Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Johannes
JOHANNES—“die dissipel . . . vir wie Jesus lief was”—is die laaste persoon wat ’n geïnspireerde verslag oor Christus se lewe en bediening geskryf het (Joh. 21:20). Die Evangelie van Johannes, wat omstreeks 98 G.J. geskryf is, herhaal baie min van wat in die ander drie Evangelies gesê word.
Die apostel Johannes het sy Evangelie met ’n definitiewe doel voor oë geskryf. Hy sê oor die dinge wat hy opgeteken het: “Hierdie dinge is neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle, deur te glo, deur middel van sy naam die lewe kan hê” (Joh. 20:31). Die boodskap daarin is beslis vir ons van groot waarde.—Heb. 4:12.
“KYK, DIE LAM VAN GOD”
Wanneer Johannes die Doper vir Jesus sien, kondig hy met vertroue aan: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Gedurende Jesus se reis deur Samaria, Galilea, Judea en die landstreek oos van die Jordaan—waar hy preek, onderrig en kragtige werke verrig—‘kom baie mense na hom toe en stel hulle geloof in hom’.—Joh. 10:41, 42.
Een van die uitsonderlikste wonderwerke wat Jesus verrig, is wanneer hy Lasarus opwek. Baie stel geloof in Jesus wanneer hulle sien hoe ’n man wat al vier dae dood is, lewend word. Maar die hoofpriesters en die Fariseërs beraadslaag om Jesus dood te maak. Daarom vertrek Jesus en gaan hy na “die landstreek naby die wildernis . . . , na ’n stad wat Efraim genoem word”.—Joh. 11:53, 54.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:35, 40—Watter dissipel, benewens Andreas, het by Johannes die Doper gestaan? Die verteller verwys altyd na Johannes die Doper as “Johannes” en identifiseer homself nooit met sy naam in sy Evangelie nie. Daarom is die ongenoemde dissipel klaarblyklik die Evangelieskrywer Johannes.
2:20—Watter tempel “is in ses-en-veertig jaar gebou”? Die Jode het verwys na Serubbabel se tempel wat deur koning Herodes van Judea herbou is. Volgens die geskiedskrywer Josefus het daardie werk in die 18de jaar van Herodes se bewind, of in 18/17 v.G.J., begin. Die tempelheiligdom en ander belangrike strukture is in agt jaar opgerig. Maar die werk aan die tempelkompleks het voortgegaan tot ná die Pasga van 30 G.J. toe die Jode gesê het dat dit 46 jaar geneem het om dit te bou.
5:14—Is siekte die gevolg van sonde? Nie noodwendig nie. Die man wat deur Jesus genees is, was 38 jaar lank siek weens oorgeërfde onvolmaaktheid (Joh. 5:1-9). Wat Jesus bedoel het, was dat die man nou, aangesien hy barmhartigheid bewys is, die weg na redding moet volg en nie meer opsetlik moet sondig nie, sodat iets erger as siekte hom nie oorkom nie. Die man kon hom aan ’n onvergeeflike sonde skuldig maak, wat die dood sonder die hoop op ’n opstanding verdien.—Matt. 12:31, 32; Luk. 12:10; Heb. 10:26, 27.
5:24, 25—Wie is dié wat ‘uit die dood tot die lewe oorgaan’? Jesus praat van diegene wat vroeër geestelik dood was, maar wat, wanneer hulle sy woorde hoor, in hom geloof stel en nie meer hulle sondige weg volg nie. Hulle ‘gaan oor uit die dood tot die lewe’ deurdat die veroordeling van die dood van hulle verwyder word, en hulle word weens hulle geloof in God die hoop op die ewige lewe gegee.—1 Pet. 4:3-6.
