Hoofstuk 86
Die verhaal van ’n verlore seun
JESUS het so pas vir die Fariseërs gelykenisse vertel oor ’n afgedwaalde skaap en ’n verlore penning, en hy gaan nou voort met nog ’n gelykenis. Hierdie een handel oor ’n liefdevolle vader en hoe hy sy twee seuns behandel, wat elkeen ernstige foute het.
Eers is daar die jongste seun, die hoofkarakter van die gelykenis. Hy vra sy erfenis, wat sy vader sonder aarseling aan hom gee. Dan verlaat hy die huis en begin ’n baie onsedelike lewe lei. Maar luister terwyl Jesus die verhaal vertel, en kyk of jy kan vasstel wie die karakters voorstel.
“’n Man”, begin Jesus, “het twee seuns gehad. En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En [die vader] het die goed tussen hulle verdeel.” Wat doen hierdie jongste seun met wat hy ontvang?
“Nie baie dae daarna nie”, verduidelik Jesus, “het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ’n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe.” Hy spandeer in werklikheid sy geld deur saam met prostitute te lewe. Daarna kom swaar tye, soos Jesus voorts vertel:
“Toe hy alles deurgebring het, kom daar ’n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly. Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas. En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie.”
Hoe vernederend is dit tog om varke te moet oppas, aangesien hierdie diere volgens die Wet onrein is! Maar wat die seun die meeste laat ly het, was die knaende honger wat hom selfs die varkvoer laat begeer het. Jesus het gesê dat hy as gevolg van sy verskriklike ellende ‘tot besinning gekom het’.—NW.
Jesus sit sy verhaal voort en verduidelik: “Hy het [vir homself] . . . gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge. En hy het opgestaan en na sy vader gegaan.”
Hier is iets waaroor ons kan nadink: As sy vader hom weggejaag en woedend op hom geskreeu het toe hy die huis verlaat het, sou die seun waarskynlik nie so seker gewees het van wat hy moet doen nie. Hy kon besluit het om terug te keer en elders in sy tuisland werk te probeer vind sodat dit nie nodig sou wees om sy vader in die oë te kyk nie. Maar so ’n gedagte het glad nie by hom opgekom nie. Hy wou by die huis wees!
Die vader in Jesus se gelykenis stel ongetwyfeld ons liefdevolle, genadige hemelse Vader, Jehovah God, voor. En jy besef ook miskien dat die verlore seun berugte sondaars voorstel. Die Fariseërs, met wie Jesus hier praat, het Jesus voorheen gekritiseer omdat hy saam met hierdie einste sondaars geëet het. Maar wie stel die ouer seun voor?
Wanneer die verlore seun gevind word
Hoe word die verlore seun in Jesus se gelykenis ontvang wanneer hy na sy vader se huis terugkeer? Luister hoe Jesus dit beskryf:
“Toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.” Wat ’n genadige, goedhartige vader is hy tog, en hoe goed stel hy ons hemelse Vader, Jehovah, voor!
Die vader het waarskynlik van sy seun se losbandige lewe gehoor. Maar hy verwelkom hom terug sonder om vir ’n breedvoerige verduideliking te wag. Jesus het ook so ’n verwelkomende gees, want hy neem die inisiatief om met sondaars en tollenaars te praat, wat in die gelykenis deur die verlore seun afgebeeld word.
Die skerpsinnige vader in Jesus se gelykenis het weliswaar ’n idee van sy seun se berou as hy sy treurige, mismoedige voorkoms sien wanneer hy terugkeer. Maar die vader se liefdevolle inisiatief maak dit makliker vir die seun om sy sondes te bely, soos Jesus vertel: ‘Die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.’
Die seun se woorde is egter nog nie eens koud nie of sy vader reageer deur sy diensknegte te beveel: “Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ’n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind.” Dan begin hulle “vrolik word”.
Intussen was die vader se “oudste seun . . . in die veld”. Kyk of jy kan sien wie hy voorstel deur na die res van die verhaal te luister. Jesus sê van die oudste seun: “Terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange. En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken. Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het. En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom. Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ’n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.”
Wie was, soos die oudste seun, krities oor die genade en aandag wat aan sondaars gegee is? Was dit nie die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie? Aangesien hulle kritiek omdat Jesus sondaars verwelkom tot hierdie gelykenis aanleiding gegee het, is dit ongetwyfeld hulle wat deur die oudste seun voorgestel word.
Jesus sluit sy verhaal af met die vader wat by sy oudste seun pleit: “Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.”
Jesus sê dus nie wat die oudste seun uiteindelik doen nie. Trouens, later, na Jesus se dood en opstanding, het “’n groot menigte van priesters . . . gehoorsaam geword aan die geloof”, en moontlik was party van hulle lede van die “oudste seun”-klas met wie Jesus hier praat.
Maar wie word in hedendaagse tye deur die twee seuns voorgestel? Dit moet diegene wees wat genoeg kennis van Jehovah se voornemens opgedoen het om hulle ’n rede te gee om ’n verhouding met hom aan te knoop. Die oudste seun stel party lede van die “klein kuddetjie”, of “gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is”, voor. Hulle gesindheid was soortgelyk aan dié van die oudste seun. Hulle het geen begeerte gehad om ’n aardse klas, die “ander skape”, wat volgens hulle al die aandag getrek het, te verwelkom nie.
Daarenteen stel die verlore seun diegene van God se volk voor wat weggaan om die genietinge wat die wêreld bied na te jaag. Maar mettertyd keer hulle berouvol terug en word hulle weer bedrywige knegte van God. Hoe liefdevol en genadig is die Vader tog teenoor diegene wat besef dat hulle vergifnis nodig het en tot hom terugkeer! Lukas 15:11-32; Levitikus 11:7, 8; Handelinge 6:7; Lukas 12:32; Hebreërs 12:23; Johannes 10:16.
▪ Vir wie vertel Jesus hierdie gelykenis, of verhaal, en waarom?
▪ Wie is die hoofkarakter in die verhaal, en wat gebeur met hom?
▪ Wie word in Jesus se dag deur die vader en die jongste seun voorgestel?
▪ Hoe volg Jesus die voorbeeld van die barmhartige vader van sy gelykenis?
▪ Hoe beskou die oudste seun die manier waarop sy broer verwelkom word, en hoe tree die Fariseërs soos die oudste seun op?
▪ Watter toepassing het Jesus se gelykenis in ons dag?