Waardeer Jehovah se lojaliteit en vergewensgesindheid
“U, o Jehovah, is goed en vergewensgesind; en die liefderyke goedhartigheid teenoor almal wat u aanroep, is oorvloedig.”—PS. 86:5.
1, 2. (a) Waarom waardeer ons vriende wat lojaal en vergewensgesind is? (b) Watter vrae sal ons bespreek?
HOE sal jy ’n ware vriend beskryf? “Vir my is ’n ware vriend iemand op wie jy altyd kan staatmaak en wat jou vergewe wanneer jy te kort skiet”, sê ’n Christensuster met die naam Ashley. Ons almal waardeer vriende wat lojaal en vergewensgesind is. Hulle help ons om geborge en geliefd te voel.—Spr. 17:17.
2 Jehovah is die lojaalste en mees vergewensgesinde Vriend wat daar is. Die psalmis het dit so gestel: “U, o Jehovah, is goed en vergewensgesind; en die liefderyke goedhartigheid [of, “lojale liefde”] teenoor almal wat u aanroep, is oorvloedig” (Ps. 86:5). Wat beteken dit om lojaal en vergewensgesind te wees? Hoe openbaar Jehovah hierdie pragtige eienskappe? En hoe kan ons sy voorbeeld navolg? Die antwoorde sal ons help om groter liefde vir ons beste Vriend, Jehovah, aan te kweek. Dit sal ons ook help om ons vriendskappe met mekaar te versterk.—1 Joh. 4:7, 8.
JEHOVAH IS LOJAAL
3. Wat beteken dit om lojaal te wees?
3 Lojaliteit is ’n innemende eienskap wat die gedagte van toegewydheid en onwrikbare getrouheid insluit. ’n Lojale persoon is nie wispelturig nie. Hy heg hom eerder liefdevol aan ’n persoon en ondersteun daardie persoon selfs onder moeilike omstandighede. Ja, Jehovah, “die Een wat lojaal is”, stel die beste voorbeeld hierin.—Op. 16:5.
4, 5. (a) Hoe toon Jehovah lojaliteit? (b) Hoe kan dit ons versterk as ons oor Jehovah se lojale dade nadink?
4 Hoe toon Jehovah lojaliteit? Hy laat nooit sy getroue aanbidders in die steek nie. Een so ’n aanbidder, koning Dawid, het Jehovah vir sy lojaliteit geloof. (Lees 2 Samuel 22:26.) Tydens Dawid se beproewinge het Jehovah hom lojaal gelei, beskerm en verlos (2 Sam. 22:1). Dawid het geweet dat Jehovah se lojaliteit meer as net woorde behels. Waarom het Jehovah lojaal teenoor Dawid opgetree? Want Dawid was self “iemand wat lojaal is”. Jehovah stel die lojaliteit van sy aanbidders hoog op prys, en hy beloon hulle deur lojaal aan hulle te wees.—Spr. 2:6-8.
5 Dit kan ons versterk as ons oor Jehovah se lojale dade nadink. “Dit help my werklik wanneer ek lees hoe Jehovah Dawid in tye van benoudheid gehelp het”, sê ’n getroue broer genaamd Reed. “Selfs toe Dawid gevlug het en in grotte gewoon het, het Jehovah hom deurentyd onderskraag. Ek vind dit baie aanmoedigend! Dit herinner my dat, ongeag wat die omstandighede is en ongeag hoe hopeloos die situasie dalk lyk, Jehovah my sal ondersteun solank ek aan hom lojaal bly.” Jy voel ongetwyfeld ook so.—Rom. 8:38, 39.
6. Op watter ander maniere toon Jehovah lojaliteit, en hoe strek dit sy aanbidders tot voordeel?
6 Op watter ander maniere toon Jehovah lojaliteit? Hy bly by sy standaarde. “Selfs tot die ouderdom toe is ek dieselfde”, verseker hy ons (Jes. 46:4). Hy baseer sy besluite altyd op sy onveranderlike standaarde van wat reg en verkeerd is (Mal. 3:6). Daarbenewens toon Jehovah lojaliteit deur sy beloftes getrou na te kom (Jes. 55:11). Jehovah se lojaliteit strek dus al sy getroue aanbidders tot voordeel. Hoe so? Wanneer ons ons bes doen om by Jehovah se standaarde te bly, kan ons die vertroue hê dat hy sy belofte om ons te seën, sal nakom.—Jes. 48:17, 18.
