Hoofstuk 55
Baie dissipels hou op om Jesus te volg
JESUS gee in ’n sinagoge in Kapernaüm onderrig oor sy rol as die ware brood uit die hemel. Sy toespraak is klaarblyklik ’n voortsetting van die bespreking wat begin het toe die mense hom gevind het ná hulle van die oostelike kant van die See van Galilea teruggekeer het, waar hulle van die brode en visse wat hy wonderdadig voorsien het, geëet het.
Jesus gaan voort met sy bespreking en sê: “Die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.” Net twee jaar tevore, in die noordelike lente van 30 G.J., het Jesus vir Nikodemus gesê dat God die wêreld so liefgehad het dat hy sy Seun as ’n Verlosser voorsien het. Jesus toon derhalwe nou dat enigeen van die mensdom wat simbolies van sy vlees eet, deur geloof te beoefen in die offer wat hy binnekort gaan bring, die ewige lewe kan verkry.
Maar die mense neem aanstoot aan Jesus se woorde. “Hoe kan Hy ons sy vlees gee om te eet?” vra hulle. Jesus wil hê dat sy gehoor moet begryp dat sy vlees in figuurlike sin geëet sal word. Om dit te beklemtoon, sê hy dus iets wat selfs aanstootliker is as dit letterlik opgeneem word.
“As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie”, verklaar Jesus, “het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.”
Jesus se lering sou weliswaar uiters weersinwekkend geklink het as hy hier van kannibalisme gepraat het. Maar Jesus gee natuurlik nie te kenne dat vlees letterlik geëet of bloed letterlik gedrink moet word nie. Hy beklemtoon eenvoudig dat almal wat die ewige lewe kry geloof moet beoefen in die offer wat hy gaan bring wanneer hy sy volmaakte menseliggaam opoffer en sy lewensbloed uitstort. Maar selfs baie van sy dissipels probeer nie eers om sy lering te verstaan nie en maak dus beswaar: “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?”
Jesus weet dat baie van sy dissipels murmureer, en hy sê dus: “Is dit julle tot ’n aanstoot? Hoe dan as julle die Seun van die mens daarheen sien opvaar waar Hy tevore was? . . . Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe. Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie.”
Jesus gaan voort: “Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie.” Daarop verlaat baie van sy dissipels hom, en hulle hou op om hom te volg. Jesus wend hom gevolglik tot sy 12 apostels en vra: “Wil julle nie ook weggaan nie?”
Petrus antwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.” Wat ’n pragtige betuiging van lojaliteit, al het Petrus en die ander apostels Jesus se lering oor hierdie saak dalk nie ten volle verstaan nie!
Alhoewel Jesus tevrede is met Petrus se antwoord, sê hy: “Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ’n duiwel!” Hy praat van Judas Iskariot. Moontlik bespeur Jesus op hierdie tydstip dat Judas ’n verkeerde gedragslyn “begin” toon.
Jesus het so pas die mense teleurgestel deur hom te verset teen hulle pogings om hom koning te maak, en hulle dink miskien: ‘Hoe kan hy die Messias wees as hy nie die Messias se regmatige posisie wil aanvaar nie?’ Ook dit sal ’n saak wees wat vars in die geheue van die mense is. Johannes 6:51-71; 3:16.
▪ Vir wie gee Jesus sy vlees, en hoe ‘eet’ hulle ‘sy vlees’?
▪ Watter verdere woorde van Jesus skok die mense, maar wat beklemtoon hy?
▪ Wat is Petrus se reaksie wanneer baie ophou om Jesus te volg?