HOOFSTUK 20
Jehovah se woord ‘groei en word kragtiger’ ondanks vervolging
Hoe Apollos en Paulus bydra tot die voortgesette oorwinning van die goeie nuus
Gebaseer op Handelinge 18:23–19:41
1, 2. (a) Voor watter gevaar kom Paulus en sy metgeselle in Efese te staan? (b) Wat sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?
’N GESKREEU, uitroepe en die dreuning van ’n skare wat hardloop, weergalm deur die strate van Efese. ’n Wanordelike skare het gevorm, en ’n volskaalse oproer het uitgebreek! Twee van die apostel Paulus se reisgenote word gegryp en saamgesleep. Die breë straat waar die winkels geleë is, loop vinnig leeg terwyl die rasende skare groei en in die stad se yslike amfiteater instroom, wat plek het vir 25 000 toeskouers. Die meeste van die mense weet nie eens wat die rede vir die opskudding is nie, maar hulle het ’n vae idee dat hulle tempel en hulle geliefde godin Artemis bedreig word. Hulle begin dus aanhoudend skreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” – Hand. 19:34.
2 Hier sien ons weer hoe Satan gepeupelgeweld probeer gebruik om die verspreiding van die goeie nuus van God se Koninkryk stop te sit. Die bedreiging van geweld is natuurlik nie Satan se enigste taktiek nie. In hierdie hoofstuk sal ons ’n paar van die slinkse planne bespreek wat Satan gebruik het in ’n poging om daardie eerste-eeuse Christene se werk en eenheid te ondermyn. Nog belangriker, ons sal sien dat al sy taktieke misluk het, want “die woord van Jehovah [het] grootliks bly groei en kragtiger geword” (Hand. 19:20). Waarom het daardie Christene oorwin? Om dieselfde redes dat ons vandag oorwin. Die oorwinning behoort natuurlik aan Jehovah en nie aan ons nie. Maar soos die eerste-eeuse Christene, moet ons ons deel doen. Met die hulp van Jehovah se gees kan ons eienskappe aankweek wat sal help om die sukses van ons bediening te verseker. Kom ons bespreek eers die voorbeeld van Apollos.
Hy “het die Skrif baie goed geken” (Handelinge 18:24-28)
3, 4. Watter leemte het Aquila en Priscilla in Apollos opgemerk, en wat het hulle daaromtrent gedoen?
3 Terwyl Paulus gedurende sy derde sendingreis op pad was na Efese, het ’n Jood met die naam Apollos in die stad aangekom. Hy was van die beroemde stad Aleksandrië, Egipte. Apollos het ’n paar uitstekende eienskappe gehad. Hy was ’n baie goeie spreker. En behalwe dat hy goed kon praat, ‘het hy die Skrif ook baie goed geken’. Verder was hy “vol ywer as gevolg van die heilige gees”. Daarom het Apollos Joodse gehore in die sinagoge met vrymoedigheid toegespreek. – Hand. 18:24, 25.
4 Aquila en Priscilla het Apollos hoor praat. Hulle was ongetwyfeld verheug om te hoor hoe hy “die dinge oor Jesus noukeurig aan ander [leer]”. Wat hy oor Jesus gesê het, was reg. Maar kort voor lank het daardie Christenegpaar ’n belangrike leemte in Apollos se kennis opgemerk. Hy was “net bekend met die doop van Johannes”. Hierdie nederige egpaar, tentmakers van beroep, is nie geïntimideer deur die feit dat Apollos goed kon praat en geleerd was nie. Hulle het hom eerder “saamgeneem en die weg van God vir hom nog duideliker gemaak” (Hand. 18:25, 26). En hoe het hierdie geleerde man wat so goed kon praat, gereageer? Hy het klaarblyklik een van die belangrikste eienskappe geopenbaar wat ’n Christen kan aankweek – nederigheid.
5, 6. Wat het Apollos in staat gestel om bruikbaarder vir Jehovah te word, en wat kan ons uit Apollos se voorbeeld leer?
5 Omdat Apollos die hulp van Aquila en Priscilla aanvaar het, het hy doeltreffender geword as ’n kneg van Jehovah. Hy het daarna na Agaje gereis, waar hy die gelowiges “baie gehelp” het. Sy prediking was ook doeltreffend teen die Jode in daardie gebied wat volgehou het dat Jesus nie die voorspelde Messias is nie. Lukas vertel: “Hy het die Jode in die openbaar kragtig en deeglik verkeerd bewys en vir hulle uit die Skrif gewys dat Jesus die Christus is” (Hand. 18:27, 28). Wat ’n seën het Apollos tog geword! Hy was in werklikheid nog ’n rede waarom “die woord van Jehovah” kragtiger geword het. Wat kan ons uit Apollos se voorbeeld leer?
