Gee ag op die “uiteinde”
OP ONS lewensreis kom ons voor baie keuses te staan. Dit is beslis verstandig om eers te probeer uitvind waarheen ’n pad lei voordat ons die eerste tree daarop gee. Party was al bitter spyt oor besluite wat hulle geneem het. Dalk het jy ook gesê: ‘As ek maar net geweet het wat die uiteinde sou wees, dan sou ek in die eerste plek nooit daarmee begin het nie.’
’n Ervare reisiger wil weet waarheen elke pad lei. Hy raadpleeg dalk ’n kaart en praat met mense wat die gebied ken. Hy sal beslis let op padtekens wat hy teëkom. Maar hoe kan jy op jou lewensreis seker wees wat die beste weg is om te volg? Aangaande die eertydse nasie Israel het God eenkeer deur Moses gesê: “Ag, was hulle maar wys! Dan sou hulle daaroor peins. Hulle sou ag gee op hulle uiteinde.”—Deuteronomium 32:29.
Die beste raad
Ons hoef nie onseker te wees oor die “uiteinde” van die paaie wat ons dalk op ons lewensreis sal teëkom nie. God is in ’n unieke posisie om alle mensereisigers raad te gee oor watter pad die beste is. Hy het die talle paaie gesien waarop mense al gereis het en het gesien wat die uiteinde van elkeen is. Die Bybel sê: “Die weë van die mens is voor die oë van Jehovah, en hy beskou al sy spore.”—Spreuke 5:21.
Jehovah gee om vir dié wat hom liefhet. Deur middel van sy Woord, die Bybel, sit hy vir hulle die beste roete uiteen. Ons lees: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou.” Voordat jy dus die eerste tree op ’n pad gee, sal dit verstandig wees om Jehovah se raad te vra net soos koning Dawid van eertydse Israel, wat gebid het: “Maak aan my die weg bekend waarop ek moet wandel.”—Psalm 32:8; 143:8.
As jy die roete volg wat deur ’n vertroude, ervare reisiger aangedui word, kan dit jou ’n gevoel van vertroue en sekerheid gee. Jy bekommer jou nie oor waarheen die pad lei nie. Dawid het Jehovah se leiding gevra en dit gevolg. Daarom het hy die gemoedsrus geniet wat pragtig beskryf word in die welbekende Psalm 23. Dawid het geskryf: “Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie. In grasryke weivelde laat hy my neerlê; by waterryke rusplekke bring hy my. My siel verkwik hy. Hy lei my in die spore van regverdigheid ter wille van sy naam. Al wandel ek in die vallei van diep skaduwee, vrees ek niks slegs nie.”—Psalm 23:1-4.
Wat sal hulle toekoms wees?
Een reisiger op die lewenspad, ’n psalmis met die naam Asaf, of moontlik een van sy nakomelinge, het erken dat hy “amper afgewyk” het van die regte weg. Wat het gebeur? Hy het die voorspoed van oneerlike en gewelddadige mense gesien en was afgunstig op “die vrede van die goddeloses”. Vir hom was hulle blykbaar “vir onbepaalde tyd gerus”. Nog erger, die psalmis het begin twyfel aan die wysheid daarvan om die weg van regverdigheid wat hy gekies het, te volg.—Psalm 73:2, 3, 6, 12, 13.
Toe het die psalmis in Jehovah se heiligdom ingegaan en biddend nagedink oor die uiteinde van die goddeloses. “Ek wou op hulle toekoms let”, het hy gesê. Hy het gepeins oor die vooruitsigte van dié op wie hy afgunstig was. Wat sou hulle toekoms wees? Hy het besef dat sulke mense “op glibberige grond” is en dat “skielike verskrikkinge ’n einde aan hulle [sou maak]!” Wat van die weg wat die psalmis gevolg het? Hy het erken: “Daarna sal u [Jehovah] my selfs tot heerlikheid voer.”—Psalm 73:17-19, 24.
Toe die psalmis gepeins het oor die gevolge van die dade van diegene wat voorspoed deur slim of twyfelagtige handelinge behaal het, het dit hom verseker dat hy op die regte pad is. Hy het tot die gevolgtrekking gekom: “Wat my betref, dit is vir my goed om nader aan God te kom.” Om na aan Jehovah God te bly, bring altyd blywende voordele mee.—Psalm 73:28.
“Weet waarheen jy op pad is”
Vandag kom ons dalk voor soortgelyke keuses te staan. Jy word moontlik ’n aanloklike sakekontrak of ’n bevordering aangebied of word die geleentheid gegee om ’n vennoot in ’n winsgewende onderneming te word. Daar is natuurlik risiko’s aan enige nuwe onderneming verbonde. Maar kan jy sien waarom dit belangrik is om eers ag te gee op die “uiteinde” van jou keuse? Wat is die moontlike gevolge? Sal dit vereis dat jy weg van die huis af moet wees, wat moontlik spanning vir jou of vir jou huweliksmaat sal veroorsaak? Sal jy blootgestel word aan die onheilsame geselskap van sakekennisse of mense in hotelle en ander plekke? As jy noukeurig let op die weg vorentoe, sal jy ’n wyse besluit kan neem. Slaan ag op Salomo se raad: “Weet waarheen jy op pad is.”—Spreuke 4:26, Contemporary English Version.
Dit sal goed wees as ons almal, maar veral jongmense, oor hierdie raad nadink. Een jong man het ’n video uitgeneem wat hy geweet het seksueel prikkelende tonele bevat. Hy het later vertel dat hy, nadat hy na die video gekyk het, seksueel so geprikkel was dat hy na ’n prostituut gegaan het wat hy geweet het daar naby woon. Hy het op die ou end ’n swaar hart, ’n skuldige gewete en angs oor moontlike siekte gehad. Wat gebeur het, is presies soos dit in die Bybel beskryf word: “Skielik loop hy agter haar aan, soos ’n bul wat gaan om geslag te word.” As hy maar net ag gegee het op die “uiteinde”!—Spreuke 7:22, 23.
