Jehovah openbaar sy heerlikheid aan die nederiges
“Die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en heerlikheid en die lewe.”—SPREUKE 22:4.
1, 2. (a) Hoe toon die boek Handelinge dat Stefanus “’n man vol geloof en heilige gees” was? (b) Wat bewys dat Stefanus nederig was?
STEFANUS was “’n man vol geloof en heilige gees”. Hy was ook “vol guns en krag”. As een van Jesus se vroeë dissipels het hy groot tekens en voortekens onder die volk gedoen. By een geleentheid het sekere manne opgestaan om met hom te redeneer, “en tog was hulle nie opgewasse teen die wysheid en die gees waarmee hy gepraat het nie” (Handelinge 6:5, 8-10). Stefanus was ongetwyfeld ’n goeie student van God se Woord, en hy het dit kragtig verdedig voor die Joodse godsdiensleiers van sy dag. Sy breedvoerige getuienis, wat in Handelinge hoofstuk 7 opgeteken staan, getuig van sy intense belangstelling in die ontvouing van God se voorneme.
2 In teenstelling met daardie godsdiensleiers, wat weens hulle posisie en kennis op die gewone mense neergesien het, was Stefanus nederig (Matteus 23:2-7; Johannes 7:49). Hoewel hy die Skrif goed geken het, was hy heel tevrede met ’n toewysing om “voedsel aan tafels uit te deel”, sodat die apostels hulle “aan gebed en aan die bediening van die woord” kon wy. Stefanus het ’n goeie naam onder die broers gehad, en hy is derhalwe gekies as een van die sewe manne van goeie getuienis wat na hierdie daaglikse voedselverdeling sou omsien. Hy het die taak nederig aanvaar.—Handelinge 6:1-6.
3. Hoe is God se onverdiende goedhartigheid op uitsonderlike wyse aan Stefanus betoon?
3 Jehovah het Stefanus se nederige gesindheid, tesame met sy geestelikheid en onkreukbaarheid, opgemerk. Toe Stefanus voor die groep vyandige Joodse leiers in die Sanhedrin getuig het, het sy teenstanders “gesien dat sy gesig soos die gesig van ’n engel is” (Handelinge 6:15). Sy gelaat was soos dié van ’n boodskapper van God en het die vrede weerspieël wat van die God van heerlikheid, Jehovah, gekom het. Nadat Stefanus ’n moedige getuienis voor die lede van die Sanhedrin gegee het, is God se onverdiende goedhartigheid op uitsonderlike wyse aan hom betoon. “Hy het, vol heilige gees, in die hemel ingetuur en God se heerlikheid gesien en Jesus wat aan God se regterhand staan” (Handelinge 7:55). Vir Stefanus het hierdie merkwaardige visioen Jesus se posisie as God se Seun en die Messias bevestig. Dit het nederige Stefanus versterk en hom verseker dat hy Jehovah se guns geniet.
4. Aan wie openbaar Jehovah sy heerlikheid?
4 Soos die visioen aan Stefanus toelig, openbaar Jehovah sy heerlikheid en sy voorneme aan godvresende individue wat nederig is en wat hulle verhouding met hom waardeer. “Die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en heerlikheid en die lewe”, sê die Bybel (Spreuke 22:4). Dit is dus noodsaaklik dat ons verstaan wat ware nederigheid is, hoe ons hierdie belangrike eienskap kan aankweek en hoe ons daarby baat vind as ons dit in alle aspekte van die lewe aan die dag lê.
Nederigheid—’n goddelike eienskap
5, 6. (a) Wat is nederigheid? (b) Hoe het Jehovah nederigheid aan die dag gelê? (c) Watter uitwerking moet Jehovah se nederigheid op ons hê?
