Bybelboek nommer 42—Lukas
Skrywer: Lukas
Waar geskryf: Cesarea
Geskrif voltooi: ca. 56–58 G.J.
Beskrewe tydperk: 3 v.G.J.–33 G.J.
1. Watter soort Evangelie het Lukas geskryf?
DIE Evangelie van Lukas is deur ’n man met ’n flink verstand en ’n goeie hart geskryf, en hierdie puik kombinasie van eienskappe, tesame met die leiding van God se gees, het gelei tot ’n verslag wat akkuraat sowel as hartlik en gevoelvol is. In die inleidende verse sê hy: “Ek [het] ook dit goedgedink, . . . nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe.” Sy gedetailleerde, noukeurige weergawe staaf hierdie verklaring ten volle.—Luk. 1:3.
2, 3. Watter eksterne en interne getuienis dui op die geneesheer Lukas as die skrywer van hierdie Evangelie?
2 Alhoewel Lukas nêrens in die verslag genoem word nie, is gesaghebbendes van die ou tyd dit eens dat hy die skrywer was. Die Evangelie is in die Canon Muratori (ca. 170 G.J.) aan Lukas toegeskryf en is deur tweede-eeuse skrywers soos Ireneus en Clemens van Alexandrië as sodanig aanvaar. Interne getuienis dui ook sterk op Lukas. Paulus noem hom in Kolossense 4:14 “die geneesheer Lukas, die geliefde”, en sy werk openbaar die wetenskaplike ordelikheid wat ’n mens van ’n geletterde man, soos ’n dokter, sou verwag. Sy puik woordkeuse en sy groot woordeskat, groter as dié van die ander drie Evangelieskrywers saam, maak ’n baie noukeurige en uitgebreide behandeling van sy uiters belangrike onderwerp moontlik. Sommige beskou sy verslag van die verlore seun as die beste kortverhaal wat ooit geskryf is.
3 Lukas gebruik meer as 300 mediese terme of woorde waaraan hy ’n mediese betekenis heg wat nie op dieselfde manier deur die ander skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte gebruik word nie (indien dit enigsins gebruik word).a Wanneer Lukas byvoorbeeld van melaatsheid praat, gebruik hy nie altyd dieselfde woord as die ander nie. Vir hulle is melaatsheid melaatsheid, maar vir die geneesheer is daar verskillende stadiums van melaatsheid, soos wanneer Lukas praat van “’n man vol van melaatsheid”. Lasarus, sê hy, was “vol swere”. Nie een van die ander Evangelieskrywers sê dat Petrus se skoonmoeder “’n hewige koors” gehad het nie (5:12; 16:20; 4:38). Alhoewel die ander drie ons vertel dat Petrus die oor van die priester se dienskneg afgekap het, meld net Lukas dat Jesus hom genees het (22:51). Dit is tipies van ’n dokter om van ’n vrou te sê dat sy “’n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie”. En wie anders as ‘die geliefde geneesheer Lukas’ sou die eerstehulp van die Samaritaan wat ’n man se “wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi” het, in sulke fyn besonderhede beskryf het?—13:11; 10:34.
4. Wanneer is Lukas waarskynlik geskryf, en watter omstandighede staaf hierdie beskouing?
4 Wanneer het Lukas sy Evangelie geskryf? Handelinge 1:1 gee te kenne dat die skrywer van Handelinge (wat ook Lukas was) “die eerste verhaal”, die Evangelie, vroeër opgestel het. Handelinge is heel waarskynlik omstreeks 61 G.J. voltooi terwyl Lukas by Paulus in Rome was en Paulus gewag het dat sy beroep op die keiser toegestaan word. Gevolglik het Lukas die Evangelieverslag waarskynlik omstreeks 56-58 G.J. in Cesarea geskryf, nadat hy aan die einde van Paulus se derde sendingreis saam met hom van Filippi teruggekeer het en terwyl Paulus twee jaar in die gevangenis in Cesarea gewag het voor hy weens sy beroep op die keiser na Rome geneem is. Aangesien Lukas daar in Palestina was, was hy gedurende hierdie tyd in ’n goeie posisie om alles oor die lewe en bediening van Jesus ‘van voor af noukeurig te ondersoek’. Dit wil derhalwe voorkom of Lukas se verslag Markus se Evangelie voorafgegaan het.
