Die huis-tot-huis-bediening—Waarom nou belangrik?
“Hulle het elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak.”—HAND. 5:42.
1, 2. (a) Vir watter predikingsmetode is Jehovah se Getuies bekend? (b) Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?
DIT is ’n bekende gesig in byna elke land op aarde. Twee netjies geklede persone stap na ’n huis toe en probeer om ’n kort boodskap uit die Bybel oor God se Koninkryk aan die huisbewoner oor te dra. As hy in die boodskap belangstel, bied hulle moontlik vir hom Bybellektuur en ’n gratis tuisbybelstudie aan. Dan gaan hulle na die volgende huis. As jy aan hierdie werk deelneem, vind jy waarskynlik dat mense jou dikwels as een van Jehovah se Getuies herken nog voordat jy begin praat. Ja, die huis-tot-huis-bediening het iets geword waaraan ons uitgeken word.
2 Ons gebruik ’n verskeidenheid metodes om die opdrag uit te voer wat Jesus ons gegee het, naamlik om te preek en dissipels te maak (Matt. 28:19, 20). Ons getuig op markpleine, straathoeke en ander openbare plekke (Hand. 17:17). Ons bereik baie mense per telefoon en per brief. Ons deel Bybelwaarhede mee aan mense wat ons gedurende ons daaglikse bedrywighede teëkom. Ons het selfs ’n amptelike webwerf, wat toegang tot Bybelse inligting in meer as 300 tale bied.a Al hierdie metodes lewer goeie resultate. Maar op die meeste plekke is die predikingswerk van huis tot huis die vernaamste manier waarop ons die goeie nuus versprei. Wat is die grondslag vir hierdie predikingsmetode? Hoe het dit gekom dat God se hedendaagse volk hierdie metode op so ’n groot skaal gebruik? En waarom is dit nou belangrik?
Die apostels se metode
3. Watter instruksies oor die predikingswerk het Jesus die apostels gegee, en wat toon dit oor hoe hulle moes preek?
3 Die predikingsmetode om van huis tot huis te gaan, is op die Skrif gegrond. Toe Jesus die apostels uitgestuur het om te preek, het hy hulle beveel: “In watter stad of dorpie julle ook al ingaan, soek wie daarin verdienstelik is.” Hoe moes hulle verdienstelikes soek? Jesus het hulle beveel om na mense se huise te gaan en gesê: “Wanneer julle in die huis ingaan, groet die huismense; en as die huis verdienstelik is, laat die vrede wat julle dit toewens, daaroor kom.” Moes hulle die mense sonder ’n uitnodiging besoek? Let op Jesus se verdere woorde: “Oral waar iemand julle nie inneem nie of na julle woorde nie luister nie, skud die stof van julle voete af wanneer julle uit daardie huis of daardie stad uitgaan” (Matt. 10:11-14). Hierdie instruksies toon duidelik dat die apostels die inisiatief moes neem om mense in hulle huise te besoek terwyl hulle “deur die gebied van dorpie tot dorpie gegaan en . . . die goeie nuus bekend gemaak” het.—Luk. 9:6.
4. Waar word die predikingswerk van huis tot huis spesifiek in die Bybel genoem?
4 Die Bybel noem spesifiek dat die apostels van huis tot huis gepreek het. Handelinge 5:42 sê byvoorbeeld van hulle: “Hulle het elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak.” Omtrent 20 jaar later het die apostel Paulus die ouer manne van die gemeente in Efese herinner: “Ek [het] my nie daarvan weerhou . . . om julle alles te vertel wat nuttig is of om julle in die openbaar en van huis tot huis te leer nie.” Het Paulus daardie ouer manne besoek voordat hulle gelowiges geword het? Klaarblyklik, want hy het hulle onder andere omtrent “berou teenoor God en geloof in ons Here Jesus” geleer (Hand. 20:20, 21). Robertson se Word Pictures in the New Testament sê oor Handelinge 20:20: “Dit is opmerkenswaardig dat hierdie voortreflike prediker van huis tot huis gepreek het.”