5 Dit sal party dalk verbaas dat Jehovah God, die hoogste en glorierykste persoon in die heelal, die voortreflikste voorbeeld van nederigheid is. Koning Dawid het vir Jehovah gesê: “U sal my u skild van redding gee, en u regterhand sal my onderskraag, en u nederigheid sal my groot maak” (Psalm 18:35). Toe hy Jehovah as nederig beskryf het, het Dawid ’n Hebreeuse woord gebruik wat kom van ’n grondwoord wat “neergebuig” beteken. Benewens die woord “nederigheid” is daar ander woorde wat aan dieselfde grondwoord verwant is, soos “ootmoed”, “sagmoedigheid” en “neerbuiging”. Jehovah het dus nederigheid aan die dag gelê toe hy hom neergebuig het om met die onvolmaakte man Dawid te handel en hom as Sy verteenwoordigende koning te gebruik. Soos die opskrif van Psalm 18 toon, het Jehovah Dawid beskerm en onderskraag en hom “uit die palm van al sy vyande en uit die hand van Saul verlos”. Dawid het op sy beurt geweet dat enige grootheid of heerlikheid wat hy dalk as koning sou hê, afgehang het van Jehovah se nederige optrede ten behoewe van hom. Hierdie besef het Dawid gehelp om nederig te bly.
6 Wat van ons? Jehovah het dit goed geag om ons die waarheid te leer, en hy het ons dalk spesiale diensvoorregte deur middel van sy organisasie gegee, of hy het ons moontlik op die een of ander manier gebruik om sy wil te volbring. Hoe moet ons daaroor voel? Moet dit ons nie nederig laat voel nie? Moet ons nie dankbaar wees vir Jehovah se nederigheid en dit vermy om onsself te verhoog nie—iets wat sekerlik tot rampspoed sal lei?—Spreuke 16:18; 29:23.
7, 8. (a) Hoe kon Jehovah se nederigheid in sy handelinge met Manasse gesien word? (b) Hoe het Jehovah, sowel as Manasse, vir ons ’n voorbeeld in nederigheid gestel?
7 Jehovah openbaar nie net groot nederigheid deur met onvolmaakte mense te handel nie, maar hy is ook bereid om barmhartigheid te toon aan die geringe en om selfs diegene wat hulleself verneder, op te rig, of te verhoog (Psalm 113:4-7). Neem byvoorbeeld die geval van koning Manasse van Juda. Hy het sy bevoorregte posisie as koning misbruik om valse aanbidding te bevorder en het “op groot skaal gedoen wat sleg was in die oë van Jehovah, om hom aanstoot te gee” (2 Kronieke 33:6). Uiteindelik het Jehovah Manasse gestraf deur toe te laat dat die koning van Assirië hom van sy troon verwyder. In die gevangenis het Manasse “die aangesig van Jehovah sy God versag en hom grootliks bly verneder”, sodat Jehovah hom herstel het op die troon in Jerusalem, en Manasse “het te wete gekom dat Jehovah die ware God is” (2 Kronieke 33:11-13). Ja, op die ou end het Manasse se nederige gesindheid Jehovah behaag, wat op Sy beurt nederigheid geopenbaar het deur hom te vergewe en as koning te herstel.
8 Jehovah se bereidwilligheid om te vergewe en Manasse se berouvolle gesindheid voorsien vir ons belangrike lesse in nederigheid. Ons moet voortdurend in gedagte hou dat die manier waarop ons diegene behandel wat ons dalk aanstoot gegee het en die gesindheid wat ons aan die dag lê wanneer ons sondig, ’n invloed kan hê op hoe Jehovah met ons handel. As ons ander se oortredings vryelik vergewe en ons foute nederig erken, kan ons ons op Jehovah se barmhartigheid verlaat.—Matteus 5:23, 24; 6:12.
God se heerlikheid aan nederiges geopenbaar
9. Is nederigheid ’n teken van swakheid? Verduidelik.
9 Dit sal egter ’n fout wees om nederigheid en verwante eienskappe te beskou as ’n teken van swakheid of as ’n neiging om verkeerde dinge te verskoon. Soos die Heilige Skrif toon, is Jehovah nederig, en tog openbaar hy regverdige verontwaardiging en ontsagwekkende krag wanneer die situasie dit vereis. Weens sy nederigheid skenk Jehovah goedgunstige aandag aan, of betoon hy spesiale bedagsaamheid teenoor, diegene wat nederig is, terwyl hy op ’n afstand bly van diegene wat trots is (Psalm 138:6). Hoe betoon Jehovah spesiale bedagsaamheid teenoor sy nederige knegte?
