Volg hulle geloof na
Hy was lojaal ondanks beproewinge
PETRUS het angstig gekyk na die gesigte van die mense in Jesus se gehoor. Hulle was in die sinagoge in Kapernaum. Petrus se huis was in hierdie stad; sy vissersonderneming was hier, aan die kus van die See van Galilea; baie van sy vriende, familielede en sakekennisse het hier gewoon. Petrus wou ongetwyfeld baie graag hê dat sy stadsgenote Jesus moet sien soos hy hom sien, dat hulle ook moet deel in die opwinding om by die allergrootste onderrigter van God se Koninkryk te leer. Maar dit het nie gelyk of dit vandag sou gebeur nie.
Baie het opgehou om te luister. Party het hardop gemurmureer en teen die kern van Jesus se boodskap beswaar gemaak. Maar wat Petrus die meeste gekwel het, was die reaksie van party van Jesus se eie dissipels. Op hulle gesigte was daar nie meer die blye uitdrukking van begrip, die opwinding om nuwe feite te ontdek, die vreugde om die waarheid te leer nie. Nou het hulle ontsteld, selfs verbitterd, gelyk. Party het gesê dat Jesus se spraak skokkend is. Hulle het geweier om verder te luister en het die sinagoge verlaat—en ook opgehou om Jesus te volg.
Dit was ’n moeilike tyd vir Petrus en sy medeapostels. Petrus het nie ten volle begryp wat Jesus daardie dag gesê het nie. Hy het ongetwyfeld verstaan waarom Jesus se woorde aanstootlik kon wees as dit letterlik opgeneem word. Maar wat sou Petrus doen? Dit was nie die eerste keer dat sy lojaliteit teenoor sy Heer getoets word nie, dit sou ook nie die laaste keer wees nie. Kom ons kyk hoe Petrus se geloof hom gehelp het om sulke uitdagings met welslae die hoof te bied en lojaal te bly.
Lojaal toe ander ontrou geword het
Petrus is dikwels verbaas deur Jesus se woorde en dade. Keer op keer het sy Heer dinge gedoen en gesê wat mense nie van Hom verwag het nie. Net die vorige dag het Jesus ’n skare van duisende op wonderdadige wyse gevoed. In reaksie hierop het hulle hom koning probeer maak. Maar hy het baie mense verbaas deur hom van die skare te onttrek en sy dissipels aan te sê om in ’n boot te klim en na Kapernaum te vaar. Terwyl die dissipels gedurende die nag oor die water gevaar het, het Jesus hulle weer eens verbaas deur op die stormagtige See van Galilea te loop, en hy het Petrus toe ’n belangrike les in geloof geleer.a
Die volgende oggend het hulle gou agtergekom dat die skares hulle na die ander kant van die meer gevolg het. Maar die mense is klaarblyklik beweeg deur ’n begeerte om te sien hoe Jesus weer op wonderdadige wyse voedsel voorsien, nie deur ’n honger na geestelike waarhede nie. Jesus het hulle bestraf weens hulle materialistiese gees. Hierdie bespreking is in die sinagoge in Kapernaum voortgesit, waar Jesus weer teen die verwagtinge ingegaan het in ’n poging om hulle ’n lewensbelangrike maar moeilike waarheid te leer.
Jesus wou hê dat hierdie mense hom nie as ’n bron van blote fisiese voedsel moet beskou nie, maar as ’n geestelike voorsiening van God, as die een wie se lewe en dood as ’n mens ewige lewe vir ander moontlik sou maak. Hy het dus ’n illustrasie vertel waarin hy homself vergelyk het met manna, die brood wat in Moses se dag uit die hemel neergedaal het. Toe party daarteen beswaar gemaak het, het hy ’n treffende illustrasie gebruik en verduidelik dat dit nodig is om sy vlees te eet en sy bloed te drink om die lewe te verkry. Dit was toe dat die besware sterk toegeneem het. Party het gesê: “Hierdie woord is skokkend; wie kan daarna luister?” Selfs baie van Jesus se dissipels het besluit om hom nie meer te volg nie.b—Johannes 6:48-60, 66.
Wat sou Petrus doen? Hy is sekerlik ook verwar deur Jesus se woorde. Hy het nog nie begryp dat Jesus moet sterf om God se wil uit te voer nie. Maar het Petrus in die versoeking gekom om Jesus die rug toe te keer soos die wispelturige dissipels wat Jesus daardie dag verlaat het? Nee; iets belangriks het Petrus van hierdie manne onderskei. Wat was dit?
