Hulle het vir die Messias gewag
“Die volk het gewag, en almal het in hulle hart geredeneer aangaande Johannes of hy nie die Messias is nie.”—LUK. 3:15, THE EMPHATIC DIAGLOTT.
1. Watter aankondiging deur ’n engel het sekere herders gehoor?
DIT is nag. Herders is buite en pas hulle kuddes op. Hoe verras is hulle tog wanneer Jehovah se engel naby hulle staan en God se heerlikheid hulle omstraal! Luister! Die engel uiter hierdie dramatiese verklaring: “Moenie vrees nie, want kyk! ek maak aan julle goeie nuus bekend van groot vreugde wat die hele volk sal hê, want daar is vandag vir julle in die stad van Dawid ’n Redder gebore, wat Christus die Here is”, die een wat die Messias sou wees. Die herders kan hierdie kindjie in ’n krip in ’n dorp daar naby vind. Skielik begin “’n menigte van die hemelse leër” Jehovah loof en sê: “Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid.”—Luk. 2:8-14.
2. Wat beteken “Messias”, en hoe kan hy geïdentifiseer word?
2 Die Joodse herders weet natuurlik dat “Messias”, of “Christus”, na God se “Gesalfde” verwys (Eks. 29:5-7). Maar hoe kan hulle meer uitvind en ander oortuig dat die baba waarvan die engel gepraat het, Jehovah se aangestelde Messias sal wees? Deur profesieë in die Hebreeuse Geskrifte te ondersoek en dit met die bedrywighede en lewe van hierdie kind te vergelyk.
Waarom was die volk in afwagting?
3, 4. Hoe verstaan ons Daniël 9:24, 25?
3 Toe Johannes die Doper jare later op die toneel verskyn het, het sy woorde en dade party laat wonder of die Messias gekom het. (Lees Lukas 3:15.) Party het dalk ’n Messiaanse profesie in verband met “sewentig weke” reg verstaan. Indien wel, sou hulle kon vasstel wanneer die Messias te voorskyn sou kom. Die profesie het onder andere gesê: “Vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou tot op Messias die Leier [sal] sewe weke . . . wees, ook twee-en-sestig weke” (Dan. 9:24, 25). Etlike geleerdes stem saam dat dit weke van jare is. Die Revised Standard Version sê byvoorbeeld: “Sewentig weke van jare is bepaal.”
4 Vandag weet Jehovah se knegte dat die 69 weke, of 483 jaar, van Daniël 9:25 in 455 VHJ begin het, toe die Persiese koning Artasasta Nehemia toestemming gegee het om Jerusalem te herstel en te herbou (Neh. 2:1-8). Daardie weke het 483 jaar later, in 29 HJ, tot ’n einde gekom, toe Jesus van Nasaret gedoop en met heilige gees gesalf is, waardeur hy die Messias geword het.—Matt. 3:13-17.a
5. Watter profesieë gaan ons nou bespreek?
5 Kom ons bespreek nou ’n paar van die talle ander profesieë oor die Messias wat in Jesus se geboorte, sy vroeë lewe en bediening vervul is. Dit sal ons geloof in God se profetiese woord ongetwyfeld versterk. Dit sal ook duidelike getuienis voorsien dat Jesus inderdaad die langverwagte Messias is.