VOLG JEHOVAH SE LOJALITEIT NA
7. Wat is een manier waarop ons God se lojaliteit kan navolg?
7 Hoe kan ons Jehovah se lojaliteit navolg? Een manier is om diegene te help wat met moeilike omstandighede te kampe het (Spr. 3:27). Weet jy byvoorbeeld van ’n medegelowige wat mismoedig is, dalk weens gesondheidsprobleme, gesinsteenstand of persoonlike tekortkominge? Neem gerus die inisiatief om daardie persoon met ’n paar “goeie woorde, vertroostende woorde” aan te moedig (Sag. 1:13).a As jy dit doen, toon jy dat jy ’n lojale en ware vriend is, een “wat sterker aanhang as ’n broer”.—Spr. 18:24.
8. Hoe kan ons Jehovah se lojaliteit navolg, byvoorbeeld in die huwelik?
8 Ons kan ook Jehovah se lojaliteit navolg deur getrou te bly aan diegene vir wie ons lief is. As ons getroud is, moet ons byvoorbeeld aan ons huweliksmaat getrou bly (Spr. 5:15-18). Daarom neem ons nie eers die eerste tree op ’n weg wat tot egbreuk kan lei nie (Matt. 5:28). Wat meer is, ons toon dat ons aan ons medegelowiges lojaal is wanneer ons skadelike skinderpraatjies of laster vermy en weier om sulke negatiewe praatjies te versprei of selfs daarna te luister.—Spr. 12:18.
9, 10. (a) Aan wie wil ons bowenal lojaal bly? (b) Waarom sal dit nie altyd maklik wees om Jehovah se gebooie te gehoorsaam nie?
9 Bowenal wil ons aan Jehovah lojaal bly. Hoe doen ons dit? Deur hard te probeer om dinge te beskou soos hy dit beskou—om lief te hê wat hy liefhet en te haat wat hy haat—en dan in ooreenstemming daarmee op te tree. (Lees Psalm 97:10.) Hoe meer ons ons gedagtes en gevoelens in lyn bring met Jehovah se gedagtes en gevoelens, hoe meer geneig sal ons wees om sy gebooie te gehoorsaam.—Ps. 119:104.
10 Dit sal weliswaar nie altyd maklik wees om Jehovah se gebooie te gehoorsaam nie. Dit is dalk ’n stryd om lojaal te bly. Byvoorbeeld, party ongetroude Christene sal graag wil trou, maar hulle het nog nie ’n gepaste maat onder Jehovah se aanbidders gevind nie (1 Kor. 7:39). ’n Ongetroude suster sien miskien dat haar ongelowige medewerkers haar altyd aan die een of ander potensiële maat probeer voorstel. Die suster voel dalk baie eensaam. Nogtans is sy vasbeslote om haar onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf. Ons waardeer sekerlik sulke prysenswaardige voorbeelde van lojaliteit. Jehovah sal beslis almal beloon wat ten spyte van probleme aan hom lojaal bly.—Heb. 11:6.
JEHOVAH IS VERGEWENSGESIND
11. Wat beteken dit om vergewensgesind te wees?
11 Een van Jehovah se innemendste eienskappe is sy bereidwilligheid om te vergewe. Wat beteken dit om vergewensgesind te wees? Dit behels om die oortreder te vergewe wanneer daar ’n geldige grondslag daarvoor is. Dit wil nie sê dat ’n vergewensgesinde persoon die oortreding vergoelik of ontken dat dit gebeur het nie. Hy besluit eerder om gegriefdheid te laat vaar. Die Skrif leer dat Jehovah “vergewensgesind” is teenoor diegene wat opregte berou toon.—Ps. 86:5.
