Onthou jy?
Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:
• Wat moet ons doen as ons ’n verskil met iemand wil oplos?
Ons moet eerstens besef dat ons almal verkeerde gedagtes en gesindhede kan hê. Dan moet ons ernstig daaroor nadink of die fout nie eerder by ons as by die ander persoon lê nie.—8/15, bladsy 23.
• Wanneer sal “die tye van die herstel van alle dinge” wees, waarvan Handelinge 3:21 praat?
Die herstelling geskied in twee stadiums. Eerstens is daar die herstelling van ’n geestelike paradys wat sedert 1919 plaasvind. ’n Verdere herstelling sal plaasvind wanneer ons aarde tot ’n fisiese paradys herstel word.—9/1, bladsye 17, 18.
• In watter sin het die mier geen aanvoerder nie, soos Spreuke 6:6-8 sê, en is hy nogtans vir ons ’n goeie voorbeeld?
In ’n mierkolonie is daar ’n koningin, maar sy is net koningin in die sin dat sy eiers lê en die moeder van die kolonie is. Miere is vlytig, en ons moet ook vlytig wees en ons werk probeer verbeter, al hou niemand ons dop nie.—9/15, bladsy 26.
• Was Hulda se profesie, wat in 2 Konings 22:20 opgeteken is, akkuraat dat Josia in “vrede” sou sterf, aangesien hy in ’n geveg dodelik gewond is?
Ja, hy het in vrede gesterf in die sin dat hy voor die onheil van 609-607 v.G.J. gesterf het, toe die Babiloniërs Jerusalem beleër en vernietig het.—9/15, bladsy 30.
• Hoe kan Salomo se beskrywing van ’n vrou as ’n “lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie” as ’n kompliment beskou word? (Spreuke 5:18, 19).
Die Europese steenbokooi het ’n rustige geaardheid en elegante gestalte. En tog kan sy aan die lewe bly en geboorte gee in rotsagtige, onbereikbare plekke waar voedsel skaars is.—10/1, bladsye 30, 31.
• Wie was Henry Grew en George Storrs?
Hierdie twee manne het in die 1800’s gelewe en was ywerige Bybelstudente. Grew het geleer dat die Drie-eenheid onskriftuurlik is, en so ook die leerstellings oor die onsterflikheid van die siel en die helse vuur. Storrs het onderskei dat party mense ewige lewe op aarde sal verkry. Hulle was albei voorgangers van Charles Taze Russell, wat hierdie tydskrif in 1879 begin uitgee het.—10/15, bladsye 26-30.
• Hoe beskou Jehovah se Getuies mediese prosedures waar jou eie bloed gebruik word?
Hulle baseer hulle oortuigings op die Bybel, en daarom gee hulle nie hulle eie bloed sodat hulle dit later as ’n oortapping kan aanvaar nie. Elke Christen moet self besluit hoe sy eie bloed gedurende ’n operasie, mediese toets of huidige terapie hanteer sal word. Hy moet nadink oor wat die Bybel omtrent bloed sê en in gedagte hou dat hy geheel en al aan God toegewy is.—10/15, bladsye 30, 31.
• Watter belangrike behoefte bestaan daar volgens ’n opname wat vroeg in hierdie jaar gedoen is, onder Jehovah se Getuies regoor die aarde?
Daar is ’n behoefte aan meer as 11 000 Koninkryksale in ontwikkelende lande, waar geld skaars is. Bydraes van Christene in baie lande word gebruik om geskikte vergaderplekke te bou.—11/1, bladsy 30.
• Wat is van die woorde in die oorspronklike tale wat in die Bybel gebruik word wat met aanbidding verband hou?
Een is lei·tour·giʹa, wat as “openbare diens” vertaal word. ’n Ander woord is la·treiʹa, wat as “heilige diens” vertaal word (Hebreërs 10:11; Lukas 2:36, 37).—11/15, bladsye 11, 12.
• Wat is ’n baie belangrike les wat ons uit die Bybelverslag oor Adam en Eva kan leer?
Enige poging om onafhanklik van Jehovah God te wees, is volslae dwaasheid.—11/15, bladsye 24-7.
• Watter skriftuurlike bewyse is daar dat God sy knegte krag gee?
Dawid, Habakuk en die apostel Paulus het almal persoonlik getuig van die feit dat Jehovah God hulle krag gegee het (Psalm 60:14 NW; Habakuk 3:19; Filippense 4:13). Ons kan dus vol vertroue wees dat God gewillig is en die mag het om ons te versterk.—12/1, bladsye 10, 11.