Sy vroeë lewe voorspel
6. Verduidelik hoe Genesis 49:10 vervul is.
6 Die Messias sou uit die stam Juda in Israel gebore word. Toe die aartsvader Jakob sy seuns op sy sterfbed geseën het, het hy voorspel: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, ook nie die aanvoerderstaf tussen sy voete uit nie, totdat Silo kom; en aan hom sal die gehoorsaamheid van die volke behoort” (Gen. 49:10). Baie Joodse geleerdes van vroeër het hierdie woorde met die Messias verbind. Vanaf die heerskappy van koning Dawid van Juda het die septer (koningsgesag) en die aanvoerderstaf (mag om aan te voer) nie van die stam Juda gewyk nie. “Silo” beteken “Hy wie s’n dit is; Hy aan wie dit behoort”. Die koninklike lyn van Juda sou eindig met “Silo”, die permanente koninklike Erfgenaam, want God het vir Sedekia, die laaste Judese koning, gesê dat heerskappy gegee sou word aan die een wat die wetlike reg daartoe het (Eseg. 21:26, 27). Ná Sedekia was Jesus die enigste afstammeling van Dawid wat belowe is dat hy as koning sou regeer. Voor Jesus se geboorte het die engel Gabriël vir Maria gesê: “Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie” (Luk. 1:32, 33). Silo moet Jesus Christus wees, wat ’n afstammeling van Juda en Dawid is.—Matt. 1:1-3, 6; Luk. 3:23, 31-34.
7. Waar is die Messias gebore, en waarom is dit betekenisvol?
7 Die Messias se geboorte sou in Betlehem plaasvind. “Jy, o Betlehem Efrata, wat te klein is om onder die duisende van Juda te wees,” het die profeet Miga geskryf, “uit jou sal daar vir my die een voortkom wat die heerser in Israel sal word, wie se oorsprong uit die vroeë tye is, uit die dae van onbepaalde tyd” (Miga 5:2). Die Messias sou gebore word in die Judese dorp Betlehem, wat blykbaar vroeër Efrata genoem is. Al het Jesus se moeder, Maria, en sy aangenome vader, Josef, in Nasaret gewoon, het ’n Romeinse registrasiebevel hulle na Betlehem laat gaan, waar Jesus in 2 VHJ gebore is (Matt. 2:1, 5, 6). Wat ’n merkwaardige vervulling van profesie!
8, 9. Wat is oor die Messias se geboorte en die gebeure daarna voorspel?
8 Die Messias sou uit ’n maagd gebore word. (Lees Jesaja 7:14.) Die Hebreeuse woord betu·laʹ beteken “maagd”, maar ’n ander term (ʽal·maʹ) kom in Jesaja 7:14 voor. In hierdie teks is daar voorspel dat “die jong vrou [ha·ʽal·maʹ]” aan ’n seun geboorte sal gee. Die woord ʽal·maʹ word toegepas op die jong vrou Rebekka voor haar troue (Gen. 24:16, 43). Onder inspirasie het Matteus die Griekse woord vir “maagd” (par·theʹnos) gebruik toe hy getoon het dat Jesaja 7:14 in verband met die geboorte van Jesus vervul is. Die Evangelieskrywers Matteus en Lukas sê dat Maria ’n maagd was wat deur die werking van God se gees swanger geword het.—Matt. 1:18-25; Luk. 1:26-35.
9 Jong kinders sou ná die Messias se geboorte doodgemaak word. Iets soortgelyks het eeue vroeër gebeur, toe Farao van Egipte beveel het dat Hebreeuse babaseuntjies in die Nylrivier gegooi moet word (Eks. 1:22). Maar besonder noemenswaardig is Jeremia 31:15, 16, waar daar gesê word dat Ragel oor haar seuns huil wat na “die land van die vyand” geneem is. Haar geweeklaag is in afgeleë Rama, in die gebied van Benjamin, noord van Jerusalem, gehoor. Matteus toon dat Jeremia se woorde vervul is toe koning Herodes beveel het dat die jong seuntjies in Betlehem en sy omstreke doodgemaak moet word. (Lees Matteus 2:16-18.) Stel jou net die droefheid in daardie gebied voor!