12. (a) Hoe vergewe Jehovah? (b) Wat beteken dit dat ’n mens se sondes “uitgewis” word?
12 Hoe vergewe Jehovah? Wanneer Jehovah vergewe, vergewe hy “ryklik”; sy vergifnis is volkome asook permanent (Jes. 55:7). Hoe weet ons dat Jehovah volkome vergewe? Let op die versekering wat ons vind in Handelinge 3:19. (Lees.) Die apostel Petrus het sy gehoor vermaan om ‘berou te toon en om te draai’. Wanneer ’n sondaar opreg berou het, is hy baie spyt oor die verkeerde weg wat hy ingeslaan het. Hy is ook vasbeslote om nie sy sonde te herhaal nie (2 Kor. 7:10, 11). Wat meer is, ware berou beweeg ’n sondaar om ‘om te draai’, wat beteken dat hy sy verkeerde weg verlaat en ’n weg inslaan wat God behaag. Wat sou die resultaat wees as Petrus se gehoor sulke opregte berou sou toon? Petrus het gesê dat hulle sondes “uitgewis” sou word. Hierdie woord het sy oorsprong by ’n Griekse woord wat beteken “om uit te vee”. Wanneer Jehovah vergewe, vee hy dus die lei skoon. Hy vergewe volkome.—Heb. 10:22; 1 Joh. 1:7.
13. Watter versekering vind ons in die woorde “aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie”?
13 Hoe weet ons dat Jehovah se vergifnis permanent is? Dink aan Jeremia se profesie oor die nuwe verbond, wat met gesalfde Christene gesluit is en wat ware vergifnis moontlik maak vir diegene wat geloof in die losprys beoefen. (Lees Jeremia 31:34.) Jehovah sê: “Ek sal hulle oortreding vergewe, en aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie.” Jehovah verseker ons dus dat hy, wanneer hy ons sondes vergewe, nie in die toekoms teen ons sal optree as gevolg van hierdie sondes nie. Hy haal nie weer ons sondes op om ons oor en oor te beskuldig of te straf nie. Jehovah vergewe daardie sondes eerder, en wat hom betref, is dit iets van die verlede.—Rom. 4:7, 8.
14. Hoe kan dit vir ons vertroostend wees om oor Jehovah se vergifnis na te dink? Gee ’n voorbeeld.
14 Dit kan vir ons vertroostend wees om na te dink oor Jehovah se vergifnis. Kyk na ’n voorbeeld. ’n Suster wat ons Elaine sal noem, is jare gelede uitgesit en is ná baie jare herstel. “Hoewel ek vir myself en vir ander gesê het dat ek glo dat Jehovah my vergewe het”, sê Elaine, “het ek altyd gevoel dat hy ver van my af is of dat ander nader aan hom is en dat hy vir hulle werkliker is.” Maar Elaine het vertroosting daaruit geput om na te dink oor hoe die Bybel Jehovah se vergifnis beskryf. “Ek het Jehovah se liefde en teerheid gevoel soos ek dit nooit vantevore gevoel het nie”, voeg Elaine by. Haar hart is veral deur die volgende gedagte geraak: “Wanneer Jehovah ons sondes vergewe, hoef ons nie te voel dat ons die vlek van daardie sondes vir die res van ons lewe dra nie.”b Elaine sê: “Ek het besef dat ek nie geglo het dat Jehovah my volkome kon vergewe nie, en ek het gedink dat ek hierdie las vir die res van my lewe sou dra. Ek weet dat dit tyd sal neem, maar ek begin voel dat ek werklik nader aan Jehovah kan kom, en dit voel asof ’n las van my skouers gelig is.” Wat ’n liefdevolle en vergewensgesinde God dien ons tog!—Ps. 103:9.
