HOOFSTUK 7
“Die goeie nuus oor Jesus” word bekend gemaak
Filippus stel ’n voorbeeld as ’n evangelieprediker
Gebaseer op Handelinge 8:4-40
1, 2. Hoe het pogings om die verkondiging van die goeie nuus in die eerste eeu stop te sit, die teenoorgestelde uitwerking gehad?
’N VLAAG van bittere vervolging breek uit, en Saulus begin “gewelddadig . . . optree” teen die gemeente – ’n uitdrukking wat in die oorspronklike taal uiterste wreedheid beskryf (Hand. 8:3). Die dissipels vlug, en vir party lyk dit dalk asof Saulus sy doelwit om die Christelike geloof uit te wis, gaan bereik. Maar die verstrooiing van die Christene het ’n onverwagse gevolg. Wat is dit?
2 Dié wat verstrooi word, begin “die goeie nuus van die woord bekend [maak]” in die lande waarheen hulle gevlug het (Hand. 8:4). Dink net! Nie alleen het die vervolging nie daarin geslaag om die verkondiging van die goeie nuus stop te sit nie, maar dit het in werklikheid gehelp om die boodskap te versprei! Deur die dissipels te verstrooi, het die vervolgers sonder om dit te besef, die Koninkrykspredikingswerk na verafgeleë gebiede laat uitbrei. Soos ons sal sien, het iets soortgelyks in hedendaagse tye plaasgevind.
“Dié wat verstrooi is” (Handelinge 8:4-8)
3. (a) Wie is Filippus? (b) Waarom het die meeste mense in Samaria nog nie die goeie nuus gehoor nie, maar wat het Jesus aangaande hierdie gebied voorspel?
3 Een van “dié wat verstrooi is”, was Filippus.a (Hand. 8:4; sien die venster “Filippus, ‘die evangelieprediker”.) Hy het na Samaria gegaan, ’n stad waar die meeste mense nog nie die goeie nuus gehoor het nie, want Jesus het die apostels eenkeer beveel: “Moenie in enige Samaritaanse stad ingaan nie, maar hou eerder aan om na die verlore skape van die huis van Israel te gaan” (Matt. 10:5, 6). Maar Jesus het geweet dat Samaria mettertyd ’n deeglike getuienis sou ontvang, want voor sy hemelvaart het hy gesê: “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.” – Hand. 1:8.
4. Hoe het die Samaritane op Filippus se predikingswerk gereageer, en wat het moontlik tot hulle reaksie bygedra?
4 Filippus het gevind dat Samaria “wit is vir die oes” (Joh. 4:35). Sy boodskap was verkwikkend vir dié wat daar gewoon het, en dit is maklik om te sien waarom dit so was. Die Jode het niks met die Samaritane te doen gehad nie, en baie het hulle selfs met minagting behandel. In teenstelling hiermee het die Samaritane gevind dat die boodskap van die goeie nuus nie klasseverskille voorstaan nie en dus hemelsbreed verskil van die bekrompe denke van die Fariseërs. Deur ywerig en onpartydig vir die Samaritane te getuig, het Filippus getoon dat hy nie besmet is met die vooroordeel van diegene wat op hulle neergesien het nie. Dit is dus geen wonder dat skares Samaritane “almal” na Filippus geluister het nie. – Hand. 8:6.
5-7. Gee voorbeelde van hoe die verstrooiing van Christene tot die verspreiding van die goeie nuus gelei het.
5 Vandag, net soos in die eerste eeu, het die vervolging van God se knegte nie die predikingswerk stopgesit nie. Keer op keer, wanneer Christene onder dwang van een plek na ’n ander verskuif is – hetsy na ’n tronk of ’n ander land – het dit eintlik net gehelp om die Koninkryksboodskap aan mense in die nuwe plek bekend te maak. Byvoorbeeld, gedurende die Tweede Wêreldoorlog kon Jehovah se Getuies ’n uitstekende getuienis in Nazi-konsentrasiekampe gee. ’n Jood wat die Getuies daar ontmoet het, vertel: “Die standvastigheid van die gevangenes wat Jehovah se Getuies was, het my oortuig dat hulle geloof op die Skrif gegrond is – en ek het self ’n Getuie geword.”