’n Hedendaagse sprinkaanleërmag
5. Hoe word die predikingswerk in Joël se profesie uitgebeeld?
5 Die getuieniswerk wat in die eerste eeu gedoen is, was maar net ’n voorsmaak van ’n groter werk wat in ons dag gedoen sou word. Die profeet Joël het die predikingswerk van gesalfde Christene vergelyk met ’n verwoestende insekteplaag, onder andere sprinkane (Joël 1:4). Die sprinkane beweeg vooruit soos ’n leërmag en oorkom hindernisse, gaan in huise in en verslind alles in hulle pad. (Lees Joël 2:2, 7-9.) Wat ’n lewendige beskrywing is dit tog van die deursettingsvermoë en deeglikheid waarmee God se volk die getuieniswerk in hedendaagse tye verrig! Die vernaamste metode wat gesalfde Christene en hulle metgeselle, die “ander skape”, ter vervulling van hierdie profetiese beeld gebruik, is die huis-tot-huis-bediening (Joh. 10:16). Hoe het dit gekom dat ons as Jehovah se Getuies hierdie predikingsmetode van die apostels aangeneem het?
6. Watter aanmoediging is in 1922 gegee om van huis tot huis te getuig, maar hoe het party gereageer?
6 Vanaf 1919 is daar klem gelê op die verantwoordelikheid van elke Christen om ’n persoonlike aandeel aan die getuieniswerk te hê. Byvoorbeeld, ’n artikel met die titel “Diens is noodsaaklik” in die Watch Tower van 15 Augustus 1922 het gesalfde Christene herinner aan hoe belangrik dit is om “die gedrukte boodskap daadwerklik na die mense te neem en by hulle deure met hulle te praat en te getuig dat die koninkryk van die hemel op hande is”. Volledige aanbiedings is in die Bulletin (nou Ons Koninkryksbediening) voorsien. Tog was daar aanvanklik min wat wel van huis tot huis gepreek het. Party was traag om dit te doen. Hulle het verskeie besware geopper, maar die eintlike probleem was dat party dit benede hulle waardigheid geag het om van huis tot huis te preek. Namate daar groter klem op velddiens gelê is, het baie van hulle geleidelik opgehou om met Jehovah se organisasie te assosieer.
7. Watter behoefte het in die 1950’s duidelik geword?
7 In die daaropvolgende dekades het die omvang van die predikingswerk toegeneem. Dit het egter duidelik geword dat verdere persoonlike opleiding in die huis-tot-huis-bediening nodig was. Neem byvoorbeeld die situasie in die Verenigde State. Gedurende die vroeë 1950’s het die predikingswerk van 28 persent van die Getuies in dié land net bestaan uit die verspreiding van strooibiljette of van tydskrifte op straat. Meer as 40 persent was ongereeld in die predikingswerk en het maande laat verbygaan sonder om enigsins te getuig. Wat kon gedoen word om alle toegewyde Christene te help om van huis tot huis te preek?
8, 9. Watter opleidingsprogram is in 1953 begin, en met watter resultate?
8 By ’n internasionale byeenkoms wat in 1953 in die stad New York gehou is, is daar spesiale aandag aan die huis-tot-huis-bediening geskenk. Broer Nathan H. Knorr het gesê dat dit die vernaamste werk van alle Christenopsieners moet wees om elke Getuie te help om ’n gereelde huis-tot-huis-bedienaar te wees. Hy het gesê: “Elkeen moet die goeie nuus van huis tot huis kan verkondig.” ’n Wêreldwye opleidingsprogram is begin om hierdie doelwit te bereik. Diegene wat nog nie van huis tot huis gepreek het nie, moes opgelei word om mense by hulle deure te nader, met hulle uit die Bybel te redeneer en hulle vrae te beantwoord.
9 Hierdie opleidingsprogram het uitstekende resultate gehad. Binne ’n dekade het die aantal verkondigers wêreldwyd met 100 persent toegeneem, die aantal herbesoeke met 126 persent en die aantal Bybelstudies met 150 persent. Vandag maak byna sewemiljoen Koninkryksverkondigers die goeie nuus wêreldwyd bekend. Hierdie merkwaardige groei is een bewys van Jehovah se seën op sy volk se pogings in die huis-tot-huis-bediening.—Jes. 60:22.