10. Wat openbaar Jehovah aan die nederiges, soos 1 Korintiërs 2:6-10 toon?
10 Op sy bestemde tyd en deur die kommunikasiekanaal wat hy gekies het, openbaar Jehovah aan die nederiges besonderhede oor die uitvoering van sy voorneme. Hierdie glorieryke dinge bly verborge vir diegene wat met trots op mensewysheid of -denke vertrou of onversetlik daaraan vashou (1 Korintiërs 2:6-10). Maar die nederiges, wat ’n juiste begrip van Jehovah se voorneme gegee is, word beweeg om Jehovah te verheerlik omdat hulle sy ontsagwekkende heerlikheid al hoe meer waardeer.
11. Hoe het party in die eerste eeu ’n gebrek aan nederigheid getoon, en watter skadelike uitwerking het dit op hulle gehad?
11 In die eerste eeu het baie, met inbegrip van sommige wat beweer het dat hulle Christene is, ’n gebrek aan nederigheid getoon, en die dinge wat die apostel Paulus oor God se voorneme aan hulle geopenbaar het, het hulle laat struikel. Paulus het “’n apostel vir die nasies” geword, maar dit was nie weens sy nasionaliteit, geleerdheid, ouderdom of lang rekord van goeie werke nie (Romeine 11:13). Vleeslikgesindes beskou dikwels hierdie dinge as die faktore wat bepaal wie Jehovah as sy instrument moet gebruik (1 Korintiërs 1:26-29; 3:1; Kolossense 2:18). Maar Paulus was Jehovah se keuse, in ooreenstemming met Sy liefderyke goedhartigheid en regverdige voorneme (1 Korintiërs 15:8-10). Diegene wat deur Paulus as “uitnemende apostels” beskryf is, sowel as ander teenstanders, het geweier om Paulus en sy redenering uit die Skrif te aanvaar. Hulle gebrek aan nederigheid het verhinder dat hulle kennis en begrip verkry van die glorieryke manier waarop Jehovah sy voorneme vervul. Mag ons nooit diegene wat Jehovah kies om sy wil te volbring, geringag of vooruit veroordeel nie.—2 Korintiërs 11:4-6.
12. Hoe toon die voorbeeld van Moses dat Jehovah guns betoon aan diegene wat nederig is?
12 Aan die ander kant is daar baie Bybelvoorbeelde wat toelig hoe nederige mense begunstig is met ’n blik op God se heerlikheid. Moses, wat “verreweg die sagmoedigste” van alle mense was, het God se heerlikheid gesien en ’n intieme verhouding met hom geniet (Numeri 12:3). Die Skepper het groot guns betoon aan hierdie nederige man, wat 40 jaar lank ’n eenvoudige herder was, ’n groot deel van hierdie tydperk waarskynlik op die Arabiese Skiereiland (Eksodus 6:12, 30). Met Jehovah se steun het Moses die nasie Israel se woordvoerder en hooforganiseerder geword. Hy het tweerigting-kommunikasie met God geniet. In ’n visioen het hy “die voorkoms van Jehovah” aanskou (Numeri 12:7, 8; Eksodus 24:10, 11). Diegene wat hierdie nederige kneg en verteenwoordiger van God erken het, is ook geseën. Ons sal eweneens geseën word as ons die profeet wat groter is as Moses, Jesus, sowel as “die getroue en verstandige slaaf” wat deur hom aangestel is, erken en gehoorsaam.—Matteus 24:45, 46; Handelinge 3:22.
