Hoofstuk 91
Lasarus word opgewek
JESUS en die wat hom vergesel, kom nou by Lasarus se graf aan. Dit is eintlik ’n grot met ’n steen voor die ingang. “Neem die steen weg”, sê Jesus.
Martha maak beswaar, want sy verstaan nog nie wat Jesus van plan is om te doen nie. “Here”, sê sy, “hy ruik al, want hy is al vier dae dood.”
Maar Jesus vra: “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?”
Die steen word dus weggeneem. Dan slaan Jesus sy oë op en bid: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Jesus bid hardop sodat die mense kan besef dat wat hy nou gaan doen deur krag wat hy van God ontvang, vermag gaan word. Dan roep hy met ’n harde stem uit: “Lasarus, kom uit!”
Daarop kom Lasarus uit. Sy hande en voete is nog met grafdoeke gebind, en sy gesig is met ’n doek toegedraai. “Maak hom los en laat hom gaan”, sê Jesus.
Toe hulle die wonderwerk sien, het baie van die Jode wat gekom het om Maria en Martha te troos, in Jesus begin glo. Ander gaan egter na die Fariseërs om vir hulle te vertel wat gebeur het. Hulle en die owerpriesters roep dadelik ’n vergadering van die Joodse hooggeregshof, die Sanhedrin, byeen.
Die Sanhedrin sluit die huidige hoëpriester, Kajafas, sowel as Fariseërs en Sadduseërs, owerpriesters en voormalige hoëpriesters in. Hulle kla: “Wat sal ons doen?—want hierdie man doen baie tekens. As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem.”
Hoewel die godsdiensleiers erken dat Jesus “baie tekens doen”, is hulle net oor hulle eie posisie en gesag bekommerd. Die opwekking van Lasarus is veral vir die Sadduseërs ’n groot terugslag, aangesien hulle nie in die opstanding glo nie.
Kajafas, wat moontlik ’n Sadduseër is, praat nou en sê: “Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.”
God het Kajafas dit laat sê, want die apostel Johannes het later geskryf: “En dit het [Kajafas] nie uit homself gesê nie.” Wat Kajafas eintlik bedoel het, was dat Jesus doodgemaak moes word om te voorkom dat Hy hulle posisies van gesag en invloed verder ondermyn. Maar volgens Johannes het Kajafas ‘geprofeteer dat Jesus nie alleen vir die volk sou sterf nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot ’n eenheid saam te voeg’. En dit is inderdaad God se voorneme dat sy Seun as ’n losprys vir almal moet sterf.
Kajafas oorreed nou die Sanhedrin om planne te beraam om Jesus dood te maak. Maar Jesus, wat moontlik van hierdie planne te hore kom deur Nikodemus, ’n lid van die Sanhedrin wat hom goedgesind is, gaan daarvandaan weg. Johannes 11:38-54.
▪ Waarom bid Jesus hardop voordat hy Lasarus opwek?
▪ Hoe reageer diegene wat die opwekking sien?
▪ Wat toon hoe goddeloos die lede van die Sanhedrin is?
▪ Wat was Kajafas se bedoeling, maar wat het God deur middel van hom geprofeteer?