6 Dit is absoluut noodsaaklik dat Christene nederigheid aankweek. Elkeen van ons is met verskillende gawes geseën – of dit nou verband hou met natuurlike vermoëns, ondervinding of kennis wat ons opgedoen het. Maar ons nederigheid moet ons gawes oortref. Anders word ons sterk punte dalk ons swak punte. Ons word dalk vrugbare grond waarin die giftige onkruid van hoogmoed kan groei (1 Kor. 4:7; Jak. 4:6). As ons waarlik nederig is, sal ons probeer om ander hoër as onsself te beskou (Fil. 2:3). Ons sal nie gegrief wees as ons tereggewys word of weier om deur ander geleer te word nie. Ons sal beslis nie trots vasklou aan ons eie idees as ons uitvind dat dit nie in ooreenstemming met die huidige leiding van die heilige gees is nie. Solank ons nederig bly, is ons bruikbaar vir Jehovah en sy Seun. – Luk. 1:51, 52.
7. Hoe het Paulus en Apollos ’n voorbeeld van nederigheid gestel?
7 Nederigheid werk ook wedywering teë. Kan jy jou voorstel hoe gretig Satan was om verdeeldheid onder daardie vroeë Christene te saai? Hoe verheug sou hy tog gewees het as twee dinamiese persoonlikhede soos Apollos en die apostel Paulus toegelaat het dat hulle mededingers word en dalk jaloers gewedywer het om invloed onder die gemeentes! Dit kon maklik gebeur het. In Korinte het party Christene begin sê: “Ek behoort aan Paulus”, terwyl ander gesê het: “Maar ek aan Apollos.” Het Paulus en Apollos sulke verdelende gevoelens aangemoedig? Nee! Paulus het Apollos se bydrae tot die werk nederig erken en hom diensvoorregte gegee. Op sy beurt het Apollos Paulus se leiding gevolg (1 Kor. 1:10-12; 3:6, 9; Tit. 3:12, 13). Wat ’n uitstekende voorbeeld van nederige samewerking is dit tog vandag vir ons!
Hy ‘redeneer met die mense om hulle van die Koninkryk van God te oortuig’ (Handelinge 18:23; 19:1-10)
8. Met watter roete het Paulus na Efese teruggekeer, en waarom?
8 Paulus het belowe om na Efese terug te keer, en hy het sy woord gehou (Hand. 18:20, 21).a Maar let op hoe hy teruggekeer het. Ons het hom laas in Antiogië, Sirië, gesien. Om by Efese te kom, kon hy die kort reis na Seleukië onderneem, op ’n skip klim en reguit na sy bestemming vaar. In plaas daarvan het hy “deur die binneland gegaan”. Volgens een skatting was Paulus se reis, soos in Handelinge 18:23 en 19:1 uiteengesit word, omtrent 1 600 kilometer lank! Waarom het Paulus so ’n moeilike roete gekies? Omdat hy “al die dissipels [wou] versterk” (Hand. 18:23). Sy derde sendingreis, soos die vorige twee, sou baie van hom verg, maar vir hom was dit alles die moeite werd. Kringopsieners en hulle vrouens openbaar vandag ’n soortgelyke gees. Waardeer ons nie hulle selfopofferende liefde nie?
9. Waarom moes ’n groep dissipels weer gedoop word, en wat kan ons by hulle leer?
9 By sy aankoms in Efese het Paulus ’n groep van omtrent 12 dissipels van Johannes die Doper gevind. Hulle is gedoop onder ’n reëling wat nie meer geldig was nie. Daarbenewens het hulle blykbaar min of niks omtrent die heilige gees geweet nie. Paulus het hulle op hoogte van sake gebring, en soos Apollos, was hulle nederig en gretig om te leer. Nadat hulle in die naam van Jesus gedoop is, het hulle heilige gees en sekere wonderdadige gawes ontvang. Dit is dus duidelik dat dit seëninge meebring wanneer ons tred hou met Jehovah se progressiewe teokratiese organisasie. – Hand. 19:1-7.
