Volg hulle geloof na
Hy het gestry teen vrees en twyfelgedagtes
PETRUS het teen die roeispaan gebeur en die nag ingetuur. Het hy ’n effense gloed op die oostelike horison gesien—uiteindelik ’n teken van dagbreek? Sy rug- en skouerspiere het gebrand van die lang ure se roei. Die wind wat deur sy hare geswiep het, het die See van Galilea in ’n onstuimige watermassa verander. Die een golf ná die ander het teen die boeg van die vissersboot gebreek en hom met koue sproei deurdrenk. Hy het bly roei.
Êrens agter hulle op die oewer het Petrus en sy metgeselle Jesus alleen agtergelaat. Daardie dag het hulle gesien hoe Jesus ’n honger skare van duisende mense met net ’n paar brode en visse voed. In reaksie hierop het die mense Jesus probeer koning maak, maar hy wou niks met die politiek te doen hê nie. Hy was ook vasbeslote om te keer dat sy volgelinge sulke ambisies begin koester. Hy het die skare ontglip en sy dissipels aangesê om in die boot te klim en na die oorkantste oewer te vaar terwyl hy alleen teen die berg opgegaan het om te bid.—Markus 6:35-45; Johannes 6:14, 15.
Die maan, wat amper vol was, het hoog gesit toe die dissipels begin roei het; nou het dit stadig in die weste begin sak. Tog het hulle net ’n paar kilometer gevorder. Die inspanning en die voortdurende geloei van die wind en gedreun van die golwe het dit moeilik gemaak om met mekaar te praat. Petrus was waarskynlik met sy eie gedagtes besig.
Hoeveel was daar tog om oor te dink! Hy het Jesus van Nasaret nou al meer as twee gebeurtenisvolle jare gevolg. Hy het reeds soveel geleer, maar daar was nog baie om te leer. Sy bereidwilligheid om dit te doen—om te stry teen struikelblokke soos twyfelgedagtes en vrees—maak hom ’n uitstekende voorbeeld wat ons kan navolg. Kom ons kyk hoe.
“Ons het die Messias gevind”!
Petrus sou nooit die dag vergeet waarop hy Jesus van Nasaret ontmoet het nie. Dit was by sy broer, Andreas, dat hy die verstommende nuus die eerste keer gehoor het: “Ons het die Messias gevind.” Met hierdie woorde het Petrus se lewe begin verander. Dit sou nooit weer dieselfde wees nie.—Johannes 1:41.
Petrus het in Kapernaum gewoon, ’n stad aan die oewer van ’n varswatermeer wat die See van Galilea genoem is. Hy en Andreas het saam met Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, ’n vissersonderneming gehad. Petrus se vrou, sowel as sy skoonma en sy broer, Andreas, het by hom gebly. Om so ’n huishouding te onderhou deur vis te vang, het sekerlik harde werk, energie en vernuf geverg. Ons kan ons net die tallose lang nagte se geswoeg voorstel—die mans wat die sleepnette tussen twee bote uitgooi en dan enige vangs optrek wat die meer oplewer. Ons kan ons ook die moeisame dagligure voorstel waartydens die vis uitgesoek en verkoop is en die nette herstel en skoongemaak is.
Die Bybel sê vir ons dat Andreas ’n dissipel van Johannes die Doper was. Petrus het ongetwyfeld met groot belangstelling geluister na wat sy broer oor Johannes se boodskap vertel het. Op ’n dag het Andreas gesien hoe Johannes na Jesus van Nasaret wys en sê: “Kyk, die Lam van God!” Andreas het onmiddellik ’n volgeling van Jesus geword en gretig vir Petrus die opwindende nuus vertel: Die Messias is hier! (Johannes 1:35-40). Ná die opstand in Eden, sowat 4 000 jaar vroeër, het Jehovah God belowe dat ’n spesiale persoon sou kom om ware hoop vir die mensdom te voorsien (Genesis 3:15). Andreas het hierdie einste Redder, die Messias self, ontmoet! Petrus het hom gehaas om Jesus ook te ontmoet.
