Hoofstuk 80
Die skaapstalle en die Herder
JESUS het na Jerusalem gekom vir die Fees van die Tempelwyding, of Chanoeka, ’n fees wat die hertoewyding van die tempel aan Jehovah herdenk. In 168 v.G.J., ongeveer 200 jaar tevore, het Antiochus IV Epiphanes Jerusalem verower en die tempel en sy altaar verontreinig. Maar drie jaar later is Jerusalem herower, en die tempel is weer toegewy. Daarna is ’n jaarlikse hertoewydingsfees gehou.
Hierdie Fees van die Tempelwyding vind plaas op 25 Kislew, die Joodse maand wat met die laaste deel van November en die eerste deel van Desember op ons hedendaagse kalender ooreenstem. Daar is dus ’n bietjie meer as honderd dae oor tot die betekenisvolle Pasga van 33 G.J. Omdat dit die koue seisoen is, noem die apostel Johannes dit “winter”.
Jesus gebruik nou ’n gelykenis waarin hy van drie skaapstalle en sy rol as die Goeie Herder praat. Die eerste skaapstal waarvan hy praat, is die Mosaïese Wetsverbond-reëling. Die Wet was soos ’n muur wat die Jode afgeskei het van die verdorwe gebruike van diegene wat nie in hierdie spesiale verbond met God was nie. Jesus verduidelik: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is ’n herder van die skape.”
Ander het gekom en beweer dat hulle die Messias, of Christus, is, maar nie een van hulle was die ware herder van wie Jesus verder sê nie: “Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. . . . Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.”
Die “deurwagter” van die eerste skaapstal was Johannes die Doper. As die deurwagter het Johannes vir Jesus ‘oopgemaak’ deur sy identiteit te openbaar aan die simboliese skape wat hy sou uitlei om hulle te laat wei. Hierdie skape wat Jesus by hulle naam roep en uitlei, word uiteindelik in ’n ander skaapstal ingebring, soos hy verduidelik: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape”, dit wil sê, die deur van ’n nuwe skaapstal. Wanneer Jesus die nuwe verbond met sy dissipels instel en die daaropvolgende Pinkster heilige gees uit die hemel op hulle uitgiet, word hulle in hierdie nuwe skaapstal ingebring.
Jesus verduidelik sy rol verder en sê: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. . . . Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. . . . Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.”
Jesus het sy volgelinge kort tevore getroos en gesê: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.” Hierdie klein kuddetjie, wat uiteindelik 144 000 tel, kom in hierdie nuwe, of tweede, skaapstal. Maar Jesus sê vervolgens: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.”
Aangesien die “ander skape . . . nie aan hierdie stal behoort nie”, moet hulle aan ’n ander stal, ’n derde, behoort. Hierdie laaste twee stalle, of skaapkrale, het verskillende bestemmings. Die “klein kuddetjie” in die een stal sal saam met Christus in die hemel regeer, en die “ander skape” in die ander stal sal op die Paradysaarde lewe. Ondanks die feit dat daar twee stalle is, is die skape nogtans nie jaloers op mekaar nie en voel hulle nie afgeskeie van mekaar nie, want hulle word, soos Jesus sê, “een kudde” onder “een herder”.
Die Goeie Herder, Jesus Christus, lê sy lewe gewillig af vir albei skaapstalle. “Ek lê dit uit Myself af”, sê hy. “Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.” Toe Jesus dit sê, ontstaan daar verdeeldheid onder die Jode.
Baie in die skare sê: “Hy is van die duiwel besete en is kranksinnig; wat luister julle na Hom?” Maar ander sê: “Hierdie woorde is nie van ’n besetene nie.” Dan sê hulle, blykbaar met die genesing van die blindgebore man ’n paar maande tevore in gedagte: “’n Duiwel kan tog nie die oë van blindes open nie.” Johannes 10:1-22; 9:1-7; Lukas 12:32; Openbaring 14:1, 3; 21:3, 4; Psalm 37:29.
▪ Wat is die Fees van die Tempelwyding, en wanneer word dit gevier?
▪ Wat is die eerste skaapstal, en wie is die deurwagter daarvan?
▪ Hoe maak die deurwagter vir die Herder oop, en waarin word die skape daarna ingebring?
▪ Wie maak die Goeie Herder se twee stalle uit, en hoeveel kuddes word hulle?