6 In party gevalle het selfs vervolgers ’n getuienis ontvang en gunstig daarop gereageer. Byvoorbeeld, toe ’n Getuie met die naam Franz Desch na die Gusen-konsentrasiekamp in Oostenryk oorgeplaas is, het hy die Bybel met ’n SS-offisier gestudeer. Stel jou voor hoe verheug die twee mans was toe hulle mekaar jare later weer by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies ontmoet en albei verkondigers van die goeie nuus is!
7 Iets soortgelyks het gebeur wanneer Christene weens vervolging van een land na ’n ander moes vlug. ’n Groot getuienis is byvoorbeeld in die 1970’s in Mosambiek gegee toe Malawiese Getuies soontoe moes vlug. Selfs toe teenstand later in Mosambiek ontstaan het, het die predikingswerk voortgegaan. “Party van ons is wel etlike kere weens ons predikingswerk voorgekeer en in hegtenis geneem”, sê Francisco Coana. “Maar die feit dat baie mense op die Koninkryksboodskap gereageer het, het ons oortuig dat God ons help, net soos hy die eerste-eeuse Christene gehelp het.”
8. Watter uitwerking het politieke en ekonomiese veranderinge op die predikingswerk gehad?
8 Vervolging is natuurlik nie die enigste rede waarom die Christelike geloof in ander gebiede groei nie. In onlangse dekades het politieke en ekonomiese veranderinge dit ook moontlik gemaak om die Koninkryksboodskap aan mense uit baie taal- en volksgroepe te verkondig. Party het uit gebiede wat deur oorlog en armoede geteister word, na stabieler plekke gevlug en die Bybel daar begin studeer. ’n Toestroming van vlugtelinge het tot die ontstaan van anderstalige gebiede gelei. Streef jy daarna om vir mense “uit alle nasies en stamme en volke en tale” in jou gebied te getuig? – Op. 7:9.
“Gee vir my ook hierdie gesag” (Handelinge 8:9-25)
9. Wie was Simon, en wat het hom blykbaar tot Filippus aangetrek?
9 Filippus het baie tekens in Samaria gedoen. Hy het byvoorbeeld mense met gebreke gesond gemaak en selfs bose geeste uitgedryf (Hand. 8:6-8). Een man was besonder beïndruk met Filippus se wonderdadige gawes. Hy was Simon, ’n towenaar wat so hooggeag was dat mense van hom gesê het: “God se groot krag is in hierdie man.” Nou het Simon ’n ooggetuie geword van die ware krag van God, soos geopenbaar in die wonderwerke wat Filippus verrig het, en Simon het ’n gelowige geword (Hand. 8:9-13). Maar later is Simon se beweegredes getoets. Hoe?
10. (a) Wat het Petrus en Johannes in Samaria gedoen? (b) Wat het Simon gedoen toe hy sien dat nuwe dissipels die heilige gees ontvang wanneer Petrus en Johannes hulle hande op hulle lê?
10 Toe die apostels hoor van die vermeerdering wat in Samaria plaasvind, het hulle Petrus en Johannes soontoe gestuur. (Sien die venster “Petrus gebruik die ‘sleutels van die Koninkryk’”.) Toe die twee apostels daar aankom, het hulle hulle hande op die nuwe dissipels gelê, waarna elkeen die heilige gees ontvang het.b Toe Simon dit sien, was hy gefassineerd. “Gee vir my ook hierdie gesag”, het hy vir die apostels gesê, “sodat enigeen op wie ek my hande lê, heilige gees kan ontvang.” Simon het hulle selfs geld aangebied, in die hoop dat hy hierdie heilige voorreg kon koop! – Hand. 8:14-19.
