‘Hou aan waak’—Die oordeelsuur het aangebreek!
Die inligting in hierdie studieartikel is gebaseer op die brosjure Hou aan waak! wat vrygestel is by die streekbyeenkomste wat gedurende 2004/05 regoor die wêreld gehou is.
“Hou . . . aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie.”—MATTEUS 24:42.
1, 2. Waarmee het Jesus sy koms gepas vergelyk?
WAT sal jy doen as jy weet dat ’n dief in jou buurt rondsluip en by huise inbreek? Ten einde jou geliefdes en jou besittings te beskerm, sal jy op jou hoede wees, jy sal waaksaam bly. ’n Dief stuur immers nie ’n brief om aan te kondig wanneer hy kom nie. Inteendeel, hy kom stilletjies en onverwags.
2 Jesus het by meer as een geleentheid die metodes van ’n dief as ’n illustrasie gebruik (Lukas 10:30; Johannes 10:10). Aangaande gebeure wat gedurende die tyd van die einde sou plaasvind en wat sy koms om oordeel te voltrek, sou voorafgaan, het Jesus hierdie waarskuwing gegee: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie. Maar een ding moet julle weet: as die huisheer geweet het in watter waak die dief kom, sou hy wakker gebly het en nie toegelaat het dat daar by sy huis ingebreek word nie” (Matteus 24:42, 43). Jesus het dus sy koms met die koms van ’n dief vergelyk—dit sou onverwags wees.
3, 4. (a) Wat behels dit om op Jesus se waarskuwing oor sy koms ag te slaan? (b) Watter vrae ontstaan?
3 Die illustrasie was gepas, want die presiese datum van Jesus se koms sou nie bekend wees nie. Vroeër, in dieselfde profesie, het Jesus gesê: “Van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matteus 24:36). Jesus het sy toehoorders derhalwe vermaan: ‘Julle moet gereed wees’ (Matteus 24:44). Diegene wat op Jesus se waarskuwing ag slaan, sou gereed wees, op die gepaste wyse wandel, ongeag wanneer hy as Jehovah se Skerpregter sou kom.
4 ’n Paar belangrike vrae ontstaan: Is Jesus se waarskuwing net vir wêreldse mense, of moet ware Christene ook ‘aanhou waak’? Waarom is dit dringend om ‘aan te hou waak’, en wat behels dit?
’n Waarskuwing vir wie?
5. Hoe weet ons dat die waarskuwing om ‘aan te hou waak’, op ware Christene van toepassing is?
5 Dit is beslis waar dat die Here se koms soos die koms van ’n dief sal wees vir wêreldse mense, wat hulle ore sluit vir die waarskuwing van naderende onheil (2 Petrus 3:3-7). Maar wat van ware Christene? Die apostel Paulus het aan medegelowiges geskryf: “Julle weet self heel goed dat Jehovah se dag net soos ’n dief in die nag kom” (1 Tessalonisense 5:2). Daar bestaan geen twyfel by ons dat ‘Jehovah se dag kom’ nie. Maar beteken dít dat dit enigsins minder belangrik is om aan te hou waak? Let op dat dit vir sy dissipels is wat Jesus gesê het: “Die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie” (Matteus 24:44). Vroeër, toe Jesus sy dissipels aangespoor het om die Koninkryk voortdurend te soek, het hy gewaarsku: “Julle moet julle gereed hou, want die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle dit nie waarskynlik ag nie” (Lukas 12:31, 40). Is dit nie duidelik dat Jesus sy volgelinge in gedagte gehad het toe hy gewaarsku het: ‘Hou aan waak’ nie?
6. Waarom moet ons ‘aanhou waak’?
6 Waarom moet ons ‘aanhou waak’ en ons “gereed hou”? Jesus het verduidelik: “Twee manne [sal] op die land wees: die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word; twee vroue sal by die handmeul maal: die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word” (Matteus 24:40, 41). Diegene wat gereed is, sal “saamgeneem”, of gered, word wanneer hierdie goddelose wêreld vernietig word. Ander sal vir vernietiging “agtergelaat” word omdat hulle uit selfsug hulle eie lewenswyse nagestreef het. Onder hulle sal daar heel moontlik mense wees wat vroeër verlig was, maar nie aanhou waak het nie.