Mense word vir oorlewing gemerk
10, 11. (a) Watter visioen is aan Esegiël gegee, soos opgeteken in Esegiël hoofstuk 9? (b) Hoe word hierdie visioen vandag vervul?
10 Die belangrikheid van die huis-tot-huis-bediening kan gesien word in ’n visioen wat aan die profeet Esegiël gegee is. In hierdie visioen sien Esegiël ses manne met wapens in hulle hande sowel as ’n sewende man wat in linne geklee is, met ’n sekretaris se inkhoring aan sy heupe. Daar word vir die sewende man gesê om ‘deur die stad te trek en ’n merk te maak op die voorkoppe van die mense wat sug en steun oor al die verfoeilike dinge wat daarin gedoen word’. Ná hierdie merkwerk word die ses manne met die vernietigingswapens beveel om almal tereg te stel wat nie die merk het nie.—Lees Esegiël 9:1-6.
11 Ons verstaan dat die man “wat in linne geklee was”, in die vervulling van hierdie profesie die oorblyfsel van die geesgesalfde Christene voorstel. Deur middel van die predikings- en dissipelmaakwerk bring die gesalfde klas ’n simboliese merk aan op diegene wat deel word van Christus se “ander skape” (Joh. 10:16). Wat is die merk? Dit is die bewys, wat as ’t ware op hulle onbedekte voorkoppe gesien kan word, dat hierdie skape toegewyde, gedoopte dissipels van Jesus Christus is en dat hulle hulle met die Christelike nuwe persoonlikheid beklee het (Ef. 4:20-24). Hierdie skaapgeaardes word een kudde met gesalfde Christene en help hulle met hulle lewensbelangrike werk om nog ander te merk.—Op. 22:17.
12. Hoe beklemtoon Esegiël se visioen oor die merk op mense se voorkoppe die belangrikheid van ons volgehoue soeke na skaapgeaardes?
12 Esegiël se visioen beklemtoon een rede waarom ons volgehoue soeke na mense wat “sug en steun”, so dringend is. Lewens is daarby betrokke. Binnekort sal Jehovah se hemelse teregstellingsmagte, wat voorgestel word deur die ses manne met wapens, diegene vernietig wat nie die simboliese merk het nie. Aangaande hierdie komende oordeel het die apostel Paulus geskryf dat die Here Jesus, vergesel deur “sy magtige engele, . . . wraak [sal] uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” (2 Tess. 1:7, 8). Let daarop dat mense geoordeel sal word op grond van hulle reaksie op die goeie nuus. Daarom moet die verkondiging van God se boodskap tot die einde toe ononderbroke voortduur (Op. 14:6, 7). Dit plaas ’n groot verantwoordelikheid op al Jehovah se toegewyde knegte.—Lees Esegiël 3:17-19.
13. (a) Watter verantwoordelikheid het die apostel Paulus gevoel, en waarom? (b) Watter verantwoordelikheid voel jy teenoor die mense in jou gebied?
13 Die apostel Paulus het persoonlik verantwoordelik gevoel om ander van die goeie nuus te vertel. Hy het geskryf: “Teenoor Grieke sowel as Barbare, teenoor wyses sowel as onverstandiges is ek ’n skuldenaar: daarom is ek gretig om ook aan julle wat daar in Rome is, die goeie nuus bekend te maak” (Rom. 1:14, 15). Uit dankbaarheid vir die barmhartigheid wat aan hom bewys is, het Paulus verplig gevoel om ander te probeer help om by die onverdiende goedhartigheid van God baat te vind, net soos hy daarby baat gevind het (1 Tim. 1:12-16). Dit was asof hy in die skuld gestaan het by elkeen wat hy ontmoet het, skuld wat slegs vereffen kon word deur hulle van die goeie nuus te vertel. Voel jy ook asof jy in die skuld staan by die mense in jou gebied?—Lees Handelinge 20:26, 27.