Vertrou die padtekens
Die meeste mense sal saamstem dat dit dwaas is om padtekens te ignoreer. Maar ongelukkig is dit wat party op die lewensreis doen wanneer die leiding wat gegee word, hulle nie pas nie. Dink aan die geval van sekere Israeliete in Jeremia se tyd. Die nasie het by ’n kruispad gekom, en Jehovah God het hulle aangespoor: “Vra na die paaie van lank gelede, waar die goeie weg tog is; en wandel daarop.” Maar die volk het hardkoppig geantwoord: “Ons sal nie daarop wandel nie” (Jeremia 6:16). Wat was die “uiteinde” van hulle opstandige weg? In 607 v.G.J. het die Babiloniërs gekom en die stad Jerusalem heeltemal verwoes en die inwoners as gevangenes na Babilon weggevoer.
Dit sal ons nooit tot voordeel strek om padtekens te ignoreer wat God daargestel het nie. Die Skrif spoor ons aan: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”—Spreuke 3:5, 6.
Party van God se waarskuwings is soos “Geen toegang”-tekens. Die Bybel sê byvoorbeeld: “Moenie die pad van die goddeloses betree nie, en moenie reguit in die weg van die slegtes inloop nie” (Spreuke 4:14). Een van hierdie skadelike weë word in Spreuke 5:3, 4 beskryf: “Soos ’n heuningkoek bly die lippe van ’n vreemde vrou drup, en haar verhemelte is gladder as olie. Maar wat sy veroorsaak, is so bitter soos als; dit is so skerp soos ’n tweesnydende swaard.” ’n Onsedelike verhouding—met ’n prostituut of enigiemand anders—lyk dalk vir party opwindend. Maar om “Geen toegang”-tekens ten opsigte van sedelike gedrag te ignoreer, kan net tot rampspoed lei.
Voordat jy die eerste tree op so ’n pad gee, moet jy jou afvra: ‘Waarheen lei dit?’ As jy net ’n oomblik stilstaan en oorweeg wat die “uiteinde” kan wees, sal dit dalk genoeg wees om te keer dat jy ’n weg inslaan wat ernstige gevolge kan hê. Vigs en ander seksueel oordraagbare siektes, ongewenste swangerskappe, aborsies, verwoeste verhoudings en ’n skuldige gewete word gevind op die pad van dié wat besluit het om sulke padtekens te ignoreer. Die einde van die pad vir dié wat onsedelikheid beoefen, word duidelik deur die apostel Paulus gemeld. Hulle sal “God se koninkryk nie . . . beërf nie”.—1 Korintiërs 6:9, 10.
“Dit is die weg”
Soms is dit moeilik om te sien waarheen ’n pad lei. Hoe dankbaar is ons tog vir God se liefdevolle besorgdheid en duidelike riglyne! “Dit is die weg”, het Jehovah gesê, “wandel daarop” (Jesaja 30:21). Waarheen lei die pad wat Jehovah vir ons aandui? Al is die pad nou en moeilik, het Jesus gesê dat dit na die ewige lewe lei.—Matteus 7:14.
Dink vir ’n oomblik na oor die pad waarop jy reis. Is dit die regte een? Waarheen lei dit? Vra Jehovah se leiding in gebed. Raadpleeg die ‘padkaart’, die Bybel. Jy sal dalk selfs voel dat jy ’n ervare reisiger moet raadpleeg, een wat al lank daarna streef om op God se weg te wandel. As jy dan sien dat jy van koers moet verander, moet jy dit gou doen.
Dit is dikwels ’n aansporing vir ’n reisiger wanneer hy ’n padteken sien wat hom verseker dat hy op die regte pad is. As ’n ondersoek van jou lewensweg toon dat jy op die pad van die regverdiges wandel, moet jy daarop voortgaan. Die lonendste deel van die reis lê nog voor.—2 Petrus 3:13.
Elke pad lei êrens heen. Waar sal jy wees wanneer jy die einde van die weg bereik wat jy gekies het? Dit sal jou nie veel baat om daar te staan en te wens: ‘Ag, as ek maar net die ander pad gekies het!’ nie. Voordat jy dus jou volgende tree op die lewenspad gee, moet jy jou afvra: ‘Wat sal die “uiteinde” wees?’
[Venster/Prente op bladsy 10]
Wat sal die “uiteinde” wees?
Jongmense kom dikwels te staan voor versoekings en druk om met dinge te eksperimenteer wat blykbaar gewild is. Hier volg ’n paar moontlike scenario’s.
◼ Iemand daag jou uit om ’n sigaret te rook.
◼ ’n Welmenende onderwyser spoor jou aan om hoër onderwys by ’n universiteit na te streef.
◼ Jy word na ’n partytjie genooi waar alkohol en moontlik dwelms vryelik beskikbaar sal wees.
◼ “Waarom sit jy nie jou profiel op die Internet nie?” stel iemand voor.
◼ ’n Vriend nooi jou om ’n fliek te kyk wat geweld of onsedelikheid bevat.
Wat sal jy doen as jy voor enige van hierdie situasies te staan kom? Sal jy eenvoudig toegee, of sal jy noukeurig ag gee op wat die “uiteinde” kan wees? Dit sal verstandig wees om jou af te vra: “Kan iemand vuur in sy boesem bymekaarkrap sonder dat sy klere verbrand? Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete geskroei word?”—Spreuke 6:27, 28.