10. Verduidelik hoe Hosea 11:1 in Jesus vervul is.
10 Soos die Israeliete, sou die Messias uit Egipte geroep word (Hos. 11:1). Voor Herodes se moorddadige bevel het ’n engel opdrag gegee dat Josef, Maria en Jesus na Egipte moet gaan. Hulle het “tot die dood van Herodes daar gebly, sodat vervul sou word wat Jehovah deur middel van sy profeet [Hosea] gespreek het toe hy gesê het: ‘Uit Egipte het ek my seun geroep’” (Matt. 2:13-15). Jesus kon natuurlik nie self enige van die voorspelde gebeure laat plaasvind wat met sy geboorte en vroeë lewe verbind word nie.
Die Messias begin optree!
11. Hoe is die weg voor Jehovah se Gesalfde berei?
11 Die weg van God se Gesalfde sou voor hom berei word. Maleagi het voorspel dat “die profeet Elia” hierdie werk sou doen en dat hy die harte van die volk vir die koms van die Messias sou voorberei. (Lees Maleagi 4:5, 6.) Jesus self het hierdie “Elia” as Johannes die Doper geïdentifiseer (Matt. 11:12-14). En Markus het daarop gewys dat die bediening van Johannes die profetiese woorde van Jesaja vervul het (Jes. 40:3; Mark. 1:1-4). Jesus het nie gereël dat Johannes as Sy voorloper ’n werk soos dié van Elia doen nie. Die werk van hierdie voorspelde “Elia” is in ooreenstemming met God se wil gedoen as ’n manier om die Messias te identifiseer.
12. Watter opdrag help om die Messias te identifiseer?
12 ’n Godgegewe opdrag help om die Messias te identifiseer. In die sinagoge in Nasaret, die dorp waar hy grootgemaak is, het Jesus uit die boekrol van Jesaja gelees en hierdie woorde op homself toegepas: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak, hy het my uitgestuur om ’n vrylating aan die gevangenes te verkondig en ’n herstel van gesig aan die blindes, om die verbryseldes in vryheid weg te stuur, om Jehovah se aanneemlike jaar te verkondig.” Omdat hy waarlik die Messias was, kon Jesus tereg sê: “Vandag is hierdie Skrifgedeelte wat julle so pas gehoor het, vervul.”—Luk. 4:16-21.
13. Hoe is Jesus se openbare bediening in Galilea voorspel?
13 Die Messias se openbare bediening in Galilea is voorspel. Aangaande “die land van Sebulon en die land van Naftali . . . Galilea van die nasies”, het Jesaja geskryf: “Die volk wat in die duisternis gewandel het, het ’n groot lig gesien. Dié wat in die land van diep skaduwee gewoon het, oor hulle het lig geskyn” (Jes. 9:1, 2). Jesus het sy openbare bediening in Galilea begin en het in Kapernaum gewoon, waar baie bewoners van Sebulon en Naftali die voordele geniet het van die geestelike lig wat hy aan hulle gebring het (Matt. 4:12-16). In Galilea het Jesus sy gedagteprikkelende Bergpredikasie gelewer, sy apostels gekies, sy eerste wonderwerk verrig en waarskynlik ná sy opstanding aan sowat 500 dissipels verskyn (Matt. 5:1–7:27; 28:16-20; Mark. 3:13, 14; Joh. 2:8-11; 1 Kor. 15:6). Hy het sodoende Jesaja se profesie vervul deur in “die land van Sebulon en die land van Naftali” te preek. Jesus het natuurlik die Koninkryksboodskap ook op ander plekke in Israel verkondig.
Die Messias se ander bedrywighede voorspel
14. Op watter manier is Psalm 78:2 deur Jesus vervul?
14 Die Messias sou in gelykenisse, of illustrasies, praat. Die psalmis Asaf het gesing: “Met ’n spreekwoord sal ek my mond oopmaak” (Ps. 78:2). Hoe weet ons dat dit profeties op Jesus van toepassing is? Matteus sê dit vir ons. Nadat Matteus vertel het van illustrasies waarin Jesus die Koninkryk vergelyk het met ’n groeiende mosterdsaadjie en suurdeeg, sê hy: “Sonder ’n illustrasie het [Jesus] nie met hulle gepraat nie; sodat vervul sou word wat gespreek is deur middel van die profeet, wat gesê het: ‘Ek sal my mond oopmaak met illustrasies, ek sal dinge verkondig wat sedert die grondlegging verborge was’” (Matt. 13:31-35). Spreekwoorde, of gelykenisse, was een van Jesus se doeltreffende onderrigmetodes.
