HOOFSTUK 26
“Nie een van julle sal doodgaan nie”
Paulus ly skipbreuk en toon groot geloof en liefde vir mense
Gebaseer op Handelinge 27:1–28:10
1, 2. Watter soort reis wag op Paulus, en waaroor is hy dalk besorg?
DIE woorde maal in Paulus se gedagtes, want dit sal ’n groot uitwerking op sy toekoms hê. “Na die keiser sal jy gaan”, het goewerneur Festus gesê. Paulus was twee jaar lank in die tronk opgesluit; die lang reis na Rome sal dus ten minste ’n verandering van omgewing vir hom beteken (Hand. 25:12). Maar Paulus se talle lewendige herinneringe aan seereise is nie net van verfrissende briese en uitgestrekte horisonne nie. Verder laat die vooruitsig op hierdie reis om voor die keiser te verskyn dalk ook ’n aantal ernstige vrae by Paulus ontstaan.
2 Paulus was al baie keer in “gevare . . . op see”; hy het drie keer skipbreuk gely en het selfs ’n nag en ’n dag op die oop see deurgebring (2 Kor. 11:25, 26). Verder sal hierdie reis baie anders wees as die sendingreise wat hy as ’n vry man onderneem het. Paulus sal as ’n gevangene reis en ’n baie groot afstand aflê – meer as 3 000 kilometer van Sesarea na Rome. Sal hy so ’n reis kan oorleef? En al kan hy, is hy op pad na sy dood? Onthou, hy gaan teregstaan voor die magtigste sekulêre moondheid wat destyds in Satan se wêreld bestaan het.
3. Wat was Paulus se vaste voorneme, en wat sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?
3 Dink jy, ná alles wat jy oor Paulus gelees het, dat die vooruitsig van wat op hom gewag het, hom wanhopig laat voel het? Beslis nie! Hy het geweet dat ontberinge vir hom voorlê, maar hy het nie geweet watter vorm dit sou aanneem nie. Waarom sou hy toelaat dat die vreugde van sy bediening oorskadu word deur bekommernis oor dinge waaroor hy geen beheer het nie? (Matt. 6:27, 34). Paulus het geweet dat Jehovah se wil vir hom was dat hy elke geleentheid moet benut om oor die goeie nuus van God se Koninkryk te getuig, selfs voor sekulêre heersers (Hand. 9:15). Paulus was vasbeslote om sy opdrag uit te voer, ongeag wat gebeur. Is dit nie ook ons vaste voorneme nie? Kom ons volg Paulus dus op hierdie geskiedkundige reis terwyl ons die praktiese waarde van sy voorbeeld ondersoek.
‘Die winde was teen ons’ (Handelinge 27:1-7a)
4. Op watter soort vaartuig het Paulus sy reis begin, en wie was sy metgeselle?
4 Paulus en ’n paar ander gevangenes is aan die sorg van ’n Romeinse offisier met die naam Julius toevertrou, wat besluit het om met ’n handelskip te reis wat in Sesarea aangekom het. Die skip het van Adramittium, ’n hawe aan die weskus van Klein-Asië, oorkant die stad Mitilene op die eiland Lesbos, gekom. Hierdie skip sou noordwaarts en daarna weswaarts seil en by ’n paar plekke aandoen om goedere af en op te laai. Sulke vaartuie is nie vir die gemak van die passasiers gebou nie, veral nie dié van gevangenes nie. (Sien die venster “Seereise en handelsroetes”.) Gelukkig sou Paulus nie die enigste Christen tussen ’n groep misdadigers wees nie. Ten minste twee medegelowiges het hom vergesel – Aristargus en Lukas. Dit was natuurlik Lukas wat die verslag opgeteken het. Ons weet nie of hierdie twee lojale metgeselle vir hulle reis betaal het en of hulle as diensknegte vir Paulus opgetree het nie. – Hand. 27:1, 2.
