“Om die gees te bedink, beteken lewe en vrede”
“Dié wat in ooreenstemming met die gees is, [rig hulle verstande] op die dinge van die gees.”—ROM. 8:5.
1, 2. Waarom is Romeine hoofstuk 8 van groot belang vir gesalfde Christene?
HET jy al Romeine 8:15-17 tydens die Gedenkmaalseisoen gelees? Jy het heel moontlik. Hierdie verse verduidelik hoe Christene weet dat hulle gesalf is—heilige gees getuig met hulle gees. En die eerste vers in hierdie hoofstuk verwys na “dié wat in eenheid met Christus Jesus is”. Maar is Romeine hoofstuk 8 net van toepassing op gesalfde Christene? Of kan Christene wat hoop om op die aarde te lewe, ook daarby baat vind?
2 Hierdie hoofstuk is hoofsaaklik vir gesalfde Christene geskryf. Hulle ontvang “die gees” as persone wat “wag op die aanneming as kinders, die bevryding van [hulle vleeslike] liggaam” (Rom. 8:23). Ja, hulle sal in die toekoms kinders van God in die hemel wees. Dit is moontlik omdat hulle gedoopte Christene geword het en God die losprys ten behoewe van hulle aangewend het. Hy het hulle sondes vergewe en hulle regverdig verklaar as sy geestelike kinders.—Rom. 3:23-26; 4:25; 8:30.
3. Waarom is Romeine hoofstuk 8 ook vir diegene met die aardse hoop van belang?
3 Romeine hoofstuk 8 is egter ook van belang vir diegene met die aardse hoop omdat God hulle in sekere sin as regverdig beskou. Ons kan dit sien uit wat Paulus vroeër in sy brief geskryf het. In hoofstuk 4 het hy van Abraham gepraat. Hierdie man van geloof het gelewe voordat Jehovah die Wet aan Israel gegee het en lank voordat Jesus vir ons sondes gesterf het. Nogtans het Jehovah Abraham se sterk geloof opgemerk en hom as regverdig beskou. (Lees Romeine 4:20-22.) Vandag kan Jehovah getroue Christene wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, ook as regverdig beskou. Daarom kan hulle baat vind by die raad wat in Romeine hoofstuk 8 aan regverdiges gegee word.
4. Wat moet ons ons afvra wanneer ons Romeine 8:21 lees?
4 Romeine 8:21 gee ons die versekering dat die nuwe wêreld beslis sal kom. Hierdie vers belowe dat “die skepping self ook van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê”. Die vraag is of ons daar sal wees. Het jy die vertroue dat jy die beloning sal ontvang? Romeine hoofstuk 8 bevat raad wat jou in dié verband sal help.
“OM DIE VLEES TE BEDINK”
5. Wat het Paulus in Romeine 8:4-13 bespreek?
5 Lees Romeine 8:4-13. Romeine hoofstuk 8 vergelyk dié wat “in ooreenstemming met die vlees” wandel met dié wat “in ooreenstemming met die gees” wandel. Party dink dalk dat dit praat van persone wat nie in die waarheid is nie en persone wat wel in die waarheid is. Maar Paulus het geskryf aan dié “wat in Rome is as God se geliefdes, geroep om heiliges te wees” (Rom. 1:7). Paulus het Christene wat in ooreenstemming met die vlees wandel, vergelyk met Christene wat in ooreenstemming met die gees wandel. Hoe verskil hulle van mekaar?
6, 7. (a) Op watter maniere word die woord “vlees” in die Bybel gebruik? (b) Wat het Paulus in Romeine 8:4-13 met “vlees” bedoel?
6 Kyk eers na die woord “vlees”. Waarna het Paulus hier verwys? Die Bybel gebruik “vlees” op verskillende maniere. Soms verwys dit na die letterlike vlees van ons liggaam (Rom. 2:28; 1 Kor. 15:39, 50). Dit kan ook op ’n familieband dui. Jesus was “na die vlees uit die saad van Dawid”, en Paulus het Jode as sy “familielede na die vlees” beskou.—Rom. 1:3; 9:3.
7 Maar wat Paulus in hoofstuk 7 geskryf het, help ons om te verstaan wat die “vlees” is waarvan daar in Romeine 8:4-13 gepraat word. Hy het om “in ooreenstemming met die vlees” te lewe, verbind met “sondige hartstogte” (Rom. 7:5). Dit help ons om te sien wat Paulus bedoel het toe hy gesê het dat “dié wat in ooreenstemming met die vlees” lewe, “hulle verstande op die dinge van die vlees” rig. Hy het bedoel dat sulke persone deur hulle begeertes en onvolmaakte menslike neigings oorheers word. Dit verwys hoofsaaklik na persone wat hulle laat lei deur hulle drange, begeertes en hartstogte—hetsy dit seksueel is of nie.