Tot op daardie dag was Petrus bekend as Simon, of Simeon. Maar Jesus het na hom gekyk en gesê: “‘Jy is Simon, die seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word’ (wat as Petrus vertaal word)” (Johannes 1:42). “Sefas” is ’n soortnaam wat “klip”, of “rots”, beteken. Jesus se woorde was klaarblyklik profeties. Hy het vooruitgesien dat Petrus soos ’n rots sou word—’n bestendige, sterk en betroubare invloed onder Christus se volgelinge. Is dit hoe Petrus homself beskou het? Dit lyk nie so nie. Selfs sommige hedendaagse lesers van die Evangelieverslae sien nie veel in Petrus wat rotsagtig is nie. Vir party kom hy onbestendig, veranderlik en besluiteloos voor.
Petrus het wel sy foute gehad. Jesus was nie blind daarvoor nie. Maar soos sy Vader, Jehovah, het Jesus altyd na die goeie in mense gesoek. Jesus het groot potensiaal in Petrus gesien en hom probeer help om op hierdie goeie eienskappe te bou. Jehovah en sy Seun soek vandag ook na die goeie in ons. Ons vind dit dalk moeilik om te glo dat hulle juis enige goed in ons kan vind. Maar ons moet hulle beskouing vertrou en gewillig wees om soos Petrus opgelei en gevorm te word.—1 Johannes 3:19, 20.
“Hou op om bang te wees”
Petrus het Jesus waarskynlik vergesel op ’n deel van die predikingsreis wat hierop gevolg het. Hy het dus moontlik gesien hoe Jesus sy eerste wonderwerk verrig, deur water in wyn te verander by die huweliksfees in Kana. Nog belangriker, hy het Jesus se wonderlike en bemoedigende boodskap oor die Koninkryk van God gehoor. Hy het hom nogtans weggeskeur en na sy vissersonderneming teruggekeer. Maar ’n paar maande later het Petrus Jesus weer van aangesig tot aangesig ontmoet—en hierdie keer het Jesus Petrus genooi om dit sy lewenswyse te maak om hom voltyds te volg.
Petrus het so pas ’n ontmoedigende nag se werk agter die rug gehad. Die vissermanne het hulle nette keer op keer laat sak, maar dit dan leeg opgetrek. Petrus het ongetwyfeld al sy ervaring en vernuf gebruik om die probleem te probeer oplos en op verskillende plekke in die meer na die visse te soek. Daar was ongetwyfeld tye toe hy, soos soveel ander vissermanne, gewens het dat hy deur die troebel waters kon sien om die skole visse te vind of dat hy hulle op die een of ander manier in sy nette kon inlok. Sulke gedagtes sou sy frustrasie natuurlik net vererger het. Petrus het nie vir die plesier visgevang nie; mense was afhanklik van sy vangs. Uiteindelik het hy met leë hande aan wal gekom. Die nette moes nietemin skoongemaak word. Hy was druk besig hiermee toe Jesus na hom toe gekom het.
’n Skare het om Jesus saamgedrom en aandagtig na elke woord geluister. Weens die gedrang het Jesus in Petrus se boot geklim en hom gevra om ’n entjie van die land af weg te vaar. Jesus se stem kon duidelik oor die water gehoor word terwyl hy die skare geleer het. Petrus het aandagtig geluister, net soos die mense op die oewer. Hy het nooit moeg geword om te hoor hoe Jesus die hooftema van sy prediking—die Koninkryk van God—ontwikkel nie. Wat ’n voorreg sou dit tog wees om die Christus te help om hierdie boodskap van hoop deur die hele land te versprei! Maar sou dit prakties wees? Waarvan sou hulle lewe? Dalk het Petrus weer aan die lang en vrugtelose nag gedink wat hy agter die rug gehad het.—Lukas 5:1-3.
