehovah, sal ons beslis geestelik groei en nader aan hom kom (Spreuke 13:20). Uiteindelik het die tyd egter aangebreek vir Maria om huis toe te gaan. Wat sou Josef sê wanneer hy uitvind van haar toestand?
Maria en Josef
Maria het waarskynlik nie gewag totdat haar swangerskap sigbaar was nie. Sy moes eenvoudig met Josef praat. Sy het dalk voor die tyd gewonder hoe hierdie ordentlike, godvresende man sou reageer op wat sy hom moes vertel. Sy het nietemin na hom toe gegaan en hom alles vertel wat met haar gebeur het. Soos jy jou kan voorstel, was Josef diep verontrus. Hy wou hierdie dierbare meisie glo, maar wat sy vir hom vertel het, was iets wat nog nooit tevore gebeur het nie. Die Bybel sê nie wat hy gedink het of hoe hy geredeneer het nie. Maar dit sê wel dat hy besluit het om van haar te skei, want verloofde paartjies is destyds as getroud beskou. Hy wou haar egter nie aan openbare skande of aan straf blootstel nie; daarom het hy besluit om in die geheim van haar te skei (Matteus 1:18, 19). Dit moes vir Maria pynlik gewees het om te sien hoe hierdie goedhartige man hom oor hierdie buitengewone situasie kwel. Maar Maria het nie verbitterd geraak nie.
Jehovah het Josef nie toegelaat om voort te gaan met wat hy gedink het die beste oplossing is nie. In ’n droom het God se engel vir hom gesê dat Maria se swangerskap inderdaad wonderdadig is. Hoe verlig moes hy tog gewees het! Josef het toe gedoen wat Maria van die begin af gedoen het—hy het in ooreenstemming met Jehovah se leiding opgetree. Hy het met Maria getrou, en hy het hom voorberei om die unieke verantwoordelikheid te aanvaar om vir Jehovah se Seun te sorg.—Matteus 1:20-24.
Getroude persone—en dié wat daaraan dink om te trou—kan gerus by hierdie jong paartjie van 2 000 jaar gelede leer. Toe Josef gesien het hoe sy jong vrou die pligte en verantwoordelikhede van moederskap nakom, was hy ongetwyfeld bly dat Jehovah se engel hom leiding gegee het. Josef het sekerlik besef hoe belangrik dit is om op Jehovah te steun wanneer ’n mens belangrike besluite neem (Psalm 37:5; Spreuke 18:13). Hy was ongetwyfeld altyd versigtig en liefdevol wanneer hy besluite as gesinshoof moes neem.
Maar wat kan ons aflei uit Maria se bereidwilligheid om met Josef te trou? Hoewel dit dalk aanvanklik vir hom moeilik was om te begryp wat sy vir hom vertel het, het sy op hom gewag as die man wat die gesinshoof sou wees. Dit was sekerlik ’n goeie les vir haar, en dit is ook vandag vir Christenvroue ’n goeie les. Laastens het hierdie voorvalle Josef sowel as Maria waarskynlik baie geleer oor die waarde van eerlike en openlike kommunikasie.
Hierdie jong paartjie het beslis hulle huwelik op die allerbeste grondslag begin. Hulle albei het Jehovah God bo alles en almal liefgehad en wou hom graag behaag as verantwoordelike, liefdevolle ouers. Groter seëninge het natuurlik op hulle gewag—asook groter uitdagings. Hulle het die verantwoordelikheid gehad om Jesus groot te maak, wat die grootste mens sou word wat die wêreld ooit geken het.
[Prent op bladsy 17]
Liefde vir God is die allerbeste grondslag vir die huwelik