Die nuwe geboorte—Wat is die doel daarvan?
BAIE mense glo dat ’n mens weer gebore moet word om ewige redding te ontvang. Maar let op wat Jesus self gesê het oor die doel van die nuwe geboorte. Hy het gesê: “Tensy iemand weer gebore word, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3). ’n Mens moet dus weer gebore word sodat hy in God se Koninkryk kan ingaan, nie sodat hy redding kan ontvang nie. ‘Maar’, sal party dalk sê, ‘verwys hierdie twee uitdrukkings—om in die Koninkryk in te gaan en redding te ontvang—nie na dieselfde beloning nie?’ Nee. Om die verskil te verstaan, moet ons eers kyk na die betekenis van die uitdrukking “koninkryk van God”.
’n Koninkryk is ’n regeringsvorm. Die uitdrukking “koninkryk van God” beteken dus “regering van God”. Die Bybel leer dat Jesus Christus, die “seun van die mens”, die Koning is van God se Koninkryk en dat Christus medeheersers het (Daniël 7:1, 13, 14; Matteus 26:63, 64). Daarbenewens het ’n visioen wat die apostel Johannes ontvang het, geopenbaar dat Christus se medeheersers persone is wat gekies is “uit elke stam en taal en volk en nasie” en wat “as konings oor die aarde [sal] heers” (Openbaring 5:9, 10; 20:6). God se Woord toon verder dat diegene wat as konings sal heers, ’n “klein kuddetjie” van 144 000 persone uitmaak “wat van die aarde gekoop is”.—Lukas 12:32; Openbaring 14:1, 3.
Waar is die setel van God se Koninkryk? “Die koninkryk van God” word ook “die koninkryk van die hemele” genoem, wat toon dat Jesus en sy medekonings vanuit die hemel regeer (Lukas 8:10; Matteus 13:11). God se Koninkryk is dus ’n hemelse regering wat bestaan uit Jesus Christus en ’n groep medeheersers wat uit die mensdom gekies is.
Wat het Jesus dan bedoel toe hy gesê het dat ’n persoon weer gebore moet word om “in die koninkryk van God [in te gaan]”? Hy het bedoel dat ’n mens weer gebore moet word om saam met Christus ’n heerser in die hemel te word. Eenvoudig gestel, die doel van die nuwe geboorte is om ’n beperkte groep mense voor te berei om vanuit die hemel te heers.
Tot dusver het ons gesien dat die nuwe geboorte baie belangrik is, dat dit deur God teweeggebring word en dat dit ’n groep mense voorberei om vanuit die hemel te heers. Maar hoe vind die nuwe geboorte werklik plaas?
[Lokteks op bladsy 7]
Die doel van die nuwe geboorte is om ’n beperkte groep mense voor te berei om vanuit die hemel te heers
[Prent op bladsy 7]
God se Koninkryk bestaan uit Jesus Christus en ’n groep medeheersers wat uit die mensdom gekies is