8. Waarom is selfs gesalfde Christene gewaarsku om nie “in ooreenstemming met die vlees” te wandel nie?
8 Maar jy wonder dalk waarom Paulus gesalfde Christene moes waarsku teen die gevaar om “in ooreenstemming met die vlees” te lewe. En hou dit ook vandag ’n gevaar in vir Christene, wat God as sy vriende aanvaar het en as regverdig beskou? Ongelukkig kan enige Christen in ooreenstemming met die sondige vlees begin wandel. Byvoorbeeld, Paulus het geskryf dat party van die broers in Rome slawe was “van hulle eie buik”, of begeertes. Dit kan na seksuele begeertes of ’n begeerte na kos, drank of ander dinge verwys. Party van hulle het selfs ‘onskuldiges verlei’ (Rom. 16:17, 18; Fil. 3:18, 19; Jud. 4, 8, 12). Onthou ook dat ’n broer in Korinte ’n onsedelike verhouding met sy vader se vrou gehad het (1 Kor. 5:1). ’n Mens kan dus verstaan waarom Paulus Christene daarteen moes waarsku “om die vlees te bedink”.—Rom. 8:5, 6.
9. Wat het Paulus nie bedoel toe hy die waarskuwing in Romeine 8:6 gegee het nie?
9 Hierdie waarskuwing is vandag nog net so geldig. Selfs ’n Christen wat God al jare lank dien, kan sy verstand op die dinge van die vlees begin rig. As ’n Christen nou en dan aan kos, werk, ontspanning of selfs aan romantiese liefde dink, beteken dit nie dat hy sy verstand op die dinge van die vlees rig nie. Dit is normale dinge in die lewe van ’n kneg van God. Jesus het kos geniet en hy het ander van kos voorsien. Hy het besef dat rus en ontspanning nodig is. En Paulus het geskryf dat seksuele intimiteit belangrik is in die huwelik.
10. Wat beteken die Griekse woord wat met ‘die verstand rig op’ en “bedink” in Romeine 8:5, 6 vertaal word?
10 Wat het Paulus dan bedoel met die uitdrukkings ‘die verstand rig op’ en “bedink”? Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik het, beteken dat ’n mens jou verstand of hart sowel as jou vermoë om deeglik te beplan op iets toespits. Diegene wat in ooreenstemming met die vlees lewe, laat toe dat hulle sondige menslike natuur bepaal hoe hulle lewe. ’n Geleerde sê van hierdie woord in Romeine 8:5: “Hulle rig hulle verstand op—hulle stel die meeste belang in, praat heeltyd oor, beoefen en verheug hulle oor—die dinge van die vlees.”
11. Watter dinge kan vir ons te belangrik word?
11 Dit was gepas vir Christene in Rome om te ondersoek wat werklik die middelpunt van hulle lewe was. Het hulle lewe dalk gedraai om “die dinge van die vlees”? Dit is gepas dat ons ook ons lewe ondersoek. Waarin stel ons die meeste belang, en waaroor is ons geneig om te praat? Waarmee hou ons ons dag ná dag besig? Party vind dalk dat hulle hulle daarmee besig hou om verskillende soorte wyn te vind, hulle huis te versier, nuwe klere te koop, beleggings te maak, vakansies te beplan, ensovoorts. Hierdie dinge is nie noodwendig verkeerd nie; dit kan deel wees van die normale lewe. Byvoorbeeld, Jesus het eenkeer wyn gemaak, en Paulus het vir Timoteus gesê om “’n bietjie wyn” te gebruik (1 Tim. 5:23; Joh. 2:3-11). Maar het Jesus en Paulus ‘heeltyd gepraat oor of hulle verheug oor’ wyn? Was dit die belangrikste ding in hulle lewe, iets waaroor hulle ‘heeltyd gepraat het’? Nee. Wat van ons? Waarin stel ons die meeste belang?
12, 13. Waarom moet ons nie die vlees bedink nie?
12 Dit is belangrik om selfondersoek te doen. Waarom? Paulus het geskryf: “Om die vlees te bedink, beteken die dood” (Rom. 8:6). Dit is ernstig—ons kan nou geestelik sterf en in die toekoms letterlik sterf. Maar Paulus het nie bedoel dat iemand wat ‘die vlees [begin] bedink’, beslis sal sterf nie. Dit is moontlik om te verander. Dink aan die onsedelike man in Korinte wat “die vlees” gevolg het en uitgesit moes word. Maar hy kon en hy het verander. Hy het opgehou om die vlees te volg en het weer op die regte pad begin wandel.—2 Kor. 2:6-8.