5. Watter assosiasie kon Paulus in Sidon geniet, en wat kan ons hieruit leer?
5 Nadat hulle een dag op see deurgebring en omtrent 110 kilometer noordwaarts gereis het, het die skip by Sidon, langs die Siriese kus, gedok. Julius het Paulus blykbaar nie soos ’n gewone misdadiger behandel nie, moontlik omdat Paulus ’n Romeinse burger was wat nog nie skuldig bevind is nie (Hand. 22:27, 28; 26:31, 32). Hy het Paulus toegelaat om aan land te gaan en mede-Christene te besoek. Hoe moes die broers en susters dit tog geniet het om die apostel ná sy lang gevangenskap te versorg! Kan jy aan geleenthede dink wanneer jy dalk soortgelyke liefdevolle gasvryheid kan bewys en gevolglik daardeur opgebou kan word? – Hand. 27:3.
6-8. Hoe het Paulus se reis van Sidon na Knidus verloop, en watter geleenthede om te preek, het Paulus waarskynlik aangegryp?
6 Van Sidon af het die skip met die kus opgevaar, verby Silisië, naby Paulus se tuisdorp, Tarsus. Lukas noem nie ander stilhouplekke nie, hoewel hy die onheilspellende besonderheid insluit dat ‘die winde teen hulle was’ (Hand. 27:4, 5). Nietemin kan ons voor ons geestesoog sien hoe Paulus elke geleentheid aangryp om die goeie nuus te verkondig. Hy het sekerlik vir medegevangenes en ander aan boord getuig, onder andere die bemanning en die soldate, sowel as mense by die hawens waar die skip vasgemeer het. Benut ons ook vandag al ons geleenthede om te preek?
7 Mettertyd het die skip by Mira, ’n hawe aan die suidkus van Klein-Asië, aangekom. Daar moes Paulus en ander passasiers op ’n ander skip klim, wat hulle na Rome, hulle eindbestemming, sou neem (Hand. 27:6). In daardie dae was Egipte ’n graanskuur vir Rome, en Egiptiese graanskepe het by Mira gedok. Julius het so ’n skip gevind en die soldate en gevangenes aan boord daarvan laat gaan. Hierdie vaartuig was heel moontlik baie groter as die eerste skip. Dit het ’n waardevolle vrag koring gedra, asook 276 mense – die bemanning, die soldate, die gevangenes en waarskynlik ander wat op pad na Rome was. Toe Paulus hier van skip verander het, het sy predikingsgebied klaarblyklik uitgebrei, en hy het ongetwyfeld hierdie situasie ten volle benut.
8 Die volgende stilhouplek was Knidus, in die suidwestelike hoek van Klein-Asië. As die winde gunstig was, kon ’n skip daardie afstand in omtrent ’n dag aflê. Maar Lukas berig: “Nadat ons ’n hele aantal dae stadig verder geseil het, het ons met ’n groot gesukkel by Knidus aangekom” (Hand. 27:7a). Weerstoestande het versleg. (Sien die venster “Die teenwinde van die Middellandse See”.) Dink aan die mense aan boord terwyl die skip die sterk winde en onstuimige waters getrotseer het.
“Geweldig deur die storm heen en weer geslinger” (Handelinge 27:7b-26)
9, 10. Watter probleme is in die omgewing van Kreta ondervind?
9 Die skeepskaptein het beplan om van Knidus af verder weswaarts te vaar, maar die ooggetuie Lukas sê dat “die wind dit vir ons moeilik gemaak het om verder te gaan” (Hand. 27:7b). Toe die skip van die vasteland af wegvaar, kon dit nie in die kusstroom bly nie, en toe het ’n sterk wind uit die noordweste dit suidwaarts gedwing, dalk baie vinnig. Net soos die eiland Siprus die skip vroeër teen teenwinde beskut het, het die eiland Kreta dit dié keer gedoen. Toe die skip eers verby die kaap van Salmone aan die oostelike punt van Kreta gevaar het, het dinge bietjie verbeter. Waarom? Die skip was aan die lykant, of suidelike kant, van die eiland, en dit het ’n mate van beskutting teen die sterk winde gebied. Stel jou voor hoe verlig dié aan boord was – maar nie vir lank nie! Maar solank die skip op see was, kon die bemanning nie die koms van die winter ignoreer nie. Hulle het rede tot kommer gehad.