5. Watter bronne het Lukas moontlik gebruik om die gebeure van Jesus se lewe ‘noukeurig te ondersoek’?
5 Lukas was natuurlik nie ’n ooggetuie van al die gebeure wat hy in sy Evangelie opgeteken het nie, aangesien hy nie een van die 12 was nie en waarskynlik eers ná Jesus se dood ’n gelowige geword het. Hy het egter baie noue omgang met Paulus in die sendingveld gehad (2 Tim. 4:11; Fil. 24). Soos dus verwag kan word, gee sy geskrifte blyk van Paulus se invloed, soos gesien kan word deur hulle twee verslae van die Here se Aandmaal in Lukas 22:19, 20 en 1 Korinthiërs 11:23-25 te vergelyk. As nog ’n bron van materiaal kon Lukas Mattheüs se Evangelie geraadpleeg het. In die ‘noukeurige ondersoek van alles’ kon hy persoonlik onderhoude met talle ooggetuies van die gebeure van Jesus se lewe gevoer het, soos die dissipels wat nog gelewe het en moontlik Jesus se moeder, Maria. Ons kan seker wees dat hy geen steen onaangeroer gelaat het in die versameling van betroubare besonderhede nie.
6. Hoeveel van Lukas se Evangelie kom net in sý boek voor, en vir wie het hy geskryf? Waarom antwoord jy so?
6 Wanneer die vier Evangelieverslae ondersoek word, word dit duidelik dat die skrywers nie bloot mekaar se verslae herhaal nie en dat hulle ook nie net skryf om etlike getuies vir hierdie uiters belangrike Bybelverslag te voorsien nie. Lukas se verslag het ’n baie individualistiese benadering. Altesaam 59 persent van sy Evangelie kom net in sý boek voor. Hy teken ten minste ses spesifieke wonders en meer as twee keer soveel gelykenisse op wat nie in die ander Evangelieverslae gemeld word nie, terwyl ’n derde van sy Evangelie verhalend is en twee derdes aan die gesproke woord gewy word; sy Evangelie is die langste van die vier. Mattheüs het hoofsaaklik vir die Jode geskryf, en Markus vir nie-Joodse lesers, veral vir die Romeine. Lukas se Evangelie is aan die “hooggeagte Theofilus” gerig en deur hom aan ander mense, Jode sowel as nie-Jode (Luk. 1:3, 4). Om sy verslag by mense in die algemeen byval te laat vind, voer hy die geslagsregister van Jesus terug tot by “Adam, die seun van God”, en nie net tot by Abraham nie, soos Mattheüs wat spesiaal vir die Jode geskryf het. Hy maak in die besonder melding van Simeon se profetiese woorde dat Jesus die instrument sou wees om ‘die sluier van die nasies te verwyder’ en vertel dat ‘alle vlees God se middel tot redding sal sien’.—3:38; 2:29-32, vgl. NW; 3:6, vgl. NW.
7. Wat getuig kragtig van die egtheid van Lukas se Evangelie?
7 In alles wat hy geskryf het, blyk Lukas ’n besondere verteller te wees, want sy verslae is goed georden en akkuraat. Hierdie akkuraatheid en betroubaarheid in Lukas se geskrifte is ’n sterk bewys van hulle egtheid. ’n Regskundige skrywer het eenkeer gesê: “Terwyl romans, legendes en valse getuienis sorg dat verhaalde gebeurtenisse in die een of ander verafgeleë plek en op ’n onbepaalde tyd afspeel, waardeur die eerste reëls oortree word wat ons as regsgeleerdes vir ’n goeie pleidooi leer, naamlik dat ‘die verklaring die tyd en plek moet verskaf’, gee die Bybelverhale ons die tyd en plek van die dinge wat vertel word met die grootste noukeurigheid.”b Hy het Lukas 3:1, 2 as bewys aangehaal: “In die vyftiende jaar van die regering van keiser Tiberius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Judea en Herodes viervors van Galilea, en Filippus, sy broer, viervors van Iturea en die land Trachonitus, en Lisanias viervors van Abilene, tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kajafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn.” Hier is geen sprake van vaagheid ten opsigte van tyd of plek nie, want Lukas meld nie minder nie as sewe openbare beamptes sodat ons kan vasstel wanneer Johannes se bediening en dié van Jesus begin het.
8. Hoe gee Lukas die tyd van Jesus se geboorte “noukeurig” aan?
8 Lukas gee ons ook twee aanduidinge om vas te stel wanneer Jesus gebore is wanneer hy in Lukas 2:1, 2 sê: “In daardie dae het daar ’n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word. Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirenius goewerneur van Sirië was.” Dit was toe Josef en Maria na Betlehem gereis het om ingeskryf te word, en Jesus is gebore terwyl hulle daar was.c Ons kan nie anders nie as om met die kommentator saam te stem wat sê: “Een van die deurdringendste toetse van Lukas se aanvoeling vir geskiedenis is dat hy altyd daarin slaag om volmaakte akkuraatheid te bereik.”d Ons moet erken dat Lukas se bewering dat hy ‘alles van voor af noukeurig ondersoek het’, gegrond is.
