Het jy geweet?
Was die melaatsheid wat in die Bybel beskryf word, dieselfde as die siekte wat vandag só genoem word?
Die mediese term “melaatsheid” soos dit vandag gebruik word, verwys na ’n bakteriële infeksie by die mens. Hierdie bakterie (Mycobacterium leprae) is die eerste keer in 1873 deur dr. G.A. Hansen geïdentifiseer. Navorsers het ontdek dat die bakterie tot nege dae lank buite die liggaam in nasale afskeidings kan voortleef. Hulle het ook gevind dat mense wat in noue omgang met melaatses verkeer, ’n groter gevaar loop om die siekte te kry en dat besmette klere ’n moontlike bron van infeksie is. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is daar in 2007 meer as 220 000 nuwe gevalle van melaatsheid aangemeld.
Daar bestaan geen twyfel dat mense in die Midde-Ooste in Bybeltye deur melaatsheid geteister is nie, en die Mosaïese Wet het vereis dat ’n persoon met melaatsheid onder kwarantyn geplaas moet word (Levitikus 13:4, 5). Maar die Hebreeuse woord tsa·raʹʽath wat met “melaatsheid” vertaal word, het nie net na ’n mediese toestand verwys nie. Tsa·raʹʽath het ook klere en huise besmet. Hierdie soort melaatsheid kon voorkom in wol- of linneklere of in enigiets wat van leer gemaak is. In sommige gevalle kon dit uitgewas word, maar as daar nog steeds ’n “geelgroen of rooierige plaag” was, moes die kledingstuk of leer verbrand word (Levitikus 13:47-52). In huise het die plaag as “geelgroen of rooierige holtes” in ’n muur voorgekom. Besmette klippe en messelklei moes verwyder en weggegooi word—waar geen mense gewoon het nie. As die melaatsheid teruggekeer het, moes die gebou afgebreek en die puin verwyder word (Levitikus 14:33-45). Party beweer dat die melaatsheid in kledingstukke of huise dalk ’n beskrywing was van wat nou meeldou of muf genoem word. Maar dit kan nie met sekerheid gesê word nie.
Waarom het die apostel Paulus se predikingswerk in Efese ’n opskudding onder die silwersmede veroorsaak?
Die silwersmede van Efese het ryk geword uit die maak van “silwertempeltjies van Artemis”, die beskermgodin van Efese, ’n godin van die jag, vrugbaarheid en kindergeboorte (Handelinge 19:24). Haar beeld het glo “uit die hemel” geval en is in die tempel van Artemis in Efese bewaar (Handelinge 19:35). Hierdie tempel is as een van die sewe wonders van die Oudheid beskou. Skares pelgrims het elke jaar gedurende Maart/April na Efese gestroom om feeste ter ere van Artemis by te woon. Hierdie instroming van besoekers het ’n aanvraag geskep na kultusvoorwerpe, wat gebruik is as aandenkings, amulette of offers aan die godin of vir gesinsaanbidding nadat die pelgrims teruggekeer het huis toe. Ou inskripsies uit Efese praat van die vervaardiging van goue en silwerstandbeelde van Artemis, en ander inskripsies verwys spesifiek na die gilde van die silwersmede.
Paulus het die mense geleer dat beelde wat “met hande gemaak word, nie gode is nie” (Handelinge 19:26). Die silwersmede het dus gemeen dat hulle lewensonderhoud bedreig word en het ’n oproer aangestook uit protes teen Paulus se predikingswerk. Demetrius, een van die silwersmede, het hulle vrese opgesom toe hy gesê het: “Die gevaar [bestaan] nie net dat hierdie bedryf van ons ’n slegte naam sal kry nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Artemis as niks geag sal word nie, en selfs haar luisterrykheid, wat deur die hele landstreek Asië en die bewoonde aarde aanbid word, is op die punt om tot niet gemaak te word.”—Handelinge 19:27.