11. Watter vermaning gee Petrus vir Simon, en hoe reageer Simon?
11 In antwoord hierop het Petrus Simon streng aangespreek. “Mag jou geld saam met jou vergaan”, het die apostel gesê, “want jy het gedink dat jy die vrye gawe van God met geld kan koop. Jy het niks met hierdie saak te doen nie, want jou hart is nie reg in God se oë nie.” Petrus het Simon toe gemaan om berou te toon en om vir vergifnis te bid. “Smeek Jehovah”, het Petrus gesê, “om die goddelose dinge in jou hart te vergewe, as dit moontlik is.” Simon was klaarblyklik nie ’n goddelose man nie; hy wou doen wat reg is, maar het vir ’n oomblik die pad byster geraak. Hy het dus by die apostels gepleit: “Doen vir my ’n smeekgebed tot Jehovah dat niks wat julle gesê het, oor my sal kom nie.” – Hand. 8:20-24.
12. Wat is “simonie”, en hoe het dit in die Christendom ’n strik geword?
12 Die bestrawwing wat Petrus vir Simon gegee het, is vandag ’n waarskuwing vir Christene. Trouens, die Afrikaanse woord “simonie” is weens hierdie voorval geskep. “Simonie” verwys na die koop of verkoop van posisies, veral in godsdienstige konteks. Die geskiedenis van die afvallige Christendom is deurtrek van voorbeelde van hierdie gebruik. Trouens, die negende uitgawe van The Encyclopædia Britannica (1878) het gesê: “’n Studie van die geskiedenis van die Pouslike verkiesings laat die student met die oortuiging dat daar nog nooit ’n verkiesing was wat nie deur simonie besmet is nie, terwyl die simonie wat in die kardinaalsvergaderinge beoefen is, in baie gevalle van die ergste, onbeskaamdste en openlikste was.”
13. In watter opsigte moet Christene waak teen simonie?
13 Christene moet waak teen die sonde van simonie. Byvoorbeeld, hulle moet nie ruimhartige geskenke of vleitaal gebruik om gunste te probeer verkry by dié wat lyk of hulle ekstra voorregte in die gemeente aan ander kan toestaan nie. Aan die ander kant moet dié wat blykbaar in ’n posisie is om gunste toe te staan, daarteen waak om rykes voor te trek. Albei situasies behels simonie. Alle knegte van God moet hulle inderdaad as ‘minderes’ gedra en op Jehovah se gees wag om persone in diensvoorregte aan te stel (Luk. 9:48). Daar is geen plek in God se organisasie vir diegene wat hulle “eie eer” probeer soek nie. – Spr. 25:27.
“Verstaan u regtig wat u lees?” (Handelinge 8:26-40)
14, 15. (a) Wie was die “Etiopiese eunug”, en hoe het Filippus hom gevind? (b) Hoe het die Etiopiese man op Filippus se boodskap gereageer, en waarom was sy doop nie ’n impulsiewe daad nie? (Sien voetnoot.)
14 Jehovah se engel gee Filippus nou die opdrag om na die pad te gaan wat van Jerusalem na Gasa loop. As Filippus enigsins gewonder het waarom hy soontoe moes gaan, het hy die antwoord gekry kort nadat hy ’n Etiopiese eunug teëgekom het wat “hardop uit die boek van die profeet Jesaja gelees” het. (Sien die venster “In watter sin ’n ‘eunug’?”) Jehovah se heilige gees het Filippus beweeg om die man se wa te nader. “Verstaan u regtig wat u lees?” het hy die Etiopiër gevra terwyl hy langs die wa gehardloop het. “Hoe kan ek dit ooit verstaan”, het die Etiopiër geantwoord, “as iemand my nie lei nie?” – Hand. 8:26-31.
15 Die Etiopiër het Filippus genooi om op die wa te klim. Stel jou net die bespreking voor wat gevolg het! Die identiteit van die “skaap”, of “kneg”, van Jesaja se profesie was lank ’n raaisel (Jes. 53:1-12). Maar terwyl hulle voortgereis het, het Filippus aan die Etiopiese eunug verduidelik dat hierdie profesie in Jesus Christus vervul is. Soos dié wat op Pinkster 33 HJ gedoop is, het die Etiopiër – wat reeds ’n Joodse proseliet was – onmiddellik geweet wat hy moet doen. “Kyk!” het hy vir Filippus gesê. “Hier is water. Wat keer my om gedoop te word?” Die Etiopiër is sonder versuim deur Filippus gedoop!c (Sien die venster “Waterdoop”.) Daarna is Filippus na ’n nuwe toewysing in Asdod gelei, waar hy voortgegaan het om die goeie nuus bekend te maak. – Hand. 8:32-40.