9. Watter profesie van Jesus, wat deur Lukas opgeteken is, het in 70 G.J. ’n merkwaardige vervulling gehad?
9 Lukas wys ook daarop hoe die profesieë van die Hebreeuse Geskrifte akkuraat in Jesus Christus vervul is. Hy haal Jesus se geïnspireerde getuienis hieroor aan (24:27, 44). Verder het hy Jesus se eie profesieë oor toekomstige gebeure akkuraat opgeteken, en baie hiervan is reeds op merkwaardige wyse tot in die fynste voorspelde besonderhede vervul. Jerusalem is byvoorbeeld, net soos Jesus voorspel het, met beleëringswerke van gepunte pale omring en het in 70 G.J. in ’n verskriklike slagting vergaan (Luk. 19:43, 44, vgl. NW; 21:20-24; Matt. 24:2). Die sekulêre geskiedskrywer Flavius Josephus, wat ’n ooggetuie saam met die Romeinse leër was, getuig dat die land nagenoeg sestien kilometer ver van bome gestroop is om pale te verskaf, dat die beleëringsmuur 7,2 kilometer lank was, dat baie vroue en kinders van honger gesterf het en dat meer as 1 000 000 Jode hulle lewe verloor het en 97 000 gevange geneem is. Vandag nog is daar op die Triomfboog van Titus in Rome ’n uitbeelding van die Romeinse oorwinningsoptog met oorlogsbuit uit Jerusalem se tempel.e Ons kan seker wees dat ander geïnspireerde profesieë wat deur Lukas opgeteken is net so akkuraat vervul sal word.
INHOUD VAN LUKAS
10. Wat het Lukas hom ten doel gestel?
10 Lukas se inleiding (1:1-4). Lukas berig dat hy alles van die begin af noukeurig ondersoek het en dat hy besluit het om dit in logiese volgorde te skryf sodat die ‘hooggeagte Theofilus die dinge met volle sekerheid kan weet’.—1:3, 4.
11. Watter vreugdevolle gebeure word in die eerste hoofstuk van Lukas verhaal?
11 Die vroeë jare van Jesus se lewe (1:5–2:52). ’n Engel verskyn aan die bejaarde priester Sagaria met die vreugdevolle nuus dat hy ’n seun sal hê wat hy Johannes moet noem. Maar Sagaria sal nie kan praat totdat die seun gebore word nie. Soos beloof, word sy vrou Elisabet swanger, hoewel sy ook “op ver gevorderde leeftyd” is. Omtrent ses maande later verskyn die engel Gabriël aan Maria en vertel haar dat sy deur “die krag van die Allerhoogste” swanger sal word en ’n seun sal baar wat Jesus genoem moet word. Maria besoek Elisabet en verklaar juigend ná ’n blye groet: “My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker.” Sy praat oor Jehovah se heilige naam en van sy groot barmhartigheid teenoor diegene wat hom vrees. By Johannes se geboorte raak Sagaria se tong los om ook God se barmhartigheid bekend te maak, asook dat Johannes ’n profeet sal wees wat Jehovah se weg sal gereedmaak.—1:7, 35, 46, 47.
12. Wat word oor Jesus se geboorte en kinderdae gesê?
12 Op die bestemde tyd word Jesus in Betlehem gebore, en ’n engel maak hierdie “goeie tyding van groot blydskap” aan herders bekend wat hulle kuddes in die nag oppas. Besnydenis vind volgens die Wet plaas, en wanneer Jesus se ouers hom by die tempel ‘aan Jehovah aanbied’, spreek die bejaarde Simeon en die profetes Anna met betrekking tot die kind. Terug in Nasaret ‘groei hy en word hy sterk en vol van wysheid, en God se genade bly op hom’ (2:10, 22, 40, vgl. NW). Op die ouderdom van 12, tydens ’n besoek uit Nasaret aan Jerusalem, verbaas Jesus die leraars met sy begrip en sy antwoorde.
13. Wat verkondig Johannes, en wat gebeur by Jesus se doop en onmiddellik daarna?
13 Voorbereiding vir die bediening (3:1–4:13). In die 15de jaar van die regering van keiser Tiberius kom God se verklaring tot Johannes, die seun van Sagaria, en hy gaan verkondig “die doop van bekering tot vergifnis van sondes” sodat alle vlees ‘God se middel tot redding’ sal sien (3:3, 6, vgl. NW). Wanneer al die mense in die Jordaan gedoop word, word Jesus ook gedoop, en terwyl hy bid, daal die heilige gees op hom neer en spreek sy Vader goedkeuring vanuit die hemel uit. Jesus Christus is nou omtrent 30 jaar oud. (Lukas verskaf sy geslagsregister.) Na Jesus se doop lei die heilige gees hom 40 dae in die woestyn rond. Die Duiwel versoek hom hier sonder welslae en wyk dan “’n tyd lank van Hom”.—4:13.