7. Die feit dat ons nie weet wanneer die einde gaan kom nie, gee ons die geleentheid om wat te doen?
7 Die feit dat ons nie weet op presies watter dag die einde van hierdie ou stelsel gaan kom nie, gee ons die geleentheid om te toon dat ons God uit ’n suiwer beweegrede dien. Hoe so? Dit lyk dalk of die einde lank neem om te kom. Ongelukkig het party Christene wat so voel, toegelaat dat hulle ywer vir Jehovah se diens verflou. Deur ons toewyding het ons ons egter onvoorwaardelik vir Jehovah aangebied om hom te dien. Diegene wat Jehovah ken, besef dat hy nie beïndruk sal word deur ’n vertoon van ywer op die nippertjie nie. Hy sien wat in die hart is.—1 Samuel 16:7.
8. Hoe beweeg liefde vir Jehovah ons om aan te hou waak?
8 Omdat ons Jehovah waarlik liefhet, skep ons baie groot behae daarin om sy wil te doen (Psalm 40:8; Matteus 26:39). En ons wil Jehovah vir ewig dien. Hierdie vooruitsig is nie minder kosbaar net omdat ons ’n bietjie langer moet wag as wat ons gedink het nie. Die vernaamste rede waarom ons aanhou waak, is omdat ons gretig uitsien na wat Jehovah se dag sal beteken in die verwesenliking van sy voorneme. Ons opregte begeerte om God te behaag, beweeg ons om die raad in sy Woord toe te pas en sy Koninkryk eerste in ons lewe te stel (Matteus 6:33; 1 Johannes 5:3). Kom ons ondersoek watter uitwerking die feit dat ons aanhou waak, op ons besluite moet hê en op die manier waarop ons elke dag ons lewe lei.
Waarheen is jy op pad?
9. Waarom is dit dringend dat mense in die wêreld bewus word van die betekenis van ons tye?
9 Vandag besef baie mense dat ernstige probleme en skokkende gebeure iets alledaags geword het, en hulle is moontlik nie gelukkig met die rigting waarin hulle lewe beweeg nie. Maar weet hulle wat wêreldtoestande werklik beteken? Besef hulle dat ons in “die voleinding van die stelsel van dinge” lewe? (Matteus 24:3). Is hulle daarvan bewus dat die algemeenheid van selfsugtige, gewelddadige, selfs goddelose gesindhede hierdie tye as “die laaste dae” identifiseer? (2 Timoteus 3:1-5). Dit is dringend dat hulle besef wat al hierdie dinge beteken en dink aan waarheen hulle op pad is.
10. Wat moet ons doen om seker te maak dat ons aanhou waak?
10 Wat van ons? Elke dag kom ons voor besluite te staan wat ons werk, ons gesondheid, ons gesin en ons aanbidding raak. Ons weet wat die Bybel sê, en ons probeer dit toepas. Dit sal derhalwe goed wees as ons ons afvra: ‘Het ek toegelaat dat die sorge van die lewe my van koers af dwing? Laat ek toe dat die wêreld se filosofieë, sy denke, my keuses beïnvloed?’ (Lukas 21:34-36; Kolossense 2:8). Ons moet voortgaan om te toon dat ons met ons hele hart op Jehovah vertrou en nie op ons eie begrip steun nie (Spreuke 3:5). Sodoende sal ons “’n stewige houvas op die werklike lewe”—ewige lewe in God se nuwe wêreld—behou.—1 Timoteus 6:12, 19.
11-13. Wat kan ons leer uit die voorbeelde van wat gebeur het (a) in die dae van Noag? (b) in die dae van Lot?
11 Die Bybel bevat talle waarskuwende voorbeelde wat ons kan help om aan te hou waak. Kyk wat in Noag se dag gebeur het. God het toegesien dat ’n waarskuwing lank voor die tyd gegee word. Maar buiten Noag en sy huisgesin het die mense geen ag daarop geslaan nie (2 Petrus 2:5). Jesus het hieroor gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees” (Matteus 24:37-39). Wat kan ons hieruit leer? As enigeen van ons toelaat dat alledaagse sake—selfs die normale lewensbedrywighede—die geestelike bedrywighede verdring wat God ons aanspoor om eerste in ons lewe te stel, moet ons ernstig nadink oor ons situasie.—Romeine 14:17.