Toe Jesus klaar gepraat het, het hy vir Petrus gesê: “Vaar uit na waar dit diep is en laat sak julle nette vir ’n vangs.” Petrus was vol twyfel. Hy het gesê: “Onderrigter, ons het die hele nag geswoeg en niks gevang nie, maar as u so sê, sal ek die nette laat sak.” Die laaste ding wat Petrus seker wou doen, was om daardie nette weer te laat sak—veral noudat die visse nie eens op soek was na kos nie! Hy het nietemin ingewillig en waarskynlik vir sy maats in ’n tweede boot gewink om hom te volg.—Lukas 5:4, 5.
Petrus het onverwags ’n gewig gevoel toe hy die nette begin optrek. Verbaas het hy harder getrek, en kort voor lank kon hy ’n menigte visse in die net sien spartel! Hy het koorsagtig vir die manne in die tweede boot beduie om te kom help. Terwyl hulle gehelp het, het dit gou duidelik geword dat een boot nie groot genoeg was vir al die visse nie. Hulle het al twee bote vol gemaak, en nog steeds was daar te veel—die bote het onder die gewig begin sink. Petrus was stomgeslaan. Hy het al voorheen Christus se krag in werking gesien, maar hierdie keer was dit so persoonlik! Hier was ’n man wat selfs die visse tot in die nette kon laat swem! Petrus het bang geword. Hy het op sy knieë neergeval en gesê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man.” Hoe sou hy ooit waardig kon wees om met die Een te assosieer wat die krag van God op sulke maniere gebruik?—Lukas 5:6-9.
Jesus het vriendelik gesê: “Hou op om bang te wees. Van nou af sal jy mense lewend vang” (Lukas 5:10, 11). Dit was nie die tyd om te twyfel of te vrees nie. Petrus se twyfelgedagtes in verband met alledaagse dinge soos visvang was ongegrond; sy vrese oor sy eie foute en onbevoegdhede was net so ongegrond. Jesus het ’n groot werk gehad om te doen, ’n bediening wat die geskiedenis sou verander. Hy het ’n God gedien wat “ryklik [sal] vergewe” (Jesaja 55:7). Jehovah sou in hulle fisiese sowel as geestelike behoeftes voorsien.—Matteus 6:33.
Petrus het gou gereageer, en so ook Jakobus en Johannes. “Hulle [het] die bote teruggebring land toe en alles laat staan en hom gevolg” (Lukas 5:11). Petrus het geloof gestel in Jesus en in die Een wat hom gestuur het. Dit was die beste besluit wat hy kon neem. Christene van vandag wat hulle twyfelgedagtes en vrees te bowe kom om hulle vir God se diens beskikbaar te stel, toon eweneens geloof. Sulke vertroue op Jehovah is nooit misplaas nie.—Psalm 22:4, 5.
“Waarom het jy begin twyfel?”
Sowat twee jaar nadat Petrus Jesus ontmoet het, het hy gedurende daardie winderige nag wat aan die begin genoem is, op die See van Galilea geroei. Ons weet natuurlik nie watter herinneringe by hom opgekom het nie. Daar was soveel dinge waaraan hy kon dink! Jesus het Petrus se skoonma genees. Hy het die Bergpredikasie gelewer. Hy het keer op keer, deur sy onderrigting en sy kragtige werke, getoon dat hy Jehovah se Uitverkorene, die Messias, is. Namate die maande verbygegaan het, het Petrus sy tekortkominge, soos sy neiging om skielik voor vrees en twyfelgedagtes te swig, ongetwyfeld al in ’n mate oorkom. Jesus het Petrus selfs as een van die 12 apostels gekies! Tog het Petrus nog nie heeltemal van sy vrees en twyfelgedagtes ontslae geraak nie, soos hy gou sou besef.
Gedurende die vierde nagwaak, of die een of ander tyd tussen drie-uur die oggend en sonsopkoms, het Petrus skielik opgehou roei en penorent gesit. Daar—anderkant die golwe—het iets beweeg! Was dit die sproei van die golwe wat in die maanlig geblink het? Nee, dit was te solied, te regop. Dit was ’n man! Ja, ’n man, en hy het op die oppervlak van die see geloop! Terwyl die gedaante nadergekom het, het dit gelyk of hy reg by hulle gaan verbyloop. Die dissipels het vreesbevange gedink dat dit ’n verskyning is. Die gedaante het gepraat: “Skep moed, dit is ek; moenie vrees nie.” Dit was Jesus!—Matteus 14:25-28.