13 As hy kon verander, kan ’n Christen vandag verander, veral as hy nie die vlees in dieselfde mate as die man in Korinte gevolg het nie. Paulus se waarskuwing oor die moontlike uiteinde vir iemand wat ‘die vlees bedink’, moet Christene beslis aanspoor om die nodige veranderinge te maak!
“OM DIE GEES TE BEDINK”
14, 15. (a) Wat moet ons bedink? (b) Wat word nie bedoel met die aansporing “om die gees te bedink” nie?
14 Nadat die apostel ons gewaarsku het om nie “die vlees te bedink” nie, het hy hierdie versekering gegee: “Om die gees te bedink, beteken lewe en vrede.” Wat ’n wonderlike beloning—lewe en vrede! Hoe kan ons hierdie beloning verkry?
15 “Om die gees te bedink”, beteken nie dat ’n persoon in niks anders as geestelike dinge belangstel nie. Dit beteken nie dat die Bybel, sy liefde vir God en sy hoop vir die toekoms die enigste dinge is waaraan hy dink en waaroor hy praat nie. Onthou dat Paulus en ander wat God in die eerste eeu gedien het, in baie opsigte ’n redelik normale lewe gelei het. Hulle het geëet en gedrink. Baie het getrou, ’n gesin gehad en gewerk om in hulle behoeftes te voorsien.—Mark. 6:3; 1 Tess. 2:9.
16. Wat was die middelpunt van Paulus se lewe?
16 Maar daardie knegte van God het nie toegelaat dat hulle lewe om sulke alledaagse dinge begin draai nie. Nadat die Bybelverslag sê dat Paulus as ’n tentmaker gewerk het, toon dit wat die middelpunt van sy lewe was: Hy het gereeld deelgeneem aan die predikings- en onderrigtingswerk. (Lees Handelinge 18:2-4; 20:20, 21, 34, 35.) En hy het sy broers en susters in Rome aangespoor om dieselfde te doen. Ja, Paulus se lewe het om geestelike bedrywighede gedraai. Die Romeine moes hom navolg, en ons moet ook.—Rom. 15:15, 16.
17. Watter soort lewe kan ons hê as ons ‘die gees bedink’?
17 Wat sal die resultaat wees as ons geestelike dinge eerste stel? Romeine 8:6 gee ’n duidelike antwoord: “Om die gees te bedink, beteken lewe en vrede.” Dit impliseer dat ons toelaat dat heilige gees ’n invloed op ons verstand het en dat ons denke in ooreenstemming met God se denke is. As ons die gees bedink, kan ons nou al ’n gelukkige en sinvolle lewe hê. En op die ou end sal ons die ewige lewe ontvang, hetsy in die hemel of op die aarde.
18. Hoe help dit ons om vrede te geniet as ons ‘die gees bedink’?
18 Kom ons dink na oor hierdie versekering: “Om die gees te bedink, beteken . . . vrede.” Baie mense sukkel om innerlike vrede te vind. Maar ons geniet dit reeds. As ons innerlike vrede het, sal ons vrede in ons gesin en in die gemeente probeer bewaar. Ons weet dat ons sowel as ons broers en susters onvolmaak is. Daarom sal probleme soms ontstaan. As dit gebeur, volg ons Jesus se raad: “Maak . . . vrede met jou broer” (Matt. 5:24). Dit is makliker as ons in gedagte hou dat ons broer of suster ook “die God wat vrede gee”, dien.—Rom. 15:33; 16:20.
19. Watter spesiale vrede kan ons geniet as ons ‘die gees bedink’?
19 As ons ‘die gees bedink’, kan ons bowenal vrede met ons Maker geniet. Dit is van onskatbare waarde. Jesaja het die volgende woorde opgeteken wat in sy dag van toepassing was, maar wat in ons dag ’n selfs groter vervulling het: “U [Jehovah] sal almal beskerm wat ten volle op u vertrou; u sal sorg dat hulle altyd vrede het, want u is die een op wie hulle vertrou.”—Jes. 26:3, NW; lees Romeine 5:1.
20. Waarom waardeer jy die raad in Romeine hoofstuk 8?
20 Dit maak nie saak of ons gesalfde Christene is of die hoop het om vir ewig in ’n paradys op die aarde te lewe nie, ons kan baie dankbaar wees vir die geïnspireerde raad in Romeine hoofstuk 8. Ons waardeer beslis die aanmoediging om nie toe te laat dat ons lewe om “die vlees” begin draai nie! Ons besef hoe wys dit is om die geïnspireerde woorde in gedagte te hou: “Om die gees te bedink, beteken lewe en vrede.” Dit hou ’n ewige beloning in, want Paulus het geskryf: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.”—Rom. 6:23.