12 Dink ook aan die dae van Lot. Die stad Sodom, waar Lot en sy gesin gewoon het, was materieel voorspoedig, maar sedelik bankrot. Jehovah het sy engele gestuur om die plek te verwoes. Die engele het Lot en sy gesin aangespoor om uit Sodom te vlug en nie om te kyk nie. Op aansporing van die engele het hulle die stad verlaat. Maar Lot se vrou was klaarblyklik verknog aan haar huis in Sodom. Sy was ongehoorsaam en het omgekyk, en dit het haar haar lewe gekos (Genesis 19:15-26). Jesus het die profetiese waarskuwing gegee: “Dink aan die vrou van Lot.” Tree ons in ooreenstemming met hierdie waarskuwing op?—Lukas 17:32.
13 Diegene wat op goddelike waarskuwings ag geslaan het, het behoue gebly. Dit was die geval met Noag en sy gesin en met Lot en sy dogters (2 Petrus 2:9). Terwyl ons die waarskuwing in hierdie voorbeelde ter harte neem, word ons ook aangemoedig deur die boodskap van redding wat dit vir liefhebbers van regverdigheid bevat. Dit vul ons hart met die versekerde verwagting dat God se belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” waarin “regverdigheid [sal] woon”, vervul sal word—2 Petrus 3:13.
‘Die oordeelsuur het aangebreek’!
14, 15. (a) Wat sluit “die uur” van oordeel in? (b) Wat behels dit om ‘God te vrees en hom heerlikheid te gee’?
14 Wat kan ons verwag terwyl ons aanhou waak? Die boek Openbaring beskryf hoe God se voorneme progressief vervul sal word. As ons gereed wil wees, is dit noodsaaklik dat ons daarvolgens optree. Die profesie gee ’n lewendige beskrywing van gebeure wat sou plaasvind in “die dag van die Here”, wat begin het toe Christus in 1914 in die hemel op die troon geplaas is (Openbaring 1:10). Openbaring vestig ons aandag op ’n engel aan wie “ewige goeie nuus” gegee is om dit “bekend te maak”. Hy sê met ’n harde stem: “Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek” (Openbaring 14:6, 7). Daardie “uur” van oordeel is ’n kort tydperk; dit sluit die tyd in wanneer die oordele wat in hierdie profesie uitgebeeld word, uitgespreek sowel as voltrek word. Ons lewe nou in daardie tydperk.
15 Nou, voor die oordeelsuur ten einde loop, word ons aangespoor: “Vrees God en gee hom heerlikheid.” Wat behels dit? Gepaste vrees vir God moet ons laat afwyk van wat sleg is (Spreuke 8:13). As ons God eer, sal ons met groot respek na hom luister. Ons sal nie te besig wees om sy Woord, die Bybel, gereeld te lees nie. Ons sal nie sy raad om Christelike vergaderinge by te woon, geringag nie (Hebreërs 10:24, 25). Ons sal die voorreg om die goeie nuus van God se Messiaanse Koninkryk te verkondig, as iets kosbaars beskou en dit ywerig doen. Ons sal te alle tye en met ons hele hart op Jehovah vertrou (Psalm 62:8). Ons erken dat Jehovah die Universele Soewerein is en eer hom deur ons gewillig aan hom te onderwerp as die Soewerein van ons lewe. Vrees jy God werklik en gee jy hom heerlikheid op al hierdie maniere?
16. Waarom kan ons sê dat die oordeel oor Babilon die Grote waarvan Openbaring 14:8 praat, reeds vervul is?
16 Openbaring hoofstuk 14 beskryf verdere gebeure wat gedurende die oordeelsuur sal plaasvind. Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, word eerste genoem: “’n Ander, ’n tweede engel, het gevolg en gesê: ‘Sy het geval! Babilon die Grote het geval!’” (Openbaring 14:8). Ja, vanuit God se oogpunt het Babilon die Grote reeds geval. In 1919 is Jehovah se gesalfde knegte bevry van slawerny aan Babiloniese leerstellings en gebruike, wat al millenniums lank ’n houvas op volke en nasies het (Openbaring 17:1, 15). Hulle kon hulle van toe af aan die bevordering van ware aanbidding wy. Die goeie nuus van God se Koninkryk word sedertdien wêreldwyd verkondig.—Matteus 24:14.