10. Waarom het Paulus die sinagoge verlaat en na ’n ouditorium gegaan, en watter voorbeeld stel dit vir ons in ons bediening?
10 Nog ’n voorbeeld van vooruitgang is kort daarna gesien. Paulus het drie maande lank met vrymoedigheid in die sinagoge gepreek. Al het hy “met die mense [geredeneer] om hulle van die Koninkryk van God te oortuig”, het party hulle verhard en aktiewe teenstanders geword. Paulus het nie tyd verkwis met dié wat “slegte dinge van Die Weg” gesê het nie, maar het eerder gereël om mense in ’n skoolouditorium toe te spreek (Hand. 19:8, 9). Dié wat geestelike vooruitgang wou maak, moes die sinagoge verlaat en na die ouditorium gaan. Soos Paulus, beëindig ons dalk ook die gesprek wanneer ons besef dat die huisbewoner nie bereid is om te luister nie of net wil stry. Daar is nog baie skaapgeaarde mense wat ons bemoedigende boodskap moet hoor!
11, 12. (a) Hoe het Paulus ’n voorbeeld gestel in hardwerkendheid en aanpasbaarheid? (b) Hoe probeer Jehovah se Getuies hardwerkend en aanpasbaar wees in hulle openbare bediening?
11 Paulus het moontlik elke dag van omtrent elfuur die oggend tot omtrent vieruur die middag toesprake in daardie skoolouditorium gehou. (Sien die studienota vir Hand. 19:9 in nwtsty.) Dit was waarskynlik die stilste maar warmste ure van die dag wanneer baie opgehou werk het om te eet en te rus. Dink net: As Paulus daardie strawwe program ’n volle twee jaar volgehou het, het hy ver oor die 3 000 uur aan onderrigting bestee.b Hier sien ons dan nog ’n rede waarom die woord van Jehovah bly groei en kragtiger geword het. Paulus was hardwerkend en aanpasbaar. Hy het sy rooster aangepas sodat sy bediening in die behoeftes van die mense in daardie gemeenskap sou voorsien. Wat was die gevolg? “Almal wat in die provinsie Asië gewoon het, het die woord van die Here gehoor, Jode sowel as Grieke” (Hand. 19:10). Wat ’n deeglike getuienis het hy tog gegee!
12 Jehovah se Getuies in hedendaagse tye het ook bewys dat hulle hardwerkend en aanpasbaar is. Ons streef daarna om mense te bereik waar en wanneer hulle ook al gevind kan word. Ons getuig op straat, by markte en op parkeerterreine. Ons kom per telefoon of per brief in aanraking met mense. En in die huis-tot-huis-werk probeer ons mense bereik op tye wanneer dit die waarskynlikste is dat ons hulle tuis sal vind.
Jehovah se woord ‘groei en word kragtiger’ ondanks bose geeste (Handelinge 19:11-22)
13, 14. (a) Wat het Jehovah Paulus in staat gestel om te doen? (b) Watter fout het die seuns van Skeva gemaak, en hoe maak baie in die Christendom vandag ’n soortgelyke fout?
13 Lukas vertel ons dat ’n merkwaardige tydperk gevolg het, waartydens Jehovah Paulus in staat gestel het om “buitengewone kragtige werke” te doen. Selfs doeke en voorskote wat Paulus aangehad het, is na siekes geneem, en hulle is genees. Bose geeste is ook deur middel daarvan uitgedryf (Hand. 19:11, 12).c Sulke uitsonderlike oorwinnings oor Satan se magte het baie aandag getrek, maar dit was nie altyd positief nie.
14 Party “Jode wat rondgereis het en demone uitgedryf het”, het Paulus se wonderwerke probeer naboots. Party van hierdie Jode het demone probeer uitdryf deur die name van Jesus en Paulus aan te roep. Lukas gee die voorbeeld van die sewe seuns van Skeva – lede van ’n priesterlike familie – wat dit probeer doen het. Die demoon het vir hulle gesê: “Ek ken Jesus en ek weet wie Paulus is, maar wie is julle?” Die besete man het toe daardie bedrieërs aangeval en soos ’n wilde dier op hulle gespring, sodat hulle kaal en beseer gevlug het (Hand. 19:13-16). Dit was ’n klinkende oorwinning vir “die woord van Jehovah”, aangesien daar geen duideliker bewys kon wees van die kontras tussen die mag wat aan Paulus gegee is en die magteloosheid van daardie valse godsdiensbeoefenaars nie. Daar is vandag miljoene wat verkeerdelik aanneem dat dit genoeg is om eenvoudig die naam van Jesus aan te roep of jouself ’n “Christen” te noem. Maar soos Jesus getoon het, het net dié wat werklik die wil van sy Vader doen, ’n ware hoop vir die toekoms. – Matt. 7:21-23.