Petrus het geantwoord: “Here, as dit u is, beveel my om oor die waters na u toe te kom.” Sy eerste reaksie het van moed getuig. Petrus was baie opgewonde oor hierdie unieke wonderwerk en wou hê dat sy geloof verder bevestig moes word. Hy wou deel van die aksie wees. Jesus het hom vriendelik geroep om te kom. Petrus het oor die kant van die boot geklouter tot op die golwende oppervlak van die see. Stel jou voor hoe Petrus gevoel het toe hy vastigheid onder sy voete vind en op die water staan. Hy was ongetwyfeld met verwondering vervul terwyl hy na Jesus toe geloop het. Maar dit was nie lank voordat ’n ander gevoel hom oorweldig het nie.—Matteus 14:29.
Petrus moes sy aandag op Jesus gevestig hou. Dit was Jesus wat Petrus, met Jehovah se krag, bo die golwe gehou het. En Jesus het dit gedoen omdat Petrus geloof in hom gestel het. Maar Petrus se aandag is afgelei. Ons lees: “Toe hy na die windstorm kyk, het hy bang geword.” Toe Petrus sien hoe daardie golwe teen die boot breek en die wind die sproei en skuim rondwaai, het hy paniekerig geword. In sy verbeelding het hy waarskynlik gesien hoe hy in daardie meer wegsink en daarin verdrink. Toe vrees in sy hart opgekom het, het sy geloof afgeneem. Die man wat Rots genoem is weens sy potensiaal om standvastig te wees, het soos ’n klip begin sink weens sy wankelende geloof. Petrus was ’n goeie swemmer, maar hy het nie nou op daardie vermoë staatgemaak nie. Hy het uitgeroep: “Here, red my!” Jesus het hom aan die hand gegryp en hom opgetrek. Toe het hy, terwyl hulle nog op die water se oppervlak was, hierdie belangrike les by Petrus tuisgebring: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”—Matteus 14:30, 31.
Ja, Petrus het “begin twyfel”! En twyfel kan kragtig en vernietigend wees. As ons daaraan toegee, kan dit ons geloof afbreek en ons geestelik laat sink. Ons moet hard daarteen stry! Hoe? Deur ons aandag te vestig op wat belangrik is. As ons tob oor dit wat ons bang maak, ons ontmoedig, ons aandag van Jehovah en sy Seun aflei, sal ons vind dat ons twyfelgedagtes toeneem. As ons ons aandag gevestig hou op Jehovah en sy Seun, op wat hulle reeds gedoen het, nou doen en nog sal doen vir diegene wat hulle liefhet, sal ons ondermynende twyfelgedagtes kan weerstaan.
Terwyl Petrus Jesus na die boot gevolg het, het hy die storm sien bedaar. Die See van Galilea het stil geword. Petrus en sy mededissipels het gesê: “U is werklik God se Seun” (Matteus 14:33). Toe die dag oor die meer begin breek, het Petrus se hart sekerlik oorgeloop van dankbaarheid. Hy het geleer om twyfelgedagtes en vrees te verwerp. Hy moes weliswaar nog baie leer voordat hy die rotsagtige Christen sou word wat Jesus vooruitgesien het. Maar hy was vasbeslote om aan te hou probeer, om aan te hou groei. Is jy net so vasbeslote? Jy sal beslis vind dat Petrus se geloof navolgenswaardig is.
[Prent op bladsy 22, 23]
Jesus het groot potensiaal in hierdie nederige visserman gesien
[Prent op bladsy 23]
‘Here, ek is ’n sondige man’
[Prent op bladsy 24, 25]
“Toe hy na die windstorm kyk, het hy bang geword”