17. Wat behels dit om uit Babilon die Grote uit te gaan?
17 Dit is nie al wat God se oordeel oor Babilon die Grote behels nie. Haar finale vernietiging sal binnekort plaasvind (Openbaring 18:21). Met goeie rede spoor die Bybel mense in alle wêrelddele aan: “Gaan uit haar [Babilon die Grote] uit . . . as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie” (Openbaring 18:4, 5). Hoe gaan ons uit Babilon die Grote uit? Dit behels meer as om net alle bande met valse godsdiens te verbreek. Babiloniese invloed kan gevind word in talle gewilde vierings en gebruike, in die wêreld se permissiewe gesindheid teenoor seks, in die bevordering van vermaak waarby spiritisme betrokke is, en nog baie meer. As ons wil aanhou waak, is dit noodsaaklik dat ons deur ons dade sowel as die begeertes van ons hart bewys lewer dat ons werklik in elke opsig afgeskeie is van Babilon die Grote.
18. Waarvan maak waaksame Christene seker na aanleiding van wat in Openbaring 14:9, 10 beskryf word?
18 In Openbaring 14:9, 10 word nog ’n aspek van ‘die oordeelsuur’ beskryf. ’n Ander engel sê: “As iemand die wilde dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang, sal hy ook van die wyn van die toorn van God drink.” Waarom? “Die wilde dier en sy beeld” is simbole van menseheerskappy, wat nie Jehovah se soewereiniteit erken nie. Waaksame Christene maak seker dat hulle nie, in hulle gesindheid of dade, beïnvloed word of die merk ontvang wat toon dat hulle in slawerny is aan diegene wat weier om die opperste soewereiniteit van die ware God, Jehovah, te erken nie. Christene weet dat God se Koninkryk reeds in die hemel opgerig is, dat dit ’n einde aan alle menseregerings sal maak en dat dit vir ewig sal bly staan.—Daniël 2:44.
Moenie jou gevoel van dringendheid verloor nie!
19, 20. (a) Wat sal Satan ongetwyfeld probeer doen namate ons dieper in die laaste dae inbeweeg? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
19 Namate ons dieper in die laaste dae inbeweeg, sal druk en versoekings eenvoudig toeneem. Solank ons in hierdie ou stelsel lewe en deur ons eie onvolmaaktheid geteister word, word ons geraak deur dinge soos swak gesondheid, ouderdom, die dood van geliefdes, gekwetste gevoelens, teleurstelling wanneer daar min reaksie is op ons pogings om God se Woord te verkondig, en nog baie ander dinge. Ons moet nooit vergeet nie dat Satan die druk wat ons ondervind, baie graag sal wil gebruik om ons te laat tou opgooi—sodat ons ophou om die goeie nuus te verkondig of om volgens God se standaarde te lewe (Efesiërs 6:11-13). Dit is nie nou die tyd om ons gevoel van dringendheid te verloor ten opsigte van die tye waarin ons lewe nie!
20 Jesus het geweet dat groot druk op ons uitgeoefen sou word om tou op te gooi, en daarom het hy ons vermaan: “Hou . . . aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie” (Matteus 24:42). Laat ons dan altyd wakker bly met betrekking tot waar ons in die tydstroom is. Laat ons op ons hoede wees teen Satan se sette wat ons kan laat traag word of laat tou opgooi. Laat ons vasbeslote wees om die goeie nuus van God se Koninkryk met al hoe groter ywer en volharding te verkondig. En laat ons alles in ons vermoë doen om ons gevoel van dringendheid te behou terwyl ons ag slaan op Jesus se waarskuwing: “Hou . . . aan waak.” As ons dit doen, sal ons Jehovah vereer en onder diegene wees wat die vooruitsig het om sy ewige seëninge te ontvang.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe weet ons dat Jesus se waarskuwing om ‘aan te hou waak’, op ware Christene van toepassing is?
• Watter waarskuwende voorbeelde in die Bybel kan ons help om ‘aan te hou waak’?
• Wat is die oordeelsuur, en wat word ons aangespoor om te doen voordat dit ten einde loop?
[Prent op bladsy 23]
Jesus het sy koms met die koms van ’n dief vergelyk
[Prent op bladsy 24]
Die vernietiging van Babilon die Grote is naby
[Prente op bladsy 25]
Laat ons vasbeslote wees om met selfs groter ywer en volharding te getuig