15. Hoe kan ons die voorbeeld van die Efesiërs volg wanneer dit kom by spiritisme en voorwerpe wat met spiritistiese gebruike verband hou?
15 Die vernedering van die seuns van Skeva het tot wydverspreide vrees vir God gelei, wat baie beweeg het om gelowiges te word en spiritistiese gebruike te laat vaar. Die toorkuns het ’n baie groot invloed op die Efesiese kultuur gehad. Die gebruik van towerspreuke en gelukbringers was algemeen, en so ook beswerings, dikwels in geskrewe vorm. Nou is baie Efesiërs beweeg om hulle boeke oor toorkuns uit te bring en dit in die openbaar te verbrand – hoewel dit volgens huidige standaarde klaarblyklik honderdduisende rande werd was.d Lukas vertel: “So het die woord van Jehovah grootliks bly groei en kragtiger geword” (Hand. 19:17-20). Wat ’n wonderlike oorwinning van die waarheid oor leuens en demonisme! Daardie getroue mense het ’n goeie voorbeeld gestel vir ons wat vandag lewe. Ons lewe ook in ’n wêreld wat grootliks beïnvloed word deur spiritisme. As ons vind dat ons iets in ons besit het wat met spiritisme verband hou, moet ons doen wat die Efesiërs gedoen het – raak onmiddellik daarvan ontslae! Laat ons ver weg bly van sulke afstootlike gebruike, ongeag wat dit kos.
Daar het “’n groot opskudding . . . ontstaan” (Handelinge 19:23-41)
16, 17. (a) Beskryf hoe Demetrius die oproer in Efese aan die gang gesit het. (b) Hoe het die Efesiërs hulle fanatisme getoon?
16 Ons kom nou by die taktiek van Satan wat Lukas beskryf het toe hy gesê het dat “daar ’n groot opskudding oor Die Weg ontstaan” het. Hy het beslis nie oordryf nie (Hand. 19:23).e ’n Silwersmid met die naam Demetrius het die moeilikheid begin. Hy het die aandag van die ander ambagsmanne gekry deur hulle eerstens daaraan te herinner dat hulle voorspoedig is omdat hulle afgode verkoop. Hy het toe te kenne gegee dat die boodskap wat Paulus verkondig, ’n bedreiging vir hulle besigheid is, aangesien die Christene nie afgode aanbid nie. Daarna het hy ’n beroep gedoen op die burgertrots en nasionalisme van sy gehoor en hulle gewaarsku dat hulle godin Artemis en hulle wêreldberoemde tempel vir haar in gevaar was om ‘as niks beskou’ te word nie. – Hand. 19:24-27.
17 Demetrius se woorde het die gewenste uitwerking gehad. Die silwersmede het begin skreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”, en die stad het heeltemal in verwarring geraak, wat gelei het tot die fanatiese oproer wat aan die begin van hierdie hoofstuk beskryf is.f Paulus, wat ’n selfopofferende persoon was, wou in die amfiteater ingaan om die skare toe te spreek, maar die dissipels het daarop aangedring dat hy uit die gevaar bly. ’n Sekere Aleksander het voor die skare gaan staan en probeer praat. Aangesien hy ’n Jood was, was hy dalk gretig om die verskil tussen Jode en hierdie Christene te verduidelik. Sulke verduidelikings sou geen indruk op hierdie skare maak nie. Toe hulle hom as ’n Jood herken, het hulle hom doodgeskreeu en omtrent twee uur lank aanhoudend uitgeroep: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” Godsdiensfanatisme het sedertdien nie verander nie. Dit maak mense nog steeds heeltemal onredelik. – Hand. 19:28-34.
18, 19. (a) Hoe het die hoofamptenaar van die stad die skare in Efese laat bedaar? (b) Hoe is Jehovah se knegte soms deur sekulêre owerhede beskerm, en watter rol kan ons hierin speel?