Jesus het na sy apostels gedraai en gesê: “Julle wil nie miskien ook gaan nie?” (Johannes 6:67). Hy het die 12 aangespreek, maar dit was Petrus wat geantwoord het. Dit was dikwels die geval. Petrus was dalk die oudste. Hoe dit ook al sy, hy was beslis die mees uitgesproke van die groep; dit lyk asof Petrus selde geaarsel het om te sê wat hy op die hart het. In hierdie geval het hy hierdie pragtige en onvergeetlike woorde gesê: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe.”—Johannes 6:68.
Raak hierdie woorde nie jou hart nie? Petrus se geloof in Jesus het hom gehelp om ’n voortreflike eienskap aan te kweek—lojaliteit. Petrus het duidelik besef dat daar geen ander Redder as Jesus is nie en dat Jesus redding voorsien deur middel van sy woorde—sy leringe oor die Koninkryk van God. Petrus het geweet dat hy nêrens anders heen kon gaan om God se guns en die seën van ewige lewe te kry nie, al was daar dinge wat hom verwar het.
Voel jy ook so? Ongelukkig beweer baie in vandag se wêreld dat hulle Jesus liefhet, maar hulle slaag nie die toets van lojaliteit nie. Ware lojaliteit aan Christus vereis dat ons Jesus se leringe soos Petrus beskou. Ons moet dit leer, die betekenis daarvan begryp en daarvolgens lewe—selfs wanneer dit ons verbaas omdat dit in stryd is met ons verwagtinge of persoonlike voorkeure. Slegs deur lojaal te bly, kan ons hoop om die ewige lewe te verkry wat Jesus vir ons wil hê.
Lojaal toe hy tereggewys is
Kort ná hierdie besige tyd het Jesus sy apostels en ’n paar dissipels op ’n lang reis noordwaarts gelei. Die sneeubedekte piek van die berg Hermon, aan die noordelikste grens van die Beloofde Land, was soms selfs vanaf die blou water van die See van Galilea sigbaar. Hierdie berg het geleidelik al hoe hoër voor die groep verrys namate hulle die dorpies naby Sesarea-Filippi oor die stygende terrein genader het.c In hierdie pragtige omgewing, met ’n uitsig oor ’n groot deel van die Beloofde Land na die suide, het Jesus sy volgelinge ’n belangrike vraag gevra.
“Wie sê die skare is ek?” wou hy weet. Ons kan ons net voorstel hoe Petrus in Jesus se opmerksame oë gekyk en weer eens bewus geraak het van sy Heer se goedhartigheid en sy kragtige, skerp intelligensie. Jesus het belanggestel in die gevolgtrekkings wat sy gehore afgelei het uit wat hulle gesien en gehoor het. Jesus se dissipels het die vraag beantwoord en ’n paar van die algemene misvattings in verband met Jesus se identiteit herhaal. Maar Jesus wou meer weet. Het sy intiemste volgelinge dieselfde foute gemaak? “Maar julle, wie sê julle is ek?” het hy gevra.—Lukas 9:18-22.
Weer eens het Petrus vinnig geantwoord. Hy het die gevolgtrekking wat baie van die aanwesiges in hulle hart gemaak het, in duidelike, moedige woorde gestel. “U is die Christus, die Seun van die lewende God”, het hy gesê. Ons kan ons voorstel hoe Jesus met goedkeuring vir Petrus geglimlag het terwyl hy hom hartlik prys. Jesus het Petrus daaraan herinner dat dit Jehovah God is—geen mens nie—wat hierdie lewensbelangrike waarheid so verstaanbaar gemaak het vir diegene met ware geloof. Petrus is in staat gestel om een van die grootste waarhede te onderskei wat Jehovah nog ooit geopenbaar het—die identiteit van die langbeloofde Messias, of Christus!—Matteus 16:16, 17.
Hierdie Christus is die een wat in ’n eertydse profesie ’n steen genoem is wat die bouers sou verwerp (Psalm 118:22; Lukas 20:17). Met sulke profesieë in gedagte het Jesus geopenbaar dat Jehovah ’n gemeente sou stig op die einste steen, of rotsmassa, wat so pas deur Petrus geïdentifiseer is.d Toe het hy aan Petrus ’n paar baie belangrike voorregte in daardie gemeente gegee. Hy het Petrus nie voorrang bo die ander apostels gegee, soos party aangeneem het nie; hy het hom eerder verantwoordelikhede gegee. Hy het aan Petrus “die sleutels van die koninkryk” gegee (Matteus 16:19). Dit sou Petrus se taak wees om die hoop om God se Koninkryk binne te gaan, aan drie groepe te bied—eers aan die Jode, daarna aan die Samaritane en laastens aan die nie-Jode.