5:26; 6:53—Wat beteken dit om ‘lewe in jouself’ te hê? Vir Jesus Christus beteken dit dat hy twee spesifieke vermoëns van God ontvang—die vermoë om mense ’n goeie posisie voor Jehovah te gee en die krag om lewe te gee deur die dooies op te wek. Vir Jesus se volgelinge beteken ‘om lewe in hulleself te hê’ dat hulle die volheid van die lewe ontvang. Gesalfde Christene ontvang dit wanneer hulle tot hemelse lewe opgewek word. Getroues met ’n aardse hoop sal die volheid van die lewe ondervind eers nadat hulle die finale toets geslaag het, wat direk ná die einde van die Duisendjarige Heerskappy van Christus plaasvind.—1 Kor. 15:52, 53; Op. 20:5, 7-10.
6:64—Het Jesus, toe hy Judas Iskariot gekies het, reeds geweet dat Judas hom sou verraai? Hy het blykbaar nie. By een geleentheid in die jaar 32 G.J. het Jesus egter vir sy apostels gesê: “Een van julle [is] ’n lasteraar.” Jesus het moontlik op hierdie stadium die “begin” van ’n verkeerde weg in Judas Iskariot gesien.—Joh. 6:66-71.
Lesse vir ons:
2:4. Jesus het vir Maria daarop gewys dat hy, as die gedoopte, gesalfde Seun van God, die leiding van sy hemelse Vader moet volg. Hoewel Jesus nog maar net begin het met sy bediening, was hy ten volle bewus van die uur, of die tyd, vir sy toegewese werk, insluitende sy offerdood. Nie eers ’n nabye familielid soos Maria kon toegelaat word om in te meng met sy uitvoering van God se wil nie. Ons moet Jehovah God met soortgelyke vasbeslotenheid dien.
3:1-9. Ons leer twee lesse uit die voorbeeld van Nikodemus, ’n heerser van die Jode. Eerstens het Nikodemus nederigheid, insig en ’n bewustheid van sy geestelike behoefte getoon en het hy ’n nederige timmerman se seun erken as ’n leermeester wat deur God gestuur is. Ware Christene het vandag nederigheid nodig. Tweedens, Nikodemus het gehuiwer om ’n dissipel te word terwyl Jesus op aarde was. Dit was moontlik weens mensevrees, verknogtheid aan sy posisie in die Sanhedrin of liefde vir sy rykdom. Ons kan ’n waardevolle les hieruit leer: Ons moenie toelaat dat sulke dinge ons daarvan weerhou om ‘ons folterpaal op te neem en Jesus voortdurend te volg’ nie.—Luk. 9:23.
4:23, 24. As ons wil hê dat ons aanbidding vir God aanneemlik moet wees, moet dit ooreenstem met die waarheid wat in die Bybel geopenbaar word en moet dit deur die heilige gees gerig word.
6:27. Om te werk vir “die voedsel wat vir die ewige lewe bly”, beteken dat ons ons moet inspan om ons geestelike behoefte te bevredig. Ons sal gelukkig wees as ons dit doen.—Matt. 5:3.
6:44. Jehovah is besorg oor elkeen van ons. Hy trek ons na sy Seun toe deur ons individueel deur middel van die predikingswerk te bereik en ons deur middel van Sy heilige gees te help om geestelike waarhede te begryp en toe te pas.
11:33-36. Dit is nie ’n teken van swakheid as ons ons emosies wys nie.
‘HOU AAN OM HOM TE VOLG’
Wanneer die Pasga van 33 G.J. nader kom, keer Jesus terug na Betanië. Op 9 Nisan ry hy op die hingsvul van ’n esel in Jerusalem in. Op 10 Nisan kom Jesus weer na die tempel. In antwoord op sy gebed dat sy Vader se naam verheerlik word, sê ’n stem uit die hemel: “Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik.”—Joh. 12:28.
