Van gesproke woorde tot heilige geskrifte—Die skryfkuns en die vroeë Christene
TALLOSE geslagte gelowiges het al eindelose ure daaraan bestee om party van die bekendste geskrifte wat nog ooit voortgebring is—dié van die Nuwe Testament, soos die Christelike Griekse Geskrifte algemeen genoem word—te lees, te bestudeer en te ontleed. Hierdie geskrifte, tesame met die res van die Bybel, het ’n groot invloed op ons wêreld gehad, sedelike standaarde en norme gevorm en as inspirasie in die letterkunde en kunste gedien. Bowenal het dit miljoene mense—moontlik ook vir jou—gehelp om juiste kennis van God en Jesus te verkry.—Johannes 17:3.
Die Evangelies, sowel as die res van die Christelike Griekse Geskrifte, is nie onmiddellik ná Jesus se dood geskryf nie. Matteus het blykbaar sy Evangelie sowat 7 of 8 jaar later geskryf, en Johannes het syne ongeveer 65 jaar later geskryf. Wat het hulle in staat gestel om die woorde en dade van Jesus met onfeilbare akkuraatheid op te teken? God se heilige gees het onteenseglik ’n daadwerklike rol daarin gespeel om hulle te rig (Johannes 14:16, 26). Maar hoe is die leringe van Jesus akkuraat oorgedra sodat dit uiteindelik deel van die Heilige Skrif geword het?
“Tegnies ongeletterd”
Gedurende die afgelope eeu het party bespiegel dat Jesus se vroeë dissipels waarskynlik nie die leringe en dade van Jesus neergeskryf het nie, maar dat hulle dit mondelings oorgedra het. Een geleerde sê byvoorbeeld: “Etlike dekades het verloop tussen die openbare bediening van Jesus en die tyd dat sy woorde deur die Evangelieskrywers opgeteken is. Gedurende hierdie tyd is die dinge wat omtrent Jesus bekend was, mondelings oorgelewer.” Party navorsers voer selfs aan dat Jesus se vroeë dissipels “tegnies ongeletterd was”.a Verder sê hulle dat die verslae van Jesus se bediening gedurende die dekades dat dit mondelings oorgedra is, uitgebrei, aangepas of oordryf is. Volgens hulle is die resultaat allesbehalwe ’n juiste verslag van die gebeure.
Nog ’n teorie wat gewild is onder party geleerdes, is dat Jesus se intieme Joodse dissipels waarskynlik die rabbynse onderrigmetode gevolg het—memorisering deur herhaling—wat tot akkurate mondelinge oordrag bygedra het. Het die dissipels net van die mondelinge metode gebruik gemaak? Of het die skryfkuns ’n rol in die bewaring van die verslag van Jesus se bediening gespeel? Hoewel ons nie heeltemal seker kan wees nie, is dit moontlik dat die skryfkuns wel so ’n rol gespeel het.
Die skryfkuns in die daaglikse lewe
In die eerste eeu kon alle soorte mense lees en skryf. Hieroor het Alan Millard, ’n professor van Hebreeus en ou Semitiese tale, gesê: “Dit was iets algemeens vir mense uit alle vlakke van die samelewing om in Grieks, Aramees of Hebreeus te kon skryf.” Hy voeg by: “Dít was die milieu waarin Jesus gewerk het.”
Aangaande die bewering dat die Evangelieverslae “in ’n heeltemal ongeletterde samelewing ontstaan het”, skryf professor Millard: “Dit is onwaarskynlik, [aangesien] daar oral mense was wat kon skryf . . . Gevolglik was daar gewoonlik mense teenwoordig wat iets wat hulle gehoor het, kon neerskryf, hetsy vir hulle eie gebruik of om ander in te lig.”
Wasbedekte skryfbordjies was blykbaar geredelik beskikbaar en kon gebruik word om inligting op neer te skryf. ’n Voorbeeld hiervan word in die eerste hoofstuk van Lukas gevind. Sagaria, wat tydelik nie kon praat nie, is gevra wat hy wou hê sy seun se naam moet wees. Vers 63 sê: “Hy het ’n skryfbordjie gevra [blykbaar deur middel van gebare] en geskryf: ‘Johannes is sy naam.’” Bybelwoordeboeke verduidelik dat die woord “skryfbordjie” moontlik verwys het na ’n houttablet wat waarskynlik met ’n waslaag bedek was. Iemand daar het dalk ’n skryfbordjie by hom gehad, waarop Sagaria daar en dan kon skryf.
Nog ’n voorbeeld lig toe dat skryfbordjies en die gebruik daarvan blykbaar destyds bekend was. In die boek Handelinge lees ons dat Petrus met ’n skare in die tempelgebied gepraat en hulle gemaan het: “[Toon] berou . . . sodat julle sondes uitgewis kan word” (Handelinge 3:11, 19). Die uitdrukking “uitgewis kan word” kom van ’n Griekse werkwoord wat “uitvee” beteken. The New International Dictionary of New Testament Theology verduidelik: “Die beeld wat hier en miskien elders deur die werkwoord oorgedra word, dui heel waarskynlik op hoe die oppervlak van ’n wasbedekte skryfbordjie vir hergebruik glad gemaak word.”
