Help jou kind om droefheid te verwerk
IN ’N besige boekwinkel het ’n gefrustreerde ma vir ’n verkoopsdame gesê: “Julle het ’n winkel vol boeke, maar niks wat my kind kan help nie!” Die ma het raad gesoek om haar jong seun te help om die skielike dood van ’n nabye familielid te verwerk.
Hierdie ma het rede gehad om besorg te wees. Hoe ontstellend is dit tog vir ’n jong kind om voor die werklikheid van die dood te staan te kom! Kinders floreer onder die sorg van hulle gesin, maar die dood kan ’n geliefde wegneem met wie ’n kind ’n hegte band gevorm het. Hoe kan jy as ouer jou kind help wanneer ’n geliefde sterwend is of reeds gesterf het?
Wanneer jy die dood van ’n geliefde in die gesig staar, worstel jy dalk met jou eie emosies; jy is moontlik angstig en jou gedagtes hou jou besig. Maar moenie vergeet dat jou kind jou ondersteuning nodig het nie. “Kinders hoor stukkies en brokkies van gesprekke, en wanneer hulle dit self moet uitpluis, verdraai hulle dikwels die inligting of verstaan hulle dit verkeerd”, sê ’n publikasie wat deur ’n hospies in Minnesota, VSA, uitgegee word. Dit sê verder: “Kinders moet die waarheid vertel word.” Dit sal dus moontlik die beste wees om die feite aan jou kinders te verduidelik op ’n manier wat hulle kan verstaan. Dit is moeilik, aangesien kinders se vermoë om te begryp wat gebeur, dikwels grootliks verskil.—1 Korintiërs 13:11.
Hoe om die dood te verduidelik
Party navorsers sê dat ouers, wanneer hulle met ’n kind oor die dood praat, versigtig moet wees om uitdrukkings soos “slaap”, “verlore” of “weggegaan” te gebruik. As hulle sulke uitdrukkings gebruik sonder om dit te verduidelik of te sê wat hulle bedoel, kan hulle ’n jong kind verwar. Jesus het slaap natuurlik gebruik om die dood te illustreer, en dit was gepas. Maar onthou dat hy nie met kinders gepraat het nie. En hy het die illustrasie verduidelik. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus.” Hoewel die dissipels volwassenes was, het hulle “gedink dat [Jesus] van die rus van die slaap praat”. Daarom het Jesus die saak opgeklaar: “Lasarus het gesterf” (Johannes 11:11-14). As volwassenes sulke duidelike verklarings nodig het, hoeveel te meer het ons kinders dit dan nodig!
“’n Ouer probeer dalk haar woorde versag wanneer sy die dood aan haar kind verduidelik”, sê skrywers Mary Ann Emswiler en James P. Emswiler, “maar as sy dit doen, kan sy gedagtes in die kind se kop plant wat nie vroeër daar was nie en wat moontlik skrikwekkend of skadelik kan wees.” Byvoorbeeld, as daar bloot vir ’n jong kind gesê word dat ’n afgestorwe geliefde net slaap, kan dit die vrees by hom wek dat hy miskien nie weer sal wakker word as hy in die aand gaan slaap nie. As daar net vir hom gesê word dat ’n geliefde “weggegaan het”, kan ’n jong kind voel dat hy verwerp of verstoot is.
Wanneer hulle die dood vir ’n kind probeer verduidelik, het baie ouers gevind dat kinders eenvoudige, reguit woorde makliker verstaan as abstrakte idees of versagtende uitdrukkings (1 Korintiërs 14:9). Navorsers beveel aan dat jy jou kind aanspoor om vrae te vra en te praat oor dinge wat hom kwel. As jy dikwels met jou kind praat, kan dit jou help om misverstande op te klaar en kan dit ander maniere openbaar om hom te help.
’n Betroubare bron van leiding
Gedurende ’n tyd van rou sal jou kind op jou staatmaak vir leiding, ondersteuning en antwoorde. Waar kan jy dan betroubare inligting oor die dood vind? Baie mense het gevind dat die Bybel ’n betroubare bron van vertroosting en hoop is. Dit bevat spesifieke inligting oor waar die dood vandaan kom, die toestand van die dooies en die hoop vir die dooies. Die eenvoudige waarheid dat ‘die dooies bewus is van hoegenaamd niks’, behoort jou kind te help besef dat sy afgestorwe geliefde nie ly nie (Prediker 9:5). Wat meer is, in die Bybel bied God ons die hoop dat ons weer ons afgestorwe geliefdes op ’n paradysaarde sal sien.—Johannes 5:28, 29.
Deur die Heilige Skrif te gebruik, kan jy jou kind help om te leer dat die Bybel betroubare leiding en vertroosting in alle ontstellende situasies bied. Terselfdertyd sal jou kind sien dat jy as ouer op God se Woord vertrou vir leiding in belangrike sake in die lewe.—Spreuke 22:6; 2 Timoteus 3:15.