14. Waar maak Jesus duidelik wat sy opdrag is, wat is dit, en hoe reageer sy luisteraars?
14 Jesus se vroeë bediening, hoofsaaklik in Galilea (4:14–9:62). In die sinagoge van sy tuisdorp, Nasaret, maak Jesus duidelik wat sy opdrag is deur die profesie van Jesaja 61:1, 2 te lees en op homself toe te pas: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig” (4:18, 19). Die mense se aanvanklike genoeë in sy woorde verander in toorn namate hy sy toespraak voortsit, en hulle probeer om hom om die lewe te bring. Hy gaan dus af na Kapernaüm, waar hy baie mense genees. Skares volg hom en probeer hom daar hou, maar hy sê vir hulle: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (4:43). Hy preek vervolgens in die sinagoges van Judea.
15. Beskryf hoe Petrus, Jakobus en Johannes, sowel as Mattheüs, geroep word.
15 In Galilea gee Jesus Simon (wat ook Petrus genoem word), Jakobus en Johannes ’n wonderdadige visvangs. Hy sê vir Simon: “Van nou af sal jy mense vang.” Hulle verlaat dus alles en volg hom. Jesus bly bid en onderrig, en ‘Jehovah se krag is daar sodat hy mense kan genees’ (5:10, 17). Hy roep Levi (Mattheüs), ’n veragte tollenaar, wat Jesus met ’n groot feesmaal eer wat ook deur “’n groot menigte van tollenaars” bygewoon word (5:29). Dit lei tot die eerste van ’n aantal botsings met die Fariseërs, wat hulle woedend maak en laat saamsweer om hom leed aan te doen.
16. (a) Wat doen Jesus voor hy die 12 apostels kies? (b) Watter punte word deur Lukas beklemtoon wanneer hy ’n parallelle weergawe van die Bergpredikasie gee?
16 Na Jesus ’n hele nag tot God gebid het, kies hy 12 apostels uit sy dissipels. Nog genesingswerke volg. Dan hou hy die toespraak wat in Lukas 6:20-49 opgeteken is, wat ’n verkorte parallel is van die Bergpredikasie in Mattheüs hoofstukke 5 tot 7. Jesus tref die teenstelling: “Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg” (6:20, 24). Hy vermaan sy luisteraars om hulle vyande lief te hê, om barmhartig te wees, om mededeelsaam te wees en om die goeie uit die goeie skat van die hart te voorskyn te bring.
17. (a) Watter wonders doen Jesus vervolgens? (b) Hoe antwoord Jesus die boodskappers van Johannes die Doper op die vraag of hy die Messias is?
17 Wanneer Jesus na Kapernaüm terugkeer, ontvang hy ’n versoek van ’n leërowerste om ’n siek dienskneg te genees. Hy voel nie dat hy waardig is om Jesus onder sy dak te ontvang nie en vra Jesus om dit met ‘’n woord te sê’ vanwaar hy is. Die dienskneg word gevolglik genees, en dit laat Jesus sê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so groot ’n geloof nie gevind nie” (7:7, 9). Vir die eerste keer wek Jesus ’n dooie op, die enigste seun van ’n weduwee van Nain, vir wie hy “innig jammer” voel (7:13). Wanneer die berig omtrent Jesus deur Judea versprei, stuur Johannes die Doper vanuit die gevangenis manne na hom om te vra: “Is U die Een wat sou kom?” In antwoord sê Jesus vir die boodskappers: “Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.”—7:19, 22, 23.
18. Met watter gelykenisse, werke en vermaninge gaan die Koninkryksprediking voort?
18 Vergesel van die 12 gaan Jesus ‘van die een stad en dorp na die ander en preek en verkondig die goeie nuus van die koninkryk van God’. Hy vertel die gelykenis van die saaier, en hy rond sy bespreking af deur te sê: “Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het” (8:1, 18). Jesus verrig verdere wonderlike werke en wonders. Hy gee ook die 12 gesag oor die demone en die mag om siektes te genees en stuur hulle uit “om die koninkryk van God te verkondig”. Vyfduisend word wonderdadig gevoed. Jesus verander van gedaante op die berg en genees die volgende dag ’n demonbesete seun wat die dissipels nie kon genees nie. Hy waarsku diegene wat hom wil volg: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.” As iemand vir die Koninkryk van God geskik wil wees, moet hy sy hand aan die ploeg slaan en nie agtertoe kyk nie.—9:2, 58.