Jesus het egter later gemeld dat dié aan wie baie gegee is, groter aanspreeklikheid sal hê, en die waarheid van hierdie woorde word deur Petrus se geval gestaaf (Lukas 12:48). Jesus het voortgegaan om lewensbelangrike waarhede oor die Messias te openbaar, onder meer die sekerheid van sy eie naderende lyding en dood in Jerusalem. Petrus was verontrus toe hy hierdie dinge hoor. Hy het Jesus opsy geneem en hom bestraf deur te sê: “Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie lot hê nie.”—Matteus 16:21, 22.
Petrus het dit ongetwyfeld goed bedoel; daarom het Jesus se antwoord hom sekerlik verbaas. Hy het sy rug na Petrus gedraai, na die res van die dissipels gekyk—wat waarskynlik iets soortgelyks gedink het—en gesê: “Gaan agter my, Satan! Jy is ’n struikelblok vir my, want jy dink nie God se gedagtes nie, maar dié van mense” (Matteus 16:23; Markus 8:32, 33). Jesus se woorde bevat praktiese raad vir ons almal. Dit is alte maklik om toe te laat dat menslike denke goddelike denke oorheers. As ons dit doen, sal ons dalk, selfs al probeer ons eintlik help, onbewustelik voorstanders word van Satan se voorneme eerder as God s’n. Maar hoe het Petrus gereageer?
Hy het ongetwyfeld geweet dat Jesus hom nie in enige letterlike sin Satan die Duiwel genoem het nie. Jesus het immers nie op dieselfde manier met Petrus gepraat as wat hy vroeër met Satan gepraat het nie. Vir Satan het Jesus gesê: “Gaan weg”; vir Petrus het hy gesê: “Gaan agter my” (Matteus 4:10). Jesus het nie hierdie apostel in wie hy soveel goeie eienskappe gesien het, verwerp nie, maar het bloot sy verkeerde denke in hierdie aangeleentheid reggestel. Dit is maklik om te sien dat Petrus moes ophou om ’n struikelblok in sy Heer se pad te wees en weer as ’n ondersteunende volgeling agter hom moes gaan.
Het Petrus gestry, kwaad geword of nors rondgeloop? Nee; hy het die teregwysing nederig aanvaar. Sodoende het hy weer lojaliteit aan die dag gelê. Almal wat Christus volg, sal soms tereggewys moet word. Net as ons dissipline nederig aanvaar en daaruit leer, kan ons steeds nader kom aan Jesus Christus en sy Vader, Jehovah God.—Spreuke 4:13.
Sy lojaliteit word beloon
Jesus het kort hierna nog ’n verstommende stelling gemaak: “Voorwaar, ek sê vir julle dat party van dié wat hier staan, glad nie die dood sal smaak voordat hulle eers die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Matteus 16:28). Hierdie woorde het Petrus ongetwyfeld baie nuuskierig gemaak. Wat kon Jesus tog bedoel het? Petrus het dalk gewonder of die streng teregwysing wat hy pas ontvang het, beteken dat sulke spesiale voorregte hom glad nie te beurt sou val nie.
Omtrent ’n week later het Jesus egter vir Jakobus, Johannes en Petrus teen “’n hoë berg” opgeneem—dalk die berg Hermon, wat net ’n paar kilometer daarvandaan was. Dit was waarskynlik nag, aangesien die drie manne teen die slaap gestry het. Maar terwyl Jesus gebid het, het iets gebeur wat enige lomerigheid verdryf het.—Matteus 17:1; Lukas 9:28, 29, 32.
Jesus het voor hulle oë begin verander. Sy gesig het begin skyn, of straal, totdat dit so skitterend soos die son was. Sy klere was ook glinsterend wit. Toe het twee gedaantes by Jesus verskyn, waarvan die een Moses en die ander Elia afgebeeld het. Hulle het met hom gepraat oor “sy vertrek wat hy bestem was om in Jerusalem te vervul”—klaarblyklik sy dood en opstanding. Hoe duidelik was dit tog dat dit vroeër verkeerd was van Petrus om Jesus te weerspreek deur te sê dat daar nie so ’n pynlike ondervinding vir hom voorlê nie!—Lukas 9:30, 31.
Petrus het gevoel dat hy eenvoudig op die een of ander manier aan hierdie buitengewone visioen moet deelneem. Dit het gelyk asof Moses en Elia Jesus verlaat. Petrus het dus gesê: “Onderrigter, dit is goed dat ons hier is; laat ons dan drie tente oprig: een vir u en een vir Moses en een vir Elia.” Hierdie visioenêre voorstellings van twee van Jehovah se knegte wat lank tevore gesterf het, het natuurlik nie tente nodig gehad nie. Petrus het werklik nie geweet wat hy sê nie. Maar voel jy nie aangetrokke tot die man weens sy entoesiasme en hartlikheid nie?—Lukas 9:33.