10 Lukas skryf met akkuraatheid: “Ons het met ’n groot gesukkel langs die kus [van Kreta] gevaar en by ’n plek gekom met die naam Mooi Hawens.” Selfs onder die beskutting van die landmassa was dit moeilik om die skip te beheer. Maar uiteindelik het hulle ’n ankerplek in ’n klein baai gevind wat vermoedelik geleë was in die gebied net voordat die kus noordwaarts draai. Hoe lank het hulle daar gebly? Lukas sê “’n hele paar dae”, maar die tyd was nie in hulle guns nie. In September/Oktober was skeepvaart gevaarliker. – Hand. 27:8, 9.
11. Watter raad het Paulus vir die ander op die skip gegee, maar watter besluit is geneem?
11 Party passasiers het dalk Paulus se raad gevra omdat hy al baie op die Middellandse See gereis het. Hy het aanbeveel dat die skip nie verder seil nie. Anders sou dit tot “skade en groot verlies” lei, dalk selfs lewensverlies. Maar die stuurman en die eienaar van die skip wou verder gaan, moontlik omdat hulle dringend ’n veiliger plek wou vind. Hulle het Julius oortuig, en die meerderheid het gevoel dat hulle Feniks, ’n hawe verder langs die kus, moet probeer bereik. Dit het dalk ’n groter en beter hawe gehad waar hulle die winter kon deurbring. Toe ’n bedrieglike, sagte windjie uit die suide waai, het die skip dus vertrek. – Hand. 27:10-13.
12. Voor watter gevare het die skip te staan gekom nadat dit Kreta verlaat het, en hoe het die bemanning ’n ramp probeer afweer?
12 Toe kom daar nog moeilikheid: ’n “stormwind” uit die noordooste. Hulle het ’n ruk lank beskutting gevind agter “’n eilandjie wat Kauda genoem word”, ongeveer 65 kilometer van Mooi Hawens af. Nietemin was die skip in gevaar om suidwaarts gedryf te word totdat dit op die sandbanke langs die kus van Afrika sou strand. Desperaat om dit te voorkom, het die matrose die bootjie wat deur die skip gesleep is, aan boord gehys. Hulle het gesukkel om dit te doen omdat die bootjie waarskynlik vol water was. Toe het hulle geswoeg om toue of kettings onderom die groot skip vas te maak om die planke aanmekaar te hou. En hulle het die grootseil of touwerk losgemaak en laat sak en hulle ingespan om die skip in die rigting van die wind te stuur sodat dit die storm kon deurstaan. Stel jou voor hoe vreeswekkend hierdie ondervinding moes gewees het! Selfs hierdie maatreëls was nie genoeg nie, want die skip is steeds “geweldig deur die storm heen en weer geslinger”. Op die derde dag het hulle die toerusting van die skip oorboord gegooi, moontlik om die dryfvermoë te herstel. – Hand. 27:14-19.
13. Hoe het dit heel moontlik gedurende die storm op Paulus se skip gegaan?
13 Almal was ongetwyfeld bevrees. Maar Paulus en sy metgeselle was vol moed. Die Here het Paulus vroeër verseker dat die apostel in Rome sou getuig, en ’n engel het later hierdie belofte bevestig (Hand. 19:21; 23:11). Nietemin het die storm twee weke lank dag en nag gewoed. Weens die onophoudelike reën en ’n digte wolkbedekking wat die son en sterre verberg het, kon die stuurman nie die skip se posisie of koers vasstel nie. Selfs ’n normale ete sou buite die kwessie wees. Hoe kon enigeen dink aan eet te midde van die koue, reën, seesiekte en vrees?
14, 15. (a) Waarom het Paulus sy vroeëre waarskuwing gemeld toe hy met die ander op die skip gepraat het? (b) Wat kan ons leer uit die boodskap van hoop wat Paulus oorgedra het?