19. Watter gelykenis vertel Jesus oor egte naasteliefde?
19 Jesus se latere bediening in Judea (10:1–13:21). Jesus stuur 70 ander in “die oes” uit, en hulle welslae in die bediening vervul hulle met vreugde. Terwyl Jesus preek, vra ’n man wat homself regverdig wil bewys hom: “Wie is my naaste?” In antwoord vertel Jesus die gelykenis van die goeie Samaritaan. ’n Man wat deur rowers half dood geslaan is en langs die pad lê, word deur ’n verbygaande priester en ’n Leviet geïgnoreer. Dit is ’n veragte Samaritaan wat stop, sy wonde liefdevol versorg, hom op sy eie dier sit, hom na ’n herberg bring en betaal sodat hy versorg word. Ja, die naaste is “hy wat barmhartigheid aan hom bewys het”.—10:2, 29, 37.
20. (a) Watter punt bring Jesus by Martha en Maria tuis? (b) Watter nadruk lê hy op gebed?
20 In Martha se huis bestraf Jesus haar liggies omdat sy te besorg raak oor haar huishoudelike take, en hy prys Maria omdat sy die goeie deel uitgekies het deurdat sy na sy woord gesit en luister het. Hy leer sy dissipels die modelgebed en wys ook op die nodigheid om te volhard in gebed, en sê: “[Bly] bid, en vir julle sal gegee word; [bly] soek, en julle sal vind.” Later dryf hy demone uit en verklaar hy diegene gelukkig “wat die woord van God hoor en dit bewaar”. Gedurende ’n maaltyd bots hy met die Fariseërs oor die Wet en spreek hy weë oor hulle uit omdat hulle “die sleutel van die kennis” wegneem.—11:9, 28, 52, vgl. NW.
21. Hoe waarsku Jesus teen hebsug, en wat spoor hy sy dissipels aan om te doen?
21 Wanneer Jesus weer by die skares is, dring iemand by hom aan: “Sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” Jesus dring tot die kern van die probleem deur wanneer hy antwoord: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.” Dan vertel hy die gelykenis van die ryk man wat sy skure afgebreek het om groteres te bou en wat dan daardie einste nag sterf en sy rykdom vir ander agterlaat. Jesus stel die punt bondig: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.” Na Jesus sy dissipels aangespoor het om God se Koninkryk eerste te soek, sê hy vir hulle: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.” Wanneer hy ’n vrou wat 18 jaar lank siek was op die Sabbat genees, lei dit tot nog ’n botsing met sy teenstanders, wat beskaamd gemaak word.—12:13, 15, 21, 32.
22. Deur watter pertinente gelykenisse gee Jesus onderrig betreffende die Koninkryk?
22 Jesus se latere bediening, hoofsaaklik in Perea (13:22–19:27). Jesus gebruik kleurryke illustrasies om sy luisteraars na die Koninkryk van God te rig. Hy wys dat diegene wat aansien en eer soek, verneder sal word. Laat hy wat ’n feesmaal berei die armes nooi wat niks kan terugbetaal nie; hy sal gelukkig wees en “in die opstanding van die regverdiges” vergoed word. Vervolgens vertel hy die gelykenis van die man wat ’n groot aandmaal berei. Die een na die ander genooide maak verskoning: Die een het ’n stuk grond gekoop, ’n ander het ’n klomp osse gekoop en ’n ander het pas ’n vrou getrou. Die huisheer word kwaad en stuur iemand om “die armes en verminktes en kreupeles en blindes” in te bring, en hy verklaar dat nie een van diegene wat aanvanklik genooi is sy maaltyd eens sal “smaak” nie (14:14, 21, 24). Hy vertel die gelykenis van die verlore skaap wat gevind word, en sê: “Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie” (15:7). Die gelykenis van die vrou wat haar huis uitvee om een penning, of dragme, te vind, het ’n soortgelyke strekking.f
23. Wat word deur die verhaal van die verlore seun toegelig?
23 Jesus vertel dan van die verlore seun wat sy vader om sy deel van die eiendom gevra het en dit toe verkwis het “deur losbandig te lewe”. Toe die seun ernstige gebrek begin ly het, het hy tot besinning gekom en teruggekeer huis toe om ’n beroep op sy vader se barmhartigheid te doen. Die vader, wat vir hom innig jammer gevoel het, het “gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen”. Goeie klere is gebring, ’n groot fees is berei en hulle het begin om “vrolik” te wees. Maar die ouer broer het beswaar gemaak. Sy vader het hom vriendelik reggehelp: “Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.”—15:13, 20, 24, 31, 32.
24. Watter waarhede beklemtoon Jesus in die gelykenis van die ryk man en Lasarus en in dié van die Fariseër en die tollenaar?