Die Evangelieverslae toon ook dat Jesus se volgelinge en gehore mense ingesluit het wat waarskynlik as deel van hulle daaglikse werk geskryf het. Daar was byvoorbeeld die belastinggaarders Matteus en Saggeus (Matteus 9:9; Lukas 19:2); ’n beampte van die sinagoge (Markus 5:22); ’n leëroffisier (Matteus 8:5); Johanna, die vrou van ’n hoë amptenaar onder Herodes Antipas (Lukas 8:3); asook skrifgeleerdes, Fariseërs, Sadduseërs en lede van die Sanhedrin (Matteus 21:23, 45; 22:23; 26:59). Baie van Jesus se apostels en dissipels—indien nie almal nie—kon ongetwyfeld skryf.
Studente, onderrigters en skrywers
Om Christenonderrigters te wees, moes die dissipels nie net weet wat Jesus gesê en gedoen het nie, hulle moes ook verstaan hoe die Wet en profesieë in die Hebreeuse Geskrifte op die Christus van toepassing is (Handelinge 18:5). Interessant genoeg, Lukas het een ontmoeting opgeteken wat Jesus kort ná sy opstanding met ’n paar van sy dissipels gehad het. Wat het Jesus gedoen? “Hy het by Moses en al die Profete begin en vir hulle dinge in die hele Skrif uitgelê wat op hom betrekking het.” Kort daarna het Jesus vir die dissipels gesê: “‘Dít is my woorde wat ek tot julle gespreek het terwyl ek nog by julle was, dat al die dinge wat in die wet van Moses en in die Profete en Psalms oor my geskrywe staan, vervul moet word.’ Toe het hy hulle verstand ten volle geopen om die betekenis van die Skrif te begryp” (Lukas 24:27, 44, 45). Later het die dissipels die insig wat Jesus hulle gegee het, “onthou”.—Johannes 12:16.
Hierdie verslae gee te kenne dat die apostels en dissipels hulle ywerig daarop toegelê het om die Skrif te ondersoek en te bestudeer sodat hulle die betekenis van die dinge wat hulle in verband met hulle Here, Jesus Christus, gesien en gehoor het, ten volle kon verstaan (Lukas 1:1-4; Handelinge 17:11). Harry Y. Gamble, ’n professor in die godsdienswetenskap aan die Universiteit van Virginië, skryf hieroor: “Daar bestaan feitlik geen twyfel nie dat daar van die begin af Christene, waarskynlik groepe van hulle, was wat hulle aan ’n noukeurige studie en verklaring van die Joodse geskrifte gewy het en wat die tekstuele gronde [bewyse] vir Christelike oortuigings daaruit saamgestel het en hierdie tekste vir die Christelike prediking beskikbaar gestel het.”
Dit alles dui daarop dat Jesus se vroeë dissipels hulle nie net op mondelinge oordrag verlaat het nie, maar eerder grootliks daarby betrokke was om te studeer, te lees en te skryf. Hulle was studente, onderrigters en skrywers. Hulle was bowenal geestelike manne wat op die heilige gees vertrou het om hulle te rig. Jesus het hulle verseker dat “die gees van die waarheid” hulle ‘aan alles sou herinner wat hy hulle vertel het’ (Johannes 14:17, 26). God se heilige gees het hulle gehelp om te onthou sowel as neer te skryf wat Jesus gedoen en gesê het, selfs lang aanhalings, soos die Bergpredikasie (Matteus hoofstukke 5-7). Die gees het ook die Evangelieskrywers gerig om op te teken wat Jesus partykeer gevoel het en wat hy in gebed gesê het.—Matteus 4:2; 9:36; Johannes 17:1-26.
Hoewel die Evangelieskrywers dus ongetwyfeld van mondelinge sowel as geskrewe bronne gebruik gemaak het, het die dinge wat hulle opgeteken het, ’n baie betroubaarder en uiters verhewe bron gehad—Jehovah God self. Ons kan derhalwe die volle vertroue hê dat ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is’ en dat dit ons kan leer en rig om die dinge te doen wat hom behaag.—2 Timoteus 3:16.
[Voetnoot]
[Lokteks op bladsy 14]
Jesus se volgelinge het mense ingesluit wat waarskynlik as deel van hulle daaglikse werk geskryf het
[Lokteks op bladsy 15]
God se heilige gees het Jesus se vroeë dissipels gehelp om te onthou en neer te skryf wat hy gedoen en gesê het
[Venster/Prent op bladsy 15]
Was die apostels ongeletterd?
Toe die heersers en ouer manne van Jerusalem “die uitgesprokenheid van Petrus en Johannes sien en bemerk dat hulle ongeleerde en gewone mense is, was hulle verwonderd” (Handelinge 4:13). Was die apostels werklik ongeleerd, of ongeletterd? The New Interpreter’s Bible sê aangaande hierdie bewering: “Hierdie terme moet waarskynlik nie letterlik opgeneem word asof Petrus [en Johannes] ongeskoold was en nie kon lees of skryf nie. Dit erken bloot die groot klasseverskil tussen dié wat die oordeel uitgespreek het en die apostels.”
[Prent op bladsy 13]
“Hy het ’n skryfbordjie gevra en geskryf: ‘Johannes is sy naam’”
[Prent op bladsy 13]
’n Wasbedekte skryfbordjie met skryfinstrumente uit die eerste of tweede eeu G.J.
[Erkenning]
© British Museum/Art Resource, NY