VOLG JEHOVAH SE VERGEWENSGESINDHEID NA
15. Hoe kan ons Jehovah se vergewensgesindheid navolg?
15 Ons kan Jehovah se vergewensgesindheid navolg deur mekaar te vergewe wanneer daar ook al ’n grondslag daarvoor is. (Lees Lukas 17:3, 4.) Onthou dat Jehovah, wanneer hy vergewe, ons sondes vergeet in die sin dat hy dit nie later teen ons hou nie. Wanneer ons ander vergewe, kan ons ook vergeet deur die saak as iets van die verlede te beskou en dit nie weer in die toekoms op te haal nie.
16. (a) Beteken vergewensgesindheid dat ons oortredings vergoelik of toelaat dat ander ons uitbuit? Verduidelik. (b) Wat moet ons doen om deur God vergewe te word?
16 Om vergewensgesind te wees, beteken nie dat ons oortredings vergoelik of ander toelaat om ons uit te buit nie. Nee. Dit beteken basies dat ons gegriefdheid laat vaar. Trouens, ons moet Jehovah se vergewensgesindheid in ons handelinge met ander navolg as ons deur God vergewe wil word (Matt. 6:14, 15). Dit is immers Jehovah se empatie wat hom beweeg om in gedagte te hou dat “ons stof is” (Ps. 103:14). Moet empatie ons dan nie beweeg om toegewings vir die tekortkominge van ander te maak en hulle vryelik uit die hart te vergewe nie?—Ef. 4:32; Kol. 3:13.
17. Wat kan ons help as ons deur ’n medegelowige seergemaak is?
17 Dit is natuurlik nie altyd maklik om te vergewe nie. Selfs party gesalfde Christene in die eerste eeu het dit blykbaar moeilik gevind om hulle geskille op te los (Fil. 4:2). Wat kan ons help as ons deur ’n medegelowige seergemaak is? Dink aan Job. Hy is diep seergemaak toe sy “vriende”—Elifas, Bildad en Sofar—valse aantygings teen hom gemaak het (Job 10:1; 19:2). Op die ou end het Jehovah hierdie valse beskuldigers tereggewys. God het vir hulle gesê om na Job toe te gaan en ’n offerande vir hulle sondes te bring (Job 42:7-9). Maar Jehovah het ook vereis dat Job iets doen. Wat was dit? Jehovah het vir Job gesê om vir sy voormalige beskuldigers te bid. Job het gedoen wat Jehovah gevra het, en Jehovah het hom vir sy vergewensgesinde gees geseën. (Lees Job 42:10, 12, 16, 17.) Wat is die les vir ons? ’n Opregte gebed ten behoewe van iemand wat ons aanstoot gegee het, kan ons help om gegriefdheid te laat vaar.
HOU AAN OM JEHOVAH SE EIENSKAPPE TEN VOLLE TE WAARDEER
18, 19. Hoe kan ons aanhou om groter waardering vir Jehovah se innemende persoonlikheid te ontwikkel?
18 Dit was ongetwyfeld vir ons verkwikkend om verskillende aspekte van Jehovah se liefdevolle persoonlikheid te bespreek. Ons het gesien dat hy toeganklik, onpartydig, vrygewig, redelik, lojaal en vergewensgesind is. Daar is natuurlik nog baie wat ons oor Jehovah kan leer. Ons kan die vreugde smaak om tot in alle ewigheid oor hom te leer (Pred. 3:11). Ons stem saam met die apostel Paulus, wat geskryf het: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis”—om nie eers te praat van sy liefde en die ses eienskappe wat ons bespreek het nie.—Rom. 11:33.
19 Mag ons almal aanhou om groter waardering vir Jehovah se innemende persoonlikheid te ontwikkel. Ons kan dit doen deur sy eienskappe te leer ken, daaroor na te dink en dit dan in ons lewe na te volg (Ef. 5:1). As ons dit doen, sal ons ongetwyfeld al hoe meer voel soos die psalmis wat gesing het: “Wat my betref, dit is vir my goed om nader aan God te kom.”—Ps. 73:28.
a Vir nuttige wenke in hierdie verband, sien die artikels “Het jy onlangs iemand bemoedig?” in Die Wagtoring van 15 Januarie 1995 en “Spoor aan tot liefde en voortreflike werke—Hoe?” in die nommer van 1 April 1995.