24 Wanneer die geldgierige Fariseërs die gelykenis van die onregverdige bestuurder hoor, beskimp hulle Jesus se onderrig, maar hy sê vir hulle: “Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ’n gruwel voor God” (16:15). Deur die gelykenis van die ryk man en Lasarus toon hy hoe groot die kloof is tussen dié wat deur God goedgekeur en dié wat deur hom afgekeur word. Jesus waarsku sy dissipels dat daar struikelblokke sal wees, maar “wee hom deur wie hulle kom”. Hy praat van moeilikhede wat sal ontstaan “wanneer die Seun van die mens geopenbaar word”. “Dink aan die vrou van Lot!” sê hy vir hulle (17:1, 30, 32). Deur ’n gelykenis gee hy die versekering dat God gewis sal optree ten behoewe van diegene wat “dag en nag tot Hom roep” (18:7). Dan wys hy die selfvoldanes deur ’n ander gelykenis tereg: ’n Fariseër wat in die tempel bid, dank God dat hy nie soos ander mense is nie. ’n Tollenaar, wat op ’n afstand staan en nie eens sy oë na die hemel wil ophef nie, bid: “o God, wees my, sondaar, genadig!” Hoe beoordeel Jesus dit? Hy verklaar dat die tollenaar regverdiger as die Fariseër is, “want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word” (18:13, 14). In Jerigo word Jesus deur die tollenaar Saggeüs onthaal en vertel hy die gelykenis van die tien ponde, waarin hy die resultaat wanneer iemand belange wat aan hom toevertrou is getrou gebruik, vergelyk met die gevolg wanneer hulle verberg word.
25. Hoe begin Jesus die laaste stadium van sy bediening, en watter profetiese waarskuwings gee hy?
25 Finale openbare bediening in Jerusalem en omstreke (19:28–23:25). Wanneer Jesus op ’n eselsvul in Jerusalem inry en deur die menigte dissipels begroet word as “die Koning wat kom in die Naam van die Here”, versoek die Fariseërs hom om sy dissipels te bestraf. Jesus antwoord: “As hulle swyg, sal die klippe uitroep” (19:38, 40). Hy gee sy onvergeetlike profesie oor Jerusalem se vernietiging en sê dat die stad met gepunte pale omhein, ingesluit en met haar kinders teen die grond verpletter sal word en dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Jesus onderrig die mense in die tempel deur die goeie nuus te verkondig en die subtiele vrae van die owerpriesters, die skrifgeleerdes en die Sadduseërs met knap gelykenisse en redenering te beantwoord. Jesus gee ’n kragtige beskrywing van die groot teken van die einde en meld weer dat Jerusalem deur leërs omsingel sal word. Mense sal beswyk van vrees oor die dinge wat sal gebeur, maar wanneer hierdie dinge plaasvind, moet sy volgelinge ‘na bo kyk en hulle hoofde ophef, omdat hulle verlossing naby is’. Hulle moet wakker bly sodat hulle kan ontkom aan die dinge wat gaan gebeur.—21:28.
26. (a) Watter verbonde stel Jesus in, en waarmee koppel hy dit? (b) Hoe word Jesus onder beproewing versterk, en watter bestrawwing gee hy ten tyde van sy inhegtenisname?
26 Dit is nou 14 Nisan 33 G.J. Jesus hou die Pasga en stel dan die “nuwe verbond” met sy getroue apostels in. Hy koppel dit met die simboliese maaltyd wat hy hulle beveel om tot sy gedagtenis te hou. Hy sê ook vir hulle: “Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het” (22:20, 29, vgl. NW). Dieselfde nag, wanneer Jesus op die Olyfberg bid, ‘verskyn ’n engel uit die hemel aan hom en versterk hy Jesus. Maar hy kom in ’n sware stryd en begin met groter inspanning bid, en sy sweet word soos bloeddruppels wat op die grond val.’ ’n Gespanne atmosfeer ontstaan wanneer die verraaier Judas aan die hoof van die menigte opdaag om Jesus in hegtenis te neem. Die dissipels roep uit: “Here, moet ons met die swaard slaan?” Een van hulle kap wel die oor van die dienskneg van die hoëpriester af, maar Jesus bestraf hulle en genees die gewonde man.—22:43, 44, 49.
27. (a) Waarin faal Petrus? (b) Watter beskuldigings word teen Jesus ingebring, en onder watter omstandighede word hy verhoor en gevonnis?