14 Paulus het opgestaan. Hy het sy vroeëre waarskuwing genoem, maar nie met die houding ‘Ek het julle mos gesê’ nie. Die verloop van sake het egter getoon dat hulle na sy woorde moes geluister het. Toe het hy gesê: “Ek spoor julle nou aan om nie moed te verloor nie, want nie een van julle sal doodgaan nie. Net die skip sal vergaan” (Hand. 27:21, 22). Hoe moes daardie woorde tog sy toehoorders se harte verbly het! Ook Paulus was ongetwyfeld verheug dat Jehovah hom ’n boodskap van hoop gegee het om oor te dra. Dit is noodsaaklik dat ons onthou dat Jehovah besorg is oor die lewe van elke mens. Elke persoon is vir hom belangrik. Die apostel Petrus het geskryf: “Jehovah . . . wil [nie] hê dat enigiemand vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal berou moet toon” (2 Pet. 3:9). Hoe dringend is dit tog dat ons Jehovah se boodskap van hoop aan soveel mense as moontlik oordra! Kosbare lewens is op die spel.
15 Paulus het waarskynlik vir baie op die skip getuig oor “die hoop op die belofte wat God . . . gemaak het” (Hand. 26:6; Kol. 1:5). Noudat skipbreuk hoogs waarskynlik was, kon Paulus ’n kragtige grondslag vir hoop gee wat vir hulle van onmiddellike belang was. Hy het gesê: “Gisteraand het ’n engel . . . by my gestaan en gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet voor die keiser staan, en kyk! ter wille van jou spaar God almal wat saam met jou seil.’” Paulus het hulle aangespoor: “Moet dus nie moed verloor nie, manne, want ek glo dat God dit sal laat gebeur net soos daar vir my gesê is. Maar ons moet op ’n sekere eiland uitgespoel word.” – Hand. 27:23-26.
‘Almal het veilig by die land uitgekom’ (Handelinge 27:27-44)
16, 17. (a) Watter geleentheid het Paulus gebruik om te bid, en met watter resultaat? (b) Hoe is Paulus se waarskuwing bewaarheid?
16 Ná twee angswekkende weke, waartydens die skip ongeveer 870 kilometer voortgedryf is, het die matrose ’n verandering opgemerk – dalk het hulle branders gehoor. Hulle het ankers van die agterste deel van die skip uitgegooi om te voorkom dat hulle wegdryf en om die voorste deel van die skip in die rigting van die land te draai ingeval hulle die skip kon laat strand. Op dié tydstip het hulle die skip probeer verlaat, maar die soldate het hulle gekeer. Paulus het vir die militêre offisier en die soldate gesê: “As hierdie manne nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.” Noudat die skip stabieler was, het Paulus almal aangespoor om iets te eet en het hy hulle weer eens daarvan verseker dat hulle behoue sal bly. Paulus het daarna “God voor hulle almal gedank” (Hand. 27:31, 35). Deur hierdie dankgebed het hy ’n voorbeeld gestel vir Lukas, Aristargus en Christene van vandag. Is jou openbare gebede ’n bron van aanmoediging en vertroosting vir ander?
17 Ná Paulus se gebed ‘het hulle almal weer moed gekry, en hulle het begin eet’ (Hand. 27:36). Hulle het die skip nog ligter gemaak deur die vrag koring in die see te gooi sodat die skip vlakker in die water sou lê wanneer hulle die strand nader. Met dagbreek het die bemanning die ankers losgesny, die toue van die stuurspane aan die agterste deel van die skip losgemaak en ’n klein voorseil gehys sodat hulle ’n mate van beheer kon hê wanneer hulle die skip laat strand. Toe steek die voorste deel van die skip vas, dalk op ’n sandbank of in modder, en word die agterste deel van die skip deur die geweld van die golwe uitmekaargeslaan. Party soldate wou die gevangenes doodmaak sodat niemand sou ontsnap nie, maar Julius het hulle gekeer. Hy het almal aangespoor om strand toe te swem of te dryf. Wat Paulus voorspel het, is bewaarheid – al 276 het dit oorleef. Ja, “almal [het] veilig by die land uitgekom”. Maar waar was hulle? – Hand. 27:44.
