Hoe die waarheid ons vrymaak
1 By ’n sekere geleentheid het Jesus vir die Jode wat in hom geglo het, gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Hy het van ’n vryheid gepraat wat blote burgerlike vryhede oortref, ’n vryheid wat almal kan geniet—ryk of arm, geletterd of ongeletterd. Jesus het die waarheid geleer wat vryheid sou bring van slawerny aan sonde en die dood. Soos Jesus verduidelik het, is “elkeen wat sonde doen, . . . ’n slaaf van die sonde” (Joh. 8:34). Hoe sien ons tog uit na die tyd wanneer alle gehoorsame mense “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê”!—Rom. 8:21.
2 Die waarheid aangaande Jesus en sy rol in die uitvoering van God se voorneme bring sulke vryheid. Dit sluit kennis in oor die losprysoffer wat hy ten behoewe van ons gegee het (Rom. 3:24). As ons Bybelwaarheid aanneem en ons gehoorsaam daaraan onderwerp, kan ons selfs nou al ’n mate van vryheid van vrees, wanhoop en allerhande skadelike gebruike geniet.
3 Vryheid van vrees en wanhoop: Ons hoef nie wanhopig te raak oor wêreldtoestande nie, want ons weet waarom goddeloosheid bestaan en dat dit binnekort van die aarde af weggeneem sal word (Ps. 37:10, 11; 2 Tim. 3:1; Op. 12:12). Daarbenewens bevry die waarheid ons van valse leerstellings oor die toestand van die dooies. Ons weet dat die dooies ons nie leed kan aandoen nie, dat hulle nie vir ewig gepynig word nie en dat God mense nie deur die dood wegneem net om by hom in die geesteryk te wees nie.—Pred. 9:5; Hand. 24:15.
4 Hierdie waarheid het ’n vader en ’n moeder onderskraag toe hulle kind in ’n ongeluk gesterf het. “Daar is ’n leemte in ons lewe wat nie gevul kan word voordat ons ons seun deur middel van die opstanding weer sien nie”, het die moeder gesê. “Maar ons weet ons pyn is net tydelik.”
5 Vryheid van skadelike gebruike: Bybelwaarheid kan ’n persoon se denke en persoonlikheid verander en hom van voorkombare probleme bevry (Ef. 4:20-24). Eerlikheid en vlytigheid kan armoede help verlig (Spr. 13:4). Selfopofferende liefde verbeter ons verhoudinge met ander (Kol. 3:13, 14). Respek vir Christelike hoofskap verminder gesinsprobleme (Ef. 5:33–6:1). As dronkenskap, geslagsonsedelikheid, tabak en verslawende dwelms vermy word, bevorder dit goeie gesondheid.—Spr. 7:21-23; 23:29, 30; 2 Kor. 7:1.
6 ’n Jong man kon nie met ’n nege jaar lange dwelmgewoonte breek nie. Eendag het hy ’n verkondiger ontmoet wat straatgetuieniswerk gedoen het. Hy het lektuur geneem, en reëlings is getref om hom tuis te besoek. ’n Bybelstudie is begin. Twee maande later het die man heeltemal opgehou om dwelms te gebruik, en nadat hy agt maande gestudeer het, is hy gedoop. Toe sy broer en skoonsuster sien dat hy met sy gewoonte gebreek het, het dit hulle beweeg om die Bybel te begin studeer.
7 Help ander om vryheid te verkry: Mense wat hulle hele lewe lank slawe van valse leerstellings was, vind dit dalk moeilik om te verstaan watter vryheid God se Woord bied. Dit sal moontlik buitengewone ywer en goeie voorbereiding van die onderrigter verg om hulle hart te bereik (2 Tim. 4:2, 5). Dit is nie nou die tyd om te verslap in ons werk “om uit te roep dat dié wat gevange geneem is, vrygelaat sal word” nie (Jes. 61:1). Christelike vryheid is kosbaar. Die verkryging daarvan beteken die ewige lewe.—1 Tim. 4:16.