14. Wat is die vernaamste rede waarom ons in die openbaar en van huis tot huis preek?
14 Hoe belangrik die bewaring van menselewe ook al is, daar is ’n veel groter rede om van huis tot huis te preek. In die profesie wat in Maleagi 1:11 opgeteken is, sê Jehovah: “Van die opgang van die son af, ja, tot sy ondergang sal my naam groot wees onder die nasies, en . . . ’n gawe vir my naam [sal] aangebied word, ja, ’n rein gawe; want my naam sal groot wees onder die nasies.” Ter vervulling van hierdie profesie loof Jehovah se toegewyde knegte sy naam regoor die aarde in die openbaar terwyl hulle hulle bediening nederig uitvoer (Ps. 109:30; Matt. 24:14). Die vernaamste rede waarom ons in die openbaar en van huis tot huis preek, is om “’n lofoffer” aan Jehovah te bring.—Heb. 13:15.
Betekenisvolle gebeure lê voor
15. (a) Hoe het die Israeliete hulle bedrywigheid verskerp toe hulle op die sewende dag om Jerigo getrek het? (b) Wat dui dit aan met betrekking tot die predikingswerk?
15 Watter verwikkelinge met betrekking tot die predikingswerk lê nog voor? Die beleëring van Jerigo, wat in die boek Josua opgeteken is, gee vir ons ’n aanduiding. Onthou dat die Israeliete, net voordat God Jerigo vernietig het, beveel is om ses dae lank een keer per dag om die stad te trek. Maar op die sewende dag moes hulle hulle bedrywigheid opvallend verskerp. Jehovah het vir Josua gesê: “Julle [moet] sewe keer om die stad trek, en die priesters moet op die horings blaas. En wanneer hulle op die ramshoring blaas, . . . moet die hele volk ’n groot oorlogskreet aanhef; en die muur van die stad sal inmekaarstort” (Jos. 6:2-5). Daar sal moontlik ’n soortgelyke toename in ons predikingsbedrywigheid wees. Teen die tyd dat die teenswoordige stelsel van dinge vernietig word, sal ons ongetwyfeld die grootste getuienis met betrekking tot God se naam en Koninkryk in die geskiedenis van hierdie wêreld gesien het.
16, 17. (a) Wat sal voor die einde van “die groot verdrukking” gedoen word? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
16 Die tyd sal heel moontlik kom wanneer die boodskap wat ons verkondig, soos “’n groot oorlogskreet” sal wees. In die boek Openbaring word kragtige oordeelsboodskappe voorgestel as “’n groot hael, met elke steen omtrent ’n talent swaar”.b En Openbaring 16:21 sê: “Die plaag daarvan was buitengewoon groot.” Presies watter rol die huis-tot-huis-bediening in die verkondiging van hierdie kritieke oordeelsboodskappe gaan speel, sal ons nog moet sien. Maar ons kan seker wees dat Jehovah se naam voor die einde van “die groot verdrukking” bekend gemaak sal wees soos nog nooit tevore in die mensegeskiedenis nie.—Op. 7:14; Eseg. 38:23.
17 Mag ons, terwyl ons wag op die betekenisvolle gebeure wat voorlê, voortgaan om die goeie nuus van die Koninkryk ywerig te verkondig. Voor watter uitdagings kom ons in die huis-tot-huis-bediening te staan terwyl ons hierdie toewysing uitvoer, en hoe kan ons dit die hoof bied? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Die webwerf is www.watchtower.org.
b As daar hier na die Griekse talent verwys word, sal elke haelsteen omtrent 20 kilogram weeg.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat is die skriftuurlike grondslag vir die predikingswerk van huis tot huis?
• Hoe is daar in hedendaagse tye klem gelê op die huis-tot-huis-bediening?
• Waarom het toegewyde knegte van Jehovah ’n verantwoordelikheid om te preek?
• Watter betekenisvolle gebeure lê nog voor?
[Prente op bladsy 4]
Voel jy, soos die apostel Paulus, ’n verantwoordelikheid om vir ander te getuig?
[Prent op bladsy 5]
Broer Knorr, 1953