27 Jesus word vir ondervraging na die hoëpriester se huis gedwing, en in die koue van die nag sluit Petrus by die skare aan wat om ’n vuur is. By drie geleenthede word hy daarvan beskuldig dat hy ’n volgeling van Jesus is, en drie keer ontken hy dit. Dan kraai die haan. Die Here draai om en kyk Petrus aan, en Petrus, wat onthou dat Jesus presies dit voorspel het, gaan uit en ween bitterlik. Nadat Jesus na die Sanhedrin-saal gesleep is, word hy nou voor Pilatus gelei en daarvan beskuldig dat hy die volk ondermyn, die betaling van belasting verbied en sê “dat Hy self Christus, die Koning, is”. Wanneer Pilatus uitvind dat Jesus ’n Galileër is, stuur hy hom na Herodes, wat hom toevallig op daardie tydstip in Jerusalem bevind. Herodes en sy soldate dryf die spot met Jesus en stuur hom terug om voor ’n rasende skare verhoor te word. Pilatus ‘lewer Jesus aan hulle wil oor’.—23:2, 25.
28. (a) Wat belowe Jesus die dief wat geloof in hom toon? (b) Wat teken Lukas op oor Jesus se dood, begrafnis en opstanding?
28 Jesus se dood, opstanding en hemelvaart (23:26–24:53). Jesus word tussen twee kwaaddoeners aan ’n paal gehang. Een bespot hom, maar die ander openbaar geloof en vra dat Jesus hom in sy Koninkryk moet onthou. Jesus belowe: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (23:43, NW). Dan kom daar ’n ongewone duisternis, die voorhangsel van die tempel skeur middeldeur en Jesus roep uit: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Hierop sterf hy, en sy liggaam word geneem en in ’n graf gelê wat in ’n rots uitgekap is. Op die eerste dag van die week gaan die vroue wat saam met hom van Galilea gekom het na die graf, maar hulle kan Jesus se liggaam nie vind nie. Net soos hy self voorspel het, het hy op die derde dag opgestaan!—23:46.
29. Met watter vreugdevolle verslag eindig Lukas se Evangelie?
29 Wanneer Jesus op die pad na Emmaüs aan twee van sy dissipels verskyn sonder om homself bekend te maak, praat hy met hulle oor sy lyding en lê hy die Skrif vir hulle uit. Skielik herken hulle hom, maar hy verdwyn. Nou sê hulle: “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” Hulle haas hulle terug na Jerusalem om die ander dissipels te vertel. Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, verskyn Jesus in hulle midde. Uit loutere vreugde en verwondering kan hulle dit nie glo nie. Dan ‘open hy hulle verstand’ heeltemal om aan die hand van die Skrif die betekenis van alles wat gebeur het te verstaan. Lukas sluit sy Evangelieverslag af met ’n beskrywing van Jesus se hemelvaart.—24:32, 45.
WAAROM NUTTIG
30, 31. (a) Hoe bou Lukas vertroue op in die feit dat die Hebreeuse Geskrifte deur God geïnspireer is? (b) Watter woorde van Jesus haal Lukas ter ondersteuning hiervan aan?
30 Die goeie nuus “volgens Lukas” bou ’n mens se vertroue in die Woord van God op en versterk jou geloof sodat jy staande kan bly teen die aanslae van ’n vyandige wêreld. Lukas verskaf talle voorbeelde van akkurate vervullings van die Hebreeuse Geskrifte. Hy toon hoe Jesus sy opdrag in spesifieke terme aan die boek Jesaja ontleen, en dit lyk of Lukas dit dwarsdeur die boek as ’n tema gebruik (Luk. 4:17-19; Jes. 61:1, 2). Dit was een van die geleenthede waar Jesus uit die Profete aangehaal het. Hy het ook uit die Wet aangehaal, soos toe hy die Duiwel se drie versoekinge verwerp het, en uit die Psalms, soos toe hy sy teenstanders gevra het: “Hoe is dit dat hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is?” Lukas se verslag bevat talle ander aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte.—Luk. 4:4, 8, 12; 20:41-44; Deut. 8:3; 6:13, 16; Ps. 110:1.
31 Toe Jesus op ’n eselsvul in Jerusalem ingery het, soos in Sagaria 9:9 voorspel is, het die menigtes hom met vreugde begroet en die teks in Psalm 118:26 op hom toegepas (Luk. 19:35-38). Op een plek is twee verse van Lukas genoeg om ses aspekte te dek wat die Hebreeuse Geskrifte oor Jesus se smadelike dood en sy opstanding geprofeteer het (Luk. 18:32, 33; Ps. 22:8; Jes. 50:6; 53:5-7; Jona 1:17). Ten slotte laat Jesus na sy opstanding die belangrikheid van al die Hebreeuse Geskrifte kragtig tot die dissipels deurdring: “Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan” (Luk. 24:44, 45). Soos daardie eerste dissipels van Jesus Christus kan ons ook verlig word en sterk geloof verkry deur aandag te skenk aan die vervullings van die Hebreeuse Geskrifte, wat so akkuraat deur Lukas en die ander skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte uiteengesit is.
