Hoofstuk 82
Jesus is weer op pad na Jerusalem
JESUS is spoedig weer op pad, en hy onderrig van stad tot stad en van dorp tot dorp. Hy is blykbaar in die Perea-streek, met Judea aan die oorkant van die Jordaan. Maar sy bestemming is Jerusalem.
Dit is miskien die Joodse filosofie dat net ’n beperkte aantal redding waardig sal wees wat daartoe aanleiding gee dat ’n man vra: “Here, is die wat gered word, min?” Deur sy antwoord dwing Jesus die mense om te dink oor wat vir redding nodig is: “Stry hard [dit wil sê, worstel] om in te gaan deur die nou poort.”
Sulke kragtige inspanning is dringend, “want baie”, sê Jesus voorts, “sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie”. Waarom sal hulle nie in staat wees nie? Hy verduidelik dat ‘wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en mense begin om buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Here, maak vir ons oop—hy sal sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!’
Diegene wat uitgesluit is, kom blykbaar net wanneer dit vir hulle gerieflik is. Maar dan is die deur van geleentheid toegemaak en gesluit. Hulle moes vroeër gekom het as hulle wou inkom, al was dit dalk toe vir hulle ongerieflik om dit te doen. Daar wag inderdaad ’n tragiese uiteinde op diegene wat versuim om Jehovah se aanbidding die hoofdoel in hulle lewe te maak!
Die Jode na wie Jesus gestuur is om hulle te dien, het oor die algemeen nie hierdie wonderlike geleentheid aangegryp om God se voorsiening vir redding te aanvaar nie. Jesus sê dus dat hulle sal ween en op hulle tande sal kners wanneer hulle buitentoe uitgedryf word. Aan die ander kant sal mense van “oos en wes en van noord en suid”, ja, van alle nasies, “aansit in die koninkryk van God”.
Jesus sê vervolgens: “Daar is laastes [veragte nie-Jode, asook verdrukte Jode] wat eerste sal wees, en daar is eerstes [die materieel en geestelik begunstigde Jode] wat laaste sal wees.” Die feit dat hulle laaste is, beteken dat sulke trae, ondankbare persone glad nie in die Koninkryk van God sal wees nie.
Fariseërs kom nou na Jesus toe en sê: “Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes [Antipas] wil U om die lewe bring.” Herodes het dalk self hierdie gerug begin om Jesus uit sy gebied te laat vlug. Herodes was miskien bang dat hy by die dood van nog ’n profeet van God betrokke sou raak, soos by die moord op Johannes die Doper. Maar Jesus sê vir die Fariseërs: “Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar.”
Nadat Jesus sy werk daar voltooi het, sit hy sy reis na Jerusalem voort, want, soos hy verduidelik, “dit kan nie gebeur dat ’n profeet buitekant Jerusalem om die lewe gebring word nie” (NW). Waarom kan daar verwag word dat Jesus in Jerusalem doodgemaak sal word? Omdat Jerusalem die hoofstad is waar die hoër hof, oftewel die Sanhedrin, wat uit 71 lede bestaan, gesetel is en waar diereofferandes geoffer word. Dit sal derhalwe nie toelaatbaar wees dat “die Lam van God” op ’n ander plek as Jerusalem doodgemaak word nie.
“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig”, treur Jesus, “hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie. Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat.” Die nasie word veroordeel omdat hulle die Seun van God verwerp het!
Terwyl Jesus na Jerusalem reis, word hy na die huis van ’n owerste van die Fariseërs genooi. Dit is ’n Sabbat, en die mense hou Jesus fyn dop, aangesien daar ’n man teenwoordig is wat aan watersug ly, ’n ophoping van water, waarskynlik in sy arms en bene. Jesus praat met die Fariseërs en die wetgeleerdes wat teenwoordig is en vra: “Is dit geoorloof om op die sabbat te genees?”
Niemand sê ’n woord nie. Jesus genees dus die man en stuur hom weg. Dan vra hy: “Wie van julle se esel of os sal in ’n put val, wat dit nie dadelik op die sabbatdag sal uittrek nie?” Weer eens sê niemand ’n woord nie. Lukas 13:22–14:6; Johannes 1:29.
▪ Wat is volgens Jesus nodig vir redding, en waarom is baie buite uitgesluit?
▪ Wie is die “laastes” wat eerste sal wees, en die “eerstes” wat laaste sal wees?
▪ Wat is moontlik die rede vir die gerug dat Herodes Jesus wil doodmaak?
▪ Waarom is dit nie toelaatbaar dat ’n profeet buite Jerusalem om die lewe gebring word nie?