15. Toon hoe Jesaja 53:4 vervul is.
15 Ons kwale sou deur die Messias gedra word. Jesaja het voorspel: “Waarlik, ons siektes het hy gedra; en wat ons pyn betref, hy het dit op hom geneem” (Jes. 53:4). Matteus het daarop gewys dat Jesus, nadat hy Petrus se skoonmoeder genees het, ook ander genees het sodat “vervul sou word wat gespreek is deur middel van die profeet Jesaja, wat gesê het: ‘Hy het ons siektes geneem en ons kwale gedra’” (Matt. 8:14-17). En dit is maar net een van talle opgetekende gevalle waar Jesus die siekes genees het.
16. Hoe het die apostel Johannes getoon dat Jesus Jesaja 53:1 vervul het?
16 Ondanks al die goeie dinge wat die Messias gedoen het, sou baie mense nie in hom glo nie. (Lees Jesaja 53:1.) Die apostel Johannes het getoon dat hierdie profesie vervul is en het geskryf: “Hoewel [Jesus] so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie geloof in hom gestel nie, sodat die woord van die profeet Jesaja vervul is wat hy gespreek het: ‘Jehovah, wie het geloof gestel in wat ons gehoor het? En wat die arm van Jehovah betref, aan wie is dit geopenbaar?’” (Joh. 12:37, 38). Daar was ook min wat gedurende die bediening van die apostel Paulus geloof gestel het in die goeie nuus oor Jesus, die Messias.—Rom. 10:16, 17.
17. Hoe het Johannes Psalm 69:4 toegepas?
17 Die Messias sou sonder oorsaak gehaat word (Ps. 69:4). Die apostel Johannes haal Jesus se woorde aan: “As ek nie die werke onder [die volk] gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle my sowel as my Vader gesien én gehaat. Maar dit is sodat die woord wat in hulle Wet geskrywe staan, vervul kan word: ‘Hulle het my sonder oorsaak gehaat’” (Joh. 15:24, 25). Dikwels beteken die “Wet” die hele Skrif (Joh. 10:34; 12:34). Die Evangelieverslae bewys dat Jesus gehaat is, veral deur die Joodse godsdiensleiers. Daarbenewens het Christus gesê: “Die wêreld het geen rede om julle te haat nie, maar hy haat my, omdat ek aangaande hom getuig dat sy werke goddeloos is.”—Joh. 7:7.
18. Watter verdere ondersoek sal ons meer oortuig maak dat Jesus die Messias is?
18 Jesus se eerste-eeuse volgelinge was seker dat Jesus die Messias is, want hy het inderdaad die Messiaanse profesieë in die Hebreeuse Geskrifte vervul (Matt. 16:16). Soos ons gesien het, is party daarvan gedurende die vroeë lewe en bediening van Jesus van Nasaret vervul. Verdere Messiaanse profesieë sal in die volgende artikel ondersoek word. Ons biddende bepeinsing daarvan sal ons meer oortuig maak dat Jesus Christus werklik die Messias is wat deur ons hemelse Vader, Jehovah, aangestel is.
[Voetnoot]
a Vir ’n breedvoerige bespreking van die “sewentig weke”, sien hoofstuk 11 van die boek Gee ag op Daniël se profesie!
Hoe sal jy antwoord?
• Watter profesieë is in verband met Jesus se geboorte vervul?
• Hoe is die weg voor die Messias berei?
• Watter profetiese woorde van Jesaja hoofstuk 53 is in Jesus vervul?