Terwyl die Pasgamaal aan die gang is, gee Jesus afskeidsraad aan sy volgelinge en bid hy ten behoewe van hulle. Nadat hy in hegtenis geneem, verhoor en aan die paal gehang is, word Jesus opgewek.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
14:2—Hoe sou Jesus in die hemel vir sy getroue volgelinge ‘’n plek berei’? Dit sou behels dat Jesus die nuwe verbond bekragtig deur voor God te verskyn en die waarde van sy bloed vir Hom aan te bied. Dit sou ook insluit dat Christus koninklike mag ontvang, waarna die hemelse opstanding van sy gesalfde volgelinge sou begin.—1 Tess. 4:14-17; Heb. 9:12, 24-28; 1 Pet. 1:19; Op. 11:15.
14:16, 17; 16: 7, 8, 13, 14—Waarom word die voornaamwoord “dit” in Johannes 14:16, 17 gebruik om na die helper, of die gees van die waarheid, te verwys, terwyl “hom” en “hy” in Johannes 16:7, 8, 13, 14 gebruik word? Die rede hiervoor is bloot taalkundig. In Grieks, die taal waarin Johannes se Evangelie geskryf is, is die woord vir “helper” in die manlike geslag, maar die woord vir “gees” is onsydig. Toe Johannes Jesus se woorde opgeteken het, het hy dus ’n manlike voornaamwoord, soos “hy” of “hom”, gebruik wanneer hy verwys het na wat die helper sou doen. Die onsydige voornaamwoord “dit” is gebruik toe hy verwys het na wat die gees van die waarheid sou bereik.
19:11—Het Jesus na Judas Iskariot verwys toe hy met Pilatus gepraat het oor die man wat Hom oorgelewer het? Jesus het waarskynlik nie Judas of enige spesifieke persoon in gedagte gehad nie, maar eerder almal wat die skuld gedra het vir die sonde om hom dood te maak. Dit het Judas, “die hoofpriesters en die hele Sanhedrin” en selfs “die skare” ingesluit wat oorreed is om te vra dat Barabbas vrygelaat word.—Matt. 26:59-65; 27:1, 2, 20-22.
20:17—Waarom het Jesus vir Maria Magdalena gesê om op te hou om aan hom vas te klou? Maria het blykbaar aan Jesus vasgeklou omdat sy gedink het dat hy op die punt staan om na die hemel op te vaar en dat sy hom nooit weer sou sien nie. Om haar te verseker dat hy nie toe al sou weggaan nie, het Jesus vir haar gesê om op te hou om aan hom vas te klou en om eerder die nuus van sy opstanding aan sy dissipels te gaan vertel.
Lesse vir ons:
12:36. Om “kinders van die lig”, of ligdraers, te word, moet ons juiste kennis van God se Woord, die Bybel, opdoen. Dan moet ons hierdie kennis gebruik om ander uit geestelike duisternis tot God se lig aan te trek.
14:6. Ons kan God se goedkeuring alleenlik deur Jesus Christus verkry. Slegs deur geloof in Jesus te beoefen en sy voorbeeld te volg, kan ons nader aan Jehovah kom.—1 Pet. 2:21.
14:15, 21, 23, 24; 15:10. Gehoorsaamheid aan God se wil sal ons help om in God se liefde en in die liefde van sy Seun te bly.—1 Joh. 5:3.
14:26; 16:13. Jehovah se heilige gees onderrig ons en help ons om dinge te herroep. Dit openbaar ook waarhede. Dit kan ons dus help om in kennis, wysheid, insig, oordeelsvermoë en denkvermoë toe te neem. Ons moet dus volhou met gebed en spesifiek vir hierdie gees vra.—Luk. 11:5-13.
21:15, 19. Petrus is gevra of hy Jesus liewer het as “hulle”, dit wil sê die visse wat daar gelê het. Jesus het dus beklemtoon dat Petrus eerder moes kies om hom voltyds te volg as om ’n loopbaan in die vissersbedryf na te streef. Mag ons, ná ons bespreking van die Evangelieverslae, meer vasbeslote wees om Jesus liewer te hê as enigiets anders wat dalk vir ons aanloklik is. Ja, laat ons aanhou om hom heelhartig te volg.
[Prent op bladsy 31]
Wat kan ons uit die voorbeeld van Nikodemus leer?