Hoofstuk 130
By die See van Galilea
DIE apostels keer nou na Galilea terug, soos Jesus hulle vroeër beveel het. Maar hulle is onseker oor wat hulle daar moet doen. Na ’n rukkie sê Petrus vir Thomas, Natanael, Jakobus en sy broer Johannes en twee ander apostels: “Ek gaan visvang.”
“Ons gaan ook saam met jou”, antwoord die ses.
Die hele nag lank vang hulle niks. Maar net toe dit begin lig word, verskyn Jesus op die strand, maar die apostels weet nie dat dit Jesus is nie. Hy roep: “My kinders, het julle nie iets om te eet nie?”
“Nee”, skree hulle oor die water terug.
“Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry”, sê hy. En toe hulle dit doen, kan hulle nie hulle net intrek nie omdat daar soveel visse in is.
“Dit is die Here!” roep Johannes uit.
Toe Petrus dit hoor, trek hy sy bokleed aan, want hy het sy klere uitgetrek, en duik in die see in. Dan swem hy omtrent negentig meter strand toe. Die ander apostels volg in die skuitjie en sleep die net met visse.
Toe hulle op die strand kom, is daar vis op ’n koolvuur, en daar is brood. “Bring van die visse wat julle nou gevang het”, sê Jesus. Petrus klim in die skuit en trek die net land toe. Daar is 153 groot visse in die net!
“Kom eet”, nooi Jesus.
Hulle is almal te bang om vir hom te vra: “Wie is u?” want hulle weet almal dat dit Jesus is. Dit is Jesus se sewende verskyning ná sy opstanding en sy derde aan die apostels as ’n groep. Hy sit nou ontbyt voor en gee vir elkeen brood en vis.
Toe hulle klaar geëet het, kyk Jesus waarskynlik na die groot visvangs en vra vir Petrus: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?” Hy bedoel ongetwyfeld: Is jy meer geheg aan die vissersbedryf as aan die werk wat ek jou voorberei het om te doen?
“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet”, antwoord Petrus.
“Laat my lammers wei”, sê Jesus.
Hy vra hom weer, ’n tweede keer: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief?”
“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet”, antwoord Petrus ernstig.
“Pas my skape op”, beveel Jesus weer.
Dan vra hy hom ’n derde keer: “Simon, seun van Jona, het jy My lief?”
Teen hierdie tyd is Petrus bedroef. Hy wonder dalk of Jesus sy lojaliteit in twyfel trek. Toe Jesus onlangs verhoor is, het Petrus immers drie keer ontken dat hy hom ken. Petrus sê dus: “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet.”
“Laat my skape wei”, beveel Jesus ’n derde keer.
Jesus gebruik Petrus sodoende om aan die ander te toon hoe belangrik die werk is wat hy wil hê hulle moet doen. Hy gaan die aarde binnekort verlaat, en hy wil hê dat hulle die leiding moet neem om na diegene om te sien wat in God se kudde sal inkom.
Jesus toon nou dat, net soos hy gebind en tereggestel is omdat hy die werk gedoen het wat God aan hom opgedra het, Petrus ’n soortgelyke lyding sou deurmaak. “Toe jy jonger was”, sê Jesus vir hom, “het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ’n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie.” Ten spyte van die marteldood wat op Petrus wag, spoor Jesus hom aan: “Volg My.”
Toe Petrus omdraai, sien hy Johannes en vra: “Here, maar wat van hom?”
“As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom”, antwoord Jesus, “wat gaan dit jou aan? Volg jy My.” Baie van die dissipels het gedink dat hierdie woorde van Jesus beteken dat die apostel Johannes nooit sou sterf nie. Maar soos die apostel Johannes later verduidelik het, het Jesus nie gesê dat hy nie sou sterf nie, maar Jesus het net gesê: “As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?”
Johannes het later ook hierdie betekenisvolle opmerking gemaak: “En daar is nog baie dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.” Johannes 21:1-25; Mattheüs 26:32; 28:7, 10.
▪ Wat toon dat die apostels onseker was oor wat hulle in Galilea moes doen?
▪ Hoe herken die apostels Jesus by die See van Galilea?
▪ Hoeveel keer het Jesus nou sedert sy opstanding verskyn?
▪ Hoe beklemtoon Jesus die werk wat hy wil hê sy apostels moet doen?
▪ Hoe toon Jesus op watter manier Petrus sal sterf?
▪ Watter woorde van Jesus oor Johannes is deur baie van die dissipels verkeerd verstaan?