Hoofstuk 17
Hy onderrig Nikodemus
TERWYL hy die Pasga van 30 G.J. bywoon, verrig Jesus merkwaardige tekens, of wonderwerke. Baie mense stel gevolglik geloof in hom. Nikodemus, ’n lid van die Sanhedrin, die Joodse hoër hof, is beïndruk en wil meer leer. Hy besoek Jesus dus gedurende die nag, moontlik omdat hy bang is dat dit afbreuk sal doen aan sy reputasie by ander Joodse leiers as hy gesien word.
“Rabbi”, sê hy, “ons weet dat U ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met Hom is nie.” Jesus antwoord Nikodemus en sê vir hom dat ’n mens “weer gebore” moet word om in die Koninkryk van God in te gaan.
Maar hoe kan ’n mens weer gebore word? “Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?” vra Nikodemus.
Nee, dit is nie wat dit beteken om weer gebore te word nie. “As iemand nie gebore word uit water en Gees nie”, verduidelik Jesus, “kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” Toe Jesus gedoop is en heilige gees op hom neergedaal het, is hy dus “uit water en Gees” gebore. Deur die gepaardgaande aankondiging vanuit die hemel: ‘Dit is my Seun in wie Ek ’n welbehae het’, het God aangekondig dat hy ’n geestelike seun verwek het wat die vooruitsig het om in die hemelse Koninkryk in te gaan. Later, op Pinksterdag van 33 G.J., sal ander gedooptes die heilige gees ontvang en sal hulle gevolglik ook weer gebore word as geestelike seuns van God.
Maar die rol van God se spesiale menslike Seun is lewensbelangrik. “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het”, sê Jesus vir Nikodemus, “so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo . . . die ewige lewe kan hê.” Ja, soos daardie Israeliete wat deur giftige slange gebyt is na die koperslang moes kyk om gered te word, moet alle mense geloof in God se Seun beoefen om uit hulle sterwende toestand gered te word.
Ter beklemtoning van Jehovah se liefdevolle rol hierin sê Jesus vervolgens vir Nikodemus: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Hier in Jerusalem, net ses maande ná die aanvang van sy bediening, maak Jesus dit dus duidelik dat Jehovah God die mensdom deur hom gaan red.
Jesus verduidelik verder vir Nikodemus: “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie”, dit wil sê, nie om die mensdom tot die dood te vonnis nie. Soos Jesus sê, is hy eerder gestuur “dat die wêreld deur Hom gered kan word”.
Nikodemus het in die nag na Jesus gekom omdat hy bang was. Dit is dus interessant dat Jesus sy gesprek met hom afsluit deur te sê: “En dit is die oordeel: dat die lig [wat deur Jesus in sy lewe en leringe beliggaam is] in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.” Johannes 2:23–3:21; Mattheüs 3:16, 17; Handelinge 2:1-4; Numeri 21:9.
▪ Wat gee aanleiding tot Nikodemus se besoek, en waarom kom hy in die nag?
▪ Wat beteken dit om “weer gebore” te word?
▪ Hoe lig Jesus sy rol in ons redding toe?
▪ Wat beteken dit dat Jesus nie gekom het om die wêreld te veroordeel nie?