13. Hoe is Jehovah se heerlikheid in die eerste eeu aan nederige herders geopenbaar?
13 Wie het ‘Jehovah se heerlikheid sien glim’ toe die engel die goeie nuus aangekondig het oor die geboorte van “’n Redder . . . , wat Christus die Here is”? Dit was nie die hoogmoedige godsdiensleiers of die vername mense in hoë posisies nie, maar die nederige herders “wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle kuddes wag gehou het” (Lukas 2:8-11). Hierdie persone het nie groot aansien weens hulle kwalifikasies en werk geniet nie. En tog het Jehovah juis húlle raakgesien en besluit om die geboorte van die Messias eerste aan hulle bekend te maak. Ja, Jehovah openbaar sy heerlikheid aan dié wat nederig en godvresend is.
14. Watter seëninge van God ontvang diegene wat nederig is?
14 Wat leer ons uit hierdie voorbeelde? Dit wys vir ons dat Jehovah guns betoon aan die nederiges en aan hulle kennis en begrip van sy voorneme openbaar. Hy kies individue wat dalk nie aan sekere menslike verwagtinge voldoen nie en gebruik hulle om sy glorieryke voorneme aan ander bekend te maak. Dit behoort ons te beweeg om voort te gaan om op Jehovah, sy profetiese Woord en sy organisasie te vertrou vir leiding. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah sy nederige knegte ingelig sal hou oor die ontvouing van sy glorieryke voorneme. Die profeet Amos het gesê: “Die Soewereine Heer Jehovah sal niks doen tensy hy sy vertroulike saak aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”—Amos 3:7.
Kweek nederigheid aan en geniet God se guns
15. Waarom moet ons ons inspan om nederig te bly, en hoe word dit toegelig in die geval van koning Saul van Israel?
15 As ons altyd God se guns wil geniet, moet ons nederig bly. Dit is nie ’n geval van eenmaal nederig, altyd nederig nie. Iemand kan nederigheid laat vaar en toegee aan trots en selfverheffing, wat tot vermetelheid en rampspoed lei. Saul, die eerste gesalfde koning van Israel, het juis dit gedoen. Toe hy aanvanklik gekies is, het hy ‘klein in sy eie oë’ gevoel (1 Samuel 15:17). Maar nadat hy slegs twee jaar lank regeer het, het hy vermetel opgetree. Hy het Jehovah se reëling verontagsaam dat offerandes deur die profeet Samuel geoffer moes word, en hy het die feit dat hy sake in sy eie hande geneem het, probeer regverdig (1 Samuel 13:1, 8-14). Dit was die begin van ’n reeks gebeure wat sy gebrek aan nederigheid onmiskenbaar geopenbaar het. Gevolglik het hy God se gees en guns verloor, wat uiteindelik tot sy oneervolle dood gelei het (1 Samuel 15:3-19, 26; 28:6; 31:4). Die les is duidelik: Ons moet ons inspan om nederig en onderdanig te bly en stry teen ’n hoë dunk van onsself; sodoende sal ons vermetele dade vermy wat tot Jehovah se onguns lei.
16. Hoe kan dit ons help om nederigheid aan te kweek as ons oor ons verhouding met Jehovah en met ons medemens peins?
16 Hoewel nederigheid nie as een van die vrugte van God se gees genoem word nie, is dit ’n goddelike eienskap wat aangekweek moet word (Galasiërs 5:22, 23; Kolossense 3:10, 12). Aangesien dit te doen het met ’n gesindheid—dit wil sê hoe ons onsself en ander beskou—moet ons ’n doelbewuste poging aanwend om nederigheid te ontwikkel. As ons redeneer en peins oor ons verhouding met Jehovah en met ons medemens, kan dit ons help om nederig te bly. In God se oë is alle onvolmaakte vlees soos groen gras wat ’n ruk lank groei, dan verdroog en verwelk. Mense is soos blote sprinkane in ’n veld (Jesaja 40:6, 7, 22). Het enige grashalm rede om trots te wees net omdat dit ’n bietjie langer as ander grashalms is? Het ’n sprinkaan rede om te spog net omdat hy ’n bietjie verder as ander sprinkane kan spring? Die blote gedagte is belaglik. Daarom het die apostel Paulus sy mede-Christene herinner: “Want wie maak jou anders as ’n ander? Ja, wat het jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan inderdaad ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Korintiërs 4:7). Bepeinsing oor sulke Bybeltekste kan ons help om nederigheid aan te kweek en te openbaar.