Hy en Jakobus en Johannes het daardie nag nog ’n beloning ontvang. ’n Wolk het gevorm en hulle op die berg oorskadu. ’n Stem het daaruit gekom—die stem van Jehovah God! Hy het gesê: “Dit is my Seun, die een wat uitgekies is. Luister na hom.” Toe was die visioen verby, en hulle was alleen saam met Jesus op die berg.—Lukas 9:34-36.
Watter gawe was daardie visioen tog vir Petrus—en vir ons! Dekades later het hy geskryf van die voorreg wat hy daardie nag gehad het om een van die “ooggetuies van sy luisterrykheid” te wees en in werklikheid ’n voorskou van Jesus as ’n glorieryke hemelse Koning te sien. Hierdie visioen het baie profesieë van God se Woord bevestig en het Petrus se geloof versterk vir die beproewinge waarvoor hy nog te staan sou kom (2 Petrus 1:16-19). Dit kan vir ons dieselfde doen as ons, soos Petrus, lojaal bly aan die Heer wat Jehovah oor ons aangestel het en by hom leer, sy dissipline en teregwysing aanvaar en hom dag ná dag nederig volg.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Volg hulle geloof na—Hy het gestry teen vrees en twyfelgedagtes”, in Die Wagtoring van 1 Oktober 2009.
b Die wispelturigheid van die skare by die sinagoge is duidelik wanneer ons hulle reaksie op Jesus se woorde hier vergelyk met hulle uitdrukkings net die vorige dag toe hulle geesdriftig verklaar het dat hy ’n profeet van God is.—Johannes 6:14.
c Daardie reis van 50 kilometer het die groep van die kus van die See van Galilea af, ongeveer 210 meter onder seespieël, tot sowat 350 meter bo seespieël geneem, deur streke met pragtige natuurskoon.
d Sien die venster “Wie is die rots?” op bladsy 28.
[Venster/Prent op bladsy 28]
Wie is die rots?
“Ek [sê] vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal ek my gemeente bou” (Matteus 16:18). Daar word dikwels aangeneem dat hierdie woorde van Jesus aan sy apostel Petrus beteken dat Petrus die fondament van die Christengemeente sou wees. Die Katolieke Kerk leer dat Jesus Petrus gesag oor die ander apostels gegee het en hom sodoende die eerste pous gemaak het. Daarom verskyn Jesus se woorde in Latyn aan die binnekant van die koepel van die Sint Pieterskerk in Rome, in letters wat groter is as ’n mens.
Het Jesus bedoel dat Petrus die rots is waarop Jesus sy gemeente sou bou? Nee. Kyk na drie redes waarom ons hiervan seker kan wees. Eerstens, die ander apostels was teenwoordig en hulle het Jesus se woorde glad nie so verstaan nie. As Jesus voor hulle almal aan Petrus gesag gegee het, waarom het hulle dan later herhaaldelik geargumenteer oor watter een van hulle blykbaar die grootste is? (Markus 9:33-35; Lukas 22:24-26). Tweedens, die apostel Paulus het later getoon dat die rots nie Petrus is nie, maar Jesus Christus (1 Korintiërs 3:11; 10:4). Derdens, dekades later het Petrus self getoon dat hy nie dink dat hy die rots is nie. Hy het eerder geskryf dat Jesus die langvoorspelde “fondamenthoeksteen” is, wat deur God self gekies is.—1 Petrus 2:4-8.
Party hou egter vol dat Jesus Petrus as die rots geïdentifiseer het, aangesien sy naam “Rots” beteken. Maar Petrus se naam is in werklikheid nie ’n sinoniem vir die woord “rots” wat in dieselfde vers gebruik word nie. Petrus se naam beteken letterlik “’n stuk rots”, en in die oorspronklike taal is dit ’n manlike selfstandige naamwoord; die woord wat met “rots” weergegee word, is ’n vroulike selfstandige naamwoord. Hoe moet Jesus se woorde dan verstaan word? Hy het in werklikheid vir Petrus gesê: “Jy, die een wat ek Petrus, of Stuk Rots, genoem het, het die ware identiteit onderskei van die ‘rots’, die Christus, wat as die fondament van die Christengemeente sal dien.” Wat ’n voorreg het Petrus tog gehad om te help om so ’n belangrike waarheid te openbaar!
[Prent op bladsy 24, 25]
Petrus was lojaal, selfs wanneer hy tereggewys moes word
[Prent op bladsy 26]
Petrus se lojaliteit is beloon met ’n opwindende visioen