Antwoorde op jou vrae
Terwyl jy jou kind help om die dood van ’n geliefde te verwerk, kom jy dalk situasies teë waarin jy nie weet wat om te doen nie. Wat dan?a Kom ons bespreek ’n paar algemene vrae wat kan ontstaan.
• Moet ek my droefheid vir my kind wegsteek? Dit is natuurlik om jou kind te wil beskerm. Maar is dit verkeerd dat jou kind sien dat jy treur? Baie ouers het gevind dat dit die beste is om eerlik te wees omtrent hulle verdriet en so vir hulle kind te wys dat dit normaal is om te treur. Party het Bybelvoorbeelde van persone wat openlik getreur het, met hulle kinders bespreek. Jesus het byvoorbeeld trane gestort toe sy geliefde vriend Lasarus gesterf het. Jesus het nie sy emosies weggesteek nie.—Johannes 11:35.
• Moet my jong kind die verrigtinge by ’n begrafnisonderneming of by die graf of ’n gedenkdiens bywoon? As ’n kind dit gaan bywoon, is dit moontlik verstandig om vooraf aan hom te verduidelik wat om te verwag, insluitende waarom die diens gehou word. Onder sekere omstandighede kan ouers natuurlik besluit dat daar goeie redes is waarom hulle kinders nie teenwoordig moet wees by al die verrigtinge of ’n deel daarvan nie. Kinders wat ’n begrafnisdiens bywoon wat deur Jehovah se Getuies behartig word, sal moontlik baat vind by die Bybeltoespraak wat gehou word. Daarbenewens kan die “tere geneentheid” en liefde wat gesien kan word onder dié wat dit bywoon, dit ’n sinvolle en vertroostende ondervinding maak, selfs vir ’n kind.—Romeine 12:10, 15; Johannes 13:34, 35.
• Moet ek met my kind oor die afgestorwe geliefde praat? As jy hierdie onderwerp heeltemal vermy, meen party navorsers, kan jou kind verkeerdelik tot die slotsom kom dat jy iets omtrent die afgestorwene geheim hou of alle herinneringe aan hom probeer uitwis. Die skryfster Julia Rathkey sê: “Dit is belangrik om kinders te help om met die herinneringe te lewe en om nie bang te wees nie.” As jy vryelik oor die afgestorwene praat, en ook positiewe aspekte van sy persoonlikheid en lewe meld, sal dit heel moontlik met die treurproses help. Getuie-ouers vertroos hulle kinders met die Bybelse hoop van die opstanding op ’n paradysaarde, waar siekte en die dood nie meer sal bestaan nie.—Openbaring 21:4.
• Hoe kan ek my kind help terwyl hy treur? Gedurende die treurproses kan jou kind fisiese simptome ervaar en moontlik selfs siek word. Die kind word dalk kwaad of ontsteld omdat hy hulpeloos en gefrustreerd voel. Moenie verbaas wees as jou kind deur skuldgevoelens geteister word, heeltyd by jou wil wees of paniekbevange raak as jy laat is of siek word nie. Hoe kan jy jou kind se ontsteltenis hanteer? Jou kind moet nooit voel dat jy nie opmerk dat iets verkeerd is nie. Wees dus oplettend en hou ’n oog op die situasie. Probeer om nie die uitwerking wat die sterfte op jou kind het, verkeerd te vertolk of te onderskat nie. Stel hom gereeld gerus, en spoor hom aan om vrae te vra en openlik te kommunikeer. Jy kan jou kind se hoop—asook joune—“deur die vertroosting van die Skrif” versterk.—Romeine 15:4.
• Hoe gou moet ek die gesin se roetine en ander bedrywighede hervat? Deskundiges sê dat jy jou roetine sover as moontlik moet handhaaf. Om in ’n goeie roetine te bly, is blykbaar ’n doeltreffende manier om droefheid te verwerk. Baie ouers onder Jehovah se Getuies het gevind dat ’n goeie geestelike roetine, wat ’n gereelde gesinsbybelstudie en die bywoning van Christelike vergaderinge insluit, kan help om die gesin te stabiliseer en te versterk.—Deuteronomium 6:4-9; Hebreërs 10:24, 25.
Totdat Jehovah God ’n einde aan siekte en die dood maak, sal kinders van tyd tot tyd met die tragedie van die dood te kampe hê (Jesaja 25:8). Maar met die gepaste versekering en ondersteuning kan kinders gehelp word om die dood van ’n geliefde met welslae te verwerk.
[Voetnoot]
a Die inligting in hierdie artikel is nie bedoel om reëls vas te stel nie. Let daarop dat omstandighede en gebruike grootliks verskil van land tot land en van kultuur tot kultuur.
[Lokteks op bladsy 19]
Spoor jou kind aan om vrae te vra en te praat oor dinge wat hom kwel
[Prent op bladsy 20]
Handhaaf ’n goeie roetine, wat julle gesinsbybelstudie insluit