“Buitengewoon goed” (Handelinge 28:1-10)
18-20. Hoe was die mense van Malta “buitengewoon goed” vir hulle, en watter wonderwerk het God deur middel van Paulus verrig?
18 Die oorlewendes het hulle blykbaar op die eiland Malta, suid van Sisilië, bevind. (Sien die venster “Malta – Waar?”) Die eilandbewoners was “buitengewoon goed” vir hulle (Hand. 28:2). Hulle het ’n vuur gemaak vir hierdie vreemdelinge wat druipnat en bibberend op hulle kus aangekom het. Die vuur het hulle gehelp om ten spyte van die koue en reën warm te word. Dit het ook tot ’n wonderwerk aanleiding gegee.
19 Paulus wou hand bysit. Hy het hout bymekaargemaak, wat hy op die vuur gesit het. Toe hy dit doen, het ’n giftige slang uitgekom en aan sy hand vasgebyt. Die Maltese het gedink dat dit die een of ander goddelike straf is.a
20 Die plaaslike mense wat gesien het hoe die giftige slang Paulus pik, het gedink dat hy sou “opswel”. Die woord wat in die oorspronklike taal gebruik is, is volgens een naslaanwerk “’n mediese term”. Dit is nie verbasend dat so ’n uitdrukking geredelik by “Lukas, die geliefde dokter,” sou opkom nie (Hand. 28:6; Kol. 4:14). Hoe dit ook al sy, Paulus het die giftige slang van sy hand afgeskud en niks oorgekom nie.
21. (a) Wat is ’n paar voorbeelde van presiese, of akkurate, beskrywings wat ons in hierdie gedeelte van Lukas se verslag vind? (b) Watter wonderwerke het Paulus verrig, en watter uitwerking het dit op die Maltese gehad?
21 Die ryk grondeienaar Publius het in die omgewing gewoon. Hy was moontlik die belangrikste Romeinse offisier op Malta. Lukas het hom as “die belangrikste man op die eiland” beskryf, die presiese titel wat op twee Maltese inskripsies gevind is. Hy het drie dae lank gasvryheid aan Paulus en sy metgeselle betoon. Maar Publius se pa was siek. Weer eens het Lukas ’n akkurate beskrywing van sy toestand gegee. Hy het geskryf dat die man “siek in die bed met koors en hewige diarree” was, ’n presiese mediese beskrywing van die siekte. Paulus het gebid en sy hande op hom gelê, en hy het gesond geword. Diep beïndruk deur hierdie wonderwerk, het die plaaslike mense ander siekes gebring om genees te word, en hulle het geskenke gebring om in die behoeftes van Paulus en sy metgeselle te voorsien. – Hand. 28:7-10.
22. (a) Hoe het een professor Lukas se verslag van die reis na Rome geprys? (b) Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?
22 Die deel van Paulus se reis wat ons tot dusver bespreek het, word gekenmerk deur akkuraatheid en waarheid. Een professor het gesê: “Lukas se verslag . . . staan uit as een van die lewendigste gedeeltes van beskrywende teks in die hele Bybel. Die besonderhede aangaande eerste-eeuse seemanskap is so noukeurig en die beskrywing van toestande in die oostelike deel van die Middellandse See so akkuraat” dat dit ongetwyfeld op ’n dagboek gebaseer is. Lukas het heel moontlik sulke aantekeninge gemaak terwyl hy saam met die apostel gereis het. As dit die geval was, het die volgende deel van die reis hom ook baie gegee om oor te skryf. Wat sou met Paulus gebeur wanneer hulle uiteindelik in Rome aankom? Kom ons kyk.
a Die feit dat die mense geweet het van sulke slange, toon dat daar destyds giftige slange op die eiland was. Vandag is daar nie giftige slange op Malta nie. Dit is moontlik weens veranderinge wat deur die eeue heen in die habitat plaasgevind het. Of die giftige slange is dalk uitgeroei toe die mensebevolking op die eiland vermeerder het.