16, 17. Hoe is die engele vandag by die predikingswerk betrokke?
16 Christene van vandag het die voorreg om deel te neem aan ’n werk soos dié wat Filippus gedoen het. Hulle kan die Koninkryksboodskap dikwels bekend maak aan mense wat hulle in informele situasies ontmoet, soos wanneer hulle reis. In baie gevalle is dit duidelik dat dit nie blote toeval is dat hulle iemand ontmoet wat opreg is van hart nie. Ons kan dit verwag, want die Bybel toon duidelik dat die engele die predikingswerk rig sodat die boodskap “elke nasie en stam en taal en volk” kan bereik (Op. 14:6). Engeleleiding in die predikingswerk is presies wat Jesus voorspel het. In sy illustrasie oor die koring en die onkruid het Jesus aangaande die oestyd – die tyd van die einde – gesê: “Dié wat die oes insamel, is engele.” Hy het ook gesê hierdie geesskepsele sou “alle struikelblokke en wettelose mense bymekaarmaak en hulle uit sy Koninkryk verwyder” (Matt. 13:37-41). Terselfdertyd sou die engele toekomstige hemelse erfgename van die Koninkryk – en later “’n groot menigte” “ander skape” – insamel, wat Jehovah na sy organisasie wil trek. – Op. 7:9; Joh. 6:44, 65; 10:16.
17 As bewys dat dit wel plaasvind, ontmoet ons soms mense in ons bediening wat sê dat hulle vir geestelike leiding gebid het. Kyk na een ondervinding waarin twee Koninkryksverkondigers en ’n jong kind saam gewerk het. Aan die einde van die oggend wou die twee Getuies ophou preek, maar die kind was buitengewoon gretig om na die volgende huis te gaan. Trouens, hy het alleen gegaan en aan die deur geklop! Toe ’n jong vrou die deur oopmaak, het die twee volwasse Getuies nader gegaan om met haar te gesels. Tot hulle verbasing het die vrou verduidelik dat sy so pas gebid het dat iemand haar moet besoek om haar te help om die Bybel te verstaan. ’n Bybelstudie is gereël!
18. Waarom moet ons nooit ons bediening as vanselfsprekend aanneem nie?
18 Omdat jy deel is van die Christengemeente, het jy die voorreg om saam met die engele te werk terwyl die hedendaagse predikingswerk op ’n ongeëwenaarde skaal plaasvind. Moet nooit hierdie voorreg as vanselfsprekend aanneem nie. As jy in jou pogings volhard, sal jy groot vreugde smaak terwyl jy aanhou om “die goeie nuus oor Jesus” bekend te maak. – Hand. 8:35.
a Dit is nie die apostel Filippus nie. Dit is eerder die Filippus wat, soos in Hoofstuk 5 van hierdie boek genoem is, onder die ‘sewe manne met ’n goeie reputasie’ was. Hulle was aangestel om te reël dat die kos elke dag onder die Griekssprekende en die Hebreeussprekende Christenweduwees in Jerusalem uitgedeel word. – Hand. 6:1-6.
b Destyds is nuwe dissipels blykbaar oor die algemeen met heilige gees gesalf, of het hulle heilige gees ontvang, wanneer hulle gedoop is. Dit het hulle in aanmerking laat kom vir die toekomstige hoop om as konings en priesters saam met Jesus in die hemel te regeer (2 Kor. 1:21, 22; Op. 5:9, 10; 20:6). Maar in hierdie geval is die nuwe dissipels nie by hulle doop gesalf nie. Die pas gedoopte Christene het die heilige gees – en die wonderdadige gawes wat daarmee gepaardgegaan het – ontvang eers nadat Petrus en Johannes hulle hande op hulle gelê het.
c Dit was nie ’n impulsiewe daad nie. Aangesien die Etiopiër ’n Joodse proseliet was, het hy reeds ’n kennis gehad van die Skrif, wat die Messiaanse profesieë insluit. Noudat hy kennis oor Jesus se rol in God se voorneme verkry het, kon hy sonder versuim gedoop word.