18 Uiteindelik het die hoofamptenaar van die stad die skare laat bedaar. Hierdie amptenaar, ’n bekwame man wat helder kon dink, het die skare verseker dat hierdie Christene geen gevaar inhou vir hulle tempel en godin nie, dat Paulus en sy metgeselle geen misdaad teen die tempel van Artemis gepleeg het nie en dat daar ’n amptelike prosedure was waarvolgens sulke kwessies hanteer kon word. Sy treffendste woorde was dalk dié wat die skare daaraan herinner het dat hulle hulle die toorn van Rome op die hals kon haal vir hierdie onwettige en wanordelike samekoms. Toe het hy die skare weggestuur. So vinnig as wat hulle woede opgevlam het, so vinnig het dit afgekoel toe hulle hierdie rasionele, praktiese woorde hoor. – Hand. 19:35-41.
19 Dit was nie die eerste keer dat ’n rasionele persoon in ’n sekulêre gesagsposisie ingetree het om Jesus se volgelinge te beskerm nie, en dit sou ook nie die laaste keer wees nie. Trouens, die apostel Johannes het in ’n visioen vooruitgesien hoe die stabiele elemente van hierdie wêreld, wat deur die aarde voorgestel word, gedurende hierdie laaste dae ’n vloed van sataniese vervolging teen Jesus se volgelinge sou insluk (Op. 12:15, 16). Dit is wat dan ook gebeur het. In baie gevalle het redelike regters beslissings gegee wat die regte van Jehovah se Getuies beskerm om vir aanbidding te vergader en om die goeie nuus aan ander bekend te maak. Ons gedrag kan natuurlik ’n rol in sulke oorwinnings speel. Paulus se gedrag het hom klaarblyklik die vriendelike respek van party regeringsamptenare in Efese laat verkry, en daarom wou hulle hê dat hy veilig moet wees (Hand. 19:31). Mag ons eerlike, respekvolle gedrag ook ’n gunstige indruk maak op dié wat ons teëkom. Ons weet nooit hoe verreikend die gevolge daarvan kan wees nie.
20. (a) Hoe voel jy oor die manier waarop Jehovah se woord in die eerste eeu kragtiger geword het en vandag nog steeds kragtiger word? (b) Wat is jou voorneme aangaande Jehovah se oorwinnings in ons tyd?
20 Is dit nie opwindend om na te dink oor hoe “die woord van Jehovah” in die eerste eeu “bly groei en kragtiger geword” het nie? Dit is net so opwindend om te sien hoe Jehovah soortgelyke oorwinnings in ons tyd bewerkstellig. Wil jy graag die voorreg hê om ’n aandeel, selfs ’n klein aandeel, aan sulke oorwinnings te hê? Leer dan uit die voorbeelde wat ons bespreek het. Bly nederig, hou tred met Jehovah se progressiewe organisasie, hou aan om hard te werk, verwerp spiritisme en doen jou bes om deur middel van jou eerlike en respekvolle gedrag ’n goeie getuienis te gee.
a Sien die venster “Efese – Hoofstad van Asië”.
b Paulus het ook 1 Korintiërs geskryf terwyl hy in Efese was.
c Paulus het hierdie doeke moontlik om sy voorkop gedra om die sweet uit sy oë te hou. Die feit dat Paulus gedurende hierdie tyd ook voorskote gedra het, gee te kenne dat hy dalk gedurende sy vrye tyd, moontlik vroegoggend, tente gemaak het. – Hand. 20:34, 35.
d Lukas noem ’n waarde van 50 000 silwerstukke. As hy na die denarius verwys het, sou dit ’n werker destyds 50 000 dae – omtrent 137 jaar – geneem het om daardie hoeveelheid geld te verdien as hy sewe dae per week gewerk het.
e Party sê dat Paulus na hierdie voorval verwys het toe hy vir die Korintiërs gesê het dat “ons . . . selfs gedink [het] dat ons gaan sterf” (2 Kor. 1:8). Maar hy het dalk ’n gevaarliker situasie in gedagte gehad. Toe Paulus geskryf het dat hy “in Efese met wilde diere geveg het”, kon hy verwys het na ’n ondervinding met gevaarlike diere in ’n arena of na teenstand van mense (1 Kor. 15:32). Dit kan letterlik sowel as figuurlik vertolk word.
f Sulke gildes, of unies, van ambagsmanne het dikwels baie mag gehad. Byvoorbeeld, ongeveer ’n eeu later het die bakkersgilde ’n soortgelyke oproer in Efese aangestook.