17. Wat het die profeet Daniël gehelp om nederigheid aan te kweek, en wat kan ons help om dieselfde te doen?
17 Die Hebreeuse profeet Daniël is beskryf as ’n “besonder geliefde man” in God se oë omdat hy hom “verneder” het, dit wil sê omdat hy nederig was (Daniël 10:11, 12). Wat het Daniël gehelp om nederigheid aan te kweek? Eerstens, hy het onwankelbare vertroue in Jehovah geopenbaar en hom gereeld in gebed genader (Daniël 6:10, 11). Verder het Daniël God se Woord ywerig en met die regte beweegredes bestudeer, en dit het hom gehelp om God se glorieryke voorneme duidelik voor oë te hou. Hy was ook bereid om sy eie tekortkominge te erken, nie net dié van sy volk nie. En dit was sy opregte begeerte om God se regverdigheid te verhoog, nie sy eie nie (Daniël 9:2, 5, 7). Kan ons uit Daniël se uitstekende voorbeeld leer en nederigheid in alle aspekte van ons lewe probeer aankweek en openbaar?
18. Watter heerlikheid wag op dié wat vandag nederigheid aan die dag lê?
18 “Die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en heerlikheid en die lewe”, sê Spreuke 22:4. Ja, Jehovah betoon guns aan dié wat nederig is, en die gevolg is heerlikheid en die lewe. Die psalmis Asaf het byna opgehou om God te dien, maar toe hy sy denke deur Jehovah laat regstel het, het hy nederig erken: “Met u raad sal u my lei, en daarna sal u my selfs tot heerlikheid voer” (Psalm 73:24). Wat van vandag? Watter heerlikheid wag op dié wat nederigheid aan die dag lê? Hulle geniet nie net ’n begunstigde en geseënde verhouding met Jehovah nie, maar kan ook uitsien na die vervulling van koning Dawid se geïnspireerde woorde: “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.” Inderdaad ’n wonderlike toekoms!—Psalm 37:11.
Onthou jy?
• Waarom is Stefanus ’n voorbeeld van ’n nederige persoon aan wie Jehovah Sy heerlikheid geopenbaar het?
• Op watter maniere het Jehovah God nederigheid aan die dag gelê?
• Watter voorbeelde toon dat Jehovah sy heerlikheid aan die nederiges openbaar?
• Hoe kan Daniël se voorbeeld ons help om nederigheid aan te kweek?
[Venster op bladsy 12]
Sterk maar nederig
In 1919, by die streekbyeenkoms van die Bybelstudente (wat vandag as Jehovah se Getuies bekend staan) in Cedar Point, Ohio, VSA, het die 50-jarige J. F. Rutherford, wat op daardie stadium toesig oor die werk gehou het, met die grootste plesier aangebied om as ’n hoteljoggie te dien, deur bagasie te dra en byeenkomsgangers na hulle kamers te vergesel. Op die laaste dag van die byeenkoms het hy die gehoor van 7 000 besiel met die woorde: “Julle is ambassadeurs van die Koning van die konings en die Here van die here, wat vir die mense vertel van . . . die glorieryke koninkryk van ons Heer.” Hoewel broer Rutherford ’n man met sterk oortuigings was, ’n man wat die dinge wat hy geglo het die waarheid is, kragtig en onwrikbaar verdedig het, was hy ook waarlik nederig voor God, iets wat dikwels weerspieël is in sy gebede tydens oggendaanbidding by Bethel.
[Prent op bladsy 9]
Stefanus, wat die Skrif goed geken het, het nederig gehelp om voedsel uit te deel
[Prent op bladsy 10]
Manasse se nederige gesindheid het Jehovah behaag
[Prent op bladsy 12]
Waarom is Daniël ’n “besonder geliefde man” genoem?