Het jy geweet?
Waarom bespreek die Bybelboek 1 Korintiërs vleis wat aan afgode geoffer is?
▪ Die apostel Paulus het geskryf: “Hou aan om alles te eet wat in ’n vleismark verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van julle gewete” (1 Korintiërs 10:25). Waar het hierdie vleis vandaan gekom?
Die offer van diere was die vernaamste seremonie in Griekse en Romeinse tempels, maar nie al die vleis van die diereoffers is gedurende die seremonie geëet nie. Die vleis wat by heidense tempels oorgebly het, is op openbare vleismarkte verkoop. Die boek Idol Meat in Corinth sê: “Kultusbeamptes . . . word in ander kontekste kokke en/of slagters genoem. Hulle het ’n deel van die vleis wat hulle gekry het vir die slag van die offerdier, op die mark verkoop.”
Nie al die vleis wat op die mark verkoop is, was dus vleis wat oorgebly het van godsdiensseremonies nie. Hele karkasse van skape is gevind in opgrawings by Pompeji se vleismark (Latyn, macellum). Dit gee te kenne, sê die geleerde Henry J. Cadbury, dat “lewende diere moontlik op die macellum verkoop is, asook diere wat daar geslag is sowel as die vleis van diere wat reeds geslag was of in ’n tempel geoffer is”.
Paulus se punt was dat, hoewel Christene nie aan heidense aanbidding sou deelneem nie, die vleis wat in ’n tempel geoffer is, op sigself nie besoedel was nie.
Waarom was daar in Jesus se dag spanning tussen die Jode en die Samaritane?
▪ Johannes 4:9 sê: “Jode het niks met Samaritane te doen nie.” Hierdie skeiding het blykbaar begin toe Jerobeam afgodediens in die noordelike tienstammeryk van Israel ingestel het (1 Konings 12:26-30). Die Samaritane was van Samaria, die hoofstad van die noordelike ryk. Toe die tien stamme in 740 VHJ deur die Assiriërs verower is, het die veroweraars heidense buitelanders in Samaria laat woon. Gemengde huwelike tussen hierdie buitelanders en die plaaslike bewoners het die Samaritane se aanbidding klaarblyklik verder verderf.
Eeue later het die Samaritane die Jode wat uit ballingskap in Babilon teruggekeer het, teëgestaan toe hulle Jehovah se tempel en Jerusalem se stadsmure probeer herbou het (Esra 4:1-23; Nehemia 4:1-8). Godsdienswedywering het toegeneem toe die Samaritane hulle eie tempel op die berg Gerisim gebou het, waarskynlik in die vierde eeu VHJ.
In Jesus se dag het die woord “Samaritaan” eerder ’n godsdienstige as ’n geografiese konnotasie gehad en het dit verwys na ’n aanhanger van die sekte wat in Samaria gefloreer het. Die Samaritane het nog steeds op die berg Gerisim aanbid, en die Jode het ’n minagtende, disrespekvolle gesindheid teenoor hulle gehad.—Johannes 4:20-22; 8:48.
[Prent op bladsy 12]
Erdebord wat ’n diereoffer uitbeeld, sesde eeu VHJ
[Erkenning]
Musée du Louvre, Paris
[Prent op bladsy 12]
Jerobeam het afgodediens ingestel