32. Hoe beklemtoon Lukas se verslag die Koninkryk en wat ons gesindheid teenoor die Koninkryk moet wees?
32 In sy verslag vestig Lukas voortdurend die leser se aandag op die Koninkryk van God. Lukas beklemtoon die Koninkrykshoop vanaf die begin van die boek, waar die engel Maria belowe dat die kind wat sy sal baar “koning [sal] wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie”, tot die laaste hoofstukke waar Jesus sê dat hy die apostels in die verbond vir ’n Koninkryk opneem (1:33; 22:28, 29, vgl. NW). Hy toon dat Jesus die leiding in die Koninkryksprediking geneem het en dat hy die 12 apostels, en later die 70, uitgestuur het om hierdie einste werk te doen (4:43; 9:1, 2; 10:1, 8, 9). Die onverdeelde toegewydheid wat nodig is om die Koninkryk in te gaan, word deur Jesus se pertinente woorde onderstreep: “Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God”, en “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”— 9:60, 62.
33. Gee voorbeelde van hoe Lukas gebed benadruk. Watter les kan ons hieruit leer?
33 Lukas lê nadruk op gebed. Sy Evangelie is uitsonderlik in hierdie opsig. Dit vertel van die menigte wat gebid het terwyl Sagaria in die tempel was, van Johannes die Doper wat ter verhoring van gebede om ’n kind gebore is en van die profetes Anna wat dag en nag gebid het. Dit beskryf hoe Jesus ten tyde van sy doop gebid het, hoe hy die hele nag in gebed deurgebring het voor hy die 12 gekies het en hoe hy gedurende die transfigurasie gebid het. Jesus maan sy dissipels om ‘gedurig te bid en nie moedeloos te word nie’, en hy lig dit toe deur te vertel van ’n volhardende weduwee wat ’n regter voortdurend gesmeek het totdat hy aan haar reg gedoen het. Net Lukas vertel van die dissipels se versoek dat Jesus hulle leer bid en dat Jesus deur ’n engel versterk is toe hy op die Olyfberg gebid het; en net hy teken die woorde van Jesus se laaste gebed op: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (1:10, 13; 2:37; 3:21; 6:12; 9:28, 29; 18:1-8; 11:1; 22:39-46; 23:46). Soos in die tyd toe Lukas sy Evangelie opgeteken het, is gebed vandag ’n uiters belangrike voorsiening om almal te versterk wat die goddelike wil doen.
34. Watter eienskappe van Jesus beklemtoon Lukas as ’n goeie voorbeeld vir Christene?
34 Met sy skerp waarnemingsvermoë en sy vloeiende, beskrywende pen, skenk Lukas hartlikheid en lewe aan Jesus se onderrig. Jesus se liefde, vriendelikheid, barmhartigheid en medelye jeens die swakkes, verdruktes en vertraptes vorm ’n skerp teenstelling met die kil, formele, bekrompe, huigelagtige godsdiens van die skrifgeleerdes en Fariseërs (4:18; 18:9). Jesus gee voortdurend bemoediging en hulp aan die armes, die gevangenes, die blindes en die verbryseldes, en verskaf sodoende ’n uitstekende voorbeeld vir diegene wat noukeurig ‘sy voetstappe wil navolg’.—1 Pet. 2:21.
35. Waarom kan ons Jehovah waarlik dankbaar wees dat hy Lukas se Evangelie voorsien het?
35 Net soos Jesus, die volmaakte, wonderdoenende Seun van God, liefdevolle besorgdheid vir sy dissipels en alle opregtes van hart getoon het, moet ons ook daarna strewe om ons bediening in liefde, ja, weens “die innige barmhartigheid van onse God” uit te voer (Luk. 1:78). Hiervoor is die goeie nuus “volgens Lukas” inderdaad uiters nuttig en heilsaam. Ons kan Jehovah waarlik dankbaar wees dat hy ‘die geliefde geneesheer Lukas’ geïnspireer het om hierdie akkurate, opbouende en aanmoedigende verslag te skryf, wat op redding deur middel van die Koninkryk onder Jesus Christus, “God se middel tot redding”, wys.—Kol. 4:14; Luk. 3:6, NW.
[Voetnote]
a The Medical Language of Luke, 1954, W. K. Hobart, bladsye xi-xxviii.
b A Lawyer Examines the Bible, 1943, I. H. Linton, bladsy 38.
c Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 766-7.
d Modern Discovery and the Bible, 1955, A. Rendle Short, bladsy 211.
e The Jewish War, V, 491-515, 523 (xii, 1-4); VI, 420 (ix, 3); sien ook Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 751-2.
f ’n Dragme was ’n Griekse silwermuntstuk wat sowat 3,4 g geweeg het.